Soms kan ‘n mens baie leer by die Joodse Rabbis. Een so ‘n storie kom van Rabbi Levi Yitzhak van Berdichev in die Ukraïne. Hy het erken dat hy die waarde van liefde by ‘n dronkie leer ken het. Die Rabbi het by geleentheid ‘n kantien in die Poolse platteland besoek. Toe hy by die kantien instap het hy dadelik twee manne, Ivan en Peter, gesien wat duidelik reeds naby aan hulle genoeg gedrink gehad het. Met hulle arms om mekaar se skouers het hulle probeer uitvind wie die ander een nou eintlik meer liefhet as die ander een.
Skielik het Ivan vir sy vriend gesê: “Peter, vertel my bietjie wat maak my die seerste?” Skoon verbaas het Peter agteroor gesit en met ‘n sleeptong gesê: “Hoe sal ek weet wat maak jou die seerste?” Ivan se reaksie het die Rabbi die ware betekenis van liefde geleer: “Peter,” het Ivam gesê, “as jy nie weet wat my seermaak nie, hoe kan jy sê dat jy my liefhet?”
In ons Bybelleesprogram lees ons vandag Matteus 5:43-48. Dit gaan oor liefde vir die vyand. Die liefdesgebod leer ons dat ons God meer lief moet hê as enige iets anders, en ons naaste net so soveel as wat ons ons onsself liefhet.
Die Ou Testament het die Israeliete geleer om met liefde op te tree teenoor vreemdelinge en selfs teenoor hulle vyande. (Eksodus 23:45 en Spreuke 25:21-22) Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan wil ons leer dat enige mens in nood ons naaste is. “As julle net die liefhet wat julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag?” (Matteus 5:46) Dit is nie genoeg om die vyandskap te staak nie. Ons moet vyandskap en haat beloon met liefde. Die Christelike liefde gaan ‘n klein bietjie verder.
Ons moet erken dat ons dikwels nie hierdie toets van liefde slaag nie, maar ons mag nie ophou probeer en daarna strewe om net so volmaak te wees as ons Vader in die hemel nie. (Matteus 5:48)
Matteus 5 gaan oor die wettisisme van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs in die tyd toe Jesus op die aarde was.
Wettisisme is na my mening ‘n gesindheid wat regverdigheid sien as die nakoming van ‘n sekre stel reëls. Die redes waarom hierdie benadering so vernietigend is, is die volgende:
- Dit hou nie rekening met die rol van innerlike gesindheid en motivering nie.
- Dit fokus op eie krag in plaas van die Gees van God wat my in staat stel.
- Dit bevorder hoogmoed in plaas van afhanklikheid van God.
- Dit is geneig om die Bybel te gebruik om ons vooropgestelde idees en oortuigings te bevestig.
- Dit is geneig om ons aanvaarding by God en deur God afhanklik te maak ons prestasie.
- Dit beklemtoon die vlees wat ons aanpor om te sondig in plaas daarvan om die sonde te vermy.
- Dit is geneig om ons persoonlike oortuigings op ander af te dwing en hulle te veroordeel indien hulle nie aan ons standaarde voldoen nie.
Op die oue end gaan dit net oor liefde. As ek weet wat God seermaak, en ek vermy dit, dan is ek op die regte pad. As ek weet wat ander mense seermaak en ek vermy dit, dan is ek op die regte pad.
Om ons naaste lief te he soos onsself, is vir my om nie aan ander te doen wat ek nie aan myself gedoen wil he nie.
Ons kan nie almal regtig LIEF he nie, maar ons kan leer om niemand te haat nie. Soms doen iemand ons ‘n onreg aan en wil ons wraak neem, ons wil haat. Ek het geleer dat haat jou meer skade doen as wat dit die persoon vir wie jy haat, aandoen. Vergifnis bring bevryding.
Sinkind: Dit is so waar wat jy sê: Vergifnis bring bevryding. Sou jy saamstem dat liefde as ‘n innerlike gesindheid begin en dat daardie innerlike gesindheid dan ‘n mens se motivering raak om met liefde teenoor ander op te tree?
Dit is wat ek elke dag van my lewe wil doen, om ten spyte van alles almal lief te hê. Maar dit is nie altyd maklik nie…
Ons moet elke dag in baringsnood bly totdat Jesus Christus in ons vervolmaak sal word.Dit egter gaan gepaard na “ek moet minder word en HY moet meer word.ek moet sterf en HY moet in my lewe.MY vleeslike begeertes moet doodgaan en ek moet myself beklee(aantrek)met Jesus Christus.Die skrif se dat ‘n leerling nie groter as sy meester sal wees nie,maar dat hy soos Hy sal wees.Ons sal lateraan begin lief kry / word vir mense soos wat Jesus vir mense lief is.Dan sal ons mense liefhe met die liefde van God en nie met ons eie onbetroubare liefde nie.Ons sal die passie van God in ons harte voel brand,die liefde wat Hy het vir siele/mense,en wanneer ons dan vir mense se dat ons hulle liefhet,dan is dit God self wat deur ons vir hulle sedat Hy hulle liefhet.Nie net woorde nie,maar kompassie.