‘N ANONIEME BRIEF

” ‘Vir ewig verdoem; Op aarde en in die hiernamaals.’ Ek dink dit is wat geskryf staan langs my naam in die Boek van die Lewe.

Watter ander rede is daar waarmee ek my misrabelike lewe en eensaamheid kan verklaar? Waarom wil dit vir my lyk asof ek bestem is om vir ewig sonder enige geluk te lewe? Wat is dit wat God wil hê dat ek moet leer uit al my swaarkry?

Ek dra alreeds die las van een mislukte huwelik. Watter les is ek veronderstel om daaruit te leer? In hierdie lewe maak ons al hierdie foute en dan leef ons saam met die gevolge daarvan, met geen lig aan die einde van die tonnel nie. In hierdie lewe gee jy jou hart vir iemand anders en laat die persoon toe om dit te verguis, dan kan hy/sy dit op die grond gooi, daarop trap, daarop spoeg en selfs ‘n paar keer darop spring, net vir die bevrediging wat hy/sy daaruit kry. Dan wag jy ‘n rukkie vir iemand anders om dit ook te doen. Moenie te bekommerd wees oor die seer nie, dit duur net vir ‘n leeftyd.

As dit al is waarvoor ek goed is, wat is dan die sin of die nut van my hier-wees? Ek het nie hiervoor gevra nie: Ek wil dit verseker ook nie hê nie. Maar kan ek dit teruggee? Ek kan nie. Hoe is dit moontlik dat ek God so kwaad kon maak, dat Hy hierdie tipe van straf aan my uitdeel? Is daar enige iets wat ek kan doen wat my weer in Sy goeie boekies sal laat wees? Waarom neem Hy nie net my lewe nie? Waarom gooi Hy my nie net in die hel en maak ‘n einde aan dit alles nie?

Ek veronderstel daardie lyding sal ook nie genoeg wees nie. Ek veronderstel ek moet hier eers ly voordat ek in die ewige verdoemenis gegooi word. Ek veronderstel maar dat ek het dit alles verdien het. Maar, as dit is hoe dit moet wees, waarom kan ek dit nie maar net aanvaar nie? Waarom bly ek hoop…? Ek wil net weet hoekom, dit is al. En, as God dalk – dalk – een of ander vorm van geluk – enige geluk – vir my beplan het, sal dit ten minste hierdie lewe ‘n klein bietjie meer draaglik maak.”

17 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

17 responses to “‘N ANONIEME BRIEF

  1. Aan die skrywer van die anonieme brief:

    Dis darem net te maklik om AL jou pyn, ongeluk en hartseer voor God se deur te le. Wat het geword van die feit dat jy self ook keuses in jou eie lewe gemaak het? Voor jy hierdie verkeerde keuses gemaak het, wat jou al hierdie bitterheid, eensaamheid en pyn gebring het, het jy eers op jou kniee gegaan en vir God raad gevra? Het jy enigsins geluister na die raad, van God of enige ander wese?

    Ek dink jy is kwaad vir jouself, maar dis so maklik om die blaam te skuif en te glo God is kwaad vir jou. Dan kan jy mos maklik agteroor sit en se, “Kyk hoe swaar kry ek, en ek weet nie eers hoekom ek so gestraf word nie, ek weet nie eers hoekom God so kwaad is vir my nie.”

    Ons is nie marionette in God se hande wat net dans soos wat hy die toutjies trek nie. God het ons mense gemaak met vrye keuses. Die dobbelsteen val nie vir ons almal op ‘n ses nie, maar wat ons met die nommers doen wat aan ons uitgedeel word, hang van onsself af.

    Jy sal eers moet leer dat net jyself verantwoordelik is vir jou eie geluk, geen ander mens nie. Vind vrede in jouself, dan eers sal jy geluk in watter vorm ookal, in jou lewe vind. Bid vir leiding, maar moet dan nie nadat jy gebid het, jou eie koers inslaan en dan God wil blameer nie.

  2. sonkind, was jy al ooit so op n ‘laag’ dat dit voel of selfs die Here teen jou gedraai het?

    Glo my, dis nie selfbejammering of watookal nie, dis net die laagste laag waarin n mens kan verval…. En baie kom nie daaruit nie, en maak n einde aan als!

    Is maklik vir ons om te oordeel….

    Die anonieme persoon het dringend hulp nodig!

  3. Alec

    Sonkind, ek stem saam.

  4. Xander

    Liewe Anon

    Hmmm… al kry jy niks anders reg nie, het jy dit reggekry dat God jou laagtepunt aanwend om ten minste ‘n paar ander mense te laat dink, jong! Kyk hierbo: jou skrywe het alreeds ‘n paar mense daaroor laat gesels … en verskil!

    Neewat, jongie, Oubaas Lewe raak maar so nou en dan so hier en daar ‘n bietjie hardhandig, maar loop kyk bietjie in die spieël: jou Skepper het darem maar baie moeite met jou gedoen … begin tel sommer jou hare op jou kop; dan kyk jy mooi na jou gesigvel; jou hande; jou oë; jou tande, man, sommer alles … nogal fyn en netjies aanmekaargesit – die hele bedryf wat dan nou as jy, Anon, bekendstaan. Kierts! dink jy regtig al waarvoor jy goed is, is die ewige verdoemenis? xander dink nogal nie so nie.

    xander dink nogal daar moes ‘n tyd wees, met die gee-proses van jou hart aan ‘n ander, dat die son ook oor jou geskyn het? Maar ja, dit is so: mense mors mekaar. En vandag reken xander nogal as jy nou aanvaar dat jy nou flenters is en jy weet nie regtig waar en hoe om jou flenters bymekaar te skraap nie, is dit ook gaaf. Jy mag so voel. Niemand kan regtig vir jou vertel wat jou doel op aarde is en wat jou lewensdoel is en wat God vir jou beplan nie – dis tussen jou en God. Maar xander wil vir jou sê: gee jou hart, ja, maar onthou: jou hart is nie daar vir ander om te verguis nie – jy het steeds ‘n verpligting en verantwoordelikheid teenoor jouself: jy moet jouself ook liefhê.

    Net vir ‘n rukkie: slaan jou stukkende arms om jouself; hou jou flenterlyf vas; koester en vertroos die flentertjies siel wat jy hier en daar bymekaargemaak kry; spoel die seer en die vernedering van jou hart af met jou trane – sout help vir wonde en trane is sout; gun jouself bietjies-bietjies rus van uitputting en soos jy soek-soek loop vir nog flentertjies van jouself, kyk rond en jy sal sien, voel, ervaar hoedat God alomteenwoordig is in jou lewe – in die glimlag wat breek oor ‘n ander se gesig nadat jy vir daardie eers fronsende persoon geglimlag het; die skielike vertroue in die oë van die verwarde, onseker bejaarde wie jy help.

    Dikwels wanneer ons op ons stukkendste is, is ons presies net heel genoeg dat God ons flentersiele gebruik om te laslap aan ander flentersiele, Anon. Xander lewe nogal sy lewe in sulke hoofstukke van homself flenters oplewe – vra nie meer hoekom nie – maar weet nogal dis salwend om wanneer xander regtig stukkend is, daardie stukkende, flenters self te vat, en dit te pletter te hardloop reg teen God se borskas vas en dan vir God te sê: kyk hoe flenters is ek nou; maak my heel, want ek kan nie. Dis nie maklik nie; party reken dis onverantwoordelik. Vir xander is dit die enigste manier wat hy ken van regtig lewe, voel-is-wragtig-lewe.

    God gaan nie opgee met jou nie – en jy weet dit, Anon. Moenie jy Hom drop en opgee nie.

    Sterkte, jongie. Moenie wegloop nie – die koffie by hierdie Doom se tafel is verslawend en verfrissend. Doom mag kan koffie maak – bly en vind uit vir jouself!

  5. Ds. Herman in ons gemeente het gisteroggend verwys na die een strokiesprent (cartoon) van Charlie Brown waar Charlie sê: Where do I go to give up?”

  6. “Our lives are in the hands of God,

    like a bow and arrow…

    God is aiming at something you and I cannot see,

    and He continues to stretch and strain,

    and even when we say: “I can’t take it any more!”,

    God goes on stretching until His purpose is in sight,

    then only,

    He lets us fly,

    like eagles on the winds of His glory!” – (Unknown)

    Baie sterkte.

  7. Xander, dit was lekker om jou hier raak te lees. Regtig.

    “…daardie stukkende, flenters self te vat, en dit te pletter te hardloop reg teen God se borskas vas en dan vir God te sê: kyk hoe flenters is ek nou; maak my heel, want ek kan nie.” – al wat ek kan se is, sjoe…

  8. Herman

    Anoniem, Ek het gisteroggend uit Klaagliedere 1 en 3 gespreek. Die preek is op die NG Gemeente Rustenburg-Bergsig se webblad beskikbaar. Ek is oortuig dat jy daardeur versterk kan word. Laat my egter toe om te reageer op jou opmerking:” Waarom bly ek hoop…? Ek wil net weet hoekom, dit is al. En, as God dalk – dalk – een of ander vorm van geluk – enige geluk – vir my beplan het, sal dit ten minste hierdie lewe ‘n klein bietjie meer draaglik maak.”
    Hoofstuk 1 begin met weeklag oor die lyding en ellende wat oor Jerusalem gekom het. Kenmerkend van ’n klaaglied word Jerusalem se huidige ellendige toestand vergelyk met haar vroeëre mag en luister. Die stad word as ’n vrou voorgestel wat vroeër ’n begeerlike vrou was (śārâ – ’n prinses), maar wat nou ’n eensame weduwee is. Die stad wat vol mense was, is nou verlate (1:1). Die stad wat ’n magsposisie onder die nasies beklee het, is nou ’n weduwee (1:1). Die stad wat heerskappy gevoer het oor ander, moet nou dwangarbeid verrig (1:1). Haar bondgenote is nou vyande (1:2). Die stad wat vol feesgangers was, is nou verlate (1:4). Haar teëstanders is nou haar heersers (1:5). Haar leiers is nou vlugtelinge (1:6).
    Die meeste uitleggers beskou hoofstuk 3 as die teologiese hart van Klaagliedere aangesien dit God se gesindheid ten opsigte van sy verslane volk die helderste verwoord. Gaan lees gerus verse 19-31. Vers 19-31 spesifiek is dan ook die mees bekende verse in Klaagliedere. Hulle dui op ’n oorgang van treur oor die verlede, na hoop in die hede vir die toekoms. Tog val die klem hier nie op veroordeling nie, maar juis op die oproep om die Here te soek. Hulle moes besef dat hulle onder alle omstandighede na Hom kan vlug, want by Hom is uitkoms en ’n toekoms.
    Ek het al vele kere vasgehou aan hierdie woorde: : ‘Remember, stressed spelled backwards says desserts.”
    Leonard Cohen het gemeen… there is a crack in everything, that’s how God’s light gets in!

  9. Ek is verseker nie ‘n teoloog nie, maar soos ek dit sien sal God alles van jou wegneem om jou vir Hom te kry, alles natuurlik behalwe daai laaste stap- dit sal jy ongelukkig self moet neem.

  10. ...

    Al wat ek wil weet is hoekom, skryf jy. As mens net kan verstaan hoekom goed gebeur soos dit doen, sal mens kan leer om dit te aanvaar. Ek praat hier met jou, maar ook met myself. Ek sukkel ook met Hoekom.

    As kind word ons geleer dat God sag en liefdevol is. Jy hoef nie te worry nie. Niks sleg sal met jou gebeur nie, want God het jou lief. Wees net gehoorsaam en soet.

    Hoe ouer mens word, hoe meer begin jy wonder oor hierdie storie, want jinne, dit lyk darem of God nie so nice is met my nie. Ek moes iets verkeerd gedoen het, maar ek weet nie wat nie.

    As ek net kan weet wat ek verkeerd gedoen het, kan ek jammer sê en harder probeer. Hou net op om my te straf en wys my waar ek verkeerd gegaan het. Mmm?

    God word aan ons voorgestel as ‘n Kersvader. Wees soet en jy kry daardie pop of karretjie wat jou hart begeer. Dis nonsens en ek het dit baie onlangs op die harde manier geleer. Net omdat jy by die reëls van die spel hou, is dit nie ‘n waarborg dat slegte goed nie oor jou pad gaan kom nie.

    God is sag en liefdevol, maar die mens, ons ouers, ons kerke, leer kinders van ‘n God wat soos ‘n teddiebeer is. God se harde hande kan jou saggies vashou en sy sagte oë kan jou hard aankyk. As kind word ons nie die balans geleer nie. Ons leer net die sag. Daarom dat ons as suffer later jare en kwaad word.

    Wat ons moet leer is om te aanvaar dat God weet wat hy doen. Ons, en ek ook, dink soms dat God net aspris is. En dalk is hy, wie weet. Die punt is, God weet beter as ons. Net omdat ons kan dink, keuses maak en emosies het, wil ons glo dat ons met God kan onderhandel en redeneer.

    Daar staan baie duidelik in Mattheus 10:34 waar Jesus self sê dat hy nie na die aarde gekom het om vrede te bring nie, maar ‘n swaard. Dit gaan verder en sê wie sy lewe op aarde gevind het, sal dit verloor, maar wie sy lewe verloor in God, sal dit vind.

    Ek kan nie vir ander praat nie, maar net vir myself. Ek het ook onlangs baie hard met die aarde kennis gemaak. Niks daarvan was my eie skuld nie, glo ek. Ek leer nog om op te staan en weer te loop.

    My verhouding is stukkend, ek is werkloos, my verhouding met my familie is broos, ek het my kar gestamp, ens. Vir ‘n kort tydjie was alles in my guns. Ek was gelukkig en tevrede. Ek het God bedank vir al die geluk en voorspoed in my lewe. Gevoel hoe hy langs my stap. Sonder waarskuwing was dit van my af weggeruk, alles gelyk.

    Hoekom?

    Ek verstaan nie, maar ek weet vandag dit is God se wil. En deur dit te begin aanvaar, het ek geleer om weer op te staan. “God weet beter as ek – ek moet net vertrou.” Dit is al waaraan jy moet vasklou deur die donker tye. Aan die einde van die dag is dit net hy wat saak maak. Al die ander goed om my, hierdie lewe, my liggaam, besittings en mense is window dressing vir my plat kop.

    Dit is ontnugterend en dit voel onregverdig. Ek sukkel self, maar ek probeer.

    Gee jouself net oor aan God en glo regtig met alles in jou dat hy weet wat hy doen, al is dit hoe sleg, onregverdig of aspris in jou eie oë.

    Die geheim is om God liewer te hê as jouself, enige ander mens, dier of besitting. Aan die einde van die dag is dit net jy en hy. Jy word alleen gebore en jy gaan alleen dood. Die enigste outjie wat by jou is deur dit alles van begin tot einde is God.

  11. …: Ek dink dit is waar dat sommige mense God enkel en alleen as ‘n “sagte teddiebeer” voorstel. Inderdaad is die Vaderhart van God waar, maar God is ook heilig en regverdig. Maar in die geval van lyding help heilig en regverdig nie. Na alles wat jy hier skryf verstaan ek dat jy dalk “sinies” teenoor ander gelowiges geraak het, maar selfs as ek skryf, weet ek nie of dit jou gevoel en belewenis raakvat nie.
    Jy sê: “Aan die einde van die dag is dit net jy en hy. Jy word alleen gebore en jy gaan alleen dood. Die enigste outjie wat by jou is deur dit alles van begin tot einde is God.” Ek sal nog ‘n antwoord skryf op Anoniem se briefie, maar ek is tog van mening dat die Here bedoel het dat gebroke mense in die teenwoordigheid van ander gelowiges heel moet word – en nie op hulle eie nie. Omdat dit nie altyd gebeur nie, maak nie dat dit nie is hoe God dit bedoel het nie.

  12. Geluk en Vrede kom allereers van binne, en word in ‘n groot mate bepaal deur ons uitkyk en siening en gedagtes en houding.
    Jy bepaal self jou eie geluk… daarom dat 1 man in ‘n tronk kan sit en sing, en ‘n ander man sit en kla oor hoe swaar dit met hom gaan. As jy jou geluk wil verander… verander jou HOUDING….

    Dit klink kras, maar dis die waarheid. God ge ons gesonde verstand om die blye boodskap ter harte te neem.. te verstaan, en uit te leef ongeag van watse motor ons bestuur, in watse huis ons bly, en hoe gelukkig ons huwelik is.

  13. Xander

    Kierts! Dan sê ou xander weer vir Anon: KYK hoe word jy gebruik deur God – die mense wie hier met jou gesels, kom gee nie net raad nie; kom raas en berispe nie net nie; getuienis van eie stukke seer en flenters wees, sypel deur.

    Meneer:
    xander het waardering vir wat Meneer sê. Dis net – xander reken ou Job sou saamstem – verstaan, ter harte neem en daai kom darem net baie makliker as die maag reeds gevul is, die motor natnuut is, die huis aan die regte kant van die spoorlyn is met die gerieflike polis en huwelik en kroos ook in plek, of nie?
    Miskien nie vir ander nie, maar xander praat baie moeiliker aan asseblief as aan dankie.
    Dog, in beginsel stem xander saam met Meneer: houding is deurslaggewend.

