CHRISTENE KAN ‘N VERSKIL MAAK

Ons gemeente is nou vir ongeveer vier jaar betrokke by ‘n “shelter” hier in ons omgewing. Die “shelter” huisves tans tien weeskinders. Hulle sou op hierdie stadium elf gewees het as een van die gesinne in ons gemeente nie een van die kinders vier jaar terug in hulle huis ingeneem het en hom sedertdien as hulle eie kind grootmaak nie. Die meerderheid van hierdie weeskinders is babatjies. Sommige van hulle is HIV positief; Sommige van hulle is in badkamers gekry waar die ma’s hulle by geboorte gelos omdat hulle nie die kinders wou gehad het nie. Ten minste een is in die veld opgetel – ook deur sy ma gelos om te sterf.

Gister is die tien babatjies in ons gemeente gedoop. Dit is ons oortuiging dat ons deur hierdie handeling die genade van God aan aan hierdie kinders verkondig. Maar nie net aan hulle nie, aan elke een wat daar teenwoordig was. Op hierdie stadium verstaan die kinders dit nie, maar as hulle groter is sal die mense wat hulle versorg hulle vertel. Wanneer hulle groot genoeg is sal hulle êrens by ‘n gemeente betrokke raak – as hulle wil sal dit by ons gemeente wees. Die gemeente het die getuienishandeling verstaan dat God se genade ‘n mens-omarmende genade is. Die mense wat by die “shelter: werk het dit verstaan en die geleentheid was vir hulle ‘n bemoediging omdat hulle hierdie veeleisende en selfopofferende werk doen uit liefde vir die God en liefde vir God se mense.

Ek plaas een foto van die gebeure:

Ons eie dogter, wat nou in Graad 6 is, het een van die babatjies ingebring. Die babatjie is een jaar oud en was nie veel groter as die paar maande oue babatjie van ‘n gesin in ons gemeente wat ook by die geleentheid hulle babatjie gedoop het. Die rede… die kind het VIGS.

Renè het vir die eerste keer in haar lewe aan ‘n mens gevat wat VIGS het en sy het niks oorgekom nie, inteendeel, haar jong hartjie is gevul met deernis vir die babatjie. Sy het voor ons by die huis was vergeet dat die babatjie VIGS het en sy het begin wonder of sy vanaand warm sal slaap. Sy en drie van haar vriendinne het vandag besluit om so nou en dan op ‘n Saterdag met die babatjies te gaan speel.

Wat ‘n voorreg om op hierdie manier in hierdie wêreld ‘n verskil te maak.

Advertisements

15 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

15 responses to “CHRISTENE KAN ‘N VERSKIL MAAK

  1. Ek wens meer mense, kerke en instansies wil so ‘wees’…

    En ek wens ‘single’ mense en gay paartjies kon so n kleintjie aanneem… Maar dis so n issue. So, die kindertjies moet maar ‘alleen’ grootword met baie mense wat smag na n kind!

    Dankie vir julle Attie! En ek hoop jou dogter hou by haar voorneme, dis so goed, veral aangesien sy nog jonk is!

    !

  2. Elmarie

    Wow! saam met julle wonderlike werk en gister se preke oor “Jesus se hande” en “geloof en dade” is ek geïnspireer en gemotiveer om meer vir Hom te doen!
    (Ek en my rekenaar was maande van lyn af – lekker om weer te mag lees en leer)

  3. Thinus

    Ek hou baie hiervan, dis mooi om te hoor, ons moet net nie daar stop nie.

  4. Annette

    Attie skrywe:
    Gister is die tien babatjies in ons gemeente gedoop. Dit is ons oortuiging dat ons deur hierdie handeling die genade van God aan aan hierdie kinders verkondig.

    Annette:
    1)Was dit ‘n spesiale diens wat op ‘n Saterdag gehou is?

    2) Ek verstaan nie mooi nie. Die kinders is 1 jaar oud, so daar kon geen verkondiging aan hulle gewees het nie. Was dit nie maar net ‘n aksie om die predikante en die gemeente te laat goed voel nie?

    3) Hoekom kan God net genade gee aan gedoopte kindertjies?
    Indien nie – waar was die genade toe die kinders gebore of selfs verwek is?

    Ek vra maar net die vrae – want dit lyk so of daar net voort gestoomroller word uit pure gewoonte, sonder om te stop en vrae te vra.

    Attie, ek is baie bly dat jou dogter, al is sy al in gr 6, uiteindelik ‘n ou vigskindjie kan vashou.
    Ek is seker maar net te ooremosioneel oor die storie, maar as ‘n kind vir my vertel sy voel so verskriklik jammer vir die ou kindertjies, dat sy so nou en dan op ‘n Saterdag sal gaan kuier, dan sal my eerste reaksie nie blydskap en dankbaarheid wees nie, maar die vraag hoekom daar nie elke liewe Saterdag, en miskien so nou en dan in die week ook, tyd afgestaan word vir die kinders waarvoor sy so jammer voel nie.

    Want dit, Attie, is wat so lekker verkeerd gaan in vandag se tye.
    Predikante en gemeentelede wat ‘n oeroue ritueel aanhang, sonder om te vra of dit op vandag enigsins sinvol van toepassing kan wees.
    Kinders wat verklaar hoe vreeslik jammer hulle vir iemand voel, en dan kom met die Staerdag so nou en dan se besoeke – en in plaas daarvan dat die kind gevra word om ‘n definitiewe afdwingbare verbintenis aan te gaan, word die bo-oor goedvoel verklaring geprys.
    Ons is tog so trots op ons slapgatgeit.

    Ek is baie bly vir jul gemeente se onderneming vir die versorging van die kindertjies. Ek is nog meer bly dat daar ten minste een gesin in die gemeente was wat bereid was om een kind in pleegsorg te neem.
    Dis nie alle gemeentes wat met so ‘n prestasie kan spog nie.
    Geluk, en sterkte vir die tye vorentoe – wanneer die kinders wel oud genoeg sal wees om die verkondiging te kan hoor. Of hulle dit sal verstaan is ‘n ander storie.

    Annette

  5. Annette

    Attie, is dit jy wat daar op die verhoog staan?

    Jy is nogal mooierig:))

    Annette

  6. Annette: Sorry, dit is nie ek nie. Dit is my kollega. Ek gaan nie my dogter krtiseer vir die bietjie wat sy bereid is om te doen nie. Dit is vir my belangriker dat sy dit doen en dan sal ek haar aanmoedig om haar omgee vir mense verder te neem.
    1. Oor die tyd – die “post” was veronderstel om vanoggend geplaas te word. Die datum is die datum waarop hy geskryf is – dit het gister gebeur tydens ‘n gewone oggenddiens.
    2. Die doop is vir ons ‘n genadehandeling en ‘n verkondiging daarvan.
    3. God gee genade aan alle kinders nie net aan gedoopte kinders. God se genade is nie net vir kinders wat gedoop is nie, God se genade is vir alle kinders – die doop is ‘n teken van die genadehandeling van God.
    Die verkodiging van God se genade is ‘n risiko aan alle mense – nie net aan kinders nie.

  7. ?????.

    Anette: Jy is onnodig negatief.
    Attie ek dink dit is wonderlik dat jou dogter op hierdie stadium reeds raaksien dat mens ‘n verskil kan maak en deel van die oplossing kan wees.

  8. Von

    Attie, dis wonderlik dat julle gemeente so by die “shelter” betrokke is. Daar is werklik net te veel nood en armoede. Jou dogter se voorneme is prysenswaardig. Sy is nog baie jonk en sal wel self mettertyd haar betrokkenheid uitbrei. Dit is ‘n beginpunt in haar lewe waarop ek seker is sy nog baie sal bou.
    Ons huis is ‘n “plek van veiligheid” en ‘n hele aantal babas en jong kindertjies het al vir ‘n wyle ons lewens op hul eie spesiale manier aangeraak. Hoewel hulle nie een vigs gehad het nie, is die lewensomstandighede waaruit hulle verwyder is in alle gevalle baie haglik en onbenydenswaardig. Die meeste mense leef in ‘n veilige koekon en besef nie die werklik wat rondom hul eie gemaklike lewens besig is om te gebeur nie.

  9. Annette

    Liewe Attie, sê vir jou kollega dan iemand dink hy is mooi.

    Ek maak hier ‘n nota, dan praat ons volgende jaar hierdie tyd weer oor dogter en haar besoeke.

    Von, waarheen gaan die kinders van julle af?

    Annette

  10. Von

    Anette

    Die kinders word by ons in veilige bewaring geplaas (enigiets van ‘n paar dae tot ‘n maksimum van ses weke) tot tyd en wyl geskikte pleegouers vir hulle gevind word. Indien geskikte pleegouers nie gevind word nie, word hulle na die ses weke periode in ‘n kinderhuis geplaas – dit is baie, baie hartseer as dit gebeur.
    Daar is ‘n geweldige tekort aan pleegouers – die meeste mense sien nie kans vir die seer daaraan verbonde wanneer die kinders dalk weer terug by hul ouers geplaas word nie. Tog is dit ‘n wesenlike behoefte wat bestaan en (ten spyte van die seer) verryk hierdie mensies jou lewe en kan jy werklik ‘n groot verskil in hul lewens maak.
    Jammer Attie, amper neem ek nou jou blog oor!

  11. Lidmaat

    Annette: Het jy al enige iets vir sulke kinders gedoen?

  12. Lukas

    Goeie vraag lidmaat,

    Annette, hoeveel wesies het jy al vasgehou
    Hoeveel het jy al saam met jou vir ‘n lekker Saterdag of Sondag uitstappie geneem
    Hoeveel van hulle het al by jou oornag by jou huis en het jy saam met hulle op die bed na video’s lê en kyk
    By hoeveel se bedjies het jy gestaan wanneer hulle enkeltjies geswel is omdat die regter hartkamer besig is om in te gee.
    By hoeveel begrafnisse was jy waar daar geen familie lid is wat die klein wit kissie na die graf toe dra nie.
    Sê vir ons …hoekom skryf jy hier?

  13. Attie

    Hierdie is werklik great. Dit is ‘n baie groot ding wat julle doen. Sodra ons ons hart vir Jesus gee dan kom woon die Heilige Gees binne ons. God is 3 enig, Vader, Seun en Heilige Gees. Die effek hiervan is dus dat Jesus en God ook saam met die Heilige Gees in ons woon.

    Die manier wat Jesus dus ‘n verskil op die aarde maak is deur mense wat toelaat dat die Christus binne in hulle ‘n verskil maak.

    Ons kerk het ook tans ‘n bediening van hulpverlening begin. Hoe meer mense dit gaan doen, hoe groter gaan die verskil in die wêreld wees.

  14. Roer

    Dis wonderlik Ds. Daar is soveel wesies. Die probleem is so groot, ek raak sommer soms moedeloos, maar God is in beheer. Jou dogter doen ‘n wonderlike ding.

  15. Dankie vir julle insette. My gedagte was nou nie juis om die indruk te skep dat my dogter een of ander super-heilige is nie. Ek wou eintlik beklemtoon hoe beskerm ons kinders dikwels groot word. VIGS is iets waarvan hulle hoor en dikwels selfs ‘n “afsku” in sou hê, totdat dit iemand met ‘n lyf word wat voor jou staan. Dan kom mens agter – hierdie persoon het ook emosies en seer en onsekerheid, alles wat ek beleef. As hierdie geleentheid net maak dat sy met liefde en empatie na VIGS mense kyk sal ek tevrdde wees. Terloops: Vyf van hulle (Graad 6 – 12 jaar oud) het gister onder mekaar gereël om Vrydag met die kindertjies te gaan speel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s