PASOP VIR MISLEIDING

Ek het hierdie inskrwying uitgevee omdat ek oortuig is (jy kan ook maar lees deur die reaksie oortuig is) dat die manier waarop ek dit verwoord het nie billik was teenoor George Claassen nie en nie gesprek tussen Christene en andersdenkendes bevorder het nie.

Ek stem nog steeds nie saam met sy standpunt nie.

As ek na alles hierdie inskrywing  moes oorskryf, sou ek nie my standpunt wysig nie, maar dit anders verwoord het.

55 thoughts on “PASOP VIR MISLEIDING

  1. Ek dink as mens jou gesonde verstand gebruik, kan jy nie anders as om in God te glo, en Hom te dien nie. Wat my pla is wat jy mooi beskryf (‘n persoonlike belediging teenoor Christene is en ‘n aantasting van God se heiligheid is). Mense wat nie glo in God nie het geen reg om my God te beledig of enigstens af te kraak nie.

  2. Op 23 September 2005 haal George Claassen die volgende aan in ‘n berig:

    “We, Nobel Laureates, are writing in defence of science. We reject efforts by the proponents of so-called “intelligent design” to politicise scientific inquiry and urge the Kansas State Board of Education to maintain Darwinian evolution as the sole curriculum and science standard in the State of Kansas,” the letter, released under the banner of The Elie Wiesel Foundation for Humanity, begins.

    “The United States has come a long way since John T Scopes was convicted for teaching the theory of evolution 80 years ago. We are, therefore, troubled that Darwinism was described as ‘dangerous dogma’ at one of your hearings. We are also concerned by the Board’s recommendation of August 8, 2005 to allow standards that include greater criticism of evolution.

    Ek wonder net wie is dit nou wat nie kans sien dat hulle “bybel” Darwin bevraagteken word nie?

  3. Ek sien my geloof in God en wat Jesus vir ons/my op aarde kom doen het ook persoonlik. My geloof leer my om ander tot geloof te bring deur dit wat Hy vir my gedoen het, wat ‘n werklikheid IS !!!! Dit daarom dat ek sulke aanmerkings nie verstaan nie !!. Godsdiensvryheid en al – wie gee hulle die reg om my geloof aan te tas en te beledig. Leer hulle geloof(nie geloof) om ander te oortuig dat daar nie ‘n God is nie? …..

  4. Alec: Ek kry soms die gevoel dat Ateïste hoër standaarde aan Christene stel as wat hulle aan hulleself stel, met die doel om Christene hulle God links en reg te veroordeel.
    Ha-ha-ha: Dankie vir daardie stukkie inligting. Sê vir my nogal baie.
    Pieter: Is waar. Onder andere skryf hy dat kinders deur ouers gebreinspoel word om die Bybel te glo. Ek wonder wat dink hy gaan hy eendag met sy eie kinders doen? Hulle breinspoel om te glo dat God nie bestaan nie en dat Ateïsme die regte “geloof” is. Partykeer verg dit meer geloof om nie te glo nie, as om te glo.

  5. Ek het geen probleem met Ateiste nie – hulle is hul eie probleem. Dankie Vader, Jesus het ook vir hulle gesterf sou hulle die dag tot ander insigte kom. Ek is relatief keelvol vir Darwin… Wie kan God se tyd bepaal – Sy dae en nagte is beslis nie ons dae en nagte nie. Maar daar sal ‘n geween en gekners van tande wees….

  6. Goeie en nodige inskrywing, Attie! Dit kom my voor asof daar tans niks so gewild (en verspotmaklik!) is as om Christenskap te probeer afskiet nie. Eintlik raak dit baie afgesaagd en vervelig. Daar is altyd ‘n kritiese debat binne Christenskap nodig. Afbrekende kritiek deur nie-Christene was egter nog altyd daar en sal nog altyd daar wees. Ons, as Christene, vergeet ook gou van Jesus se woorde tov gewildheid. Jesus het klem gele daarop dat Christene nie werklik gewild sal wees in die wereld nie. En dis soos dit is en (glo ek) altyd sal wees.

  7. Daar is Goddelike orde aan alles- selfs aan chaos. Opvallend is dat meeste ateiste meeste van hulle tyd en energie gebruik om te bewys dat iets waarin hulle nie glo nie,nie bestaan nie. Daardeur bewys hulle meestal die teendeel……

  8. Met respek Ha-ha-ha die skakel wat jy hier gegee het, kwoteer jy nie net uit konteks nie, maar die 80 Nobelpryswenners het ten gunste van evolusie in die saak TEEN intelligente ontwerp getuig.

    En in die betrokke Kansas-saak het IO verloor en evolusieleer is in Amerikaanse skole aanvaar as die enigste ware wetenskap. Behe het nie eens opgedaag om te getuig nie.

    Dit vas die evolusie wat “bevraag teen is nie” maar IO. hahahahah!

    En dan: Dr. George Claassen is ‘n wetenskapjoernalis en buitengewone professor in joernalistiek aan die US. Hy is verlede jaar bekroon met die Nasionale Navorsingstigting se toekenning vir wetenskap-kommunikasie. Nie ondersoekende joernalistiek nie.

  9. Pikkelik; BiB en Blixer: Dankie vir julle inset.
    Rosalindfranklin: Ek het verwys na ‘n ondersoekende joernalis omdat dit is waarop daar na hom verwys is in die Kerkbode. Ek het geen idee waarvoor hy watter toekenning gekry het nie. Ek het sy berig in die Kerkbode gelees en daarop gereageer.

  10. Rosalindfranklin: Dalk is dit buite konteks. Elke leser moet maar self daaroor besluit. Die punt is dat daardie groep wetenskaplikes hof toe moes gaan om te keer dat iets anders as dit wat hulle as wetenskap beskou in skole geleer word. Ek het baie respek vir wetenskaplikes en vir die wetenskap. Maar ek kan nie respek hê vir wetenskaplikes wat verkleinerend en beledigend optree teenoor andersdenkendes nie. Ek weet daar is sommige wetenskaplikes wat reken dat Christene nie vir hulleself kan dink nie, maar dit is maar net wat hulle dink. Ek het nie ‘n byltjie te slyp met wetenskaplikes nie. Dit gaan vir my oor die gebrek aan respek vir andersdenkendes. Die meerderheid Christene wat ek ken het baie respek vir die wetenskap en is in ‘n baie groot mate bereid om bevindings van die wetenskap te aanvaar omdat hulle nie die Bybel as ‘n wetenskap handboek hanteer nie. Het Christene nie ook ‘n reg op respek nie?

