DIE BYBEL – DIE BOEK

Ek kry gereeld e-kerk se nuusbrief wat nogal interessante beriggies ens. in het. Hulle het ook hulle eie webblad waar nog meer artikels gelees kan word. Hierdie berig was vir my interessant en ek plaas dit met die toestemming van e-kerk.

Het jy al ‘n Filistyn of ‘n Moabiet of ‘n Amalekiet gesien? Hulle was almal omtrent so groot soos Israel, maar hulle het verdwyn. Wat onderskei Israel van hierdie ander nasies? Dit was nie mag nie – Israel was meestal beset deur vreemde volke; dit was nie rykdom nie; dit was nie grootte nie. Wat het Israel gehad? ‘n Boek – eintlik boekrolle. Hierdie Boek het vir hulle gesê dat daar net een God is – Hy het alles geskep en Hy sal alle dinge weer regstel. Hierdie boek sê dat die geskiedenis van Israel ‘n verhaal is – God se verhaal – met ‘n begin, ‘n krisis en eendag ‘n klimaks. Geen wonder hulle staan bekend as die “mense van die boek” nie. Om die kinders aangaande hierdie boek te leer, was die ouers se belangrikste taak; om hierdie boek aan ander te leer (om ‘n rabbi te wees) was hulle grootste ambisie.

Menslik gesproke kon hulle net hierdie Boek aanbied. Hierdie Boek het hulle gevorm en bymekaar gehou; dit was hulle bron van wysheid; dit was die laaste woord. Paulus sê dat daar voordele is om ‘n Jood te wees: Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het (Romeine 3:2).

Hierdie boek, met belangrike toevoegings, is nou ons boek. Maar ons het ook TV, Internet, Oprah – ons het keuses. Maar ons moet sorg dat mense weer “mense van die Boek” word. Dis nie so maklik nie. Die Boek het nie verander nie, maar die mense het. Hierdie Boek is vandag baie meer toeganklik as ooit vantevore. L Ron Hubbard se geskrifte oor sciëntologie is in 65 tale vertaal; die Boek van die Mormone in ongeveer 100 tale – en die Bybel in 2 656 tale (gedeeltelik of in sy geheel). Nie minder as 65 miljoen Bybels word elke jaar in die VSA alleen verkoop nie. Mense koop die Bybel, besit die Bybel – hulle lees hom nie.

Volgens George Gallup neem Bybelse ongeletterheid vinnig toe:

  • Net een derde van mense weet wie die bergrede gelewer het!
  • Minder as 50% ken die naam van die eerste boek in die Bybel.
  • 80% van mense glo dat: God help diegene wat hulleself help, kom uit die Bybel.

Hoe moet ons vir mense van die Bybel leer in ‘n kultuur wat nie juis luister nie? John Ortberg kom na vore met ‘n paar voorstelle:

  1. Jy kan nie gee wat jy nie self het nie. Jy begin nooit by jou gemeente nie – jy begin by jouself. Voordat ek kan begin dink oor hoe ek die Bybelboodskap gaan verkondig, moet ek toelaat dat die Bybel oor my spoel. Gemeentes gevorm deur die Bybel het leraars wat deur die Bybel gevorm is.
  2. Alles begin by verhoudings – daar waar ek na iemand se storie luister; daar waar ek die armes voed; daar waar ek my arms oopmaak vir die straatkind. Die groot vraag is: Hoe kan ek die evangelie laat lewe in my gemeenskap? Mense wat swaarkry vra vrae en geen boek hanteer lyding soos juis die Bybel nie.
  3. Jy gaan nie mense wat bereik moet word, bereik met abstrakte nadenke, ‘n paar interessante idees en stories uit Chicken Soup for the Soul nie. Ons is so gewoond aan die Bybel dat ons al die skerp kante afgeskaaf het. Maar Jesus het steeds die mense in die tempelgronde met ‘n sweep bygekom. Die profete was bewus daarvan dat dinge dringend reggestel moes word – daarom het hulle alles moontlik gedoen om mense se bewustheid van God te verhoog.
  4. Ek moet glo dat God die Bybel gebruik om lewens te verander.

Die dokter het sy swart tassie; die ouditeur sy rekenmasjien. Die belangrikste ding wat die gelowige het om aan te bied, is die Bybel. Ons is immers “mense van die boek.” Gebruik dit.

2 Kommentaar

Filed under Die Bybel, Nagedink

2 responses to “DIE BYBEL – DIE BOEK

  1. Baie mooi boodskap!

    2Ti 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,

  2. Elmarie

    Amen daarop

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s