OOR VERGIFNIS EN SPLINTERS EN BALKE EN HONDE EN VARKE

In my stiltetyd werk ek deur die Saligsprekinge in Matteus 5-7. Daar is dae wat ek nie daarby uitkom nie, maar ek gooi nooit tou op nie. Op hierdie stadium is dit meestal een dag ‘n week wanneer ek nie daar uit kom nie. Vanoggend is een van daardie oggende omdat ek net tussen drie uur en half- ses geslaap het. Maar in my gedagtes bly ek besig met die gedeeltes wat ek in my stiltetyd lees.

Die gedeelte wat ek gister gelees het was Matteus 7:1-6. Dit is die gedeelte oor oordeel en spinters in ander se oë en balke in jou eie oë. Maar nou onthou ek ook dat ek ‘n rukkie terug oor Matteus 6:5-14 gelees het – die gedeelte waar ons die Ons Vader gebed lees.

In Matteus 6:14 lees ek daardie woorde wat my bietjie bang maak. Daardie woorde wat sê dat as ek ander hule oortredings ( teenoor my) vergewe sal die Vader ook my oortredings (teenoor Hom) vergewe.

Laat ek eers iets sê oor vergifnis. Smedes besryf die verksilende stadiums van vergifnis so:
1. Ek voel die seerkry aan. Dit gebeur onmiddellik as ek seerkry.
2. Ek haat. Ek neem die persoon kwalik. Dit is ‘n natuurlike reaksie.
3. Ek genees. Ek laat los. Hierdie is krities in die proses. Hierdie is nie natuurlik nie. Daarom is dit iets wat ‘n Christen die beste kan verstaan. Hierdie stadium kan ‘n tydjie duur. Dit is ‘n doel waarna ek moet strewe. Hier gee ons dikwels twee tree vorentoe en een terug. Selde is dit ‘n Damaskus-ondervinding; meer dikwels is dit ure in gebed.
4. Ek vergeet. Dit beteken nie ‘n sentimentele geheueverlies nie. Dit beteken in wese dat my wrewel van die verlede nie meer ‘n rol speel as ek na die ander persoon kyk nie.

Nou eers ‘n stukkie getuienis. Daar is ‘n persoon oor wie ek al ‘n hele paar maande by stap 2 vassteek. Die persoon weet nie eers dat ek hom/haar nog “haat” nie. Hierdie behoefte om te vergewe, was altyd daar en ek dikwels daror gebid – eintlik meer met die Here gepraat oor hoekom ek nie nodig het om te vergewe nie. Maar, die laaste Sondag voor ons met vakansie is – ‘n paar dae nadat ek die gedeelte oor vergifnis in Matteus 6:14 gelees het, en weer die ou gesprekmet die Here gehad het, het daar iets wonderliks met my gebeur.

Ek was besig om die sang in ons gemeente te lei. Ek kan nie eers onthou met watter lied ons besig was nie. Terwyl ons sing sien ek herdie persoon. Ons het nie eers oogkontak gemaak nie, maar die oomblik toe ek die persoon sien, kom daar ‘n wonderlike vrede in my hart. Ek vergewe. Die Woord het die sirkel in my lewe voltooi.

Maar, gister en vandag is ek nou by die gedeelte in Matteus 7:1-6 oor splinters in ander se oë en balke in my oë. Ek besef skielik dat daardie woorde meeste van die kere misbruik word. Ons misbruik dit net as iemand ons wil wys op die splinter in my eie oog. Want sien, splinter kan ook beteken dat ek vir hierdie persoon soms moet sê dat ek sukkel om te vergewe en hoekom ek sukkel om te vergewe en wat hy/sy gedoen het wat maak dat ek nodig het om te vergewe, of oor een of ander iets in die persoon se lewe wat nie reg is nie. Maar, as ek dit wil sê, dan kom die antwoord: “Wat van die balk in jou eie oog.” Dan is ek gesnoeker en is dit ‘n skaakmat situasie.

Maar, ons lees nie die gedeelte klaar nie. Vers 5 lees so: “Huigelaar! Haal ers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou eie broer se oog te haal.” Die situasie is nie bedoel om skaakmat te wees nie. Maak eers jou eie oog reg, anders sal jy nie kan sien nie maar, die splinter in jou broer se oog moet uitgehaal word.

Hoe pas dit in by vegifnis. Ek moet versigtig wees dat ek nie splinters raaksien in ander së en die balk in my eie oog mis nie. Die balk in my eie oog was my eie onwilligheid om te vergewe, maar ek moet nie dink dat ek nie ander mense seermaak nie, ek het soms nodig om vergifnis te gaan vra – die balk in my eie oog uit te haal.

Maar Mateus 7 het ook ‘n vers 6: “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle veskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” Ek het hierdie ander persoon vergewe, hy weet nie eers dat ek nodig gehad het om hom/haar te vergewe nie. Daarom gaan ek nie sê dat ek vergewe het nie. Sulke vergifnis is baie persoonlik en gaan waarskynlik wonde veroorsaak wat nie nodig is nie. In elk geval huigel ons soms met vergifnis omdat ens eintlik wil hê dat mense moet raaksien dat ons in ons hoog-heiligh vergewe het. Maar, as vergifnis ‘n verhoudin gaa herstel – gaan praat.

Maar, ek dink, soms misbruik mense ook ‘n mens se vergifnis. Hulle sien vergifnis as ‘n swakheid, of as ‘n lisensie om weer seer te maak. Die omblik van vergifnis was nog elke keer in my lewe ‘n heilige oomblik en’n kosbate skat wat ek vertrotel, ‘n bewus dat God se Gees nog in my aan die werk is. Ek gaan nie daardie heilige oomblik spreekwoordelik voor die honde gooi nie – hulle gaan dit misbruik en omspring en my veskeur. Ek gaan ook nie hierdie kosbare pêrel van vergifnis voor die spreekwoordelike varke gooi nie, hulle gaan dit vertrap.

Misbruik van vergifnis en die wys op die splinter in ‘n ander se oog, mag nooit beteken dat ek nie nodig het om te vergewe nie of dat ek nou die reg het om die balk in my eie oog mis te kyk of te ignoreer nie. As ek enigsins dink dat die persoon respek en agting sal hê vir die balk wat ek uit my eie oog verwyder en die vergifnis wat ons versoen het, dan moet ek dit doen en as dit nodig is dit vir daardie persoon sê.

Ek kan nie vergifnis reduseer tot ‘n voorskrif nie – so maklik is dit nie. Die krag om te vergewe, kom uiteindelik van God af. Terselfdertyd moet ek dit met alles in my nastreef.

7 thoughts on “OOR VERGIFNIS EN SPLINTERS EN BALKE EN HONDE EN VARKE

Add yours

  1. Baie dankie vir die inskrywing. Ek is juis nou in n situasie wat ek regtigwaar baie hard sukkel om die persoon te verwege. Ek het nodig gehad om te besef dat ek meer foute het in my en dis wat die situasie so moeilik maak, ek is iemand wat so maklik kan ander mense se foute raak sien en tog so vinnig op my perdjie kan klim as daar na my verwys word. Ek het nou tyd nodig om na te gaan dink oor my situasie en ek sal verseklik moet harder bid om vergifnis sodat my oe kan oop gaan en die wereld sonder my balke in my oe kan aanpak.

  2. Alle mense soek na geluk in die lewe. Ons as Christene het ‘n onregverdige voorsprong omdat die geheime opgeteken is in die Bybel en hierdie is een van daardie geheime. Om iemand te vergewe gee jy iets van jouself weg. Dis soos om jou swaar verdiende geld weg te gee, omdat iemand anders dit nodig het (onthou jy hoef dit nie te doen nie). Dis van die beste maniere om innerlik gelukkig te wees , net jy weet daarvan en dit bring nog groter vreugde en innerlikke vrede wat ander mense nie kan verstaan nie. Jy moet dit eers self beleef en dan word jou Christenskap Hemel op aarde.

  3. Doom, Daardie laaste sin het vir my die meeste waarde in die stukkie. Baie keer wil ons vergewe maar wil dit doen sonder die KRAG van God. Ons moet bid, bid en bid self vir vergifnis en dan sal God vergewe vir wie ons vergewe en dit so in ons bewerk. Na my vergifnis het ek die ding verstaan wat Alec sê van innerlike vrede en geweet God het ook die persoon vergewe soos ek vergewe het.

    Alec, ek stem dit is innerlike vrede wat ander mense nie verstaan nie en ook nie soveel beteken soos vir jou nie.

  4. Ek het self deur die vergewe-stryd geworstel na my egskeiding. Gelukkig kan ek nou sê dat ek nou reeds 6 jaar geskei is en ek het hom vergewe. Maklik was dit nie, maar ek het dit met die hulp van ons Hemelse Vader reggekry.

  5. Om te vergewe is baie bevrydend! Om met daardie kwaad in jou rond te loop is gif vir die siel en op die ou einde vernietig jy jouself. Ja, dit is nie altyd so maklik nie, maar als met goeie tyd.

  6. ek het ‘n vraag, wanneer jy vir iemand in ‘n brief skryf dat jy daardie persoon vergewe het, oor dinge wat in die verlede gebeur het, maar jy gaan nog steeds en verkondig die “verkeerd” aan almal anders, wat sê dit oor hierdie “vergifnis”. As ek jou vergewe want jy het iets sleg aan my gedoen, vergewe ek jou met my hele hart en beweeg aan met my lewe, is ek reg? Ek gaan nie weer twee jaar daarna jou weer herinner aan die “verkeerd” nie…

  7. Ek het die afgelope tyd ervaar dat ek ‘n groepie mense steeds nie vergewe het vir dinge wat meer as 16 jaar terug gebeur het nie. Telkens as ek moeg is, of iemand doen iets soortgelyks, kom die ou seer en woede weer by my op en dan wens ek hulle allerhande erge dinge toe. Dit is ten spyte daarvan dat ek van tyd-tot-tyd gebid het dat die Here my sal help om te vergewe. Ek het uiteindelik gaan sit en presies probeer uitwerk hoekom ek steeds so voel, en na baie gebed en introspeksie besef dat ek in ‘n mate ook kwaad is vir myself, dat ek toegelaat het dat ander my soos ‘n vleorlap behandel en nooit gewys of gesê het dat dit seermaak nie. Toe ek dit besef, kon ek alles uiteindelik laat los en aanbeweeg.

    Elaine, ek weet ek antwoord nou eers ‘n jaar en ‘n half nadat jy geskry het, maar ek stem saam met jou. As ‘n mens vergewe het, het jy die seer en alles afgeskryf. Dis soos Ds. Attie hierbo sê, dat jy na die persoon kan kyk sonder wrewel. As dit weer opgehaal word, het jy dit nog nie “gepark” nie en is die woede en seer steeds daar.

    Ons moet ook onthou dat die vyand niks daarvan hou as ons vergewe nie. Ek sien vergifnis as iets wat jy ook vir jouself doen. Die ander persoon weet baie keer nie dat jy vies of seergemaak is nie. As jy vergewe en laat los, maak jy jouself vry van haat en bitterheid, dit is letterlik soos ‘n berg wat van jou skouers afval. My ervaring is telkens dat ‘n swaar las van my weg is en dat ek kan opstyg soos ‘n veer na die lig daarbo.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: