WAAROP HOOP ONS?

EK het op Blixer se blog gelees hoe negatief sy moedersdag in een of ander gemeente beleef het. Dit kom in kort daarop neer dat die dominee ge-“brag” het met die R100 000.00 klanksisteem wat hulle so pas in die gemeente geïnstaller het. Dit het by haar die vraag laat ontstaan of die kerk nie dalk die “kat-aan-die-stert beet-het” en geld op die verkeerde dinge spandeer nie. Op die ou end dink ek doen sy die regte dinge om te sê dat sy nie die kerk afskiet nie, maar die manier waarop lidmate se bydraes ( in daardie gemeente) bestuur word.

Ek was eerstens verbaas oor hoe gereed mense is om die kerk aan te val. Ek was tog in die tweede plek ook verbaas om te sien hoe sekere mense nie huiwer om op te staan vir die kerk van die Here Jesus nie.

Ek het op haar “blog” kommentaar gelewer maar dit wat ek daar gelees het my ook aan die dink gesit oor hoe die kerk die evangelie verkondig.

Ek dink daar is twee vrae waarmee die kerk besig behoort te bly. Altwee die vrae het te make met hoop:

1. Wat beteken die Christelike hoop?

2. Watter hoop is daar vir verandering , uitkoms, transformasie en nuwe moontlikhede in die wêreld en op die aarde waarin en waarop ons op hierdie stadium lewe?

Indien die kerk “hoop” verkondig as “ek gaan hemel toe wanneer ek doodgaan” en dat verlossing beteken dat ek uit hierdie wêreld weggeneem gaan word, dan sal die twee vrae met mekaar niks te make hê nie. Sommige mense reken dat as ‘n mens die tweede vraag vra, dan ignoreer jy die eerste een. Ander reken weer dat as jy net die eerste vraag vra, dan ignoreer jy die baie groot sosiale en maatskaplike nood van hierdie stukkende wêreld. Ander reken dat wanneer ons net die eerste vraag vra en antwoord, dan is dit waarskynlik dat ons alle hoop verloor het dat God in staat is om iets te doen aan die nood van hierdie wêreld.

Maar, ek dink dat as ons die Christelike hoop sien as gerig op God se nuwe skepping vir “‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde” wat reeds begin het in die lewe van Jesus Christus van Nasaret, dan hoort hierdie twee vrae in wese saam. Wat dan gebeur is dat ons die een vraag sal antwoord en terselfdertyd die tweede vraag sal antwoord – en andersom.

Hierdie vers het in die laaste paar weke my baie ernstig aan die dink gesit: ” En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het.” (Handelinge 3:20-21)

God is besig om alles nuut te maak. Die kerk is die instrument wat God gekies het deur wie Hy hierdie nuutmaakproses laat gebeur. Wanneer die verloste mense van die kerk van die Here Jesus hulle sosiale en maatskapklike verantwoordelikheid nakom, dan sien die mense van hierdie wêreld in die werksaamhede van die kerk van die Here Jesus dat en hoe God besig is om alles nuut te maak.

Wanneer ‘n gemeente egter net fokus op hoe hulle die lewe vir hulle as gemeente makliker en beter kan maak, dan het daardie gemeente inderdaad die “kat-aan-die stert-beet” soos Blixer dit sê. Maar, aan die ander kant, as die verloste mense van die kerk so vasgevang word in die sogenaamde hiernamaals dat hulle vir niks op aarde goed is nie, dan het hulle ook na my mening die kat aan die stert beet.

Vir my is daar ‘n wonderlike troos in om te weet dat God onvolmaakte mense gebruik as instrumente in hierdie nuutmaakproses. Daar is ook vir my troos in om te weet dat ons nooit al die nood van hierdie wêreld sal aanspreek en oplos nie, maar elke keer as iemand in een of ander vorm van nood gehelp word, dan word ek en baie mense daaraan herinner dat God besig is om alles nuut te maak. Die ondervinding het ons gemeente geleer dat mense baie meer bereid is om te luister na wat ons oor die Here Jesus sê wanneer ons bereid was om te luister na wat hulle oor hulle nood sê – en wanneer ons dan wys dat ons bereid is om iets daaraan te doen.

Ek sien my roeping en die roeping van ons gemeente as om ons oë oop te hou vir waar God in hierdie wêreld aan die werk is, en dan by Hom in te val. Somtyds mis ons dit, maar die meeste van die kere sien ons dit raak en slaag ons om agter Hom aan te stap.

Ek sou graag wou reken dat God met ons op weg is.

3 thoughts on “WAAROP HOOP ONS?

Add yours

  1. Attie, ek het die kommentare op Blixer se blog gaan lees. Ek sien dit so dat ons nie hier is om gedien te word of bedien te word nie, MAAR om te dien!

  2. Attie?
    Het jy al gehoor van Jurgen Moltmann? Hy was ‘n Duitse krygsgevangene in die Tweede Wereld Oorlog en het uiteindelik later in Skotland by Christene opgeeindig – die Here het hom later gered en hy het een van die prominentste Duitse teoloe geword wat by uitstek oor die Christelike HOOP geskryf het. Ekself het al een van sy boeke gelees wat ook vir my gehelp het om HOOP beter te verstaan.

    Willem

  3. Reisiger: Ek dink dit is dalk die probleem.
    Willem: Ek ken Moltmann se boek maar ek het ook Wright se uitstekende werk (Surprised by Hope.) hieroor gelees.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: