Ek het gister weer begin werk na ‘n week se verlof. (Net ‘n week dan is weer vir ‘n week met verlof.) Tydens my vakansie het ek een gesprek gehad met iemand met verhoudingsprobleme en gister weer met ‘n ander een. Die een was voorheen getroud en leef nou in ‘n saamwoon verhouding en die ander is getroud, maar het voor die huwelik saamgewoon. Beide die persone se verhouding staan op die punt om beëindig te word. Ek moet ook binnekort twee paartjies trou wat ek weet wat op hierdie stadium saamwoon.
Die onderwerp van saamwoon word vermy omdat daar so baie paartjies is wat saamwoon en omdat enige gesprek hieroor gesien word as ‘n veroordeling. My doel is nie om te veroordeel nie, ek wil net die aandag daarop vestig dat mens deur ‘n saamwoon-verhouding die risiko om nie gelukkig getroud te wees nie en om uiteindelik te skei baie groter maak.
Die Bybel het ‘n hele paar dinge wat as sonde (Ongehoorsaamheid aan die Here) beskryf word. Ek sien die dinge wat die Bybel as sonde aandui as God se waarskuwingstekens vir ons. Hy probeer ons waarsku teen dinge wat ons van lewenskwaliteit kan ontneem. (Gaan dink bietjie mooi oor sonde wat in die Bybel beskryf word.) God is ons Maker, Hy ken die werk van sy hande en weet wat die beste is vir Sy skepsels. So waarsku die Bybel ons teen enige vorm van seks buite die huwelik.
Navorsing het nou gewys dat mense wat in ‘n saamwoon verhouding bly voordat hulle trou, lewenskwaliteit inboet maar ook ernstige risiko’s loop om baie hartseer in hulle lewens te ervaar.Net ‘n paar punte van hierdie navorsing: (Jy kan HIER meer daaroor gaan lees as jy wil.)
“57% of cohabiting couples dissolve within ten years when compared with 30% of all first marriages. (VanGoethem 2005:77).”
“The risk of divorce after living together is 40 to 85% higher than the risk of divorce after not living together. In other words, those who live together before marriage are almost twice as likely to divorce than those who did not live together (Bumpass & Sweet 1995; Hall & Zhao 1995; Bracher, Santow, Morgan & Russell 1993; DeMaris & Rao 1992 and Glen 1990).”
“Cohabiting couples have a rate of separation that is five times that of married couples, and, in the event of separation, cohabitors have a rate of reconciliation that is only 33 percent as high as that of married couples (Binstock 2003).”
“An indicator of commitment to partner – sexual exclusivity – is lower in cohabitors after marriage. Cohabiting couples have an 80%+ chance that their relationship will end. (40% breakup before they marry; the other 40% divorce within 10 years of marrying.)”
Daar is ook verskillende dinge wat saambly-paartjies hulleself wysmaak oor hierdie verhouding. Hierdie dinge is baie keer maar net selfregverdiging vir dit waarmee hulle besig is. Bitter min – indien enige van hierdie redes/verskonings hou regtig water, maar ek gaan tog maar ‘n lysie gee van verskonings wat sulke paartjies gebruik:
1. Almal doen dit.
2. Dit maak finansieel meer sin om saam te woon.
3. As mens eers saamgewoon het is jou kanse beter om later ‘n gelukkige huwelik te hê.
4. Om saam te woon sal niemand skade doen nie.
5. Ons saamwoon het niks met niemand te make nie.
6. Dit maak nie saak nie, want ons is in elk geval lief vir mekaar.
7. Dit maak nie saak nie, want ons gaan in elk geval trou.
8. Die Bybel leer nêrens dat ‘n huwelik in die openbaar beëdig moet word voordat die paartjie in God se oë getroud is nie.
9. Dit laat my beter voel oor myself en ek beleef meer sekerheid in ons verhouding.
10. Die Bybel sê niks oor die onderwerp nie.
11. Die huweliksdokument is net ‘n stukkie papier en beteken nie noodwendig dat mense meer aan mekaar toegewy sal wees nie.
12. Wat ons met ons liggame doen raak nie regtig ons verhouding met mekaar of ons verhouding met God nie.
13. Ons kan seks hê sonder om emosioneel by mekaar betrokke te wees.
Ek sou seker ‘n paar woorde oor elkeen van hierdie “verskonings” kon sê, maar ek sou eerder die bietjie kennis wat ek het en die ondervinding wat ek opgedoen het, wou gebruik om mense te waarsku voordat hulle in ‘n saamwoon verhouding ingaan.
Ek dink nie ek sal enige persoon wat reeds saamwoon, sommer maklik oortuig om dit anders te doen nie, maar ek sou dalk ‘n paar ouens kon waarsku.
Mag ek dit weer sê: Wanneer God in sy Woord vir ons ‘n opdrag gee om iets nie te doen nie dan probeer hy ons waarsku teen iets wat sal veroorsaak dat ons lewens nie alles sal wees wat Hy bedoel het dit moet wees nie.
God se bedoeling met die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou was dat dit ‘n lewenslange verbintenis van liefde en trou sal wees wat met geen ander verhouding vergelyk kan word nie. Sy bedoeling was dat daardie verhouding baie besonders sou wees. So besonders dat toe Hy ‘n beeld soek om die verhouding tussen Christus Jesus en die kerk te verduidelik, toe kies hy die beeld van ‘n bruidegom en sy bruid.
As dit die Here se bedoeling was, hoekom sal ek doelbewus iets doen wat my kanse om daardie geluk te smaak soveel meer en soveel groter maak.
As jy wil hê ek moet oor enige een van die “verskonings” iets meer sê, kan jy gerus vra.
Tye het so verander al hoe meer jong mense bly maar eerder saam, ek sè nie dit reg of verkeerd nie, toe ek destyds van my eks geskei is het ek en Koos ook eers saam gebly, hoekom ek nog met hom getrou sal weet ek tot vandag toe nie!! Hy is die moeilikste mansmens op aarde.
Dit is al moeilik genoeg om met myself saam te lewe, wat nog te se van iemand anders? 😆
Wat is die verskil tussen saamwoonverhoudings en die huwelik? Net die Here se seen? Beteken dit dan dat mense wat in ‘n hof getroud is nie so suksesvol sal wees as ‘n huwelik nie? Dalk vou die huwelike van mense wat saamgewoon het juis omdat hulle gewoond aan ‘n maklike agterdeur?
Ek gaan nou heeldag wonder oor hoekom die statistieke is wat hulle is.
Daar is statistics dat mense wat ‘n huwelike in di hof bevestig meer hou as die in di kerk
Meermin: Ek is so jammer dat jy dit so beleef. Ek vermoed jy kry swaar genoeg dat dit nie nou die regte ding sou wees om jouself te verwyt oor dit wat destyds gebeur het nie.
Adrie: Nee, ek dink nie ditr is net die Here seen nie, alhoewel Geroge Barna in sy navorings bevind het dat die egsekidingsyfer onder weergebore Christene wel laer is as ander mense, is die egskeidingsyfer onder mense wat saamgewoon het (ongeag of dit Christene is of nie, steeds hoer as die wat voor die landdros getroud is. Ek dink dit het te make met die feit dat ‘n huwelik die om agterdeur kop uit te trek en jou rug op die verhouding draai amoer heeltemal toemaak. Dit lyk dit het te make met die permanensie wat deur die betrokke handeling aan ‘n verhouding gegee word.
Attie dankie, ek dink hierdie onderwerp is nodig en goed deur jou oorgedra. Ek weet ek is seker baie naïef as dit by die onderwerp kom. Miskien is ek te konserwatief of preuts en outyds, en miskien moet ek nog ‘bykom’ want ons leef wel in die jaar 2008, maar ek dink mense wat saamwoon doen hulself erg in. ʼn Groot persentasie van my vriende woon vandag saam. Ek respekteer hulle besluit, al stem ek nie saam nie. Ek sal ook niemand op grond daarvan oordeel nie en juis daarom verwag ek dat my opinie ook gerespekteer moet word.
Ek glo met my hele hart dat die huwelik deur God ingestel is en dat mens dit moet eerbiedig, punt! Daar is vir my ongelukkig hier geen maar’s nie. Ek glo nie aan saambly of wat hulle ook al hierdié “gerieflike-no-commitment”-verhouding of eerder reëling wil noem nie. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie. Dit dra nie God se goedkeuring weg nie. Hierdie verhouding het nie God se seën ontvang nie, hulle is nog nie as man en vrou deur God saamgevoeg nie, al leef hulle asof God dit geseën het. Mense sê maklik dat God hulle weer geseën het met ʼn lewensmaat, hulle klink so opreg dankbaar, maar wat doen hulle met hierdie groot geskenk? Die oomblik wat hulle saamwoon, neem hulle hul verhouding uit God se hande en loop die pad alleen verder. En die wat so maklik sê dat hulle nie ʼn ‘papiertjie’ nodig het om hierdie ‘diep-gerieflike-no-commitment’-verhouding te bevestig nie, is volgens my snert. Al wat dit is, is ʼn valse troos van die gewete en die wegpraat of mooipraat van een party (of soms selfs albei partye) se nie-commit in die verhouding.
My meisiekind het een jaar baie ongeduldig aangedring om haar kersgeskenk, van ons af, voor die tyd oop te maak. Na ‘n lang gestoei het ek ingegee. Ou Kersaand dwing ek haar om die geskenk, wat toe reeds ou nuus was, te gaan haal en netjies toe te draai met strikke, kaartjie en als. Ek het vir haar gevra om die aand as die familie en vriende daar is te maak of sy nie weet wat binne is nie en dat sy baie opgewonde moet wees en lyk. Nodeloos om te sê, sy was die aand hoogs geïrriteerd (en na aan trane) met my en haar pa wat ʼn groot ophef van die mooi toegedraaide geskenk gemaak het. Sonder dat sy dit verwag het, het ons ook vir haar ʼn ander klein geskenkie (wat maar R37 gekos het) onder die boom gesit. Sy was honderd keer blyer oor die klein geskenk as wat sy was, die dag toe sy die groot geskenk (teen ons sin) oopgemaak het.
Ek weet dis ‘n simpel voorbeeld, maar ek sien die huwelik ook as ʼn geskenk van God. Deur saam te woon is om hierdie geskenk voor die tyd oop te maak en te geniet. Wat gebeur as hulle dan wel die dag trou? Met die troureëlings, draai hulle hierdie reeds ‘ou-nuus’-geskenk weer toe sodat almal op hul troudag (waarom dit dan ʼn groot geleentheid moet wees, weet ek nie) saam in hul wonderlike vreugde kan deel? Wat gebeur hierna? Waar is die opgewondenheid van ‘n nuwe lewe saam iemand vir wie jy lief is, waar is die skaam wees vir mekaar, die nuwe ontdekking van mekaar se liggame, die eerste saam beplanning as man en vrou, en die lys gaan aan…? Hierdie huwelike is almal ‘ingedoen’.
Attie, ek het self nog groen koring op die land, ek weet ek sal haar nie eendag kan stop om saam te woon nie. Ek kan maar net mooi vra en elke geleentheid gebruik om haar te probeer oortuig. Verder kan ek maar net bid dat sy eendag uit my huis sal trou.
Met dit alles gesê, groet ek eers, genoeg op dun ys geloop vir een dag.
Hier gaan my kop saam met joue in die byenes in. Ek is ook nie te vinde vir saambly nie. Dit skep meer probleme as oplossings. Mens kan nie eers ‘n behoorlike argument hê nie! Daar is mos nie werklik enige verpligting (miskien ‘n te kras woord) teenoor mekaar nie. As die een die ander kwaad maak dan is dit nie nodig om aan die verhouding te werk nie, jy vat eenvoudig jou goed en loop.
wag-‘n-bietjie: Ek hou baie van die beeld wat jy gebruik. Dit maak vir my sin.
Pikkelik: Ek dink weereens daar is te veel mense wat bang is mense neem aanstoot as hulle hulle persoonlike menings oor hierdie uitspreek. Intussen laat ons toe dat die mense wat saamwoon die meningsvormers word oor ‘n baie belangrike saak soos die huwelik. Ek gaan hulle nie oordeel nie en ek wil niemand oordeel nie, maar daar is ook ‘n meer heilige mening oor die huwelik en ons mag ons mening oor hierdie saak uitspreek. My ervaring is dat die onverdraagsaamheid eerder aan die ander kant lê.
Ek het ‘saamgebly’ vir 3 jaar. Hoekom? Ek weet nie. Daai tyd was dit extra groot sonde. Het gedog ek ken hom na meer as 3 jr. Maar toe daai ring aan die vinger is, toe word hy ‘baas’, dra die broek want so sê die Bybel.
En kort na die ‘I do’ storie toe wiks (ek het nie gevloek nie) hy die wit waks uit my uit….
So, saambly is uit en trou ook… Dis maar hoe dit is met Platterfuss!
Platter: Lekker om van jou te hoor. Snaaks hoe daardie ring mense verander. Hy was maar net van die begin af nie die regte man nie – nie net vir jou nie, vir geen vrou nie. Ek kan nogal verstaan dat iemand soos jy se: nooit weer nie. “once bitten, twice shy.” Die belangrike ding in hierdie gesprek is dat mens emekaar nie “judge” vir hulle menings nie. Ek het ook kort na my egskeiding gevoel – nooit weer enige vrou in my lewe nie. Toe stuur die Here vir my hierdie wonderlike vrou wat my drie kinders as haar eie aanvaar en grootmaak.
Jy is/was so ontsettend gelukkig Attie, beslis! Maar ook, jy verdien haar!
Btw, hoe gaan dit met die lang, plat kind?
Jy sal nie glo nie. Dit lyk asof hy ‘n tweede lewe gekry het en sy ma is meer gaande oor hom as ooit. Die dokter het wonderlike medisyne gegee wat hom binne ‘n week reg gehad het. geniet natuurlik nou al die aandag wat hy by sy ma kry.
Sjoe, Attie maar dit is ‘n byenes van ‘n onderwerp!
Ek besef al hoe meer dat ek geen mens is om ‘n oordeel te fel oor ander mense se doen en late nie. As dit vir hulle werk om saam te bly, good for them, as hulle die tradisionele approach verkies, ook so. Dit is baie prakties om saam te woon, en ek dink nie saamwoon beteken noodwendig dat jy ook ‘n bed, en ander dinge wat met ‘n bed gepaard gaan, deel nie.
My niggie en haar (nou) man het so saamgewoon voor hul troue, en Nig (sê sy) was nog ‘n maagd tot hul huweliksnag (en omdat sy dit sê glo ek haar). In daardie opsig is ek heel te vinde vir saambly; ek dink hulle het mekaar se huismaniere mooi geken, die moets en moenies, die oop kasdeur-argument, die toilet sitplek-argument, die toiletpapier-rolletjie-argument gehad, wat ek en my Lewensmaat na 4 jaar in die huwelik nog nie mooi uitgesorteer het nie.
Maar as saambly voor jy trou ‘n try before you buy is, dan dink ek meer van prostitusie…
Nico: Ek dink die saamwoon waaroor dit hier gaan is juis die saamwoon wat die seksuele insluit. Ek is bly vir jou nig se part dat hulle dit so kon doen, maar ek vermoed dat daar bitter min mense is wat daardie versoeking sal kan weerstaan.
Die navorsing wat ek bietjie gelees het, dui daarop dat die oomblik wat die seksuele deel van die verhouding raak, verarm die verhouding in die sin dat die groei op ander terreine agterweë gelaat word. Daarmee saam maak die seksuele die deur toe in die sin dat dit al hoe moeiliker word om uit die verhouding uit te stap wanneer jy begin sien dat die verhouding nie kan werk nie. In hierdie opsig is dit veral vrouens wat dit moeilik vind om die verhouding te beëindig wanneer hulle die rooi ligte sien flikker. Kyk maar na Platterfuss se opmerking hier bo.
Ek wil ook niemand oordeel nie, maar ek wil graag ouens wat nog hierdie pad wil loop bewus maak van die risiko’s wat voortvloei uit ‘n saamwoon verhouding soos ek hier beskryf het en dat almal beslis nie saamwoon en ‘n seksuele verhouding het voor hulle trou nie.
Dominee
As jy wil sien hoever die kerk al van die waarheid af weggeval het lees die boek “What God hath Joined Together” by http://www.familyradio.com/graphical/literature/joined/joined_contents.html
Die damwal het ongelukkig alreeds gebreek as deel van die eindtydgebeure… na 2011
As ek nou maar uit ondervinding dit mag sê…
Ek het nog nooit in die Bybel gelees waar dit staan dat seks voor die huwelik uit is nie; maar ondervinding hetg my geleer dat dit wat jy geniet het voor die huwelik betaal jy ‘n prys voor in die huwelik.
In my nederige opinie is daar nie juis ‘n verskil tussen saamslaap of saamwoon voor die huwelik nie. Maak dit saak as dit onder ons dak, jou dak of my dak is? Dan is saamwoon goedkoper, maar goedkoper as trou??
Johannes: Ek dink jy moet klein bietjie versigtig wees met jou beskuldigings (veralgemening) dat die kerk van die waarheid afgedwaal het. Ek dink bv. jy mislei mense doelbewus met die lering wat jy verkondig, maar ek het my nog die hele tyd daarvan weerhou om dit te sê en ek gaan ook nie in ‘n debat hieroor met jou betrokke raak nie. Stel gerus jou punt, maar moenie dit doen deur die kerk waarvan ek deel is en waarvoor ek lief is en wat ek met my hele hart glo deur die Here as onvolmaakte werktuig gebruik word, aan te val nie. Ek sê weer ek gaan nie met jou in ‘n debat betrokke raak oor die dinge nie.
Nico: Kyk gerus na 1 Kor. 7:2: “Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man.”
Die Nuwe testament is duidelik daaroor dat daar huwelik-seremonies was waar ‘n man en ‘n vrou in die huwelik tree.
Sien ook 1 Kor. 7:9: “Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.”
Maar ek stem saam dat dit jy die prys vir jou genietinge voor die tyd in die huwelik gaan betaal. Die waarskuwings in die Bybel is juis bedoel om mens teen sulke seer te beskerm.
Adrie: Ek en Renate het ons huis gekoop voor ons getroud is, maar ons het nooit saam in die huis gewoon nie en sy het nooit een nag by my oorgeslaap nie. Vir ‘n man wat voorheen getroud was, was dit baie moeilik, maar ons was nog nooit een dag spyt daaroor nie.
Attie
Ek het ‘n ruk terug ‘n blog oor maagdelikheid gehad. Weet nie of jy dit gesien het nie.
Dominee
Dis ‘n comments waarin ek my standpunt stel en wil ook nie daaroor debateer nie. Ek verstaan dit ook so.
As jy daar wil gaan lees, gaan kyk gerus HIER. Heelwat ouens het daarop gereageer en deelgeneem aan die gesprek.
Johannes: Ek gee nie om vir jou kommentaar nie, ek het ‘n probleem met opmerkings soos: “sien hoever die kerk al van die waarheid af weggeval het” Dit is weggeval van die waarheid soos jy dit verstaan. Moenie veralgemeen nie.
ADRIE NEE EK HET NIE, maar al hoe meer jong skool meisies en hier praat ek van laerskool dogtetjies wat nog moet pop speel, speel eerder met mans! Het tye dan so verander? Is ‘n dame se liggaam nie veronderstel om juis ‘n TEMPEL VAN GOD te wees nie? Hoekom op so jong ouderdom haar maagdelikheid verloor? Dit is nie die moeite werd nie, my dogter vertel my gereeld hoe van haar klas maats spog oor wat hulle naweke gedoen het, en hoeveel ouens hulle gehad het! SIES dit is ‘n skande! Ek glo ‘n jong meisie moet ‘n maagd bly tot sy die dag trou en dieselfde geld vir ‘n jong man ook! Seks is ‘n daad wat slegs tussen twee mense MOET plaasvind wat mekaar opreg lief het! Of is ek verkeerd? Nie dat die man met wie ek tans getroud is enigsins belangstel nie, maar dit daar gelaat!
meermin: Jy is reg. Ek dink seks is iets wat moet gebeur tussen een man en een vrou binne die veilige omgewing van permanensie wat in ‘n huwelik verkry word. Anders… baie seer en selfverwyt en… en… en..
Dominee
Ek veralgemeen nie, as die Bybel asvolg verklaar:
Mat 24:2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
wat beteken dit dat “alle” klippe (heenwysend na alle kerkstrukture van die Nuwe Testament, synde die geestelike tempelgeboue wat deur die loop van die nuwe testamentiese kerk-era opgerig sou word) afgebreek sou word? Maw verklaar God nie deur Sy Woord (Jesus) dat alle “kerkstrukture” van die waarheid van Sy Woord afvallig sou word. Binne die konteks van die wederkoms sou God nie dalk die kerk (struktuur) uitspuug soos Hy reeds aan die sewe gemeentes in Openb 2 en 3 gewaarsku het. Dit was in ‘n tyd toe die “kerke” nog relatief getrou was aan die Woord van God.
Ek verkondig maar net wat ek lees en leer uit die Bybel, sou die Nuwe Testamentiese Israel (maw die kerke soos dit vandag wereldwyd daaruitsien) nie soos Israel van ouds maar dieselfde paadjie volg in hul geestelike hoerery nie?
Daarmee impliseer ek nie dat God met die “ewige kerk” (maw die liggaam van Christus, die bruid) klaar sou maak nie. Is God nie nou juis besig om die laaste oes is deur die een “ware kerke” in te bring nie ? Wie is die moeder van die hoere waaroor die matrose en handelaars so verslae staan (Openbaring)?
Ons kan duidelik die afvalligheid van christen kerke wereldwyd “sien”… dis in ooreenstemming met wat gedurende die laaste van laaste dae sou plaasvind.
Jy weet wat dit is om jou eie geld te verdien… moenie aan ‘n afvallige struktuur vasklou wat net vir jou fisiese brood op die tafel sorg nie. Jerusalem (dit is die geestelike Nuwe Testamentiese gemeente en kerkstrukture) het so afvallig geword dat God (die Woord) haar nou as die moeder van die hoere beskou…
(Openb 17:5) en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.
Dis ‘n verborgenheid wat vir eeue deur God in die Skrif verskuil sou word totdat die tyd van die einde sou aanbreek, net voor die wederkoms van die Koning van die konings…!
Dis harde woorde maar waar…!
Ek dink jou eksegese laat jou baie ernstig in die steek. Jy lees wat jy wil lees in die teks in.
Attie,
Baie dankie vir ‘n besonders insiggewende stukkie skryfwerk hier, jy het my voorwaar geweldig baie stof tot nadenke gegee oor hierdie onderwerp. (Waaroor ek aanvanklik erg met jou standpunt verskil het.)
Ek is egter bietjie lugtig vir al daai statistieke, jy weet mens kan enige iets bewys afhangend van hoe jy daarna kyk. As voorbeeld hoef jy nie eers verder te soek as Johannes se interpretasies nie, ek dink hierdie is ‘n morele kwessie waar jy jou moet laat lei deur jou eie oortuigings en ervarings…
Hi Attie. Baie baie dankie vir jou inskrywing…dis rerig weird hoe die Here vir mens antwoorde gee op vrae op die interessantste plekke. Wow hierdie het vir my nou so baie beteken en my kop bietjie uitgesort…ek het verskriklik met hierdie ding gestoei tot…letterlik vanoggend.
Wat ek ook wonder, en dis die twee vrae waarmee ek gekonfronteer is vanoggend…
– se nou maar twee mense bly saam maar weerhou hulle van seksuele kontak (hoe onwaarskynlik dit ookal klink…ek dink mense wat so se fool net hulleself), maw hulle “bestaan” saam maar “leef” nie saam nie, is dit dan ook problematies?
– hoe konkreet is die Bybel en verwante teskverse oor hierdie onderewerp…maw: iemand vra vir my hoekom dit verkeer is, ek se dis ‘n geloof-issue…die persoon reageer deur te vra waar in die Bybel dit veroordeel word. Is ek reg as ek se dit gaan dalk meer oor ‘n groter moraliteitsvraagstuk (en daarby bv seks voor die huwelik) en die skyn van die sonde?
Da Mario: Is waar, statistieke kan enige iets bewys. Die seer wat ek in my spreekkamer beleef oor hierdie saak kan nie in woord beskryf word nie. Elke persoon moet volgens sy eie oortuigings handel, maar ek verstaan my rol ook as dat ek mense moet waarsku teen seerkry.
duskant.: Ek hou as ‘n reël nie daarvan om terksverse sommer so aan te haal nie.
Kyk gerus na 1 Kor. 7:2: “Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man.”
Die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat daar huwelik-seremonies was waar ‘n man en ‘n vrou in die huwelik tree.
Sien ook 1 Kor. 7:9: “Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.”
duskant: Oor die saambly sonder ‘n seksuele verhouding, dit dink ek sou nie problematies wees nie, maar ek dink dit maak dit baie moeilik.
Dankie vir die inskrywing Ds Attie. My kop sê die tye het dalk verander, maar God nie, maar as ek eerlik met myself is dan weet ek dis nie so eenvoudig nie. Ek het altyd gedink dat die Bybel baie duidelik is oor hierdie onderwerp, maar as 1 Kor. al is wat daaroor gesê kan word, dan is ek bevrees, is die argument bietjie pothole belaai. Ek verstaan volkome dat God weet wat is goed vir sy kinders en dat dit as gevolg daarvan is dat ons nie seksueel aktief moet wees voor die huwelik nie, maar ek is nou nie meer seker of dit slegs ‘n riglyn is (‘use it, don’t use it’ tipe argument) of is dit ‘n wet.
Roer: Ek dink nie dit is ‘n wet nie. Terloops die saak van die huwelik in die Bybel is baie meer as dit, en ek dink mens moet dalk versigtig wees om die belangrikheid van ‘n saak te bepaal op grond van die hoeveelheid kere wat daar in die Bybel daaroor gepraat word.
God se genade en vergifnis is so groot dat ‘n mens alles maar net as ‘n riglyn kan hanteer, want God vergewe volkome. Alles bly maar steeds die keuse van die individu – selfs die individu wat sy geloof in die Here Jesus bely. Ek sou ten opsigte van elke beginsel in die Nuwe Testament ten minste een Christen kan wys, wat besluit het dit is opsioneel, net ‘n riglyn en èk hoef nie noodwendig hieraan gehoorsaam te wees nie. Soms pas daardie denkwyse my ook maar alte gerieflik. “Ek weet God sal vergewe – net hierdie een keer.”
Dit gaan vir my oor drie beginsels: 1. Ek wil graag die dinge doen wat God sal laat glimlag. 2. Ek wil nie doelbewus dinge doen wat later in my lewe vir my hartseer en ongeluk gaan bring nie. 3. Ek wil nie dinge doen wat die geloofwaardigheid van die boodskap wat ek moet uitdra aantas nie.
Hallo Attie,
Interressante pos dié.
Juis vir iemand soos ek wat binnekort ‘n besluit oor saambly gaan neem.
Wat is jou mening indien daar twee middeljarige volwassenes is wat lief is vir mekaar en wat eers wil seker maak? Twee mense wat al deur die lewe se meul is en nie meer soos kinders dink of optree nie. Twee mense wat geen verpligting teenoor hul afwesige, volwasse kinders of vorige lewensmaats het nie.
En wat van as die een ‘n gewoonte, nie-praktiserende christen is en die ander een ‘n ateis?
Maak Bybelse voorskrifte dan nog saak?
Is jou statistieke gebasseer op jongmense of ouer mense?
K
Karin: Die statistieke blyk uit alle ouderdomme geneem te wees. Ek verstaan die voorskrifte van die Bybel as God se aanduiding wat ons regtig gelukkig sal maak. Alhoewel die eis van gehoorsaamheid swaarder rus op die belydende Christen, sou die gewoonte-Christen en selfs die ateïs daarby baat om ook te gehoorsaam. Maar, ek wil op geen manier hieroor voorskriftelik of veroordelend klink nie.
Ek is ook in my tweede huwelik alhoewel my vrou nie voorheen getroud was nie. Ek het alreeds drie kinders gehad toe ons mekaar ontmoet het. Ons het die besluit geneem om nie seks voor die huwelik te hê nie, en ons verhouding dra vandag nog die vrugte daarvan. Ons het in daardie tyd ‘n besonder intieme verhouding gebou.
Ek dink graag oor sulke dinge as dat my eerste verpligting teenoor die Here is en my tweede verpligting teenoor myself en in besonder daardie deel van my wat ek graag my gewete noem. As ek my optrede in alle eerlikheid teenoor die Here en teenoor my gewete kan regverdig..
Liewe Karin
Vir die ouer garde gaan dit mer as net oo seks, dit gaan oor vriendskap, ondersteuning en liefde.
As jul besluit om saam te woon doen dit dan met verantwoordelikheid wet net dat as jy vir meer as 6 maande saamwoon dit geag word as ‘n gemene reg huwelik ( binne gemeenskap van goedere)
As middeljariges is jul al ontnugter van dinge wat in die lewe gebeur, en as jul saam wees niemand seer maak nie, en ook nie julle self nie, kan daar niks meer fout wees nie, so, vry daai oom tot hy skeel kyk en geniet dit wat oor is van die lewe want dit is kort.
en as die tyd reg is vir trou sal jy weet.
Vrede en voorspoed vir jou.
Karin: Ek wil maar net weer beklemtoon dat dit nie gaan oor reg of verkeerd nie, dit gaan oor die manier waarop jy die meeste lewensvreugde kan beleef. Gehoorsaamheid aan die Woord beteken dat ek aanvaar dat God beter weet as ek oor wat goed is vir my en wat my regtig gelukkig maak..
Dankie Thinus en Attie.
Attie: Ek leef nie om gehoorsaam te wees aan iets of iemand nie. Al wat ek in ag neem is die mense wie ek lief het. Ek het nie ‘n god wat my lewe vir my reël en aan my voorskryf nie. My lewensvreugde hang van my eie besluite af én hoe verantwoordelik ek optree, juis in ‘n poging om niemand skade te doen nie.
Ek het ook nie die praktiese deel genoem nie. Hy bly daaaaaaaar vêr en ek bly hier. Met ons albei se besige skedules en die afstand, sien ons mekaar net oor naweke. Dis te min. Ons wil meer hê.
Thinus: Dis die óóm wat al érg middeljarig is… nie ekke nie… ek is net so effens in my middeljare! Vriendskap, ondersteuning en liefde… saamwees… en vry! Klink goed vir my. Klink rég vir my. En ja, die lewe is baie kort.
K ‘-)
Karin: Die verskil lyk dan vir my is dat ek leef om die Here my God en die Skepper van die hemel en die aarde te gehoorsaam. Ek kry dit nie altyd so reg as wat ek graag wil nie, maar ek probeer my bes om te gehoorsaam sover en soveel as wat kan. Ek hoop dit werk vir jou uit.
Ek ken mense wat saambly, oor wie se verhoudings ek glad nie bekommer nie, wat ek weet dit is so permanent as wat jy kan kry. Ek ken mense wat saambly oor wie se verhoudings ek regtig worry, en dink die een is besig om die ander seer te maak.
Ek ken mense wat getroud is, oor wie se verhoudings ek glad nie bekommer nie, wat ek weet dit is so permanent as wat jy kan kry. Ek ken mense wat getroud is oor wie se verhoudings ek regtig worry, en dink die een is besig om die ander seer te maak.
Van waar ek sit en kyk lyk die ding maar half kompleks. Saambly maak party mense gelukkig, en hulle hou vir mens model huwelike voor. Trou lyk partymaal soos ‘n baie slegte keuse.
Die statistieke… die alewige statistieke. Die statistieke aanvaar baie dinge, en maak asof die FEIT dat jy saambly of die FEIT dat jy trou die resultaat veroorsaak, maar ek weet nie so mooi nie, voel vir my half of daar iets diepers moet lê. Dalk iets soos dat die manier hoe ek oor verhoudings dink, en die volwassenheid wat ek het rondom verhoudings bepaal of dit permenent kan werk of nie. Dit bepaal ook of ek sal kies om saam te kry of nie. Dus, as my assumption (en dit is nie nagevors nie) reg is, dan sal sekere mense hulle verhoudings opmors, of hulle saambly of nie (en dit sal opgemors wees, al is dit te moeilik om wetlik te skei) en ander sal dit laat werk, of hulle trou of nie. Maar dalk is dit maar net wat mense wat ek ken wil hoor…
Cobus: Ek verskil nie van jou nie. As gelowige kan ek kennis neem van wat in die praktyk gebeur, maar ek kan nie toelaat dat die praktyk my gedrag bepaal nie. Sou dit bv. sin maak om te dink dat oneerlike besidgheidsmanne dikwels die meer voorspoedig is aan eerlike sakemanne, maak dat ‘n mens oneerlik moet wees. Ek dink nie so nie. Mense kan nie net na die praktyk kyk nie.
Ek weet daar is belangriker dinge in die lewe as saamwoon en die doel was (en ek sien jy aanvaar dit so) geensins om saamwoners te veroordeel nie, maar om mense wat voor ‘n keuse staan te beinvloed.
Die feit dat ek self twee kinders het wat nou in hierdie tyd besluite hieroor sal moet neem en wat gereeld met my hieroor praat, speel ook ‘n rol.
Ek wil net weet is dit die enigste plek in die bybel ( 1 Kor 7:9 en 1 Kor 7:2)wat melding maak van dat dit beter is om te trou as om saam te bly. Ek en my man het al ewig n gestryery oor dit want hy se nerens staan dit in die bybel dat dit n sonde is om saam te bly, en ek se weer dit is in die oe van die Here.Wil maar net weet.
Louise: Gaan kyk gerus ook HIER. Die vraag wat ek dikwels vir pa’s vra is: As jy eendag ‘n dogter het en sy kom vra jou toestemming om saam met ‘n man te bly voor hulle getroud is, wat sal jy sê. Sê nou julle kom agter die verhouding werk nie,wat maak julle dan? As julle dan sê dan gaan ons uit mekaar uit, met hoeveel mans/vrouens gaan jy saambly totdat jy die regte een kry? Hoe gaan jy dit teenoor jou (op die ou end) huweliksmaat verduidelik?
Die Here verbied seks voor die huwelik omdat Hy ons wil spaar van hartseer en selfs misbruik. Hy wil ons beskerm.
Dankie Ds.
Hallo Attie,
Dankie vir insigte en gesprek hieroor! Help my baie in die nadink en saamgesels hieroor! Bly ‘n baie moeilike onderwerp, en vir baie ‘n grysarea-tema in die Woord. Dink die balans is dalk te vinde tussen ‘n veroordelende stem aan die eenkant en ‘n totale swyging en stilby aan die anderkant! Ons is betrokke by ‘n christenkerk in Wellington, Nieu-Seeland en worstel maar met dieselfde realiteit! Mag die Here vir ons almal seen met baie insig deur Sy Gees en uit Sy Woord, sodat ons dit hanteer soos Jesus sou…
Baie groete & seen vir jou!
Jy is reg ons moet daaroor bly praat.
Attie, ek het sommer bietjie op jou blog rondgekrap en toe op hierdie gesprek afgekom. Eerstens, ek stem 100% saam met jou siening hieroor. Hierdie is nie ‘n kwessie van Bybeltekste om te bewys wie reg en wie verkeerd is nie. Soos baie ander goed waarmee ons vandag te doen het wat nie in die Bybel se tyd spesifiek aangespreek word nie, moet ons gaan soek na beginsels. En dit is vir my duidelik dat daar ‘n hoë premie op maagdelikheid geplaas word in die Bybel. Maar dit geld nie net vir die vrou nie. En dalk is dit deel van die probleem hieroor. Ek het ‘n vermoede as meer mans bereid is om die keuse te maak dat hulle nie saal saamwoon voor die huwelik nie, gaan dit baie makliker wees vir die dames om hierby in te val. Ek het nie statistieke hieroor nie, maar ek het ‘n gevoel dat die druk om saam te woon oorwegend van die mans se kant sal kom – omdat mans is wat hulle is – eerder as van die vrou se kant. “I stand to be corrected!” Om te praat van manlike maagdelikheid is ‘n (Bybels) vreemde woord, maar nie noodwendig ‘n Bybels-vreemde beginsel nie.
Een van die mooi verhale in my bediening behels ‘n twee jongmense wat vir lank saamgewoon het en selfs ‘n kind gehad het, baie ernstige probleme gehad het (as gevolg van goed wat jare tevore gebeur het), na weke se gesprekke uiteindelik die probleme uitgesorteer het, toe besluit het om die Here kans te gee om hulle lewens oor te neem en toe besluit het om voort te gaan met hulle verhouding, maar om nie meer saam te woon voordat hulle getroud is nie – en dit sonder dat ek ‘n woord daaroor gesê het. En ek sal nooit vergeet hoedat hierdie jong ma van ‘n kind bid en haar “maagdelikheid” weer terugvra van die Here nie. En toe sy haar oë oopmaak sê sy vir my dat sy weet, dat sy fisies nooit weer ‘n maagd kan wees nie, maar in die oë van haar Here is sy ‘n maagd en sy wil graag so bly totdat hulle getroud is!
Arnau: Ek tel nogal onder die jong mans al hoe meer die gedagte op dat hulle ook ‘n “Maagdelike verantwoordelikheid” het. Ek hou van jou voorbeeld – God se genade is ook groot genoeg hiervoor.
Die huwelik self kan nie heilig wees nie. Net omdat twee mense trou beteken nie dat hulle dan volgens die wet van God gaan lewe nie. Ek is nie teen trou nie, ek is net teen die manier waarop mense die huwelik hanteer. Dit is belaglik. Hulle trou, en dan is almal gelukkig, skei en trou skei en trou. Maar solank as wat jy in die huwelik is, is dit “REG’ in almal se oë maak nie saak die hoeveelste keer dit is dat jy “BELOWE” voor God dat jy hierdie vrou of man vir DIE RES VAN JOU LEWE sal liefhê nie??????????
Wat sê die Bybel oor die seremonie van die huwelik? Wat is die VOLTREKKING van die huwelik? Nêrens in die Bybel word die woorde wat ons vandag gebruik om die huwelik te bevestig nie. Kan iemand my net antwoord. Ek wil baie graag weet. Wat moet GEBEUR vir ‘n huwelik om bevestig te word. VOLGENS DIE BYBEL??? Wat is die eindeindelike VOLTREKKING?? Wil baie graag ‘n antwoord hierop hê!
Hi,hartseer! Ek was nog net een keer getroud, 26jr en ek het tot bittere einde gebly,alkholisme! Hy het my geskei! Saamwoon! Ek is nog van die ou skool! Alhoewel ek saanwoon glo ek dat dit ‘n demper op my verhouding sit! Die grootste probleem is aanvaarding van mekaar se kinders! Moeilike tye, kinders wat nie werk nie, wat nie help in huis nie. Ek is in verhouding met die liefde van my lewe, nie die kinders nie. Eendag vind hul hul eie liefde en gaan aan en ons bly agter! Ek is ‘n sagte en baie emosionele persoon en wil graag uitvind is daar ‘n vraelys wat ‘n mens aan jou maat kan vrae eb hy aan jou om sodoende mekaar beter te verstaan!
My Pa (74) het ‘n Tannie ontmoet wat ook omtrent sy ouderdom is. Hy wil graag trou, maar dan verloor sy haar mediese voordele. ( Sy het kanker en geen ander medies gaan haar nou aanvaar nie). Kan hulle in die kerk trou en die seen vra op die verhouding, sonder om dit wettig te maak? Of sus dit net hulle gewete? Hoe sien die kerk dit? Ek hoor graag van jou. Cathley.
Is saam woon sonder seks n sonde
Tasks prospects stage whoever of grow to be common of whereas essentially the most
of they therein implementation every chosen the have uk essay writing service.