VERGEWE EN VERGEET

Dat ek juis nou na alles wat op hierdie “blog” gebeur het hiermee moet worstel…

Wat beteken dit om te vergewe en te vergeet?

1. Vergewe is om ‘n ander persoon toe te laat om menslik te wees met betrekking tot foute en misstappe. Vergeet is om daardie dinge deel van die verlede te laat wees in die mate dat dit nie weer bespreek word nie en nie meer ‘n blokkasie in die verhouding veroorsaak nie.

2. Vergewe is om die ander persoon te laat weet dat daar geen wrok; geen kwadegevoelens; geen vyandigheid is vir dit wat gebeur het nie. Vergeet is om nie weer daaroor te praat nie, met geen verdere verwysing na die negatiewe gebeure nie.

3. Vergewe is om die ander persoon te laat verstaan dat jy aanvaar dat sy/haar gevoelens van berou en hartseer oor die dinge wat jou seergemaak het, opreg is. Vergeet is om te belowe dat die dinge wat gebeur het op geen manier weer ter sprake sal kom nie.

4. Vergewe is om die opregtheid van die persoon se berou en spyt wat uitgespreek is oor persoonlike leed wat jou aangedoen is, te aanvaar as genoegsaam om die lug tussen julle te suiwer. Vergeet is jou “commitment” om jou wonde, seer en pyn oor die gebeure te laat vaar.

5. Vergewe is om ‘n aanduiding of ‘n teken te gee dat jy die persoon se verduideliking of sy/haar aanvaarding van verantwoordelikheid vir ‘n afbrekende, vernederende of pynlike daad aanvaar is. Vergeet is die uitwerk van ‘n plan van optrede tussen die twee van julle om die wonde wat as gevolg van die gebeure ontstaan het te genees.

6. Vergewe is die mees edele vorm van menslike gedrag wat aan ‘n ander persoon bewys kan word. Om te vergewe is om jouself bloot te stel om in die toekoms weer seer te kry en om die vrees hiervoor opsy te sit ten einde die kommunikasie moontlikhede weer ‘n redelike kans te gee. Vergeet is net so edele optrede omdat die persoon wat die behoefte om dit wat in die verlede gebeur het te wreek, laat vaar.
7. Vergewe is ‘n daad van liefde tussen my en die persoon wat my seergemaak het; die verband wat die wond lank genoeg toehou sodat die wond kan genees. Vergeet is ook ‘n daad van liefde in herstel terapie waar die gewonde persoon gehelp word om na ‘n funksionele lewe van vervulling terug te keer.

8. Vergewe is God se geskenk van geestelike kontak met ‘n ander mens waarin die vrees vir verwerping besweer word, die gevoel van mislukking oorwin word en die las van skuldgevoelens ligter gemaak word. Vergewe is God se geskenk van ‘n geestelike aanraking van ‘n ander persoon se hart met die versekering van ‘n gelukkige en vervulde lewe met geen vrees vir teenbeskuldiging, protes of herinnering aan die seerkry van die verlede nie.

9. Vergewe is ‘n daad waardeur ek die huidige slegte bedoelings, teleurstellings of die ontsteltenis oor die breuk in die verhouding laat vaar. Vergeet is die oorsteek van die gaping in die verhouding tot op die punt waar die verhouding so versterk is, dat daar nie weer ‘n soortgelyke breuk kan ontstaan nie.

10. Vergewe is ‘n daad van opregte omgee, menslikheid en sensitiwiteit waardeur jy ‘n ander persoon laat verstaan dat hy/sy inderdaad ‘n mens is op wie die Here ook ‘n verskeidenheid van seëninge en gunste laat reën het en dat die seermaak van die hede of die verlede nie ‘n hindernis sal wees om die persoon alles te laat wees wat hy/sy bedoel is om te wees nie. Vergeet is ‘n daad van bemoediging, ondersteuning en versterking waardeur jy die ander persoon ondersteun in sy strewe om sy volle God-gegewe potensiaal te verwesenlik.

Hier is my vraag:

Watter rol speel vergifnis in die aangaan van ‘n verhouding nadat daar male sonder tal seergemaak is en wond op wond toegedien is?

Hoe het jy al ooit beleef dat iemand jou op hierdie manier vergewe?

27 thoughts on “VERGEWE EN VERGEET

Add yours

  1. Hi Attie
    Om iemand nie te vergewe nie is selfvernietigend. Ek het dit gevoel en beleef. Dit was die moeilikste tyd van my lewe. Na hierdie traumatiese gebeurtenis het ek besluit, ek sal nooit weer met haat en vergelding in my rond loop nie.
    Attie ek dink my geliefde moes my al baie vergewe ek weet moontlik net nie eers nie, ek is maar lief om tantrums te gooi. hie hie Ons is nogal gelukkig dat ons verhouding van so aard is dat die liefde, vergifnis outomaties laat gebeur. Wel ons het ook nou nie ‘n verhouding waar daar groot vergifnis nodig is nie. Ons is maar rustige mense.
    Maar deesdae sien ek baie afbrekende en vernederende dinge in die wêreld. Dit maak mens eers boos, maar as jy so bietjie daaroor nagedink het…dan besef jy dis dit nie werd om jou so te ontstel nie..
    Vergewe en vergeet, dit maak jou lewe ‘n fees!

  2. Ek sou sê vergifnis speel ‘n baie belangrike rol in die aangaan met ‘n verhouding. Hoe gemaak as die persoon wat jou male sonder tal seergemaak het nog nooit berou betoon het nie? Die verlede is net ‘n absolute verbode onderwerp. Hoe gemaak as dit jou pa is en jy geen keuse het as om aan te gaan met ‘n pa/dogter verhouding ter wille van almal om jou? Punt nommer 6 het veral betrekking! Alhoewel ek myself lankal nie meer toelaat om eers daaraan te dink nie, het dit my ‘n harde persoon gemaak. Ek het nie die vermoe om ‘n normale verhouding te hê nie omdat ek niemand toelaat om verby die muur wat ek om my hart gebou het te kom nie. Ek koester geen wraak nie, en ek sal graag wil vergewe en vergeet. Ek dink ek het vergewe, maar die vergeet is nie so maklik nie. Wat seker beteken ek het nie regtig vergewe nie? Ek voel eintlik jammer vir my pa. Hy is ‘n goeie oupa vir my kinders en daarvoor is ek dankbaar. Ek wonder of dit menslik moontlik is om iemand wat jou regtig seergemaak het 100% volkome te vergewe.

  3. Hierdie is goed waarmee ek nogal sukkel. Ek pleit altyd voor God om Sy liefde en Sy vergifnis vir my te gee om vir ‘n ander ou te gee en dit help regtig waar om die wonde te heel. Maar kort-kort betrap jy jouself dat jy daardie gebeurtenis weer gaan ophaal en in die verlede leef. Is vergewe en vergeet nie ook maar soos jou geloofslewe nie? Jy moet babatreetjies gee en jy val ook maar gereeld, maar God se ongelooflike krag en genade help jou om vooruit te gaan en te oorwin. Jy weet nie hoe jy dit regkry nie, maar jy doen.

  4. Om iemand te vergewe, beteken om vir daardie persoon te se^: ‘Ek besef jy is meer as jou dade.’
    – Willie van der Merwe

  5. Wipneus: Ek stem – ek dink vergifnis is selfbevrydend en selfopbouend en selfhandhawend.
    Sonja: Ek dink soms dit is onbillik om vergewe en vergeet gelyk aan mekaar te stel. Inteendeel ek dink jy het klaar begin “vergeet” in terme van hierdie beskrywings. Kyk wat sê jy: “Ek voel eintlik jammer vir my pa. Hy is ‘n goeie oupa vir my kinders en daarvoor is ek dankbaar.” Gee aan jouself die erkenning dat jy vergewe het, en ek dink die herinneringe gaan met die verloop van tyd vervaag – geheel en al vergeet, ek weet nie of dit moontlik is nie.
    Elmarie: EK dink dit is inderdaad baba treetjies – net vandag. Net, hierdie gedagte in gebed weggee vir die Here.
    Bertus: SInvolle antwoord – dan is vergeet mos nie ‘n voorwaarde nie.

  6. Lees “Vergifnis” saam met “Pasop vir misleiding” en lees Gandi se 10 leerstellings(soos geplaas op my blog).Dan is Gandi die beste christen nog, dalk selfs beter as Jesus.

  7. Costello: ‘n Kwalifiserende eienskap vir ‘n Christen is geloof in Jesus Christus. Gandi was inderdaad ‘n goeie mens en selfs vir baie Christene ‘n voorbeeld. Christene is onvolmaak – en hulle is die eerstes om dit te erken, en daarom het God ruimte geskep vir vergifnis. Jy hoef nie daarmee saam te stem nie en jy hoef dit ook nie te glo nie.

  8. ??????- vergifnis is nie (noodwendige) ‘n christelike eienskap nie- inteendeel dit word beter deur nie-christene gedoen.

  9. ????-Ek wil nie Dominee Attie se blog kaap- vir ‘n tweegespek met jou nie( ek het my eie blog- jy kan daar ‘n kommetaar lewer- dan email ek jou). http://lappesait.wordpress.com/

    Om te vergewe is ‘n mooi menslike karakterkenmerk- dit word as “christelik” voorgehou- dit terwyl dit juis indruis teen hoe christene oor 2008jaar opgetree het, en nog steeds optree.

    Toltec en ander kulture doen vergifnis veel beter as enige christelike kultuur.

  10. Maar jy gee voor nie-Christene doen die dinge beter as Christene – of is dit net betrekking tot vergifnis?

  11. Watter rol speel vergifnis in die aangaan van ‘n verhouding nadat daar male sonder tal seergemaak is en wond op wond toegedien is?

    Ds Attie: Vergifnis is ontbeerlik- die denkfout is die (moontlike) aanname dat ‘n verhouding staties is.Met elke aksie/daad verander ‘n verhouding, dus is vergifnis nie altyd in staat om ‘n verhouding te “red” nie

  12. Ds. Attie moet maar kom sê of ek reg is.
    Costello: Ek kom deur ‘n egskeiding – ja ek was toe reeds ‘n belydende Christen. Ek het male sonder tal in my huwelik vergewe – dit het geen uitwerking gehad nie. Op die ou end is ek geskei en my Chirstenvriende en my dominee het my begelei voor ek geskei is en daarna.
    Een van die dinge wat ek na die egskeiding moes doen, was om te weereens te vergewe – eers my man en toe myself. Myself omdat dit meestal twee mense vat om ‘n verhouding te vernietig
    Die vergifnis het nie die verhouding herstel nie. Ons bly nog in dieselfde dorp, en ons is beleefd met mekaar wanneer ons mekaar sien. Maar die vergifnis het my gehelp in die sin dat ek die egskeiding kon verwerk, ek dink soms dat dit die wonde wat die stukkende verhouding gelaat het genees het. M.a.w. ek dink nie vergifnis herstel of red altyd die verhouding nie – ek dink wel dit gebeur soms, maar ek dink nie dit gebeur altyd nie.

  13. Lidmaat- jou storie is bevesteging van die “denkfout” wat ek probeer uitlig het. Jou storie is ook my huwelik se storie- vergifnis maak my as persoon heel, maar dit herstel nie die verhouding nie. Die verhouding het in elk geval verander- amper soos Confucius se wysheid, wat se dat al kruis jy elke dag die rivier, dit nooit dieselfde rivier is nie( nuwe water, nuwe dinge)

  14. Lidmaat: Ek dink jy is reg as jy sê dat dit ‘n denkfout is om te dink dat vergifnis enige en elke verhouding sal herstel. Ek weet ook dat dit maklik van verhoë so verkondig word, maar dit werk nie in die praktyk altyd so nie. Ds. Attie het by geleentheid gesê dat hy dink opregte vergifnis meer beteken vir die een wat vergewe as vir die een wat vergewe word.

  15. Nie te slegte gesprek hierdie nie.
    Costello: Ek dink Lidmaat het omtrent opgesom hoe ek oor vergifnis voel. My ervaring is dat vergifnis al te maklik verkondig word as ‘n kitsresep vir die oplossing van alle verhoudingsprobleme. My ervaring in pastoraat is dat die proses van vergifnis dikwels gepaard moet gaan met ondersteuning deur ‘n terapeut nie, anders is die vergifnis teenproduktief en verhoog dit eerder die skuldgevoelens van die persoon of persone wat probeer vergewe.
    Ek het ‘n wonderlike vergifnis ervaring met my dogter gehad. Sy het my en my vrou op ‘n stadium baie seer gemaak. Ons kon haar vergewe en vandag het ons ‘n baie aangename verhouding. (Ek dink natuurlik sy moes my ook vir ‘n paar dinge vergewe.)

  16. Doom, ‘n vragie (Die vraagtekens sê eintlik dat ek baie goed weet dat ek nie alles weet nie en waarskynlik nooit alles gaan weet nie.)
    Hoe belangrik is dit om vir die persoon wat jy vergewe te sê dat jy hom of haar vergewe?

  17. ??????: Ek dink dit hang af van die situasie. In my pastorale gesprekke vra ek in so ‘n situasie hierdie vraag: Hoe bewus is die persoon wat jy wil vergewe, dat hy/sy jou seergemaak het? Indien die persoon baie goed daarvan bewus is, sal ek die persoon aanraai om dit te oorweeg om vir die persoon te gaan sê. As die persoon nie daarvan bewus is nie, dan raai ek die persoon aan om die vergifnis af te handel. Die rede: Ek het al beleef dat mense vergewe en as die persoon nie geweet het nie, dan versteur dit die verhouding baie erger as ooit te vore. Natuurlik is daar ook diegene wat deur vergifnis wil spog met hulle geestelike volwassenheid. Op die ou end is die vraag: Watter impak gaan dit op die verhouding hê as jy gaan sê dat jy vergewe? Watter impak gaan dit hê as jy dit nie gaan sê nie?

  18. Goeie naand Attie jou blog is baie goed. Ek het nou al ‘n paar van jou daaglikse gesprekke gelees en elke dag kry ek soveel antwoorde op my vrae. As ‘n mens nie kan vergewe nie gaan jy jouself verwoes. Ek het jare lank geloop met haat binne in my en al hoe ek kon genees en beter word is om self te vergewe. Om nie te kan vergewe nie is soos kanker dit kan jou doodmaak. Nou dat ek geleer het om te vergewe en te vergeet voel ek ligter en die son skyn elke dag. Hou aan met jou goeie werk ons almal kan net baat daarby. Mag God jou elke dag meer en meer seen.

  19. Ek stem saam daarmee dat mens moet vergewe. As jy wrokgevoellens in jou ronddra, veroorsaak dit mettertyd liggaamlike en geestelike afmatting. Ek moet egter eerlik se dat volgehoue vergifnis vir my nogal moeiliker raak hoe ouer ek word. As ‘n persoon wat fouteer, werklike berou daaroor het verwag hulle in die meeste gevalle onmiddellike vergifnis en aanvaarding (hulle het immers dan nou besluit om hul wee te verander). Tog voel ek dat mens optimisties-VERSIGTIG vorentoe beweeg en seker maar verwag dat die persoon homself eers bietjie moet bewys. Met verloop van tyd herhaal dieselfde probleem homself soms male sonder tal en ervaar jy die hele senario herhaaldelik – vergifnis raak al moeiliker en die vergeet-gedeelte soos ou koeie wat begrawe is, maar telkens weer noodwendig uit die graf opstaan!
    Ek impliseer hiermee gladnie dat ek self nooit fouteer nie. Ek probeer egter hard om nie dinge (wat ander seermaak) te herhaal sodra ek besef watter invloed dit op die mense om my het nie. Ongelukkig is dit male sonder tal nie my ervaring met die mense rondom my nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: