Ek an Xander is ou vriende. Sy teenwoordigheid op die blog en die manier waarop hy dinge sê en beredeneer vul my op ‘n lekker manier aan en gee my kans om bietjie te dink. So het ek toe nou bietjie gaan dink en bietjie gaan lees oor die vraag wat onder andere gestel is met betrekking tot al die biljoene mense wat dan nou verlore sou gaan omdat hulle nie die evangelie van Jesus Christus gehoor het nie. Romeine 2:12-16 (Wat iemand in sy/haar kommentaar ook aangehaal het.) is seker een van die sleutel gedeeltes in die verstaan van hierdie baie moeilike saak.
In die Bybel staan dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Natuurlik is dit waar, maar by geleentheid verdedig ons die standpunt met soveel intensiteit dat ons die persoon teenoor wie ons dit verdedig verloor. Uit van die kommentare op hierdie blog het ek afgelei dat sommige mense nie eers Christenskap sou oorweeg nie, juis omdat hulle reken dat ‘n verkondiging van Jesus as die enigste weg as God onregverdig oordra.
Ek het dit al ‘n by ‘n vorige geleentheid gesê, maar ek sê dit graag weer: Ek weet nie presies hoe God oor ander mense gaan oordeel nie, want ek weet nie regtig wat gaan in mense se harte en gedagtes aan nie, maar God weet en ek sou ook nie wou beweer dat ek God so volmaak verstaan dat ek namens Hom ‘n saak sou kon beredeneer nie. Uit my leeswerk die laaste paar dae oor hierdie baie moeilike saak, wil ek tog ‘n paar dinge noem wat ek wel weet:
1. Ek weet God is die God van alle mense. Daardie teks in Romeine 2 verduidelik ook vir ons dat God in elke mens die basiese vermoë gegee het om tussen reg en verkeerd te onderskei. Hy is selfs die God van die wat nie wil erken dat Hy hulle God is nie. Daarom het geen mens ook ‘n verskoning waarom hy God as God sou verwerp nie omdat sy gewete reeds daarop wys dat daar wel ‘n God is.
2. Ek weet ook daar gaan mense in die hemel wees wat nooit in hulle lewe die naam Jesus gehoor het nie. Abraham, Isak, Jakob, Rahab die prostituut, Dawid, Jesaja, ens. Al hierdie mense was deur hulle geloof in God in die regte verhouding met God. Beredeneer iemand dit so: God het die “beperkte” geloof wat hierdie mense in die lig van die “beperkte” openbaring gehad het, geneem en vooruit gekyk na Jesus se verlossingswerk en hulle verlos. Hierdie geloof kan gesien word as geloof in God as die Skepper van die hemel en die aarde en dat hulle nodig het om deur sy onverdiende genade en vergifnis in die regte verhouding met God te kom. Weereens, ek weet nie presies wat God gaan doen met die wat nog nooit van Jesus gehoor het nie maar tog op hulle eie manier nederig op soek is na God nie, maar ek wil-wil daarvan oortuig wees dat elkeen in hierdie lewe die geleentheid het om die lewe saam met God te kies.
3. Ek weet God kan nie onregverdig wees nie. God kyk na mense se harte en God sal nie onregverdig oordeel as gevolg van ‘n gebrek aan kennis of kulturele of godsdienstige kondisionering. Die rede waarom mense nie saam met God sal lewe nie, is omdat hulle God se leiding oor en God-wees in hulle lewens verwerp het. Ons moet ons egter nie te veel bekommer oor God se regverdigheid nie. Ons moet ook nie te hard probeer om dit te verduidelik of te verdedig nie.
4. Ek weet ook dat dit God se hartsbegeerte is dat mense nie in onsekerheid, maar in sekerheid moet lewe nie. God wil hê mense moet weet dat hulle sonde vergewe is en dat hulle in die regte verhouding met Hom is en dat hulle die ewigheid saam met Hom sal deurbring. Daarom het Hy sy Seun gestuur. God wil hê elke mens moet weet dat hy tot Hom kan nader sonder die vrees van veroordeling of verwerping. Jesus is die weg waarlangs ons in vrede, dankbaarheid en sekerheid tot hierdie God van liefde nader. As dit waar is dat Jesus vir alle mense op aarde gesterf het, en God sien ‘n mens wat in alle eerlikheid op soek is na vergifnis en herstel in sy verhouding met God, dan is dit seker moontlik dat God die kruisdood van Jesus Christus sal sien as genoegsaam vir daardie persoon ook.
Op hierdie manier wonder ek maar, baie bewus daarvan dat ek maar net ten dele ken.
Ek wonder saam met jou…meestal ook sonder klinkklare antwoorde. Ek dink egter jy som die dilemma goed op. Ek glo veral in God se regverdigheid bo alles! En daarin vind ek berusting.
Moresê, Doom
Een more is een more, sit en dink ek vanmore, dat Xander vir Doom so vroeg sal opklop vir koffie en ‘n lekker padstap dat ons die dag sal sien breek en die son die lug verkleur soos Xander hom nou sien doen op hierdie Saterdagmore!
