Die foto van New York se “skyline” voor en na 11 September 2001 sal altyd vir my ‘n skokkende foto bly. Dit is waarskynlik die gebeurtenisse wat die gang van die geskiedenis in ons tyd dramaties verander het.
Die skade wat daardie gebeure aan godsdienste gedoen het, is onberekenbaar omdat die optrede van die godsdiens-fanatici gebruik word as ‘n rede waarom mens nie in God behoort te glo nie.
Ek wil egter die foto gebruik om ‘n ander “before and after” punt te beklemtoon.
Ek wil graag die beeld gebruik om iets te verduidelik van wat ons in Filppense 3:7-14 lees. In verse 5-8 noem Paulus sewe dinge wat hy voor sy bekering as uiters waardevol en belangrik beskou het. As hy die “skyline” van sy eie lewe moes bou, sou hierdie sewe dinge onmisbaar sigbaar gewees het: (“Ek is op die agtste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam van Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.” )
“Maar, wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos.” (Fil. 3:7) – dit is Paulus se “before and after.” Deur die dramatiese gebeure op die pad na Damaskus is Paulus se “skyline” onherroeplik verander en is die gang van sy eie lewensgeskiedenis heeltemal op sy kop gedraai.
Die dinge waarop Paulus voorheen geroem het was nie in hulleself verkeerd of sleg nie, maar die probleem was dat hy daarvan oortuig was dat hy daardeur in die regte verhouding met God sou kom. Op hierdie manier het Paulus en sy wetgeleerde vriende die Ou Testamentiese wette verkeerd geïnterpreteer en kon hulle geen waardering hê vir die verlossingswerk wat deur Jesus Christus bewerk is nie.
Paulus het al hierdie dinge wat hy in sy “skyline” sou inbou as waardeloos beskou, “… want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” (Fil. 3:8)
Ek wonder wat sou Paulus teen sy “skyline” wou sit? Dalk ‘n kruis; Dalk op een of ander manier ‘n simbool van die leë graf; Dalk ‘n simbool van ‘n verblindende lig… Ek weet nie. Maar hy skryf so: “Ter wille van Hom het ek alles prysgegee sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo.” (Fil. 3:8-9)
Paulus het sy rug gedraai op sy vorige oortuigings, gewoontes en gebruike sodat God sy lewe nuut kon maak en omdat hy Christus Jesus leer ken het en besef het dat niks ooit so waardevol kan wees as Christus nie.
Elkeen van ons moet van tyd tot tyd ons rug draai op sekere dinge in ons lewens sodat ons kan word wat God bedoel het ons moet wees.
Almal van ons is nie soos Paulus nie. Paulus was ‘n pionier – hy het altyd nuwe horisonne gesoek en oorgesteek. Ander – soos Timoteus was meer van ‘n setlaar – hy het in Efese gebly en sonder ophou daar gewerk om die koninkryk van God in Efese te laat kom.
Twee vrae om jou te laat dink?
Is jy meer soos Paulus (pionier), of meer soos Timoteus (setlaar)?
Was daar al ooit iets wat jy in jou “skyline” ingebou het, wat jy moes afbreek?
Voor ek gelees het wat doom skryf het ek na die fot’s gekyk en gewonder wat ek daarin sien. Ek sien toe op die tweede foto kan jy die Empire state gebou sien en nie op die eerste nie. Dit beteken vir my dat sodra ons ontslae raak van sekere dinge in ons lewe dan eers dat ons die mooi kan raaksien.
Ek is maar ‘n Timoteus en volg die Pauluse op hulle reise. En ja daar was al ‘n PAAR dinge op my skyline wat ek moes afbreek !!!
Toe ek jonger was, was ek soos Pualus, maar nou is ek meer soos Timoteus. Ek dink my “skyline” is nou soos wat hy moet wees.
Dis nogal treffend wat Pieter hier bo sê. Dit kan ook beteken dat ‘n ramp in ons lewe dalk nodig is om iets anders, mooiers, na vore te bring.
Pieter: Ek het nog nooit daaraan gedink dat mens nou vir die eerste keer die Empire State gebou sien nie.
Sonkind: Ek vind dit wonderlik dat rampe dikwels iets moois na vore bring, maar ek vra myself dikwels of dit regtig “nodig” was. Ek wonder: Ek dink God neem eerder op ‘n manier wat ons nie verstaan nie, die rampe in diens en skep uit daardie seer en terugslag die onverwagse. Ek is maar net versigtig om God die oorsaak van ons swaarkry te maak, alhoewel ek vermoed dat jy dit ook so verstaan. Een ding is waar – rampe skep ‘n nuwe “skyline”.
Ek hou van die “skyline” beeld wat jy gebruik Attie! Twee maande gelede het ons “skyline” ook letterlik verander toe ‘n “neseier” vir ons oudag (‘n huis wat ons verhuur het) afgebrand het a.g.v. ‘n ontploffing in die motorhuis. As ons kon kies sou ons natuurlik ook nie die wou hê dat die “ramp” ons of die huurders moes tref nie maar die verskil wat dit aan ons en hulle geestelike “skyline” gemaak het, was al die trauma werd!! En dis hoe ek en manlief die Here in ons lewe ervaar – hy laat toe dat rampe ons tref maar Hy laat ons sterker anderkant uitstap!
Reisiger: Die Here het julle skade in diens geneem – Hy skep ook ‘n nuwe ‘skyline”.
McBrollocks: Jy is nie langer welkom om aan hierdie blog se gesprekke deel te neem. Jy kon met eerlike vrae gekom het en dan sou ons saam gesels het, maar ons het nie nodig om na jou beledigende opmerkings te luister nie. Jy het klaar jou besluit geneem dat jy nie soos ons glo nie, en jy is welkom om so te glo en te voel. Ons probeer jou nie anders oortuig nie, jy gaan dit ook nie regkry om ons anders te oortuig nie.
Ek het omtrent gekyk na daardie skewe torings wat so opmerklik te na aan mekaar staan in die voor-prentjie wat attie geplaas het.

Toe gaan soek ek maar vir ‘n beter prentjie waar die torings behoorlik regop staan, soos wat dit inderdaad was.
Uit ‘n ander oogpunt:
Julle sal dus ook sien dat die Empire State gebou wel sigbaar is, terwyl die twee torings daar staan – weliswaar nog steeds nie deel van die skyline nie, maar uit hierdie hoek is dit ‘n ander gebou se skuld.
Vanwaar het jy die skewegebou prentjie gekry attie?
Of het jy spesiaal een gemanipuleer?
Annette: Ek het nie die foto gemanipuleer nie.
Attie – hoekom het jy dan ‘n prentjie van ‘n skewe toring geplaas?
Is dit om gewig te gee an die stukkie preek dat iets van die skyline wat nie reg is nie, af te breek?
Die waarheid is dat daar niks op dees aarde verkeerd was met daardie skyline nie. Net die foto.
Annette
Annette: Die punt wat ek gemaak het was dat die skyline van New York na die aanvalle verander het. Pieter het raakgesien van die “empire-gebou.” Dit punt wat hy wou maak is dat mens na swaarkry soms dinge raaksien wat jy andersins nie sou raaksien nie.
Ja Doom, Annette het jou lekker uitgevang né. Net nog ‘n voorbeeld van hoe predikers foto’s, feite en Bybeltekste kan manipuleer en masseer om enige vergesogte boodskap te pas.
Vir almal wat belangstel kyk hier na die webwerf waar ek die foto gekry het.
Liewe Attie:
Jy skrywe:
Annette: Die punt wat ek gemaak het was dat die skyline van New York na die aanvalle verander het. Pieter het raakgesien van die “empire-gebou.” Dit punt wat hy wou maak is dat mens na swaarkry soms dinge raaksien wat jy andersins nie sou raaksien nie.
Annette:
1) Dan is ek jammer – ek moes jou punt heeltemal in jou preek gemis het. Om te sê dat die skyline verander het na die aanvalle is om die ooglopende te meld, en daar is nie ‘n foto voor nodig nie.
Ek het uit jou preek verstaan dat mens dit wat verkeerd is moet afbreek en of regmaak, om gesond te kan word om aan te gaan.
2) Pieter aan die anderkant het net die Empire State raakgesien, omdat die foto uit daardie spesifieke punt geneem is. Die waarheid dat die Empire State nog eltyd gesien kon word uit ‘n ander hoek word baie gerieflik verswyg.
Dit is waar dat mens na swaarkry soms dinge raaksien wat voorheen gemis is, maar aan die anderkant is dit ook waar dat mens dinge raaksien en beleef as mens baie gelukkig voel.
Maar is dit nie waar dat die godsdiens en geloof meestal dy en floreer as daar lyding en swaarkry en smart by betrokke is nie?
Is dit nie waar dat die godsdiens en geloof by uitstek daarop speel as negatiewe emosie verwek kan word nie?
Is dit nie waar dat die Christelike en Islamitiese godsdienste nie so lekker kon bestaan het sonder ‘n hemel, ‘n hel, sonde , boetedoening en ‘n duiwel nie?
Is dit nie waar dat die hemel slegs as die absolute nirvana gesien word net omdat daar ‘n teenpool wat die hel genoem word voorgehou word nie?
Kyk ek het absoluut vrede daarmee dat mense godsdiens en geloof nodig het. Dit is hulle goeie reg.
Wat ek met hand en tand beveg is dat stories en prentjies voorgehou word as voorbeelde, wat ooglopend en logies nie reg of waar kan wees nie.
Die kerk het ‘n moeilike taak. Dit wil met ‘n ou dogma, en op ‘n manier wat in 18-voertsek gewerk het, in vandag se omgewing opereeer en voortbestaan. Dit sallie werkie.
Wat die kerk moet doen is om seker te maak dat die prentjies en die stories waar is, dat daar nie kritiek op kan wees nie – dan is daar meer geloofwaardigheid in die preke, en jou kritiese gemeentelid gaan meer tevrede huis toe, en soek nie ‘n ander gemeente, ander godsdiens, of word kerklos nie.
Ek sien Attie is ‘n leraar. Mag ek ‘n paar vrae vra of sal my comments ook delete word?
Liewe Attie, jy skrywe:
Vir almal wat belangstel kyk hier na die webwerf waar ek die foto gekry het.
Nou wil ek vir jou vra – uit die menigte prentjies wat op die internet beskikbaar is, van die voor en daarna skyline, wat het gemaak dat jy spesifiek een gekies het met ‘n skewe toring?
Was dit omdat jy wou sien of iemand kritiek daarop wil lewer?
Was dit om aan te pas by jou preek?
Was dit omdat jy pleinweg nie die skewe toring gesien het nie?
Was dit omdat jy die eerste beste prentjie gegryp het, omdat jy te laat met die voorbereiding van jou preek begin het?
Wat?
Miskien moet jy vir ons ‘n preek hier plaas hoe geloof soms ‘n mens kan verblind, dat die ooglopende nie raakgesien word nie.