Net die opskrif van hierdie inskrywing is al genoeg om ‘n hele paar mense se hare te laat regop staan en selfs ‘n paar verwoed na hulle sleutelborde te laat gryp, aangesien die twee onderwerpe al te dikwels as onversoenbaar verstaan en selfs bely word. Sommige is daarvan oortuig dat mens nie gelyktydig aan die waarheid van die wetenskaplike navorsing kan vashou en terselfdertyd bely: “Ek glo in God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde…” nie.
Daar is verskillende redenasies hieroor en Tim Keller het onlangs ‘n boek geskryf: The Reason for God: Belief in an Age of Skepticism. Ek dink die titel spreek vanself. Op Scot McKnight se blog Jesus Creed is daar tans ‘n bespreking oor hierdie boek. Die bespreking word gely deur RJS, ‘n Chemie professor aan ‘n bekende Universiteit in die VSA, en dus self ‘n wetenskaplike – sy kan nie haar naam en haar Universiteit bekend maak nie, aangesien sy die risiko sal loop om haar werk te verloor.
RJS begin haar inskrywing met hierdie opmerking: “We all know, or have heard repeated over and over … Science has Disproved Christianity… the elite and intelligent know it … it is only a matter of time before average Americans come to their senses and realize it.”
RJS gaan dan voort om drie opmerkings hieroor te maak na aanleiding van hoofstuk 6 in Tim Keller se boek. Ek sou aanbeveel dat jy die inskrywing en die gesprek daar gaan lees as jy enigsins in hierdie saak belangstel. RJS bespreek drie opmerkings oor geloof en wetenskap na aanleiding van Keller se boek:
1. Die wetenskap het bewys dat wonderwerke onmoontlik is.
Die argument wat gemaak word is dat indien daar ‘n Skepper God is, sou dit wel vir Hom moontlik wees om die dinge wat Hy geskep te herrangskik. (Die wetenskap kon oënskynlik nog nie bo alle redelike twyfel bewys dat daar nie ‘n Skepper God is nie, dus is dit ewe veel van ‘n geloofstap om te glo dat God nie bestaan nie, as wat dit is om te glo dat God wel bestaan.)
Maar Jesus se wonderwerke behoort nie net gelees te word as ‘n bewys van God se almag nie, maar in besonder as ‘n voorsmakie van hoe dit gaan wees as alles nuut gemaak is.
2. Intelligente mense glo nie in God nie.
RJS (wat in wetenskaplike kringe beweeg) maak die belangrike opmerking dat die wetenskaplikes se ongeloof meestal op ander dinge gebaseer is as hulle wetenskaplike bevindings, en die redes is meestal ‘n mengsel van intellektuele, sosiale en persoonlike redes. Dit sou die moeite werd wees om te lees wat sy hieroor skryf.
3. Evolusie bewys die Bybel verkeerd.
Sy bevestig net opnuut weer dat die fundamentele waarheid van Genesis 1-3 nie die metode is waarvolgens God geskep het nie, die fundamentele waarheid is eerder dat God geskep het. Hierdie besondere aanhaling uit Keller se boek spreek boekdele:
“I think Genesis 1 has the earmarks of poetry and is therefore a “song” about the wonder and meaning of God’s creation. Genesis 2 is an account of how it happened. There will always be debates about how to interpret some passages — including Genesis 1. But it is false logic to argue that if one part of Scripture can’t be taken literally then none of it can be. That isn’t true of any human communication.”
Ek dink nog steeds dit kan van veel waarde wees om die debat oor hierdie aangeleentheid te volg.
Intussen: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige die Skepper van die hemel en die aarde…”
Laat 'n boodskap