EK GAAN WEER PROBEER

Die laaste paar maande was ‘n paar rowwe maande in my lewe.

As ek sê dat ek nie tyd gehad het om te “blog” nie, dan is dit regtig so. Aan die ander kant het “blog” die plek in geneem van my vroeë oggend tyd alleen met die Here. Ek het vir ‘n lang tyd baie redes aangevoer waarom ek die daaroor skuldig hoef te voel nie. Onder andere omdat ek in elk geval meeste van die tyd hier met die Bybel en gedagtes oor die Here besig was. Maar, dit was nie ‘n goeie rede nie, dit is net so goed om te sê ek preek Sondag en ek bid in die erediens en daarom het ek nie nodig om alleen met die Here te wees nie.

Ek het hierdie paar maande gebruik om my prioriteite in daardie opsig weer reg te kry. Ek het daagliks ‘n tyd vroeg in die oggend saam met die Here – behalwe die kere wat die nag te rof was. Ek is nie spyt nie, my persoonlike verhouding met die Here is die hoogste prioriteit in my lewe, ek wil die verhouding nie afskeep nie.

Die rede waarom dit ‘n bietjie rof gaan is omdat twee van die vier predikante binne die volgende 3 maande weggaan. Die een is op die aftree ouderdom en die ander een het besluit om met vervroegde pensioen te gaan. Nou is ons net twee leraars in ‘n redelike groot gemeente en dit vra baie ure en baie werk.

Waarom het ek vanoggend weer begin skryf?

Ek dink dit het daarmee te make dat ek gisteraand breekpunt bereik het. Dalk was dit die gebeure oor die laaste paar dae wat alles opgehoop het en hierdie strooihalmpie  het die kameel se rug gebreek. Daar het ‘n ding gebeur wat my meer omgekrap het as enige iets in baie jare. So erg dat ek vir ongeveer ‘n uur en ‘n half net rondgeloop het sodat dit kan stil raak binne in my. Ek het geweet dat as ek dadelik met mense kontak sou hê, sou ek onverantwoordelike dinge sê en doen.

Die rondloop was die regte ding om te doen. In daardie uur en ‘n half het ek in gesprek met die Here baie rustiger geraak en saam het ons ‘n manier uitgewerk om die saak te hanteer. Nie deur te verdedig nie; nie deur te verwyt nie; nie deur sarkasme of siniese opmerkings; nie deur vir almal te wys dat ek ongelukkig is nie, maar net deur vanoggend myself te wees.

Hoekom? Ek is in die laaste tyd onder andere besig met Gal 5:22 – die vrug van die Gees. Die vrug van die Gees is nie ‘n nuwe wet nie, dit beskryf na my mening eerder die belangrikste karaktertrekke van God wat in  ‘n mens wat deur die Heilige Gees nuut gemaak is sigbaar moet word – meer en meer soos die Here Jesus te word.

Ek het by geleentheid oor die laaste paar maande gaan stil raak en daaroor gedink en ek was intens bewus daarvan dat ek bitter min (indien enige) van daardie eienskappe op ‘n konstante manier uitleef. Een van die wat ek gisteraand baie hard aan moes werk, was selfbeheersing. Ek was reg om ‘n paar mense op hulle plek te sit en ‘n “peace of my mind” te gee; reg om die telefoon op te tel en vir elkeen van die rolspelers te sê hoe ek dink oor die dinge wat eke beleef het; reg om ‘n plan uit te werk om die “bende” een vir een uit te sorteer – darem nie deur hulle met behulp van die Mafia op hulle manier uit te sorteer nie.

In my tyd van rondstap, het ‘n sagte stemmetjie binne in my my herinner aan die vrug van die Gees en ek het huistoe gekom met ‘n plan – ‘n plan wat sal getuig van liefde, vreugde, vrede, geluk, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Die plan is: Ek gaan vanoggend aan asof niks gebeur het nie. Ek ontken nie dat dit gebeur het nie, ek besef net reaksie gaan niks beter maak nie. Elke een van die mense wat verantwoordelik is vir hierdie ding wat ek gisteraand beleef het, glo waarskynlik dat hulle die reg het om op te tree soos hulle opgetree het en dat hulle die koninkryk dien op die manier waarop hulle opgetree het. Ek het seer en ek is teleurgesteld, maar dit beteken nie noodwendig dat ek reg is nie.

Ek weet dit klink erg soetsappig en baie vroom, maar ek los hierdie saak in die hand van die Here. Hy het hierdie nag wat verby is gebruik om dit stil te maak binne in my, en dan ook vir my op die punt te bring waar ek weer moet begin “blog”.