Doom praat weer ‘n diepwaar praat hierbo. Die anderdag had ek so vinnig na Romeine loop loer – daai gedeelte, van voor in Romeine sommer ver deur, diep in Romeine in, is eintlik deurspek ja met besprekings van die vraagstuk oor wie dan nou hoe geoordeel en gered word, ja?
Doom, ou Xander dink mos maar min – dink maak oor die algemeen sommer net my bloed dik word in my are en dan proe my kos nie soos voedsel vir ‘n honger maag moet smaak nie; is asof die brood se meel al ‘n bitter smaak wil kry.
Sonderom weer lang stories daaroor te maak, vir Xander gaan dit regtig maar net daaroor dat daar ‘n basiese begrip van reg en verkeerd in elke mens is; en elke mens ontwikkel dit of ontwikkel dit nie. Daarmee saam kom die vraag in elke mens se lewe oor die sin van die lewe; waar jy vandaan kom; waar jy heen gaan; wat van jou word wanneer jy jou lewe opgelewe het. Ander mense en jou kontak met ander mense beinvloed jou denke en gedagtes oor die vrae.
Maar iewers maak jy die keuse oor wat jy glo.
Ek het daai keuse gemaak. Xander het gekies om in die God van die Bybel te glo. En ja, in ‘n mate is dit vir my makliker om met my keuse saam te lewe, juis omdat ek om my kyk en mense soos Doom sien; en mense soos Moedertjie sien en hoor en lees by julle oor hoekom ek gemaklik mag wees met my keuse.
Maar omdat ek so lui is om te dink, het ek gekies om my te anker met ‘n paar hoekpilare in dae van vernietigende storms van twyfel en onsekerheid:
1. Daar moet ‘n rede wees vir die bestaan van hierargie, anders as net die blote orden van chaos. En sowaar die son se hitte, al het ek my eie mishoop, en al kraai ek hardste op hom, is my mishoop nie die enigste nie en nog minder die hoogste en is ek regtig nie die hoogste gesag nie – gewoon te veel verantwoordelikheid. So, ek kies om te lewe in die perspektief dat daar ‘n oppergesag is, magtiger as enige gesag wat ek kan oorwin en ek het gekies om daai oppergesag in my lewe God te noem. Ek is gemaklik daarmee, daarom het ek dit gekies.
2. Tyd en lewe is nie stagnant nie. Lewe is ontwikkeling. Ek het nie vir altyd in hierdie dimensie gelewe nie en, so help my, ek wil asseblief ook net nie vir altyd in hierdie dimensie bly lewe nie. Ek is dankbaar dat ek nie met osse en muile hoef te ploeg nie, maar dit beteken nie dat ek beter oeste lewer bloot omdat ek met ‘n trekker kan ploeg nie. Net omdat ek kan lees en die Bybel geredelik beskikbaar is en die tyd dat Jesus op aarde was en al daai nommers reeds verby is en ek daarvan kan weet, beteken nie dat die siele voor my, wie niks van osse en muile en Jesus op aarde geweet het, betekenisloos is nie! Onthou, ontwikkeling gaan aangaan lank nadat ek die emmer geskop het – dan is ek ou nuus! Elke mens sal geweeg word op sy eie gewig en samestelling. Reg van die begin af weet elke mens om te onderskei tussen goed en kwaad; reg en verkeerd. Dan was daar ‘n tyd dat Jesus nog nie op aarde was nie, maar mense het geleer van die belofte, die onderneming, dat Jesus, die Verlosser, wel eendag sou kom. En nou lewe ons met die geskiedenis dat Hy wel aarde toe gekom het. Ek kies nogal om te glo dat elke mens geoordeel word binne die konteks waarbinne jy gelewe het – ook die tydgleuf waarbinne jy gelewe het. Indien nie, moet ek myself weer moeg maak met die vraag hoeveel mense tussen hemel en hel uitgelewer moet word – soos my vraag op die eerste dag van my en Doom se kennismaak.
3. Die keuse is eenvoudig: vir God of misken God. Ek moet aanvaar: te danke aan mense soos Moedertjie en Doom; en dan die Bybel, jok ek as ek sê ek weet nie van God se bestaan nie. Dis omdat ek weet van God, dat ek van “God” kan praat – anders sou ek dit mos nie ‘n naam kon noem nie? So, kies ek om te sê daar is geen God, bedanner ek myself. Kies ek teen God, omdat ek wil eindig met ‘n keuse dat daar geen God is nie, wel, dan is my keuse die miskenning van God. En ja wel, ek het reeds gekies om nie so te kies nie. Vir my is dit nogal eenvoudig. En regverdigheid klink op baie plekke vreeslik ingewikkeld en moeilik, maar op die ou end is regverdig wees en regverdigheid eintlik eenvoudig – soos: is jy swanger of is nie jy nie. So is dit ook met regverdigheid en God se regverdigheid is eenvoudig: kies jy vir God of misken jy God?
