Vergifnis bly tog altyd ‘n probleem vir die meeste mense. (Ek is in die versoeking om te sê alle mense…) Die oorgrote meerderheid van ons worstel op een of ander stadium in ons lewe met die probleem om iemand anders te vergewe. Die voorbeelde wat ‘n mens sou kon noem is legio. Daar is diegene wat iemand in hulle eie familie moet vergewe vir een of ander iets. Daar is ander wat iemand wat saam met hulle werk moet vergewe vir iets wat gebeur het. Daar is ander wat vriende en/of familie en/of kennisse en/of medegelowiges moet vergewe.
Twee dinge pla my oor boodskappe oor vergifnis. Die een is dat ons mense leer hoe om te vergewe, maar ons leer mense nie hoe om so van mekaar te verskil dat vergifnis al hoe minder van ‘n probleem raak. Met ander woorde, as ons kan leer om op ‘n waardige wyse van mekaar te verskil, sal ons dalk minder nodig hê om vergewe te word en vergifnis te vra.
Die tweede probleem wat ek het isdat vergifnis al te maklik verkondig word as ‘n goeie werk en aanleiding gee tot geestelike hoogmoed. Mense word nie net aangemoedig om te vergewe nie, maar ook te gaan sê dat hulle vergewe het. Ek dink nie dit is hoe dit veronderstel is om te werk nie.
In Sondag-aand se boodskap het ek die twee dinge probeer aanspreek. Jy kan daarna luister as jy wil.
Ek hou van die gedagte wat jy aanraak oor die geestelike hoogmoed. Het jy nie eers iemand werklik vergewe as dit is asof die gebeurtenis wat gelei het tot die vergifnis nooit gebeur het nie? Die sg vergewe en vergeet?
Dis baie moeilik om te vergeet, ek dink ‘n mens het maar altyd die gevoel van “once bitten, twice shy”.
netjane: Ek dink nie die vergeet deel is moontlik nie. Wat ek wel onder vergeet verstaan is dat ek bv. nie toelaat dat dit wat gebeur het vandag weer my verhoudings versteur nie. Ek sit die verhouding voort op ‘n skoon bladsy. Net so hoef vergifnis nie altyd te beteken dat ‘n verhouding weer opgetel word nie. Dink bv. aan ‘n vrou wat gemolesteer is. Sy kan die persoon vergewe, maar die verhouding hoef tog nie weer voort te gaan nie.