Ek sou geen ander werk wou doen as dit wat ek nou doen nie. Ek geniet my werk en daar is ontelbaar baie uitdagings en heerlike bevrediging in wat ek doen. Maar die lewe binne die kerk en veral in die binnekring van die kerk is nie altyd maanskyn en rose nie.
Christene is al te dikwels daarop ingestel om die wapens op te neem teenoor mekaar, in plaas daarvan dat hulle behulpsaam sal wees met die uitdra van die evangelie na die al die mense in die wêreld. Menige Christen is al deur “vuur” vanuit eie geledere tot so ‘n mate gewond dat hulle geen ander keuse gehad het as om te onttrek nie.
In Filippense 4:1-9 moet Paulus twee vrouens vermaan om eensgesind te wees. (Fil. 4:2) Twee vroue wat op ‘n stadium sy aan sy gestry het vir die saak van die Goeie Nuus oor Christus Jesus. (Fil. 4:3) Nou is hulle vasgevang in een of ander geveg teen mekaar. Hierdie is ‘n oeroue probleem wat nog altyd deur die geskiedenis van die kerk ‘n probleem was. Maar, voordat iemand nou weer hierdie dinge gebruik as ‘n rede waarom hy/sy nie kerk toe gaan nie, of nie meer aan ‘n kerk behoort nie, wys asseblief vir my die dissipline of organisasie waar dit nie so gaan nie.
Die Bybel se antwoord op die probleem is “eensgesindheid”. Eensgesindheid kan tog nie beteken dat ons oor absoluut alles moet saamstem nie. Vir my gevoel is eensgesindheid om saam te stem oor die basiese waarhede van die evangelie.
‘n Paar van hierdie basiese waarhede sou wees:
Alle mense is sondaars en nie in die regte verhouding met God nie en verdien die ewige dood;
Alle mense het die geleentheid om met God versoen te wees deur die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis;
Hierdie verlossingswerk word ‘n werklikheid in mense se lewens deur geloof in Christus Jesus as Here van hulle lewens;
Alle mense wat Christus Jesus as Here aangeneem het, leef in ‘n sekere eenheid met Christus wat maak dat hulle met Hom een geword in sy sterwe; in sy begrawe wees; in sy opstanding; in sy hemelvaart en sal ook met Hom een wees wanneer Hy weer kom.
Oor die presiese inhoud van sekere van hierdie begrippe verskil eensgesinde Christene met mekaar. Maar oor die basiese waarheid hiervan stem Christene graag ooreen.
Daar is waarskynlik baie redes wat aangevoer kan word vir hierdie gevegte in die binnekringe van die kerk. Dalk lê Christene se probleem in dit waarmee hulle in hulle gedagtes besig is. Sommige Christene is al te veel in hulle gedagtes besig met hoe hulle ‘n situasie kan manipuleer om dinge te laat gebeur soos hulle wil hê dit moet gebeur en hoe hulle ander kan kry om te doen wat hulle self nie kans sien om te doen nie. Of hoe hulle jarelange se onenigheid kan gebruik om wraak te neem omdat die situasie in die verlede nie volgens hulle plan verloop het nie.
Dalk moet ons begin om in ons gedagtes met ander dinge besig te wees: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Fil. 4:8)
Wat dink jy kan die kerk en Christene help om meer eensgesind te wees en saam te stry vir die saak waartoe ons geroep is en ingestem het?
Dink jy dieselfde gesindheid sou in ons land en by ons werke en in ons gesinne ‘n verskil kon maak?
nederigheid, wedersydse respek en verdraagsaamheid
BiB: Weer die woordjie respek. Iemand sê gisteraand: “as ons almal net altyd al ons kaarte op die tafel sit, sal dit soveel makliker wees.