Hierdie is die eerste hoofstuk van John Burke se boek: “No Perfect People Allowed”. Sy titel vir die hoofstuk is: The first Corinthian church of America.
IN DIE WÊRELD MAAR NIE VAN DIE WÊRELD NIE
As ons kan verstaan wat die Here deur die gemeente of kerk wil doen, sal mense ervaar dat die onsigbare Jesus sigbaar gemaak word deur die liggaam, die plaaslike gemeente. Die probleem is, dat hierdie manier van kerk wees, soms ‘n bietjie “morsig” (Burke noem dit “messy”) kan raak.
Die gemeente sal byvoorbeeld in gedagte moet hou dat mense wat kerk toe kom nie altyd dieselfde oortuigings as hulle gaan hê oor sake soos die skepping, samelewing, aborsie, seks buite die huwelik, drankgebruik, ens. nie. Dit beteken nie dat die gemeente alle morele sake ignoreer nie, maar die belangrike punt Burke hier maak is: Ons kan tog nie van ‘n sekulêre (buite-kerklike) gemeenskap verwag om soos ‘n Christelike (kerklike) gemeenskap te leef nie. Die Bybel leer dat liefde vir God eerste kom en net daarna liefde vir mense. Maar, dit is heeltemal ‘n nuwe uitdaging om hierdie beginsels in ‘n sekulêre (buite-kerklike; post-modern; post-Chritelik) gemeenskap uit te leef.
KERK/GEMEENTE IN DIE GEMEENSKAP
Burke wys op hierdie ooreenkomste tussen die omgewing waarin Christene geroep is om kerk te wees vandag en die gemeente in Korinte.
- Hulle was trots op intellektuele prestasies.
- In dié ryk stad was die klem op luukshede en gemak.
- Sport was hulle gunsteling tydverdryf.
- Hulle het ‘n volle oorgawe aan die plesiere van die lewe verkondig.
- Korinte was bekend vir hulle wilde partytjies en seksuele vryhede.
- Alle godsdienste was ewe belangrik, en het die boodskap dat Christus die enigste weg na die God is, erg aanstootlik gevind.
(Ek wonder in watter mate het die kultuur van die omgewing of gemeenskap reeds die kultuur van die kerk ook geword?)
Die brief aan die Korintiërs beklemtoon, dat dit die plek en omstandighede was waar God gekies het om sy gemeente te bou. Die kerk kan en mag nie daarmee tevrede wees om net te oorleef nie, maar moet daarop fokus om dié rol te speel wat God bedoel het die kerk moet speel – ‘n plek van waar ‘n invloed op die gemeenskap uitgeoefen word op grond van feit dat die gemeente ‘n plek van liefde en genesing en herstel vir alle mense is.
Die kerk bevind haarself in ons tyd in ‘n baie groot mate in dieselfde omstandighede as die gemeente in Korinte, en die kerk sal die mense wat in hierdie omstandighede lewe (L.W. Mense wat in hierdie omstandighede lewe – nie gelewe het nie.) in sy midde moet verwelkom indien die kerk effektief wil wees.
Die post-moderne eksperiment – “if it feels good, do it” – van die jare 1960-1980 het ‘n geslag gewonde, stukkende, geestelike honger mense tot gevolg gehad. Hierdie groep is op soek na een of ander geestelike ervarings, maar die kerk is nie deel van hulle soeke nie, die kerk is in ‘n baie groot mate nie eers ‘n oorweging nie.
‘N VREEMDE KULTUUR
Paulus was ‘n visionêre kerk-planter wat bereid was om baie opofferings te maak om hart en siel betrokke te raak by ‘n “messy” kultuur wat vir hom baie vreemd was. Ons word geroep om in navolging van die Here Jesus met hart en siel en liggaam betrokke te raak by ‘n soms “messy” kultuur wat vir ons baie vreemd is.
Hierdie geheimenis van God wat Homself laat verteenwoordig deur die mense wat werklik op Hom vertrou, moet deur ons tot uitdrukking. In ‘n post-moderne, post-Christelike wêreld moet die onsigbare liggaam van Christus, sigbaar word.
ONS PLANT – GOD LAAT GROEI
Ons taak is om “cultural farmers” te word. Ons moet die Here vertrou wat reeds aan die werk is in die omgewing waarbinne ons lewe. Ons werk is om die grond voor te berei vir groei, met die wete dat God die Een is wat laat groei. Hoe berei ons die regte grond voor? Deur ‘n kultuur te skep waar enige iemand in enige omstandighede en enige toestand verwelkom word – nie net welkom is nie, maar verwelkom word. (Daar is ‘n verskil: “Welkom is” is ‘n teorie. “Verwelkom word” is ‘n handeling.) Die skep van hierdie kultuur is in besonder die verantwoordelikheid van die leiers in ‘n plaaslike gemeente, maar ook van elke lid van die gemeente.
Dan hierdie les: Dit is nie die sigbare wat saak maak nie, maar meestal dit wat onsigbaar is. Dit is nie geboue, tegnologie, aanbieding, ens. wat saak maak nie, maar gesindheid; nie liturgie nie, maar liefde.
WAT IS KULTUUR?
Kultuur is die gom wat ‘n organisasie by mekaar hou. ‘n Gemeente se kultuur word sigbaar deur die alledaagse dinge: Wat gebeur? Waarom gebeur dit? Hoe gebeur dit? Met wie gebeur dit? Die boodskap van Christus moet op so ‘n wyse binne die plaaslike omgewing en die plaaslike gemeenskap gestalte kry (gekontekstualiseer word) dat die gemeenskap van Christus uit die onmiddelik omliggende omgewing of gemeenskap groei.
Wat in die erediens gebeur, speel ook ‘n baie groot rol in die skep van die kultuur. Die tipe musiek,hoe mense praat, hoe mense optree teenoor ander.
Die indruk wat ‘n nuweling kry van hoe hy/sy behoort te lewe en op te tree om deel te word van hierdie omgewing. Die inhoud van die boodskappe wat verkondig word; die stories wat vertel word; die verhale van ‘n geloofsreis wat vertel word. As hierdie geslag mense nie van die mense hou nie, sal hulle nie terugkom nie. Ons mense is ons grootste wapen.
Net soos daar geen volmaakte mense is nie, is daar ook nie volmaakte kerke of gemeentes nie.
Wat dink jy?
In hoe ‘n mate het die kerklike mense (m.a.w. die kerk) in Suid Afrika dieselfde prioriteite as die buite-kerklike mense?
In hoe ‘n mate is die volgende geslag mense wat die kerk moet vorm soos die mense wat hier beskryf word?
Wat dink jy sê die inhoud van die boodskappe in die kerk/gemeente oor die kultuur van die kerk/gemeente?
As ons as mens volmaak moes gewees het, sou ons nie een ooit ‘n fout gemaak het nie, of foute sou nie foute gewees het nie! Ds ek is so bly ek is nie volmaak nie! Ek is nie skaam te erken ek fouteer baie nie! Dit is net menslik om te fouteer! Wonderlik dag vir u!!