DIE BYBEL IS UNIEK IN SY BEWARING

Teoloë maak die gewaagde stelling dat die Bybel in die oorspronklike tale 99% is wat die oorspronklike skrywers geskryf het. Indien ‘n mens die bewering maak dat die Bybel in Grieks, Hebreeus en Aramees soos ons dit vandag het 99% is soos die skrywers dit oorspronklik geskryf het, moet ons so ‘n aanspraak op een of ander manier kan staaf.

In die tyd toe die Bybel geskryf is, was daar nie fotostaatmasjiene en drukperse ens. nie. As hulle daardie tyd meer as een afskrif van ‘n dokument wou gehad het, moes hulle dit oorskryf.

Tekskritiek is ‘n vakdissipline wat kan bepaal hoe akkuraat die oorskryf en oorleweringsproses met betrekking tot antieke tekste soos die Bybel is. Daar is nie oorspronklike tekste van die Bybel oor nie, soos ook die geval met skrywers soos Plato; Shakespeare; Josephus; Aristoteles of Mohammed. Tekskritiek word gebruik om die akkuraatheid van al hierdie tekste (Waaronder die Bybel) te bepaal.

Die manier waarop tekskritiek te werk gaan is om die verskillende manuskripte van dieselfde teksgedeelte met mekaar te vergelyk. Op hierdie manier is dit moontlik om die mees akkurate teks saam te stel.

Aristoteles is die skrywer van wie daar naas die Bybel die meeste manuskripte is – 643 in totaal. Met betrekking tot die Bybel is daar 4000 verskillende manuskripte van die Ou Testament beskikbaar en 24 000 van die Nuwe Testament. Die vroegste manuskrip is een van Johannes wat ongeveer 25 jaar nadat Johannes dit geskryf het, gedateer word. Is dit nie vreemd maar tog terselfdertyd wonderlik dat daar soveel meer manuskripte behoue gebly het as enige ander antieke teks nie?

Dit is wonderlik om soveel manuskripte beskikbaar te hê, maar dit het terselfdertyd ook sy nadele. Die situasie kan vergelyk word met getuies by ‘n ongeluk. Elke getuie het iets anders raakgesien. Daar is sekere dinge waarmee die getuies saamstem, maar daar is ook meer verskille as wanneer daar net ‘n paar getuies sou wees, daarmee saam is daar selde een persoon wat alles gesien het. Uit al die getuies, ten spyte van die verskille, slaag die ondersoekers tog daarin om ‘n redelik volledige prentjie te kry van wat gebeur het.

Die groot hoeveelheid manuskripte wat beskikbaar is, laat tekskritici met dieselfde situasie. Die nadeel is natuurlik dat daar nou meer verskille ook gaan wees. Die ander belangrike punt is natuurlik dat hoe meer getuies daar is, hoe meer geloofwaardig is die weergawe van die gebeure wat op die ou end aangebied word. Tekskritiek as vakgebied bewys mense wat beweer dat die antieke tekste wat ons vandag lees nie ooreenstem met dit wat die skrywers oorspronklik bedoel het nie, verkeerd.

‘n Man met die naam Metzger is waarskynlik een van die beter tekskritici in die wêreld en die toonaangewende tekskritikus met betrekking tot die Bybel. Volgens Metzger is daar ongeveer 20 000 sinne in die Bybel. Met al die baie manuskripte (4 000 van die Ou Testament; 24 000 van die Nuwe Testament) wat daar is, is tekskritici onseker oor slegs 40 van daardie 20 000 sinne – met ander woorde, minder as 0.5%.

Die vakgebied van tekskritiek is van mening dat 99.5% van die Bybel wat ons vandag lees ooreenstem met dit wat die skrywers oorspronklik geskryf het.

F.F. Bruce sê dat nie een van die belangrikste leerstellings van die Bybel word deur die bevindings van tekskritiek bedreig nie.

‘n Voorbeeld van hoe verskille in die verskillende manuskripte lyk, is:

Jesus is die Verlosser van die wêreld.
Christus Jesus is die Verlosser van die wêreld.
Jesus Christus is die Verlosser van die wêreld.
Jesus Christus is die Verlosser van die hele wêreld.
Jesus is die Verlosser van die hele wêreld.

Hier is vyf verskillende maniere om dieselfde waarheid oor te dra, nie een is heeltemal dieselfde as die ander een nie, maar op geen manier is daar ‘n verskil in die boodskap wat deur hierdie woorde oorgedra word nie.

Hierdie feite laat ‘n mens wonder: Hoe kan dit wees dat daar so min foute gemaak is? Die antwoord het waarskynlik daarmee te make dat die mense van daardie tyd net soos ons vandag baie graag hulle belangrike dokumente en boeke wou bewaar. Daarom het hulle die oorskryf en die bewaring van daardie tekste baie ernstig geneem en baie akkuraat en presies te werk gegaan. Hulle het op verskillende maniere akkuraatheid verseker. Bv.: Die Skrifgeleerdes van die Ou Testament het geweet hoeveel woorde daar op elke bladsy is en watter woord die middelste woord op elke bladsy is. As jy dus ‘n bladsy oorskryf, dan lees hulle alles noukeurig deur en dan tel hulle die woorde en maak seker dat daar die regte hoeveelheid woorde op die bladsy is en dat die regte woord die middelste woord is. Indien dit nie so is nie, dan word daardie dokument wat oorgeskryf is, dadelik vernietig.

Weereens: Wie dus beweer dat die Bybel vol foute is omdat dit so oor en oor geskryf moes gewees het, het baie duidelik nie hulle huiswerk gedoen nie.

Een van die belangrikste ontdekkings met betrekking tot die Bybel wat in die laaste jare gemaak is, is die ontdekking van die Qumran geskrifte. Sedert 1947 is daar ongeveer 900 boekrolle in elf verskillende grotte ontdek wat deur een of ander Joods-godsdienstige groep (Waarskynlik die Esseners) daar gestoor is. Onder andere is Jesaja feitlik volledig daar ontdek. Die ontdekkings het in ‘n groot mate bevestig dat die wetenskap van tekskritiek goeie werk gedoen het.

Ek gaan dit weer sê: Al hierdie dinge bewys nie dat die Bybel die Woord van God is nie. Op hierdie stadium kan ons net sê:
Die Bybel is op ‘n unieke manier saamgestel;
Die Bybel is op ‘n unieke manier versprei;
Die Bybel is op ‘n unieke manier bewaar.

Ek dink nie hierdie dinge kan ooit enige iemand oortuig dat die Bybel die manier is waarop God met ons kommunikeer nie, maar wat ek wel weet is dat dit gelowiges se geloof versterk en dikwels mense wat daaroor twyfel laat dink.

More ‘n paar gedagtes oor die unieke aansprake van die Bybel.

10 Kommentaar

Filed under Die Bybel

10 responses to “DIE BYBEL IS UNIEK IN SY BEWARING

  1. Blondie

    Love it Dooms!
    God bless you for proper research!
    Blessings!

  2. Ek lees baie lekker aan hierdie reeks. Dit het net op die regte tyd vir my gekom, ek het al hoe meer begin wonder oor die Bybel….

  3. willem

    Dankie Attie,

    Ek het self die boek: “The Text of the New Testament” deur Bruce Metzger bekyk. Baie hoog aangeslaan in beide Amerika en Europa. Terloops, ek onthou dat ek ‘n klompie jare gelede ‘n onderhoud wat Lee Strobel met Metzger gehad het raakgelees het in een van Strobel se boeke. Strobel het self ‘n aangrypende verhaal: Was ‘n grootkop (en atheis as ek reg onhou) by die invloedryke Chicago Tribune koerant in die VSA) en het later tot bekering gekom.

    Groete – sien uit na jou volgende blogs!

    Willem

  4. Bertus!

    Attie, wat is die maatstaf wat Metzger gebruik? As hy reg was, sou die Biblia Hebraica Stuttgartensia net 40 voetnotas gehad het, en ons weet dit is nie die geval nie. Die BHS het nader aan 40 000 tekskritiese notas. As ons slegs na Jeremia kyk, byvoorbeeld, is byna die helfte van die boek verskillend uit die Hebreeuse weergawe (wat ons gebruik) en die antieke Septuagint. Die res van Jeremia is dus omstrede. Dis eksponensieel meer as 40 sinne.
    Goeie vertalings soos die New International Version (wat nie deur liberaliste opgestel is nie, maar deur behoudende evangelicals) gee ook in hul voetnotas aanduidings van sinne en woorde wat histories alternatiewe kan he^, honderde van hulle.
    Maar natuurlik beteken dit nie alles wat omstrede is, is vals nie. Dit beteken bloot dat Metzger ‘n baie konserwatiewe raming maak. Ek sal nie met hom saamstem nie.

  5. Bertus: 40 Sinne – baie meer woorde. Volgens FF Bruce word nie een van die belangrike leerstellings van die Bybel daardeur geraak nie. Vertalings – Ek dink die Multivertaling het dalk meer as die NIV.

  6. Gerhard Nel

    Liewe aarde ds Nel! Is dit die beste wat jy kan doen op Bertus se bydrae? Ek praat nie eers van party ander se reaksis wat jy heeltemal ignoreer nie. Jy begin ‘n gesprek op jou blog maar al wat jy doen is om jou eie siening hoofstuk na hoofstuk hier te plak sonder om hoegenaamd te reageer of in in gesprek te tree met diegene wat van jou verskil. Almal wat saamstem word ewe broedelik of susterlik op die skouer geklop.

    Ek het nog nie EEN keer gesien dat jy jou volgelinge beripe of van hulle verskil nie.

    Is dit nopu wat mens noem stille dialoog?

  7. Bertus: Ek reageer nie nou op grond van Gerhard Nel se kommentaar nie, maar omdat ek biertjie haastig was en nie kon klaar maak nie. Ek het gelees dat daar ongeveer 15 000 verskille is wanneer al die verskillende manuskripte met mekaar vergelyk word. Maar, steeds is FF Bruce se mening tog iets om van kennis te neem naamlik, dat nie een van die belangrike leerstellings weerlê word nie. Daar is darem ‘n paar ander teoloë ook wat hierdie mening huldig, maar ek het steeds respek vir jou mening.
    Gerhard: Gaan kyk bietjie mooi dan sien jy dat ek ‘n hele paar kere vir waarnemer geantwoord het. Dit is baie duidelik dat ons nie by mekaar gaan uitkom nie, so ek sien nie enige sin in verdere gesprek nie. Ek het ook nie nodig om op sulke opmerkings soos joune te reageer nie. Jy hoef nie met my saam te stem nie. Ek hoef ook nie teen jou te verduidelik waarom ek dink soos ek dink en voel soos ek voel nie.

  8. Bertus!

    Attie, ek ken nie vir Gerrie nie.

    Indien Metzger dieselfde ou is wat voorsitter van die Revised Standard Edition se vertaalkomitee was, dan het ek heel respek vir hom. Maar ek stem inderdaad nie met hom self nie. Ek dink mens moet ook nie onnodig bedreig voel deur die feit dat die Bybel se inhoud soms effens vloeibaar was oor die eeue nie. Ek hou nogal daarvan om aan die Bybel te dink as ‘n groot stroom waarin honderde klein stroompies deur die eeue bymekaar gekom het – dit hoef nie ‘n rigiede ding te wees nie, dis ‘n rekord en ‘n weerspieeling van mense se geestelike ontwikkeling oor millennia.

  9. Bertus: Ek vermoed dit is dieselfde Metzger waarvan ons praat. Oor die ontwikkeling oor milennia sal ek en jy dalk verskil , behalwe as jy verwys na die Ou Testament se ontwikkeling. Ek het nou al ‘n hele paar kere daarna verwys dat ek NT Wright se boek lees. NT Wright verwys bv. na die Q bron en ook na die Thomas Evangelie. (Ek hoop nie te raak te akademies vir ‘n paar ouens nie.) Hy gee inderdaad ‘n datering aan die Q bron voor die ander evangelies, maar die Evangelie van Thomas eerder ‘n bietjie later. Ongelukkig is daar volgens hom geen manuskripte van Q bron beskikbaar nie. Met ander woorde: Ek stem saam met ouens soos Wright en selfs Metzger dat die Evangelies saamgetel is uit verskillende bronne. En die meeste word gedateer (Weereens volgens Wright en ‘n hele paar ander Nuwe Testamentici) binne die eerste eeu na Christus. Met ander woorde ek aanvaar dat daar in die evangelies veral ‘n hele paar strome is wat in mekaar vloei, maar dit verander (vir my as Christen) nie die gesag wat die Bybel het nie en die feit dat ons (Christene) glo dat dit die manier is waarop God met ons kommunikeer nie.

  10. Bertus: Dit lyk vir my dit is wel dieselfde Metzger

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s