  11. Attie, dus as die kerkbode ‘n fout maat verhaal ons dit maar net, oor en oor, soos wat met die vertaling van boeke gebeur?
    Ek het bloot op feite-foute gewys. Een van die grootste probleme met blogs, vergeleke met die hoofstroom media (en wanneer die hoofstroommedia foute maak en daarop gewys het, maar hulle dit ook reg – daarom sal blogs nooit die media uitdruk nie).

    Terug by die saak. Mens moet ook onderskei wat is ‘n rubriek, berig, artikel en brief….

    Ha-ha-ha: Ek stem saam met jou, ek steun ook ten volle die grondwet van die land. Dit beteken dat almal, maar almal gerespekteer moet word, ook die wat nie glo nie. By baie mense, ook gelowiges en nie-gelowiges is daar ‘n gebrek aan respek vir diegene wat andersdenkend is, ek stem hier met my saam.
    Almal het die reg, ek is net nie so seker of die reg vir almal erken word nie.
    Ek is dus dit eens met jou ook dat geestelike boeke nie wetenskaplike boeke is nie.

  12. Rosalindfranklin: Ek het nie jou feite oor George Claasen bevraagteken nie, ek het net gesê waar my inligting vandaan kom, maar ek moes dit dalk eerder reggestel het.

  13. Ek het nie bedoel dat hierdie ‘n slagveld moet wees vir geloof teenoor rede of godsdiens teenoor wetenskap nie.

    Ek sal nog op ‘n stadium hieroor “blog”, maar hier is my posisie: Ek het my geloofslewe begin waar ek daarvan oortuig was dat dit Godslasterlik sou wees om te wonder of die wêreld regtig in sewe dae van 24 uur elke geskep is. Blindelings het ek alles geglo. As enige inligting bots met wat die Bybel sê is dit vanselfsprekend dat die ander inligting verkeerd is.

    Ek het vir baie lank in my lewe stilgestaan (en ek is waarskynlik in ‘n groot mate nog steeds daar), waar ek styf probeer vashou aan geloof en rede en die hele tyd probeer om die twee met mekaar te versoen. Onnodig om te sê dat dit nie altyd maklik is om geloof en rede op hierdie manier onder een dak te huisves nie.

    Oor die laaste paar maande het ek al hoe meer begin wonder of daar nie nog ‘n moontlikheid is nie. Is dit nie dalk moontlik om eerlik en opreg besig te raak met die vrae nie? Is dit nie dalk moontlik om te erken dat alles nie so eenvoudig en vanselfsprekend is as wat ons nog altyd gedink het dit is nie, en dan daaroor te begin praat en gesprek voer nie?. Is dit nie dalk moontlik dat ‘n eerlike worsteling met sekere vrae eerder ‘n sterker en meer volwasse geloof tot gevolg gaan hê, as om die indruk te skep dat alles “honky-dorry” is terwyl elkeen maar in sy donker klein hoekie worstel met sy/haar diepste onsekerhede?

    In hierdie worsteling het ek klaar vir myself uitgemaak dat ek nie bereid is om my geloof prys te gee nie. Ek gaan steeds onwankelbaar onder andere vas bly staan daarop dat Jesus Christus die Seun van God was en is en dat Hy gesterwe het en liggaamlik uit die dood opgewek is. Maar my geloof stort nie in duie omdat ek nie meer glo dat die wêreld in sewe dae van vier en twintig uur geskep is nie.

  14. Hi, ek weet my aanbeveling tel nie vir veel nie, maar ek wil tog net noem dat ek vir George Claassen goed ken en dat hy een van die mees redelike en bedagsame mense is wat ek ken. Dis jammer as jy persoonlik gekrenk voel deur dinge wat hy se^, maar ek kan jou verseker dat George se bedoeling is om idees aan te val eerder as mense. Jy kan van sy idees verskil, maar ek kan jou verseker, as jy hom ooit ontmoet sal jy uitvind hy is ‘n mild-mannered en redelike mense wat jy sal ontmoet. Hy gaan net nie met jou idees saamstemnie, maar as mens regtig in jou idees glo, moet mens dikvellig daaroor wees en dit kan verdedig. Dis niks persoonlik nie. Jy is nie jou idees nie.

  15. Bertus: Ek wil graag aanvaar dat hy so ‘n persoon is en dit lyk ook vir my dat hy ‘n baie intelligente persoon is. Ek dink die manier waarop die dinge gestel is, is wat vir my ontstellend is. Ek dink hy kon dieselfde dinge gesê het sonder om gelowiges te verkleineer deur bv. hulle geloof in God te vergelyk met geloof in die tandemuis en om ouers wat Christelike waardes en beginsels wat in ooreenstemming is met dit wat hulle glo by hulle kinders te vestig te vergelyk met breinspoeling. Daarmee saam is daar net eenvoudig geen verantwoordelike Christen wat meer van enige iemand verwag om soos ‘n kind te glo met die gedagte dat hy nie vir hom- of haarself mag dink en nie vrae mag vra nie. Ek is nie my idees nie, maar daar is sekere dinge wat vir my belangrik is en hierdie is na my mening ‘n karikatuur van Christene wat nie billik is nie.

  16. ‘n Vriend van my wys my op hierdie blog en die inskrywing oor George Claassen. Ek verduidelik graag die agtergrond wat gelei het tot die onderhoud met George Claassen. My naam is Jean Oosthuizen en ek is die persoon wat die onderhoud met George Claassen gevoer het.

    Dit was ek wat vir George genader het om oor sy geloof te praat. Hy het nie sy standpunt op enige iemand afgedwing nie. Die gesprek met hom is volledig geplaas op die gespreksforum http://www.kletskerk.co.za As deel van oop gesprek oor geloof het Kerkbode ‘n deel van die onderhoud in die koerant geplaas.

    As iemand wat self ‘n gelowige is moet ek bieg dat ek dikwels my kop in skaamte moet laat sak wanneer ek lees hoe gelowiges soms soos ‘n trop honde op iemand toesak wat anders as hulle glo. Daar word gereeld gesê speel die bal en nie die man nie maar hier is ‘n sprekende voorbeeld waar die man gespeel word.

    Die opskrif van hierdie bloginskrywing naamlik “Pasop vir rondloperhonde” laat my wonder wat die skrywer in gedagte gehad het daarmee. Wat beteklen die opskrif? Word Claassen met ‘n rondloperhond vergelyK?

    Die trant van die res van die inskrywing is ook in skrille kontras met die ervaring wat ek van George Claassen gehad het. Ek is bly dat Bertus ook hier getuig het van sy persoonlike ervaring met George Claassen. Ek was al persoonlik teenwoordig waar George ‘n gas was van ‘n groep gelowiges wat met hom in gesprek getree het en kan getuig van sy medemenslikheid en respek vir ander se standpunte.

    Daar is soos grootmense verskil!

    Ek wil nie graag hier op iemand anders se blog in debat tree oor die saak nie maar sal hierdie ongelukkige inskrywing ook op Kletskerk plaas vir kommentaar en vir Claassen om self te sien.

    Die vraag is natuurlik ook waarom word daar so dikwels óór mense gepraat en nie mét hulle nie.

    ‘n Volledige en beredeneerde reaksie op die onderhoud met George Claassen deur dr Danie Nel van die NG gemeente Wynberg verskyn in volgende week se Kerkbode en sal volgende week ook op Kletskerk gelees kan word by http://www.kletskerk.co.za

    Dit is jammer dat alle gelowiges nie op daardie vlak gesprek wou voer met andersdenkendes nie want dit sou tot groter respek vir gelowiges lei as om maar net persoonlike venynige houe uit te deel soos hier. Sulke eensydige en afbrekende manier van gesprek dien nie die saak nie.

    Die uitdaging aan Claassen om die Islam te kritiseer is ewe ongelukkig. Claassen se uitsprake oor die Islam is alombekend. Niemand hoef hom uit te daag om dit te doen nie. Of hoop iemand dalk heimlik dat Moslem fundamentaliste Claassen sal stenig omdat hy nie met hulle saamstem nie? Dit is sulke onverantwoordelike stellings wat mens benoud maak.

    In sy reaksie op die Claassen onderhoud skryf dr Danie Nel onder meer soos volg en ek vertrou dat meer mense daarvan sal kennis neem::

    “Ek beskou sy onderhoud en die reaksie daarop as ’n geleentheid tot dialoog. Enige kerk wat haar missionêre gerigtheid as belangrik beskou, behoort onder andere ook aandag te gee aan dialoog met mense wat nie glo nie. Egte dialoog veronderstel ’n sekere mate van verwondbaarheid: dit vra baie van ‘n prominente joernalis om sy reis van geloof tot ongeloof so te ontbloot. Hy moes onder andere met die moontlike gevolge rekening hou. Ek hoop van harte dat ander reaksies wat moontlik daarop mag volg, dit in ag sal neem. Dialoog kan slegs opbouend wees wanneer dit deurgaans binne ’n atmosfeer van wedersydse respek plaasvind.”

  17. Jean Oosthuizen:
    Dankie vir jou verduideliking.
    Ek het geen probleem om met sulke mense te praat nie. Ek het waardering vir George se gewilligheid om sy geloofspad te openbaar.
    Ek sê weer: Dit gaan vir my oor die verkleinerende vergelykings wat hier getref word. Ek wil ook nie my geloof en my oortuigings op hom af forseer nie.
    Die “rondloperhonde” was ‘n aanhaling uit ‘n teks wat deel is van ons gemeente se Bybelleesprogram. Natuurlik veronderstel hierdie debat ‘n stuk verwondbaarheid – interessant dat daar van ander verwag word om hierdie verkleinerende vergelykings in verwonding te verduur, maar enige reaksie daarop word op hierdie wyse begroet. Verdraagsaamheid net na een kant toe?
    Mag ek maar weer aanhaal wat ek geskryf het:

    “Ek sien egter die Bybel is nie altyd so vriendelik met mense wat gelowiges probeer afrokkel van die Goeie Nuus van Christus Jesus wat aan ons verkondig is nie. Filippense 3:2 “Pasop vir daardie dwaalleraars…” (Huidige Afrikaanse Vertaling); “Watch out for those dogs…” (New Living Translation); “Pasop vir daardie rondloperhonde…” (Nuwe Lewende Vertaling)l; “Blypete tous kunas” (Grieks Nuwe Testament – kunas is honde.)

    In die geval van Filippense het dit natuurlik te make met die Jode wat daarop aangedring het dat die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis nie genoeg was nie, maar dat hulle nog ‘n verdere ritueel (die besnydenis) moet deurgaan. Die gedagte wat die Woord hier wil oordra is dat ons mense wat ons wil laat twyfel in die volmaakte verlossingswerk van Christus moet vermy.”

    Dink jy dit is billik om ‘n opmerking te maak soos: “Of hoop iemand dalk heimlik dat Moslem fundamentaliste Claassen sal stenig omdat hy nie met hulle saamstem nie?” Ek wonder wat het die skrywer in gedagte gehad toe hy dit geskryf het.

  18. Jean Oostshuizen; Jy het presies gedoen wat doom gesê het gaan gebeur. Vyfde parragraaf: “Wanneer Christene soortgelyke opmerkings teenoor ateïste maak, is hulle baie vinnig om op hulle perdjies te klim en dit vertel hoe liefdeloos en onverdraagsaam Christene en die kerk is.”

  19. Bravo!!! Dankie Vader daar is nog gelowiges in die wêreld wat mekaar nie net warm broei nie maar bereid is om ook met ander mense in gesprek te tree ondanks hulle verskille. Ek beskou my óók as ‘n Christengelowige. Ongelukkig is die hooghartige en neebuigende reaksie op Claassen hier tipies van so baie christene. Ek distansieër my daarvan.

  20. Jean: Dis vir my interessant dat jy so aanhou om die Kletskerk hier te bemark. Ek het al daar gaan lees en as ‘n Christen gewond wil word moet hy daar gaan deelneem.

  21. Alec,

    Ek kan nie onthou dat ek al op hierdie blog reageer het nie. My reaksie hier het niks te make gehad met enige bemarking nie. Ek het reageer omdat daar verwys is na ‘n onderhoud wat ek met iemand gevoer het en ek het my mening daaroor gedeel.

    As jy met my oor Kletskerk wil gesels is jy welkom om dit daar met my te doen of persoonlik met my daaroor te gesels. Ek kan verstaan dat jy bepaalde gevoelens daaroor mag hê. Ek dink nie iemand anders se blog is die aangewese plek daarvoor nie.

    Groete
    Jean

  22. Dit kom vir my voor of verdraagsaamheid hier by die agterdeur uit hardloop die skrywes wil-wil venynig word. Ek dink nie dit help om persoonlik te raak nie. In die eerste plek glo ek nie Attie het die inskrywing uit venynigheid geskryf, om mee te begin nie. Ek het dit nie ervaar as ‘n persoonlike aanval op George Claassen nie, maar as ‘n aanval op sy uitsprake in die betrokke onderhoud. Ek is dankbaar vir Bertus en Jean se verduideliking, want dit gee mens ‘n beter perspektief. Ek ondersteun ten volle opbouende gesprekvoering tussen gelowiges en nie-gelowiges en twyfel nie vir een oomblik dat George C. die mens is wat julle se hy is nie. Hy het ook die volste reg om geloof in God te vergelyk met geloof in die tandemuis. Ek dink egter nie mens moet verwag van Christene om glad nie op so ‘n stelling te reageer nie. Ek het geen probleem met George C. en wat hy glo nie en gee ook nie om om in gesprek met hom te tree nie. As ek egter my misnoee met sommige van sy stellings te berde bring, is dit geen persoonlike aanval nie. Dus: kom ons speel die spreekwoordelike bal en nie die man nie.

  23. boerinballingsklap: Dit is verfrissend om so ‘n sober en nugter reaksie soos die van jou te lees wanneer dit gaan oor gesprek met andersdenkendes. Dit is slegs wanneer mense met mekaar eerlike gesprek begin voer dat hulle mekaar leer verstaan. Dit beteken nie jy of ek hoef ons eie oortuigins prys te gee nie.

    Ek stem saam met jou dat almal die volste reg het om van George of wie ook al te verskil. Ek stem ook nie saam met baie van sy stellings nie maar ek verkies om reguit met hom daaroor in gesprek te tree.

    As dit nie was dat ‘n vriend my aandag op hierdie pos gevestig het nie, sou nie ek of George Claassen daarvan geweet het nie. My pledooi is maar net dat ons almal eerder mét mekaar moet as óór mekaar. Dit geld vir almal van ons en ook vir my.

    Groete
    Jean

  24. Attie
    Met die lees van jou kommentaar op George Claassen het ek die ongemaklike gevoel gekry dat hier lustig in donker hoekies geskinder word – in die naam van die Christengod. Voorwaar beskamend dat die onderhoud nie volledig aangehaal word nie, maar dat eerder selektief en buite konteks na die tandemuis-opmerking verwys word. (Terloops: hoe verskíl geloof in God van geloof in die tandemuis en Vader Krismis? Of is dit ‘n verbode vraag?)
    Jy skryf:
    “Ek kan met groot vrymoedigheid sê dat ek nog nooit van iemand verwag het om te glo en dan geen kritiese vrae te vra nie. Dit lyk regtig vir my asof die mense nie ‘n beter verskonings as die woorde kan uitdink nie.
    Eintlik verdien so ‘n opmerking nie eers enige kommentaar nie. Daar word van geen gelowige verwag om te glo en nooit enige vrae te vra nie.”
    Waarom dan so gebelg en krities oor George se welberedeneerde stellings? Jou reaksie bevestig juis die teendeel, en dit is presies soos wat ek dit nog altyd in geloofskringe ervaar het. Waarom nie punt-vit-punt reageer nie? Die laaste sin hier bo soos aangehaal is doodgewoon onwaar. In die kerklike wêreld mag ‘n mens egter mos maar sulke algemene vaaghede kwytraak sonder vrees vir teenspraak, of hoe Attie? Indien jy so oop is vir alle vrae, waarom die opruk van die knieë? Die bedekte versugting dat die Christendom ook soos die Islam die “infidels” met steniging kan verdelg?
    Kyk net hoe verwys jy na die rondloperhonde wat die kinderlik-gelowiges probeer verwar:
    ” Ek sien egter die Bybel is nie altyd so vriendelik met mense wat gelowiges probeer afrokkel van die Goeie Nuus van Christus Jesus wat aan ons verkondig is nie. Filippense 3:2 “Pasop vir daardie dwaalleraars…” (Huidige Afrikaanse Vertaling); “Watch out for those dogs…” (New Living Translation); “Pasop vir daardie rondloperhonde…” (Nuwe Lewende Vertaling)l; “Blypete tous kunas” (Grieks Nuwe Testament – kunas is honde.)”
    Dit val my ook op dat jy na die “wetenskaplikheid” van die teologie verwys in ‘n poging om jou saak teen George Claassen op een of ander manier te versterk. Nou is dit wel so dat die “moderne” Teologie weliswaar wetenskaplik te werk gaan. So het die hedendaagse wetenskaplike studie van die Bybel ironies genoeg soveel onhoudbare teenstrydighede oor die onfeilbare woord van God opgewerp dat menige moderne teoloog noodgewonge moes bely die Bybel allermins die woorde van ‘n god is. Dit is maar net mensewoorde. Punt. Dankie tog vir die lig wat die wetenskap bring, nie waar nie? En onthou ook: ‘n dominee is nòg teoloog nòg wetenskaplike. Hy verdien sy brood en botter deur mense aan te spoor om te bly glo. Blindelings. Onwetenskaplik.
    Jy skryf:
    ” In hierdie worsteling het ek klaar vir myself uitgemaak dat ek nie bereid is om my geloof prys te gee nie. Ek gaan steeds onwankelbaar onder andere vas bly staan daarop dat Jesus Christus die Seun van God was en is en dat Hy gesterwe het en liggaamlik uit die dood opgewek is.”
    As jy kan aandui hoedat hierdie blindelingse besluit met die wetenskap versoen kan word sal ek dit graag wil lees. Jy is grootgemaak in ‘n huis en binne ‘n Christelike kultuur. Jou geloof het jóú gekies soos wat die Afrikaanse taal jou gekies het. Jy het net so min gekies om in die Christengod te glo as wat jy gekies het om Afrikaanssprekend te wees. Indien jy in Irak gebore is, … (Kom ons laat dit daar.)
    Vanselfsprekend het jy die volste reg om te glo net wat jy wil. Wanneer jy ander hoog-aangeskrewe mense wat alternatiewe sienings as jy huldig op ‘n hooghartige manier op ‘n openbare forum op hulle “onnoselheid” wys, eien ek my ook die reg toe om vir jou reguit te sê dat jou reaksie inderdaad erg kinderlik-naïef vertoon langsaan die oorspronklike onderhoud wat Jean Oosthuizen met George gevoer het. Seker maar daarom dat jy nie die moed gehad het om dit op hierdie blog te plaas nie. Indien jy dit wel gedoen het, en meer gebalanseerd gereageer het, sou wat jy wou sê baie meer gewig gedra het.

  25. Ag my liewe boerinballingskap, het niemand op hierdie forum dan die eerlikheid en die durf om op die kwessies op die tafel te reageer nie? Is jou floue reaksie werklik die beste waarmee gelowiges vorendag kan kom?

    Attie het juis die man gespeel en nie die bal nie. Dis wat ek probeer uitwys. En jy reageer met so ‘n floue teenspraak, sonder om met enige teenargument te kom?

    Geen wonder die Godgeloof-bedryf word toenemend gewild in donker Afrika en orals elders waar onkunde floreer nie.

  26. Aag Stefan, jy vergeet gerieflikheidshalwe van die bespotting wat Dr. Bennie Mostert op die einste Kletskerkforum moes deurmaak, nadat sy “verskriklike” preek oor die Bose die klomp atiehusse daar op Kletskerk só verontrief het, dat hulle etlike drade daaraan gespandeer het om nie dít wat hy probeer sê het aan te vat nie, maar homself as persoon.

    Dan praat ons nie eens van sy preek oor Christene wat liefs nie Australië toe moet gaan nie.

  27. Jitte tog vriend Gelukkigenommer

    Waar pas doom Bennie met sy waarskuwings oor die duiwelsheid van Bonsai-boompies in hierdie gesprek in? Is dit dan regtig só onmoontlik vir die Koningskjêners om op die onderhawige onderwerp te fokus dat hulle altoos ontduikingsmaneuvers moet bly uithaal sodat hulle kan ontsnap van die waarheid en die werklikheid?

    Waarom boesem dit geen vertroue by my in nie? Of is dit maar omdat ek nie meer elke dag vir God bly bestudeer met die hulp van oompie Solly Osrovech nie?

    Jinne mense, vat my aan (sic) op grond van wat ek sê. Seblief??

  28. Stefan, jy is duidelik daarop uit om die verskil in standpunte te verhef tot ‘n interpersoonlike konflik. Ek is nie bereid om in so ‘n konflik betrokke te raak nie. Jy is geregtig om my “floue” reaksie te sien as “doie beste waarmee gelowiges vorendag kan kom”. Die onderliggende stroming van jou kommentaar maak dit vir my duidelik dat jy sou verkies om in ‘n lelike moddergooiery betrokke te raak. Ek is nie bereid om betrokke te raak op daardie vlak nie. Kom ons kom ooreen dat daar die is wat in Jesus glo en die wat nie in hom glo nie. En voorts, kom ons poog om wedersydse respek vir mekaar te he, al verskil ons van mekaar.

  29. Beste boerinballingskap

    Beteken dit jy distansieer jou van Attie se inleidende bydrae oor die onderhoud met George Claassen? In daardie geval is ek dit dit met jou eens. Indien nie, jammer; dan praat ons verder.

    My lewenslange ondervinding is dat gelowiges lustig leer en preek totdat hulle nie antwoorde het nie. Dan reageer hulle vroom-vriendelik soos jy.

    Maar dalk som ek jou verkeerd op. Dalk bedoel jy wat jy sê. Laat weet maar dit wat jy by jou Christelike gewete kan verbykry. 😉

  30. Attie,
    Dankie vir jou moed in hierdie saak. Moenie moedeloos word as ander jou blog wil skaak en van koers af bring nie. Ons waardeer jou.

    groete

    Willem

  31. Willem

    Jy bevestig die bankrotskap aan denke wat my van geloof weggedryf het. As jou God breindood mense sonder opinie verkies, help jouself maar laat my in vrede. Om ‘n lewe te moet bewusteloos in ‘n geloofskoma te moet deurbring ten einde ‘n oppermagtige poppemeester in die lug te plesier is nie vir my nie. Dan lewe ek eerder vreugdevol en godloos.

    (Intussen hoop ek IEMAND op hierdie blog kan iets anders as die aangeleerde en ingeteelde slagspreuke van hulle kinderjare kwytraak. Jinne mense, die eer van julle geloof en julle godjie is op die spel!)

  32. Hierdie blog-ding is frustrerend; mens kan jou tikfoute nie agterna regstel nie. Dêm!

    Daarom die volgend errata: “Om ‘n lewe te moet bewusteloos in ‘n geloofskoma te moet deurbring ten einde ‘n oppermagtige poppemeester in die lug te plesier is nie vir my nie.”

    Moet lees: “Om ‘n lewe in ‘n geloofskoma te moet deurbring ten einde ‘n oppermagtige poppemeester in die lug te plesier is nie vir my nie.”

  33. Alec het gesê: “Ek dink as mens jou gesonde verstand gebruik, kan jy nie anders as om in God te glo, en Hom te dien nie.”

    Hoekom sal so ‘n almagtige en perfekte wese soos die Bybel se hoofgod ‘n behoefte aan gedienstige mense hê? Gode met behoeftes kan nie perfek wees nie.

    Dink ‘n ander god uit met minder teologiese probleme en foute, dan aanbid ek saam.

  34. Alec #1 (en postings oor Darwin). “Ek dink as mens jou gesonde verstand gebruik, kan jy nie anders as om in God te glo, en Hom te dien nie.”

    My gesonde verstand ondersteun die wetenskaplike metode: postulasie, eksperimentasie, verifikasie. Julle postuleer, miskien eksperimenteer julle, maar waar is julle verifikasie van God? Geen. Ek kraak nie julle God af nie; ek bevraagteken net sy bestaan. En nou wil julle godsdiens in die wetenskapklas inbring. In diè klasse word die natuurwetenskap eksperimente oor en oor vir kinders gedemonstreer en geverifieer. Hoe demonstreer jy die bestaan van God in diè klas? Enige poging tot sukses van so ’n eksperiment het in die verlede en sal nou ook faal. Dit is hoekom godsdiens uit die wetenskapklas gehou moet word. “Verifieer” God se bestaan in die godsdienklas.

    Darwin se teorie word van baie dinge beskuldig maar niè as onwetenskaplik nie. Geen ander ondersoekende, bewysbare teorie is al suksesvol geformuleer wat hom verkeerd bewys het nie. En Darwin sê nêrens in sy “Origin of Species” iets oor God nie. Dis julle gelowiges wat eweskielik wetenskap as julle vyand sien: God het ons gemaak en hier kom Darwin en verklaar dat ons almal van ‘n amoeba af kom. Is dit hoekom hy as ‘n Antchris afgekraak word?

    Darwin se teorie is die hoeksteen van moderne biologie. Sonder diè teorie en sy suksesvolle toepassing in die mediese wetenskap, sou daar vandag baie minder mense op hierdie aarde gewees het.

  35. McBrolloks skryf: “Maar hulle glo amper almal in Jesus en god en die heilige gees. Maar hy luister net na hulle gebede, en die ander is miskien goeie mense, maar hulle gaan hell toe.”

    Ek beweeg in ‘n kring uiters professionele en intelligente mense wat daagliks skerpsinnig en kreatief op die uitdagings van die werkplek reageer. Maar as dit by geloof kom, tree hulle op soos kindertjies in Graad R. Waarom? Omdat daardie deel van hulle denke wat moet waarsku teen twak afgesper is weens jarelange kondisionering. Nooit sal hulle kan besef watter durf en deursettingsvermoë dit verg om deur die skanse van indoktrinasie te kan breek nie! Hulle meen eerder “standvastige geloof” word beloon met ‘n ewige lewe in hulle kultuurgod se paradys.

    So vertel ‘n kollega in ‘n vergadering hoedat sy seun heraangestel is in ‘n bankrot firma nadat hy (sy pa) ernstig op sy kniekoppe bly bid het. Waarop ek wou vra: wat van die honderde bejaarde biddende boere en hulle vrouens wat ná kerk op Sondag op hulle plase ingewag is deur moordenaars en toe doodgemartel is? Op wie kookwater uitgegooi is om te sê waar die geld weggesteek is? Wat keelafgesny is voor hulle eggenote en kinders? Waarom bars xenofobie in SA los direk na die groot “herlewing” wat deur 60 000 (sic) biddende mans onder leiding van Angus Buchan in Greytown bewerk is? Vergeet maar vir eers van die 6 miljoen Jode wat ‘n aaklige dood in Hitler se uitwissingskampe gesterf het. Vergeet van die Kruistogte se gelowige hordes wat gemoor en geplunder het in die naam van die Christengod. Vergeet van die Inkwisissies en die hekseverbrandings. Dis verby; dis geskiedenis. Nou is dinge anders; net gíster nog het God ‘n parkeerplek by die supermark se ingang aangewys vir die arme weduwee wat onlangs ‘n heupvervanging ondergaan het. Loof en prys die Heer! Gebed is ‘n kragtige wapen in die mond van die gelowige.

    Ai.

  36. Alec het gesê: “Ek dink as mens jou gesonde verstand gebruik, kan jy nie anders as om in God te glo, en Hom te dien nie.”

    Is “gesonde verstand” gelyk aan intelligensie? Dan beweeg jy op baie dun ys, Alec. En jy dwing my om statistiek aan te haal wat ek slegs gebruik as iemand sulke ongegronde bewerings maak soos wat jy op hierdie blog doen.

    Geloof in gode floreer sedert die mens se ontstaan juis daar waar onkunde hoogty vier. Waarom dink jy praat ons van die “Donker Middeleeue”? Die tyd toe weerligafleiers en inenting as ‘n dwarsboming van God se wil beskou is? (Om van die Pouslike edik wat Galileo Galilei tot ketter verklaar het nie eens te praat nie.)

    Onder die wêreld se top-wetenskaplikes is geloof in ‘n skeppergod skaarser as tande in ‘n hoenderhok. Lees gerus die volgende aanhaling wat uit ‘n gesaghebbende bron kom, en volg die skakel vir die volledige teks:

    “Religiosity is indeed negatively correlated with education (more highly educated people are less likely to be religious). Religiosity is also negatively correlated with interest in science. […]
    [Paul Bell in Mensa Magazine, 2002, reviewed all studies taken of religion and IQ. He concluded:]

    “Of 43 studies carried out since 1927 on the relationship between religious belief and one’s intelligence and/or educational level, all but four found an inverse connection. That is, the higher one’s intelligence or education level, the less one is likely to be religious or hold “beliefs” of any kind.”

    (Skakel: http://www.vexen.co.uk/religion/intelligence.html)

    Einstein is gereeld deur gelowiges aangehaal as ‘n briljante wetenskaplike wat na bewering geglo het die wetenskap en geloof vul mekaar wedersyds aan. Tot die publikasie van ‘n brief wat baie onlangs bekend gemaak is waarin hy geloof in ‘n skeppergod as ‘n kinderagtige bygeloof afmaak. Die skeptiese leser kan dit maar self gaan Google.

    Met dit alles probeer ek nie sê die Christengod bestaan of bestaan nié omdat Einstein (of ander hoogs-begaafde mense) so sê nie. Ek sê bloot dat dit onsinnig is om jou op intelligensie of logika te beroep ten einde die Christengod se bestaan te motiveer. Derduisende gode het vóór hom “geleef” en roemloos gesterf. So sal hy ook in sy graf gaan, net soos sy voorgangers. Gode was die primitiewe mens se poging om sy eie bestaan te probeer verklaar. Gode is na die beeld van die mens geskape, nie andersom nie. Om in 2008 steeds te bly klou an lawwe, “bonatuurlike” verklarings is gewoon onsinnig.

  37. Hi Attie,

    Dis ‘n oulike blog wat jy hier bedryf .

    Jy moet maar vir Jean verskoon as hy dink hy is die selfopgelegde Don van Kerklike joernalistiek is.

    Om die waarheid te sê sy konstitusionele regte gaan veel verder en vergun hom die reg op verskanste beheer en regulering van reaksie, denke en kommentaar op alle artikels wat hy in die openbare domein plaas…… en nou moet ek jou ongelukkig verwittig dat hy die’moral high ground’ het omdat jy dit gewaag het om op jou blog, kommentaar te lewer op wat hy in die Kerkbode geskryf het. In terme van Jean se Mugabe-styl-grondwet mag kommentaar slegs aan die deur van die Kerkbode gerig word vir verwerking.

    Jy moet ook asseblief kennis neem van sy openings salto mortale “ As iemand wat self ‘n gelowige is moet ek bieg dat ek dikwels my kop in skaamte moet laat sak wanneer ek lees hoe gelowiges soms soos ‘n trop honde op iemand toesak wat anders as hulle glo.” Soos jy kan sien praat/skryf Jean nie soos ‘n joernalis nie maar eerder soos ‘n politieke spin dokter met sy gebruik van omvattende begrippe eerder as skerp gedefinieerde taal wanneer hy jou aanvat en na sy eie geloofs posisie of standpunt verwys….jy mag maar wonder hoekom.

    Sy standpunt “Egte dialoog veronderstel ’n sekere mate van verwondbaarheid: dit vra baie van ‘n prominente joernalis om sy reis van geloof tot ongeloof so te ontbloot. Hy moes onder andere met die moontlike gevolge rekening hou.” het geen logiese verband met die res van die skrywe wat daarop volg nie en verdiep die misterie van sy self opgelegde intervensie namens Claassen …maar dan moet ek toegee Jean is ‘n uiters misterieuse persoonlikheid ..veral gesien vanuit die hoek van sy beroeps keuse ..en daarom moet julle hulself nie verkreukel deur sy indringende vrae soos; “ Wat beteklen die opskrif? Word Claassen met ‘n rondloperhond vergelyK?” ….hy is nogal geneig om na die pen te gryp voordat hy behoorlik gelees het…of dan begrip het van wat hy gelees het …as hy wel gelees het…of so iets… tussen sy eie dinamiese joernalis-spelreëls .

    Dat jou blog nou nog besmet moes word met die galbrakery van onse nimlike Stefan moet beskou word as ‘n dubbel aanslag teen die werk wat julle hier doen

    Moet julle tog nie oor sy self erkende geestelike bankrotskap ontstel nie hy is maar ‘n bietjie van ‘n onstabiele karakter soos julle sal aflei van sy; “ As jou God breindood mense sonder opinie verkies, help jouself maar laat my in vrede” wat hy hier op julle blog kom uitspoeg …so asof julle hom loop lastig val het oor sy siening van sake daar op sy hoëgraadse KK werf ….aaaitog! en dan nog die juweeltjie “ Intussen hoop ek IEMAND op hierdie blog kan iets anders as die aangeleerde en ingeteelde slagspreuke van hulle kinderjare kwytraak. Jinne mense, die eer van julle geloof en julle godjie is op die spel “ en dan vir die cherry opi koek “ Ek beweeg in ‘n kring uiters professionele en intelligente mense wat daagliks skerpsinnig en kreatief op die uitdagings van die werkplek reageer.”

    At-man, ek sien jy het ‘n oulike sukkie geplaas oor Intimidasie en ek haal aan “Die intimideerder glo dat alle ander mense onbekwaam, onbevoeg en onnosel is en nie in staat om van enige iets ‘n sukses te maak sonder sy/haar inset nie. Moenie toelaat dat die intimideerder jou in sy/haar wêreld intrek nie” Nou al wat ek daarop kan sê is : Mooi so, soos die Ingelse sê ….a good lesson in time saves nine…of so iets.

    Groete en sterkte vir julle gesprekke hier op die blog

    Ps. Julle hoef glad nie sleg te voel om die KK-Kots van die blog af te vee nie…om sulke ongevraagde gemors te verwyder het niks met die vryheid van uitdrukking of spraak te doen nie…’hulle’ het mos nou klaar hulle-se-druk gedruk…ons almal het die produk gesien en geruik……die logiese volgende stap is om die knoppie op die bak te druk dat dit weg spoel…so werk die tegnologie rondom higiëne en gesondheid.

  38. Lukas

    So gepraat van KK-kots: Hoe het jy dit reggekry om Vrydag laat skynbaar nugter te wees? Op KletsKerk was jy mos bekend as ou Dronkgat Loek, onthou jy nog? (hik!)

    Jy moet versigtig wees om nie jou reputasie hier ook te kom vernietig nie. Dis meestal gelowige mense wat hier lees.

    Wat betref jou kommentaar hier bo: ek is dankbaar daarvoor. Dit is só vol sinvolle en weldeurdagte teenargumente dat ek my stelling oor intelligensie en geloof summier terugtrek.

  39. Aan elkeen van die gereelde lesers hier wat gereageer het baie dankie. Dankie vir die beheersde manier waarop julle gereageer. Ek is veral trots op julle dat julle op ‘n stadium weggedraai het van die gesprek. Hier doen die mense van kletskerk nou hier presies dit waarvan hulle Christene beskuldig wat van mense soos George Claassen verskil.
    Hulle voer nie gesprekke nie. Hulle beledig, verkleineer, ens.ens. Julle sal agterkom dat die gereelde lesers van hierdie blog. Nie meer hier kommentaar lewer nie. Selfs al is dit op ‘n blog, is dit duidelik om te sien wanneer vreemdelinge met hulleself oor ander in gesprek gaan. Gaan rustig voort met julle gesprekke. Dit gee my blog ‘n groot klomp “hits” en ouens wat andersins nie hier kom lees nie, kom lees hier en dit is wat ons wil hê. Op die ou end is julle wat verskil van die Christelike waarhede soos ons dit sien eintlik die ouens wat bedreig is, anders sou julle nie so verwoed na links en regs geslaan het nie.
    Sela.

  40. Attie

    Moenie bekommerd wees dat ek jou blog veel langer sal besoedel nie. Ek verkies stimulerende gesprek, nie ‘n konstante geweeklaag oor “verkleinering” en “beledings” wanneer die vrae ‘n bietjie indringend gestel word nie. Vee gerus my bydraes uit – ek het van die begin af geweet jy is oneerlik oor jou ontvanklikheid vir “kritiese vrae”. Die manier wat jy verkies om hier te reageer op daardie vrae spreek immers vanself.

    Maar nou ja; sodra iemand openlik sê hy glo nie in die Christengod nie mag hy nie meer vrae stel nie, of hoe? Selfs ‘n Moslem is verkieslik bo ‘n ateïs – jy bewonder mos hulle kragdadigheid: stenigings, onthoofdings en sonmmer net hulle neiging om met vliegtuie vol “infidels” in toringgeboue vas te vlieg.

    O ja; en jou plasing oor George Claassen was glad nie verkleinerend en beledigend nie. Ook nie ou dronk Lukas se reaksie hier bo nie. Gelowiges is mos nie beledigend en verkleinerend nie – hulle is deurdrenk van die naasteliefde.

    In ieder geval: ek is saam met jou bly oor die “hits” hier op jou blog. Die gebrek aan reaksie van jou gereelde lesers – indien hulle wel hier gelees het – getuig eerder van ‘n onvermoë as iets anders. Of dalk is hulle maar net nie gewoond daaraan om geopponeer te word nie?

  41. Ek sluit graag my deelname aan hierdie gesprek af met ‘n enkele opmerking of twee.

    Myns insiens is daar GEEN manier hoe mens die opskrif van die stuk Pasop vir rondloperhonde anders kan vertolk as ‘n verwysing na George Claassen as ‘n rondloperhond nie. Dit is ‘n ongelukkige woordkeuse wat waarskynlik onbedoeld gebruik is maar die persepsie bly staan.

    Solank as wat dit so sonder verskoning hier staan sal baie mense dit lees en die afleiding maak dat gelowiges na ongelowiges verwys as rondloperhonde. Ek kan nie anders as om ten sterkste daarmee te verskil nie. As iemand my daaroor wil kruisig dan moet dit so wees. As ek dit nie doen nie is ek nie eerlik met myself nie.

    Hoe ek ook al van George Claassen of iemand anders mag verskil vind ek sulke vergelykings jammer en ongelukkig.

    Daar is talle stellings wat in die gesprek deur ongelowiges genoem is waarmee ek ook nie saamstem nie. Dit maak nie van my ‘n mindere gelowige nie. Maar dit maak my ook nie blind vir die foute en vooroordele van baie gelowiges nie. Dit sou oneerlik wees. Daar is talle dinge wat gelowiges in die gesprek genoem het wat my skaam maak om te sê ek is ook een. Two wrongs doesn’t make a righ!

    Die splinter in die ongelowiges se oë word maklik raakgesien maar van die balk in ons eie oë vergeet ons gou.

    In ’n gesprek soos hierdie moet jy verwag dat daar hard en eerlik met mekaar gepraat sal word.

    Daar is egter oral perke van ordentlikheid. Atttie ek sien jy skryf soos volg: “Hier doen die mense van kletskerk nou hier presies dit waarvan hulle Christene beskuldig wat van mense soos George Claassen verskil.
    Hulle voer nie gesprekke nie. Hulle beledig, verkleineer, ens.ens.”

    Ai!

    Die implikasie is duidelik. Dit is weer eens die Christene wat hulle skuldig maak aan beledigings en die sogenaamde rondloperhonde nie. Gaan kyk weer.

    Al die poste is nog hier om te lees. Ek hoop so! Doen my asseblief een guns. Gaan lees weer die hele gesprek rustig van die begin af tot en met die einde van Lukas se pos deeglik. Plaas jouself op ‘n afstand en vergeet vir ‘n oomblik aan watter kant van die geloofsdraad jy staan. Kyk net na die inhoud die styl van die bydraes. Ek gaan nie tot op Lukas se vlak daal en hom probeer antwoord nie. As dit is hoe ‘n Christen gesprek voer wil ek daar niks mee te doen hê nie.

    Besluit maar self of jy jou as Christen kan vereenselwiging met iemand soos Lukas se styl en uitlatings. Ek kan nie. Miskien kry ons een of ander tyd die kans om mens tot mens te ontmoet en op ‘n persoonlike vlak gedagtes uit te ruil. Ek is seker daar sal meer raakpunte tussen ons wees as wat jy kan dink.

    Groete
    Jean

  42. Jammer mens kan nie korreksies maak op jou poste nie. Die derde laaste paragraaf van my laaste plasing moet lees: Die implikasie is duidelik: Dit is nie die Christene wat hulle skuldig maak aan beledigings nie maar die sogenaamde rondloperhonde.

  43. Ek voel nou soos iemand wat ‘n groot lawaai agter ‘n deur hoor, en toe ek uiteindelik die kans kry om die deur oop te stoot, het almal verdwyn.
    Van die “gereelde bydraers” wat met stomheid geslaan is, tot Stefan wat sê hy loop en dat sy bydraes uitgevee moet word, tot Jean wat nie meer op hierdie draad wil deelneem nie.

    Ek gaan nie ‘n volstruiseier nou hier lê nie. Net ‘n klein gespikkelde enetjie.
    My ZimBiljoendollar vragie is hoekom Attie so verontreg is oor George se vergelyking van geloof met ‘n tandemuis, maar deur sy stilte stem Attie saam met die vergelyking met Vader krismis en die FSM?

    Ek moet ook net sê ek dink dit is net plein siek om enige mens met ‘n rondloperhond te vergelyk, al wil jy dit regverdig uit die Bybel.

    Daar is net sekere goed wat ‘n beskaafde mens, in hierdie tyd en eeu, nie doen nie. Daar is maar geen regverdiging daarvoor nie, al staan dit in die veelvertaalde Bybel. En dit nogal in ‘n opskrif?
    Skaam jou Attie.

    Annette

  44. Pieter #3: “ .. wie gee hulle die reg om my geloof aan te tas en te beledig.”

    Niemand beledig jou geloof nie. Daar word net uitgewys dat jy GEEN bewys van jou God kan bring nie, en Hy dus feitlik verseker ‘n hersinskim is.

    Attie #4: “Partykeer verg dit meer geloof om nie te glo nie, as om te glo.”

    Nee glad nie. Dis maklik om nie te glo nie want daar is tot vandag GEEN bewyse van die bestaan van enige god gebring nie. So hoe kan mens in opgemaakte stories glo? DIT kos geloof, en baie stompsinnigheid.

    Daar word ook glad nie op Stefan Coetzer se baie goeie beredenerings geantwoord behalwe om hom persoonlik aan te val nie. Dit het maar alte duidelik geword waar gelowiges by argumente betrokke is. Hulle het so min feite om hulle op te beroep dat hulle maar die ou stereotipe argumente herhaal en as dit soos gewoonlik geen effek het nie, persoonlike aanvalle loods.

  45. Hiermee dan my laaste inskrwying op hierdie gesprek. Dalk moes ek dit lankal gesê het. Aan George Claassen. Ek vra verskoning dat ek die spesifieke opskrif vir my inskrywing gekies. Jean is reg – dit was nie regtig my intensie nie en ek moes dit nie gedoen het nie. Ek wou jou nie met ‘n rondloperhond vergelyk nie – ek het regtig die woorde van die teksvers gebruik.
    Ek sê weereens dat ek respek het vir elke een se mening en ook die wat anders dink en anders glo as ek. Ek is bereid om in gesprek te tree met mense, maar nie met mense wat net ingestel is op vernederende, beledigende en verkleinerende opmerkings nie. Die besprekings op hierdie is nou gesluit wees.

Kommentaar is gesluit.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: