Een van die meer bekende uitsprake van Jesus is die een wat Hy teenoor Nikodemus gemaak het toe Hy gesê het dat Nikodemus nodig het om weergebore te word. Ek verkies om die uitwerking van die weergeboorte as ‘n proses te sien, maar terselfdertyd as ‘n appèl. Met ander woorde, ek dink die feit dat ek weergebore is, is iets wat hoe langer hoe meer in my lewe tot uitdrukking kom, maar terselfdertyd is die saak van weergeboorte n appèl (Engelse sou dalk gesê het ‘n “challenge”) om dit wat reeds waar is van my in my lewe sigbaar te laat word.
Dalk kan ‘n mens weergeboorte ook beskryf as ‘n nuwe begin. Nikodemus – die geleerde van Israel – het ‘n nuwe begin nodig gehad. ‘n Nuwe begin waar hy ‘n nuwe hart sal kry en ‘n nuwe lewe sal begin leef. Die woord “tradisie” word baie keer in kerklike kringe gebruik, die meeste kere word dit gebruik vir gelowiges wat nie bereid is om hulle werkswyse met betrekking tot kerkwees te verander nie.
Vir my is tradisionele Christenskap eerder Christenskap sonder hierdie nuwe lewe. Tradisie is wanneer ons al die insig en kennis het, maar nie die kragtige werking van die Heilige Gees beleef nie; wanneer ons aan die buitekant Christene is, maar aan die binnekant wêrelds is. Wanneer ons met ons lippe God eer maar met die dinge wat ons doen geen respek en eerbied vir God wys nie.
Die wêreld neem aanstoot aan hierdie vorm van Christenskap wat soveel belowe, maar niks gee nie. ‘n Christenskap wat ‘n lewe van oorwinning oor slegte gewoontes en sondige dade belowe, maar ‘n lewe van oorwinning wat nie gesien word nie. Waarom sal die wêreld kies om die belofte van ‘n nuwe lewe en ‘n lewe van oorwinning te glo, wanneer die verteenwoordigers van hierdie belofte nie kan wys dat die belofte waar word nie. Die wêreld neem aanstoot aan Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle vir God lewe, maar intussen leef hulle net vir hulleself.
Ek skryf hierdie “post” omdat ek in my eie lewe dikwels ontdek dat ek ‘n nuwe begin nodig het. Ek raak soms met hartseer bewus daarvan dat ek die belofte verkondig maar nie die belofte leef nie. Ek skryf hierdie “post” nie as ‘n veroordeling van enige iemand nie, maar as ‘n stukkie “hand in eie boesem steek”. Ek skryf hierdie “post’ as ‘n appèl – ‘n vriendelike uitdaging – tot enige iemand wat ook dalk vandag nodig het om te hoor dat ‘n nuwe begin by God altyd moontlik is.
‘n Nuwe begin is moontlik omdat God se getrouheid my eie ontrouheid by verre oortref. ‘n Nuwe begin is moontlik omdat ek deur die weergeboorte reeds ‘n nuwe hart het.
“Kyk ek maak alles nuut sê God, laat Hom wat dors het kom.”
Ai Doom Attie, dit voel vir my die laaste tyd of ek omtrent elke dag by ons Vader moet aanklop vir ‘n nuwe begin…….en dis so waar wat jy sê van God se getrouheid en hoe verskriklik dankbaar moet ek teenoor my Hemelse Vader wees vir Sy getrouheid. Dankie vir die stukkie wat vandag weer so duidelik met my praat.
Oom attie hoe begin mens nuut? Partykeer voel dt so moelik om die Here se plan te vertrou. Hierdie stukkie praat met my dankie.
“Die wêreld neem aanstoot aan Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle vir God lewe, maar intussen leef hulle net vir hulleself”. Ek dink die laaste tyd baie aan Christene wat nie deel van ‘n Christen gemeenskap wil wees nie. Ek dink hulle mis baie, maar daar is ook ‘n soort van eie ek wat te belangrik raak. Ons moet die vreugde van dien en gee beter leer ken.
Semisoet: Ek moet ook dikwels nuut begin. Vir my beteken dit om terug te gaan na waar ek die Vader se hand gelos het en weer van daar af voort te gaan. Soms begin ek sommer net waar ek is en tel die “drade” een vir een op. Alles begin by ‘n keuse: “Here ek wil nuut begin.” Eintlik maak Hy dit vir ons baie maklik – Hy wil, as ons net ook wil.
Vir my beteken oor begin ‘n paar goed. Ek sê op my knieë dankie dat Hy my toelaat om elke keer weer oor te begin. Verder pleit ek om genade on nie oor en oor terug te gaan na my ou foute nie. Om nie hardkoppig vas te klou aan dit wat my veilig laat voel nie, maar om biddend tree vir tree versigtig Sy wil te soek. Al beteken dit ek moet ‘n groot stuk van myself prysgee. Die kere wat ek sulke besluite moes neem het ek net vasgehou aan die versie “alles werk ten goede mee vir die wat Hom liefhet..” Hy het nog altyd vir my dinge goed laat uitwerk al het dit gevoel of Hy ‘n fout maak. Daarna het ek altyd geweet Hy KAN nogal ‘n reguit hou met ‘n baie, baie skewe stok slaan. Dankie Jesus dat U my oor en oor ‘n kans gee.
Daar is tog plek vir tradisie in die kerk, voel ek. Sonder tradisie sal dit darem baie kil en onpersoonlik wees. Nogtans moet tradisie inklusief eerder as eksklusief wees. Daar is verskillende kerke met verskillende tradisies sodat alle soorte mense ‘n plek kan vind waar hulle tuis voel binne die liggaam van Christus.
die bybel se,as gevolg van die tradisies en die oorleweringe van die ou mense maak julle die woord van God kragteloos.ons moet ‘n lewende verhouding he met God,nie die navolg van tradisies nie.as jy in ‘n kerk is met tradisies is jy in ‘n begraafplaas,…………………in een van die grafte
Vir elkeen van ons kom daar ‘n tyd wat hierdie vraag ernstig oorweeg word. Of jy dit nou wil erken of nie, elkeen van ons gaan van tyd tot tyd deur die worstelling om weer voor te kan begin. Soms neem ons besluite en doen dinge wat nie terug getrek kan word nie. Dan is dit net God se genade en vergifnis wat help om weer die stukkies op te tel en aanmekaar te sit. Sonder Sy hulp en krag is die opstaan moeilik en lank. Soms is dit nodig om uit tradisie net voort te gaan om in Sy hulp en raad te soek vir ‘n tyd al hoor jy nie Sy stem nie. Op die regte tyd sal Hy antwoord en jou help om weer op te staan en voor te kan begin. Soms is dit ‘n baie alleen pad om te loop en in vandag se besige lewe is daar nie altyd iemand wat tyd het om te stop en die pad van weer begin saam met jou te loop nie.
Attie, ek is beïndruk met die woord “tradisionele Christenskap” wat jy gebruik as omskrywing van Christene wat leef sonder Christus. ‘n Ander woord wat die saak ook beskryf is vormgodsdiens. Skrifgedeeltes wat daarna verwys is Matt 7:1-9 en Mark 7:1-13.
Ek het nog nooit aan so akkurate omskrywing gedink nie. Ek gebruik doelbewus die woord ‘omskrywing’, want dit is nie ‘n definisie wat jy gestel het nie. Ek meen ons moet oppas om nie te definieer nie. Ons moet net oppas dat ons in ons post’s nie hierdie omskrywing verwar met ander konsepte soos bv. Christenskap, eredienste, spiritualiteite nie. Dus verstaan ek wat flippiefanus bedoel, maar dis nie hoe ek jou omskrywing verstaan nie.
Geleefde Christenskap het vir Nikodemus waarde gekry toe hy Christus werklik ontmoet het. Daaglikse bekering beteken dat ek voortdurend nuutgemaak word deur Christus (vgl. oa Rom. 12:1,2). Die wêreld benodig veel meer Christene wat die woorde van die lied biddende sing: ”Kom, o Skepper Gees, lewendmakend Gees”.
Ds Attie waar is jy?
Wil ook weer nuut begin maar voel verlore met n innerlike stryd. Ek verlang na my verhouding wat ek gehad het met God. Bid asb vir my.