Wat behoort ‘n mens te verstaan onder die gedagte: God voorsien?
God is almagtig, alomteenwoordig en die Skepper van hemel en aarde. As Skepper het Hy nie sy skepping – waarvan die mens die belangrikste is – alleen gelaat nie, maar is Hy eerder op ‘n wonderbaarlike tog misterieuse manier betrokke by alles wat gebeur.
God se betrokkenheid beteken dat Hy sy skepping in stand hou deurdat Hy daaroor heers en dit regeer. Onder God se heerskappy verstaan ons onder andere dat tye van reën en tye van droogte; vrugbare tye en onvrugbare tye; tye van gesondheid en tye van siekte; tye van rykdom en tye van armoede en alles wat in ons lewe gebeur met God se medewete gebeur en dat God dit alles met die hart van ‘n Vader in diens neem om ons daardeur te vorm sodat ons alles kan word wat Hy bedoel het ons moet wees.
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:31)
Alles in hierdie lewe laat Hy met ‘n doel gebeur, dit glo ek! Hy is in beheer en Hy weet wat die beste vir my is, daarom vra ek Hom elke dag dat Sy wil in my lewe sal geskied. Rom 8:31 gee aan my die gerusstelling dat ek nie bevrees hoef te wees nie – oor NIKS nie!! Wonderlik!