Hier is ek, ek gaan weer probeer. Ek kan nie belowe vir altyd nie, maar vir hierdie seisoen in my lewe, gaan ek weer hier kom skryf.

21 thoughts on “EK GAAN WEER PROBEER

Add yours

  1. Dalk moet jy kom skryf hoe dit vandag gegaan het. Ek het gedink jy gaan dalk een of ander tyd iets sê oor daardie preek vir die tieners twee weke terug.

  2. Ek wens soms ek kan ook so ‘n tyd van rondloop hê as dinge my omkrap. Ek probeer ook oor selfbeheersing, maar ek sukkel.

  3. Ds Attie

    Baie dankie dat jy weer die ketel aangeskakel het, en die bekers reg gesit het vir ons. Jou skrywe my gemotiveer om weer te begin met my persoonlike tyd saam met God. Ek het ook die tyd faktor, omstandighede en my eie worstelinge gebruik as n rede. Maar vanoggend besef ek dat ek niks uitgesorteer gaan kry as ek nie tyd maak om by die Vader se voete te sit, en met Hom praat oor alles nie. Ek hoop ek kan die vrede kry wat jy gevind het. Ek gaan spesiaal dankie se vir God, dat Hy jou vir ons gegee het om my te help om weer die pad te kry.

  4. Dis vir my goed! Na ons bydrae oor Teologie en die Virtuele wêreld by die lentekonferensie het ek al ‘n hele paar “ouer” dominees hiernatoe verwys as voorbeeld van hoe dit gedoen kan word. So nou kan hulle weer iets van die aksie beleef:-)
    Baie sterkte! Soos ‘n goeie vriend my gereeld herinner… die kerk kan partymaal ‘n bliksem wees om voor te werk.

  5. Ag dankie tog. Leeraars word soms so gedrein. Almal tap en tap met hulle probleme, maar niemand besef die dominee se emosionele tenk kan ook leeg raak. Sterkte Ds Attie. Ek hoef seker nie vir ds te se^ nie, ons is almal ‘n ‘work in progress’. Jy ook. Niemand is perfek nie en ek dink jy het die situasie reg hanteer.

  6. Hallo Attie. Ek hoop om ook dan deel aan hierdie seisoen in jou lewe te mag deel. Ek het geleer dat ons geen beheer het oor dit wat ander doen of sê nie, maar ons het beheer oor hoe ons daarop reageer in emosie en daad. Om jouself te beskerm en eerste te stel is nie verkeerd nie. Om weg te breek en jou siel te balanseer is nie selfsugtig nie. Solank God altyd deel vorm van jou oortuigings maak dit nie saak wat ander dink nie. Ons kontak met mekaar is tydelik, maar ons kontak met God is ewig. Jou inskrywing getuig daarvan. Emma.

  7. Ek het die gesprekke hier gemis. So Attie ek is bly jy is terug. Ek wens jou sterkte toe met die ongename gedoente waardeur jy gaan. Of soos die een predikant dit eenmaal gestel het, Ek wens jou swakte toe sodat die Gees kan sterk wees by jou. 😉

  8. Naand Ds Attie

    Welkom terug en dankie dat ek ook my gees en siel by jou kan kom neerplak. Soos Roer terg opmerk, die Ds help almal maar wie wil die Ds help. Dis baie waar en om ander te help vat baie van ‘n mens.

    Sterkte en mag die genade, vreugde en vrede van die Allerhoogste jou bewaar en versterk.

    Groete

  9. Dit is wonderlik om jou terug te hê Ds. Attie.

    Spreuke 12:16 sluimer in my gees, en wanneer ek dit die nodigste het, onwaak dit tot my redding.

  10. Ek is laat, maar ek wil net ook se – het jou gemis. Vir nou lees ek net. Ek is ook by ‘n kruispad en ek moet ‘n rigting kies en ek is geheel nog nie seker waarheen nie. Net reguit aanhou is nie ‘n opsie nie.

    Mooi loop, Attie.

  11. Hi Attie
    Daar is n spreeuk woord wat se die makste hond byt die seerste.
    Wat gebeur het maak nie saak nie.Dat hulle uit lyn was klink vir my na n fyt.In die besigheids wereld maak dit dinge party keer anders
    (wat nie veronderstel is om anders te wees nie)maar as jy die partye los wat jou te na kom dan kos dit jou!

    Ons werk met mense en kan nooit almal tevreede hou nie
    Groete

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: