DIE WONDER VAN HEMELVAART

Donderdag het ons terug gedink aan die hemelvaart van die Here Jesus. Veertig dae na die opstanding is Jesus opgeneem in die hemel.

Waarom die veertig dae?

Waarom was die hemelvaart nie direk na die opstanding nie?

Wat het in die veertig dae gebeur?

In Handelinge 1 lyk dit of drie belangrike ding in die veertig dae gebeur.

Eerstens het Jesus in die veertig dae aan die manne wat Hy gekies het om sy werk op aarde voort te sit sekere bevele te gee. (1:2) Opdragte wat in ‘n baie groot mate vir die kerk van die Nuwe Testament nog steeds geld. Een van die besondere dinge van die boek Handelinge is dat die boeke geen logiese einde of afsluiting het nie. Ek dink dit is omdat die Handelinge van die kerk van die Nuwe Testament deur die krag van die Heilige Gees vandag nog steeds geskryf word. Deur die krag van die Heilige Gees word die werk wat die Here Jesus op aarde begin het voortgesit.

Tweedens het Jesus in die veertig dae by verskeie geleenthede aan die dissipels verskyn en met onbetwisbare bewyse getoon dat Hy lewe. (1:3) Ek wonder of die Here Jesus dalk geweet het dat sy opstanding selfs in ons tyd nog betwyfel sal word. Hierdie is een van die gedeeltes wat my laat glo dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het. Die God van die Bybel is in staat om dinge te doen wat ons nie verstaan nie en wat ons dikwels nie kan verklaar nie.

Derdens het Hy met hulle oor die dinge van die Koninkryk gepraat. (1:3b) Eers na Sy opstanding kon die Here Jesus openlik met die dissipels praat oor sy lewe, dood en opstanding. Voor sy kruisiging het hulle hierdie dinge nie verstaan nie. Nou nadat Hy uit die dood opgestaan het, kon Hy hulle help om te verstaan watter rol sy lewe, sterwe en opstanding in die Koninkryk van God speel.

Maar dit gaan eintlik oor Jesus se hemelvaart. Terwyl Hy nog so staan en praat het ‘n wolk Hom weggeneem. (1:9) In die Bybel speel ‘n wolk dikwels ‘n besondere rol. Terwyl Israel deur die woestyn getrek het, was ‘n wolk die teken van die magtige teenwoordigheid van God.

Terwyl Petrus en Johannes en Jakobus saam met Jesus op die berg van verheerliking was, het ‘n wolk almal op die berg toegevou. Uit die wolk uit was daar toe ‘n stem wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitgekies het. Luister na Hom.” Weer was ‘n wolk die sigbare teenwoordigheid van God.

‘n Wolk het Jesus in die hemel opgeneem. Jesus is nie weg nie, Hy is opgeneem in die magtige teenwoordigheid van God. Die uitdrukking “in die hemel” is nie uitdrukking van verwydering nie. Dit is eerder ‘n uitdrukking van die aktiewe teenwoordigheid van die Here Jesus Christus saam met die Vader by die werk van die Heilige Gees in en deur die kerk, die liggaam van die Christus. Die Heilige Gees is die Gees van Christus wat aan die kerk gegee is op grond van die belofte van die Vader.

Jesus is nie weg nie. Hy is net op ‘n ander manier teenwoordig.

Ek glo in Jesus Christus…

wat gekruisig is,

gesterwe het en

begrawe is en

op die derde weer opgestaan het uit die dode,

opgevaar het na die hemel

en sit aan die Regterhand van die God,

die almagtige Vader…

Glo jy dit ook?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: