Ek sal vanmiddag 16:00 lughawe toe vertrek om Scot en Kris McKnight te gaan afsien wanneer hulle teruggaan na die North park University in Chicago. In hierdie twee weke het ek en Renate en Scot en Kris goeie vriende geword en het die Here hom gebruik om weer my geloof te versterk.
Ek het Scot McKnight leer ken toe ek in Augustus/September 2007 vir opleiding in Pittsburgh in die VSA was. Ek het ‘n manier gesoek om vir die mense by die huis en veral ons kinders op hoogte te hou met wat aan die gebeur was. Toe ontdek ek “blogs” en ek begin skryf elke dag hoe dit met ons gaan en wat ons doen.
Op ‘n stadium kom ek toe agter dat hier nogal ‘n redelike “blog-wêreld” is en begin wonder of dit dalk ‘n manier is om die waarheid, die evangelie aan mense te verkondig. . Ek het begin kyk wat ander ouens op hulle blogs doen en toe “google” ek “Christian blogs” en een van die “blogs” waarop ek toe afkom is Scot McKnight se blog, Jesus Creed. Deur sy blog en die kommentaar wat ek so nou en dan gelewer het, het ek hom leer ken.
In November 2007 het ons besluit om hom te nooi om Pinkster in Rustenburg te kom hou, en ek was heeltemal uit die veld geslaan toe hy redelik vinnig instem om wel te kom. Ek moes my huiswerk doen om seker te maak dat hy nie teologies op ‘n wa sal wees wat omstrede sou wees nie. Ons het behoefte gehad aan ‘n Pinkstertyd waar ons positief opgewonde kon raak oor die werk van die Heilige Gees in ons tyd en nie ‘n tyd waar ‘n teologiese stryd gevoer word omdat die prediker een omstrede uitlating na die ander maak nie. Scot was alles wat ons verwag het, en nog meer.
Een van die eerste dinge wat ek moes vasstel is of hy die opstanding van die Here Jesus as ‘n historiese en liggaamlike gebeurtenis aanvaar en verstaan. Ek het ontdek dat een van die meer invloedryke Nuwe Testamentiese kenners van ons tyd is, maar ek het ook ontdek dat hy ‘n man is wat in ‘n persoonlike verhouding met die Here leef.
Scot is ‘n kenner van die Historiese Jesus, maar nie soos die Historiese Jesus mense in Suid Afrika dit verstaan nie. Scot is daarvan oortuig dat ons moet aanvaar dat die Bybel binne ‘n bepaalde konteks geskryf is en binne ‘n bepaalde konteks gelees word. Dit is vir hom belangrik dat ons die konteks waarin die Bybel geskryf is, reg verstaan ten einde die boodskap beter te verstaan, maar hy twyfel ook nie daaraan dat die Bybel Gees-geïnspireerd is en aan ons ‘n boodskap verkondig van die Almagtige God wat die Skepper van die hemel en die aarde is.
Ek kan nie dink dat Scot se besoek aan Suid Afrika vir enige iemand meer beteken het as vir my nie. Hy het my opnuut weer aan die dink gesit oor ‘n hele paar sake, maar hy het my ook weer die moed gegee om vas te hou aan die dinge wat vir my regtig belangrik is en wat in die laaste tyd in Suid Afrika op ‘n lelike manier gedebateer is. Die lelike debat het die kerk groot skade gedoen en die pot kan nie deksel hieroor verwyt nie. My mening is dat beide kante in hierdie opsigte skuld sal moet aanvaar vir die manier waarop die debat gevoer is. Maar, ek wil nie daaroor met enige iemand in gesprek gaan nie.
In hierdie tyd het ek op ‘n besondere manier weer besef dat ek nie skaam hoef te wees om te glo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het en dat hy na sy opstanding met die merke van sy kruisiging oor ‘n tydperk van veertig dae aan verskillende mense op verskillende tye verskyn het. Wat hierdie mense aan wie Jesus verskyn het gesien het, was nie ‘n skim of ‘n verbeeldingsvlug waar hulle gesien het wat hulle graag wou sien nie. Hulle het die ondenkbare sien gebeur: Jesus het uit die dood opgestaan en Hy lewe.
Ek kan nie hierdie dinge wat ek glo op ‘n modernistiese wyse verduidelik deur bewyse aan te voer en te weier om dinge te aanvaar wat nie vandag meer gebeur nie. Die swak redenasie wat sê: Ek sien nie enige mense rondom my wat uit die dood uit opstaan nie, en daarom kan ek nie glo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het, hou net eenvoudig nie water nie.
Bv.: Sien enige iemand vandag mense wat op die maan land. Tog glo ons op grond van ooggetuies wat in NASA se operasionele lokaal was (Waarskynlik nie baie goeie ooggetuies nie, want ons weet mos wat die rolprent industrie kan fabriseer) en die drie manne wat in die ruimtetuig was en TV uitsendings en koeranteberigte dat dit wel gebeur het. Intussen weet almal van ons dat daar ‘n menigte mense is wat nie glo dat dit regtig gebeur het nie, en daarvan oortuig is dat NASA ons om die bos gelei het. Tog glo ons dat mense op die maan geloop het, ten spyte van die feit dat ons nie daar was nie en ten spyte van die feit dat mense dit bevraagteken en ten spyte van die feit dat daar vandag nou nie juis baie mense op die maan rondstap nie.
Ek sal in die opstanding van Jesus Christus glo selfs al is daar ‘n menigte mense wat dit bevraagteken en betwyfel. Scot se besoek aan Suid Afrika was vir my persoonlik ‘n besondere seën en het my geloof in hierdie opsig versterk en hy het my in aanraking gebring met van die mees invloedryke teoloë in die wêreld en wat lankal hulle rug gedraai het op die debat oor die feitelikheid van Jesus se opstanding.
Ander mense kan met hierdie wonderlike waarheid maak wat hulle wil, want vir my is geloof opnuut weer om die onsienlike te sien. (Hebreërs 11:1)
Kragtige stuk. Dankie Ds. Attie.
Scot is ‘n baie slim en geleerde mens en tog se hy jy moet die bybel soos ‘n stoie lees. Dit se vir my dat die eenvoudige boodskap van die bybel nie verander as jy ‘n baie diep studie van die bybel maak nie en dit is vir my gerusstellend juis omdat dit van hom af kom. en Ja, dis lekker om om die Here as deel van ‘n gemeenkap van gelowegis te dien.
Roer. Dankie!
Alec: Daardie waarheid was vir my ook wonderlik. Elke verhaal (storie) in die Bybel moet gesien word as deel van die groter verhaal (storie) waarmee God besig is. Ons moet ook ons eie verhaal (storie) sien in die lig van hierdie groter verhaal (storie) waarmee God besig is. Op hierdie wyse is ons altyd gereed om weer deur God verras te word. God laat Hom nie inperk deur mense wat dink hulle verstaan God volkome nie.
Ek het eendag op die blogs geskryf ek glo mens moet soos ‘n kindjie bly glo en daar is terug kommentaar gelewer dat die kindjie darem een of ander tyd moet groot word.
Wel, ek glo nog steeds soos ‘n kind. Jesus het gesterf vir my sonde, opgestaan uit die dood en opgevaar na die Hemel, waar Hy vir my intree by God. Klaar.
Dankie vir hierdie inskrywing, Attie 🙂
Ditto, Attie! Mooi geskryf! Ek eggo Son se woorde.
Beste Attie,
Baie dankie! Geloof is nie ons eie maaksel nie – dis ‘n gawe van God!
Willem
Sonkind: Ek dink daar is ook ‘n stuk volwassenheid in om bereid te wees om te aanvaar dat jy nie alles verstaan en alles kan verduidelik nie. Ek vra baie vrae oor baie dinge in die Bybel, maar ek is bereid om soms te aanvaar dat ek nie weet nie.
BiB: Dankie.
Willem: Handelinge 3:16 sê dat die geloof wat ons het van Hom (dit is Jesus) af kom.
Die opstanding is nie bybels nie. Dis ‘n klop leuens wat deur die Roomskatolieke in gesit was.