EK het onlangs die storie gelees van die klein dogtertjie wat by haar oupa en ouma op die plaas gaan kuier het. Haar oupa en ouma was baie streng daaroor dat Sondag die dag van die Here is en dus ook heilig. Hulle was daarvan oortuig dat dit ‘n dag van stilte behoort te wees, waar ‘n mens nie hardloop nie en dat die Bybel die enigste boek is wat gelees mag word. Die klein dogtertjie mag nie op die swaai gespeel het en mag ook nie blomme in die veld gaan pluk nie en mag ook nie rondgehardloop het nie.
Terwyl oupa sy middagslapie geneem het, het sy toestemming gekry om tot by die hek van die plaas te loop – sy mag net nie te vinnig loop nie. Op pad hek toe loop sy by die muil se kamp verby. Die muil staan langs die draad met sy kop omlaag en sy oë toe. Sy het haar handjie deur die draad gesteek, aan die muil gevat en gesê: “Siestog, het muile ook godsdiens?”
In ons Bybelleesprogram lees ons vandag Matteus 5:27-30.
Baie mense dink oor Christene soos hierdie dogtertjie hierbo omdat wettisisme dikwels ongemerk by Christene ook insluip.
Dit was veral die skrifgeleerdes en die Fariseërs wat hierdie wette tot in die fynste besonderhede uitgewerk en beskryf het. Hulle kon vir ure sit en hierdie sake beredeneer. Jesus het ‘n punt daarvan gemaak om hierdie selfgemaakte wette van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs te oortree, en in die Bergpredikasie neem Jesus standpunt in teen hierdie wettisisme. Wettisime is een van die fatale (is daar so ‘n woord) foute van Godsiens.
Die Skrifgeleerdes en die Fariseërs se interpretasie van die sewende gebod (Jy mag nie egbreuk pleeg nie.), was dat ‘n mens net skuldig is aan egbreuk as jy die fisiese daad gepleeg het en dat mans hulleself kon vrywaar van egbreuk deur aan hulle vrouens ‘n skeibrief te gee. Wanneer Jesus egter op hierdie saak kommentaar lewer, dan verstaan hy egbreuk anders. Hy verstaan egbreuk as iets wat eers in ‘n mens se hart gebeur, voordat dit ‘n daad word. Egbreuk is nie net die daad nie, maar egbreuk gebeur reeds wanneer ‘n man na ‘n vrou (of andersom) kyk en diè begeer, dan het die man in sy hart reeds egbreuk gepleeg.
Wettisisme probeer die daad uitskakel. Jesus gaan na die wortel van die probleem toe, dit wat in ‘n mens se hart gebeur. Wettisisme probeer ‘n lyn trek en dan probeer hulle om so naby as moontlik aan die lyn te kom. Jy kan dink wat jy wil net so lank jy nie doen wat jy wil nie.
Met die vrye wil waarmee God die mens geskape het, probeer die volgeling van die Here Jesus onderskei wat vreugde in die hart van God sal veroorsaak en wat teleurstelling of hartseer by God sal veroorsaak. Wanneer die onderskeiding gemaak is, maak die volgeling van die Here Jesus die keuse om te doen wat vreugde by God sal veroorsaak.
Oor egbreuk en die begeerte na seksuele interaksie met iemand anders, wil Jesus ons leer om so gou as moontlik klaar te speel met selfs die gedagte aan so iets, deur ‘n keuse te maak om nie die gedagte enigsins verder te neem nie. Almal van ons ken gevalle waar daardie gedagte net ‘n klein bietjie langer getroetel is waar die uiteinde daarvan stukkende huwelike, stukkende mense en stukkende kinders was.
Daar is dus nog hierdie punt ook: Wanneer die Here Jesus ons daarop wys dat ons die gevolge van begeerte na ‘n ander mens moet raaksien, dan gaan dit nie daaroor dat Hy ons wil inperk nie. Omdat Hy ons eindeloos liefhet, wil Hy net die beste vir ons hê – daarom waarsku Hy. Is dit nie waar dat die oortreding van hierdie beginsel baie hartseer veroorsaak nie? Is dit nie waar dat mens as ‘n volgeling van die Here Jesus met ‘n gevoel van selfrespek wegdraai van ‘n versoeking nie? Is daar ‘n beter manier om liefde te wys as om daarop ingestel te wees om niks te doen wat die ander persoon sal seermaak of teleurstel nie?
Omdat ek God liefhet, kies en om die dinge te doen wat Hom sal laat glimlag!
Omdat myself liefhet doen ek nie dinge wat my selfrespek eie waarde aantas nie!
Omdat ek ander mense liefhet doen ek nie iets wat op die korttermyn dalk ‘n wavrag plesier verskaf, maar op die langtermyn ongekende en onmeetbare seer kan veroorsaak nie!
Maar, op die ou end het God ons met ‘n vrye wil geskape…
Ek is so dankbaar Hy ken my hart en my gedagtes. Ek is so net so dankbaar vir die Heilige Gees wat my juis met hierdie klas van dinge help en lei om so oor dinge en mense te dink dat Hy sal glimlag oor my. Juis vanoggend het ek ‘n stukkie van ‘n e-mail gelees waar die woorde “if Satan knocks at your door, ask Jesus to get it” my verskriklik getref het. Mag dit van ons almal waar wees.
Daar is nie iets soos vrye wil nie…
Costello: Die man wat sy vrou met ‘n ander vrou bedrieg, het geen keuse gehad nie? Die kind wat dagga by die skool begin rook het geen keuse gehad nie?