EEN TREE TE VER

Nelson Price was leraar van die Roswell Street Baptist Church in Cobb county Georgia. Hy wou graag ‘n televisie bediening in Amerika begin, maar hy wou dit doen in een van die gebiede waar daar die minste kerke en die meeste mense is. Hy het die navorsings afdeling van die Baptiste kerk geskakel en hulle gevra om hom te help en ‘n lys te maak van die mees kerklose streke in die VSA. Groot was sy verbasing toe hy ontdek dat Cobb County Georgia ook op die lys van gebiede was. Hy kon sy televisie bediening in sy eie agterplaas begin.

Handelinge 1:8 is die klassieke teks wat gebruik word om ons bewus te maak van ons missionêre verantwoordelikheid (In die ou dae het ons van ons sendingtaak gepraat.) Die vers lees so: “Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Ek is so dankbaar vir ons voorvaders wat in die sewentiende eeu na die suidpunt van Afrika gekom het en saam met hulle die Goeie Nuus oor Jesus Christus en God die Vader en God die Heilige Gees gebring het en dat hulle die Goeie Nuus op hulle dikwels gebrekkige manier uitgedra het. Dankbaar dat God daardie gebrekkige metodes en mense gebruik het sodat ek vandag kan glo. Ek kan vandag in God glo omdat daardie mense die Goeie Nuus gebring het.

Ek is baie dankbaar vir elke gelowige wat kans sien om na ‘n ver en vreemde land te reis om die Goeie Nuus daar te gaan verkondig. Maar, ek leef ook al baie jare lank met hierdie vraag: Het ons nie die eerste tree mis getree nie? Ek kry die gevoel dat ons na Judea en Samaria en die uithoeke van die wêreld gaan maar by Jerusalem verbygaan. In Rustenburg alleen is daar net genoeg kerk om ongeveer 5% van die bevolking te huisves.

In ons eie agterplaas – maak nie saak in watter dorp watter kerk staan nie – is die nood so groot dat ons net daar meer as genoeg werk het. Ek is daarvan oortuig dat ons eerste missionêre taak in ons eie omgewing is. Daarmee wil ek nooit sê dat die neem van die evangelie na ‘n ver land, nie behoort te gebeur nie. Daarmee wil ek net sê dat ons opnuut weer sal moet ontdek dat die Here Jesus ons in die heel eerste plek met die Goeie Nuus stuur na ons eie gemeenskappe toe.

Ek sien dit stadig maar seker gebeur, en daarvoor is ek dankbaar. Ek dink, as kerke en gemeentes wil help om hierdie land te genees, sal ons Jerusalem rondom ons moet raaksien.

Advertisements

6 Kommentaar

Filed under Nagedink

6 responses to “EEN TREE TE VER

  1. annie

    Charity begins at home, so ook die uitdra van die evangelie. Weet jou huiswerker wie Jesus is? Het sy ‘n Bybel om te lees? As sy nie kan nie, wat doen jy om haar van Jesus te vertel. Dit is ‘n baie ongemaklike taak, maar die uitdra van God se boodskap was nog nooit maklik nie. Begin vandag by jou Bellah.

  2. Annie: Ek weet nie of jy al kommentaar gelewer het nie, indien nie, welkom. Wat jy sê is baie waar. Dit begin selfs so naby as ons eie kinders en ons lewensmaats.
    Ek dink egter die moeilikste is wanneer ons in die gemeenskappe rondom ons dorpe begin in beweeg en daar begin om nood te verlig. Hoeveel is daar binne 10 kilometer van ons huise. Kan ons met ‘n rein gewete duisende kilometers ver gaan, en ons eie gemeenskappe afskeep?
    Ek dink nie die twee moet mekaar uitsluit nie, inteendeel ons moet altwee doen en nie die een nalaat nie. Maar, ek dink ons moet seker maak dat ons nie ons gewete sus deur mense in ‘n ver land te help omdat ons nie kans sien vir die mense in ons omgewing nie.
    Dalk het dit ook te make daarmee dat as ek iemand stuur, hoef dit nie ek self te wees nie.

  3. A3

    Ds Attie, ons gemeente (NG Kerk, Bonaero Park) is betrokke by ‘n sending projek in Tugela Ferry in Zululand. Alhoewel ek 11 jaar gelede toe ek in die gemeente aangekom het, ongelukkig was oor die uitreik, omdat ek ook gevoel het ons moet hier by onsself begin, is dit ‘n wonderlike ondervinding om elke Julie skoolvakansie met bussies en vragmotors op te trek (enige persoon tussen 8 en 80) en saam met die mense daar te werk en te aanbid. Ook om op grondvlak met hulle te kommunikeer en van hulle gasvryheid te gebruik. Die grootste hartseer is natuurlik die hospitaal waar die meeste mense aan vigsverwante siektes sterf. Honderde in een maand. Dit is wonderlik om te weet jy hou vandag iemand se hand vas en bid vir hom of haar, maar so seer as jy moreoggend daar kom en die persoon is nie maar daar nie. Elke persoon wat terugkom van die uitreik af is ‘n veranderde mens.

    Ons is ook nou betrokke by ons kerk in Tembisa, die swart township hier by Kempton Park. Daarom gee dit vir my gemoedsrus dat ons ook hier rondom ons werk. Ons het ook ‘n wonderlike Bybelskool wat gelei word deur Prof. Hennie Stander wat nou een van ons leraars is en hy het oulike idees om die Evangelie in ons onmiddelike omgewing uit te dra.

    Dankie vir die insiggewende skrywes wat u op u blog publiseer. Ek geniet die blog baie,

  4. A3: Die groot waarde van Zululand (judea) is dat die gemeente ook daarby betrokke is. Die gemeente gaan een keer ‘n jaar, en intussen is julle in Tembisa (Jerusalem) ook besig. Ek dink dit moet die en en die ander wees en nie die of die ander nie.

  5. Attie, dis so waar wat jy sê. Hier in die platteland is dit seker meer waar as in die stede. Hier werk jy vir jou mense. Al is dit dan met ‘n sopkombuis wat met skriflesing en gebed geopen word. Jy praat met almal en 99% van die tyd het jy ‘n geleentheid om oor die Koninkryk te praat. Dis net ‘n kwessie van soek ‘n opening. Sending in ander wêrelddele is ook belangrik, maar begin by jouself, jou huisgesin, die mense wat vir jou werk, jou bure, en die res van die gemeenskap.

  6. Pikkelik: Jy is reg. Moenie nee sê vir sendingwerk ver nie. Maar moet ook ide nee sê vir sendingwerk naby nie. Sopkombuise bring geloofwaardigheid en wys dat mens regtig vir die mens omgee.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s