    Doom:
    Dot se slotparagraaf klink vir xander asof hy dit persoonlik dikteer het, net so tussen ons gesê. Lees tog maar fyn – Dot meld dat net God van BEGIN TOT EINDE by jou is – geen ander mens is van begin tot einde by jou nie. Xander wil lees dat Dot vir Anon probeer sê dat, maak nie saak hoe aan flarde ander mense of omstandighede jou mag ruk nie, God is jou fokuspunt. Moenie jou heil op mense bou nie; bou dit op God. En daarmee kan xander nie genoeg saamstem nie.

    Doom, ja, natuurlik is mense om ons belangrik; natuurlik is ons veronderstel om mekaar te vertroos en op te help – anders sou ons elk op ons eie eiland in isolasie wees. Maar die kern van die laaste paragraaf van Dot se kommentaar, dink xander, is dat ons maar een doel het op aarde: om God te verheerlik. Geen seer wat ‘n ander oor jou mag bring, behoort so vernietigend te wees dat jy God begin bevraagteken nie. Dit is egter ook so, vir xander, dat mense God se arms en hande langer maak – en daarvoor moet ons mekaar die geleentheid gun – God troos en vertroos dikwels deur jou medemens.

    My hart en siel bloei vir Anon en Dot.

    Baie dankie vir hierdie geleentheid en spesiaal dankie vir hierdie murgbene uitstamp. Met wat ons nou hier doen, harmoniseer ons wat Doom en Dot sê: mense vertroos en help mekaar, met maar een fokus: om God te verheerlik.

  14. Mefri

    Anoniem, jy neem my terug na ʼn tydperk (wat ek byna van vergeet het) toe ek ook aan daai senings gekou het.

    Dis wanneer mens in ʼn hoek gaan sit met jou kop op jou ingetrekte knieë en alles dood voel binne jou, behalwe die vrees om aan te hou leef. En al is mens pragtig, sien mens net jou eie verwoeste innerlike in die spieël raak, ja, daar is ʼn paar ‘onse’ hier wat verstaan waardeur jy gaan.

    Ek kan getuig dat ook dit verby sal gaan…….

    My genesing het begin saadskiet en groei toe ek myself afgevra het; ‘Deur wie se oë kyk ek na en ervaar ek myself ?’ Stukkende mense kyk deur stukkende lense en die besmette skerwe sny en krap aan rowe……

    God kyk met liefde en deernis na ons en Hy kyk verby omstandigheide met Sy volle aandag gevestig op die vernuwing van jou Gees – dis die gedeelte van menswees wat aan Hom gekoppel is – jy kan Hom daarmee vertrou, want Hy is die Meester wie jou sal herbou tot ʼn sierlike juweel.

    Sterkte en ek bid vir jou, soos ander ook vir my gedoen het.

  15. E

    Snaaks dat ek laasweek 12 000km ver moes reis om ‘n persoon te gaan bystaan en daar myself in dieselfde bootjie te bevind. Hoekom moet ek al weer so swaarkry? Liewe jy, niemand trap op die feit dat jy seer het nie en niemand wil jou van iets beskuldig nie. So ver dit myself aangaan. Daar ver in die vreemde het die Here my een groot les geleer – selfbejammering staan tussen my en die Here. Ek is so besig om myself in my eie arms toe te vou om my teen nog ‘n aanslag van die lewe te beskerm dat ek nie my hande na Hom of na my medemens kan uitsteek nie. Ek wil saam met jou bang en onseker my hand om myself losdraai en uitsteek na die groot Geneesheer en Liefde Homself toe. Niks gebeur sonder ‘n doel nie. Wat jy met jou seer maak is wat saak maak. Saam met jou wil ek Hom begin vertrou en ophou vra hoekom alweer. Hy beplan voorspoed vir ons en nie teenspoed nie en alles werk ten goede mee vir die wat Hom liefhet. As ek dan moes swaarky sodat jy iets positiefs uit een of twee van my woorde kan kry, dan prys ek Hom vir die swaarkry! Ek glo Hy maak nie foute nie.

  16. Carina

    Liewe Anon

    Sometimes God breaks our spirit to save our soul.
    Sometimes He breaks our heart to make us whole.
    Sometimes God allows pain so we can be stronger.
    Sometimes God sends us failure so we can be humble.
    Sometimes God allows illness so we can take better care of ourselves.
    Sometimes God takes everything away from us so we can learn the value of everything He gave us.

    Plan, but understand that we live by God’s grace…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s