KINDERS BY SHELTER

Ons dogter Rene en twee van haar maatjies, Minette en Chere het toe Vrydag by die Shelter, waar weeskinders versorg word gaan kuier. Hulle het die babas die vorige week leer ken en was gedetermineerd om Vrydag weer te gaan en die kindertjies ‘n bietjie beter te leer ken. Ons het hulle gaan aflaai en na ‘n uur en ‘n half weer gaan haal .

Hier is drie fotos waar elkeen van hulle ‘n babatjie vashou en so ‘n klein bietjie van die geskiedenis van elkeen van die kindertjies.

Elkeen van die kinders het ‘n geskiedenis. Chris se ma het in ‘n toilet geboorte gegee en die baba net daar gelos. Die man wat na haar die toilet wou gebruik het die babatjie onder in die toilet hoor huil en die nooddienste het hom kom uithaal. Die vrou wat die kinders oppad het hom toe Chris Pienaar genoem – Pienaar is haar van.

Kobus se ma het hom by een van die vrouens wat vrugte by die Taxi “tank” verkoop gelos en gesê sy kom net nou weet terug. Na twee weke het die vrou besef die ma gaan nie terugkom nie, en die shelter het die babatjie gekry.

Zanelle is HIV positief en het Tuberkulose, sy ma het hom hospitaal toe gevat en hom nooit weer kom haal nie. Die Shelter het ook hierdie babatjie gekry.

Ons was Vrydag daar en die Donderdag is ‘n jong seun daar gelos. Alhoewel die meerdeheid kinders swart is, is twee van die tien blanke kinders.

Corrie is die huismoeder vir hierdie tien weeskinders. SY behandel elke een van hierdie tien kinders asof dit haar eie is. Sy kry feitlik geen salaris nie, en sien die voorreg om ‘n huis te hê en kos om te eet, as die grootste deel van haar vergoeding. Net die doeke en melk vir babatjies kos R2000.00 per maand. Alhoewel hulle donasies en skenkings kry, leef hulle eintlik van dag tot dag (dalk week tot week). Ons gemeente gee finansiëke ondersteuning, maar kan uit die aard van die saak nie al die kostes dra nie. Ander gemeentes in van Rustenburg help ook met die versorging van die wesies.

Tot op hierdie stadium het die Here wonderbaarlik voorsien in hierdie mense se behoefte.

Die drie meisiekinders het bietjie klere saamgevat. Die ouers het gehelp met die aankoop van die klere, maar elkeen van die kinders dra ook uit hulle sakgeld ‘n bietjie by. Hulle het egter besef dat klere nie die grootste behoefte is nie, maar wel doeke en melk. Volgende keer as hulle gaan, sal hulle doeke en melk saamvat.

Die kerk is nie alles wat ons moet wees nie en die kerk het nie altyd al die antwoorde wat ons moet hê nie, maar die volgelinge van die Here Jesus help om nood in ons land te verlig.

Ons gemeente lees vanoggend Matteus 5:1-12. Ons ken die gedeelte as die Saligsprekinge. Onder andere staan daar: “Geseënd is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

11 thoughts on “KINDERS BY SHELTER

Add yours

  1. Waarom word daar so baie kinders in hierdie wereld gebore wat nie versorg word nie. God is tog die skepper van lewe, waarom keer hy nie net dat slegte vrouens wat nie nie naam ma werd is swanger raak nie. Daar is so baie vroue wat smag na ‘n baba en nie kan swanger raak nie maar duisende slegte vroue kry stringe kinders. Dit maak my mal

  2. Wat my werklik hartseer maak is die feit dat sommige van die vroue, wat dood eenvoudig nie die naam van MA werd is nie, byna konstant in ‘n swanger toestand verkeer. Ek weet van een geval waar ‘n ma se vier kinders almal in pleegsorg is (almal by verskillende ouers) en alweer swanger is – haar lewenswyse en -omstandighede laat haar bloot nie toe om ‘n verantwoordelike ma te wees nie. Sommige mense leer nooit verantwoordelikheidsin nie en word hul onskuldige kindertjies die verantwoordelikheid van ander mense/instansies. Hierdie mense mag ook nie vir sterilisasie gestuur word (tensy uit hul eie vrye wil nie) want dit is ‘n benadeling van hul menseregte!
    Hiermee ‘n ((((drukkie)))) vir Renie, Minette & Chere – hierdie tannie is baie trots op julle – mag julle altyd voortbou op waarmee julle begin het. Om liefde uit te straal is ons groot opdrag!

  3. As elkeen van ons net gehoorsaam is soos hierdie drie blommetjies in God se tuin. Wow watter plek sal die aarde dan wees.

  4. Alta: Dit is regtig ‘n vraag waaroor mens dikwels wonder. My mening is dat die Here ons met ‘n vrye wil geskep het en dat ons met die gevolge van ons keuses moet saamleef. Aan die ander kant herinner dit my daaraan dat ons in ‘n gebroke wêreld leef.
    Von: Ek sal jou boodskap aan hulle oordra.
    tanzie: Dit is die plekke en die tye waar ons ‘n verskil kan maak.

  5. Attie ek verstaan wat jy se maar die probleem is dat ander mense met die gevolge van slegte vrouens se keuses moet saamleef en die enigste lydende partye is die kinders. Kinders is tog geskenke van God, Hy skep hulle. Dit is nie bloot die gevolg van seks nie. Ek wens ek kon net een keer vir God vra om vir my te verduidelik. Ek weet ons mag nie God se plan betwyfel nie en ek wil nie opstandig wees en teen God sondig nie maar ek verstaan net regtig nie

  6. Alta: Mens mag vrae vra en oor dinge onseker wees. Ek dink soms is dit juis mense wat God ken wat vrae vra omdat die dinge wat gebeur anders is wat hulle gehoop en verwag het.

  7. Dominee-“My mening is dat die Here ons met ‘n vrye wil geskep het”- jou woorde. Ek hoop ons kan dalk eendag praat oor hierdie konsep- Is daar iets soos ‘n VRYE wil?

  8. Doom, dit is wonderlik dat die 3 gegaan het. Ek dink hulle gaan nog baie vreugde daar ervaar met die kleingoed. Baie sterkte vir hulle met die pad voorentoe….

  9. Costello: Ek dink dat as ‘n persoon tussen keuse A en B te staan kom, hy die vrye wil het om enige een van hierdie twee te kies. Indien dit nie so was nie en die Here vooraf geweet het en vooraf bepaal het wat gaan gebeur en wie gaan wat kies, dan het ons te make met wat bekend staan as determinisme. Gelowiges het dan natuurlik die leiding van die Heilige Gees, maar tog is dit duidelik dat ons nie altyd seker is of dit die leiding van die Heilige Gees is en of dit ons eie gedagtes is nie. Hasker het ‘n briljante boek hieroor geskryf.
    Zee: Ek dink ook hulle was baie dapper en die drie (hulle sou vier gewees he, toe is die een weg vir naweek) het selfs op hulle eie besluit om te gaan en het geen druk van ouers gehad nie.

  10. Paula: Baie dankie vir jou gewilligheid om te help. Jy kan gerus die goedjies na ons gemeente toe stuur. Ek gaan vir jou die besonderhede stuur. Ons maatskaplike werker het gereeld met hulle kontak, maar ek dink ek moet dalk dat drietjies dit saamvat wanneer hulle weer gaan om hulle bietjie te motiveer.

Lewer kommentaar op Alta Kanselleer antwoord

Blog at WordPress.com.

Up ↑