4. Onsekerheid en twyfel is eg menslik. Die een soos bloed in die are; die ander soos suurstof in die brein. Manman met ‘n hartklop het oomblikke van twyfel en onsekerheid. Hoekom? Net om manman op sy plek te hou? Huh-uh, kan nie wees nie. So, hoekom? Omdat onsekerheid en twyfel twee primere dryfvere vir verdieping van geloof kan wees. Omdat Xander mos maar lui is van nature en van gemak hou, karring hy nie te veel wanneer dit goedgaan met hom nie – wanneer hy te seker en sonder twyfel is, aanvaar hy maklik en fokus hy op ander aspekte van en in sy lewe waar dit nie helemal so gemaklik is nie. Net so nou en dan kom onsekerheid en twyfel en skok hom so bietjie weer tot sy wortels. Die sekerheid wat Xander wel het, is gesetel in 1. en 3. hierbo. En dit word deur God self verskaf. Manman moet dit net kies. Manman se vrae wat hy daarna nog vra, is maar suiwer om dieper en vaster te nestel in God se holte vir die geestelike voet.
*sug*… Jaaaa, Doom, Xander weet – as DIT Xander se kort is, laat ons nie begin spekuleer oor sy lank nie en laat ons glad nie bespiegel oor Xander se begrip van kort en lank nie… Maar ja, nou is die son al op en koffietyd verby.
Groete
Doom se ou vriend
NS: Doom, Xander het nog ‘n vraag, maar die rekenaar se skerm is nou al vol. Sal maar anderdag vra.
BiB: Daar is soms ‘n stuk vryheid daarin om jouself toe te laat om te mag wonder.
Xander: Oor jou “kort” kommentaar. Ek dink ons sal nog eendag daardie koppie koffie saam drink. Net hieroor ‘n paar woorde: “Onsekerheid en twyfel twee primere dryfvere vir verdieping van geloof…” Twyfel is nie die teenpool van geloof nie – die verwerping van God is. Die doelbewuste keuse om te glo dat iets waarvoor ek ‘n naam kan gee (God) nie bestaan nie. Maar… dwarsdeur die geskiedenis is God se vingerafdrukke om te wys dat hierdie geskiedenis is in Sy hande is. Ons verantwoordelikheid is om mense langs hierdie pad van twyfel en selfs verwerping op God se vingerafdrukke te wys. Somtyd doen ons dit beter as ander kere. Maar ons leer altyd uit ons en ander se foute.
Dankie Xander.
Sien jy nou – dis waarvan Xander praat wanneer ek sê Doom haal die koringkorrels self uit! Daai ene Doom: twyfel is nie geloof se teenpool nie – verwerping van God is; miskenning van God se bestaan is.
Die dank gaan aan Doom.
Ds. Attie, wat beteken dit as julle skryf van iemand wat “verlore” gaan. Is dit iemand wat in ‘n vuur gedompel gaan word, of hoe?
Xander? Email my seblief? Ek vra mooi?
((attie))
Bertus: EK haal aan: “… ek sou ook nie wou beweer dat ek God so volmaak verstaan dat ek namens Hom ‘n saak sou kon beredeneer nie.”
Ek het probeer om in my antwoord deurlopend die uitdrukking “regte verhouding” te gebruik, omdat ek self nie seker is wat die presiese betekenis of implikasie van “verlore gaan” is nie. Ek het wel gelees dat iemand dit beskryf as dat jy vir die ewigheid sal moet saamleef met die gedagte dat jy jou God-gegewe doel gemis het.
Attie, ek meen dit nie om te klink of ek self redeneer as ek vra nie. Ek vermoed net dalk sal dit mens help om nader aan die antwoord te kom as jy duidelikheid kan kry oor wat die begrip “verlore gaan” beteken. Ek onthou dat ek in my jong dae soms aande om in koue sweet wakker gele^ het terwyl ek aan daai pit vol vlamme gedink het, maar ek meen as mens anders oor redding en verdoemenis begin dink, sal jy ook anders verstaan wat ons rol in dit is en wat al hierdie dinge ons oor God se^.
Bertus: Ek dink dat bang-maak nie help wanneer ons met mense die waarheid (vir my is dit waarheid, dit hoef nie vir ander te wees nie) deel nie. Ek voel ek moet eerder mense daarop wys dat die Here ons in hierdie lewe tot ‘n volheidslewe roep waarin ons nou reeds in ‘n lewende verhouding met Hom lewe, ‘n verhouding wat by sy wederkoms in ‘n volmaakte verhouding van ongekende liefde en eenheid sal oorgaan. Die Bybel praat wel van die “buitenste duisternis” en selfs die “hel”, maar ek verstaan dit as die plek waar God nie is nie. In plaas van koue sweet wakker le oor die put van vuur verkies ek om mense bewus te maak van die heerlikheid van ‘n lewe saam met God.