IMMANUEL – OORDEEL OF HOOP?

Agas was koning in Jerusalem, Jesaja was profeet in Jerusalem. Die Aramese koning  Resin en Israel se koning Peka het ‘n veldtog teen Jerusalem geloods. Agas  en sy mense was baie bang en hulle het dit oorweeg hulp te soek by die koning van Assirië. God is koning oor die ganse en aarde, en oor Jerusalem. Jesaja het die taak om Agas te oortuig dat hy nie enige ander hulp nodig het nie, aangesien God aan sy kant is.

God stuur vir Jesaja na Agas (vir ‘n tweede keer) en sê vir hom: “Vra van die Here jou God ‘n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.” (Jesaja 7:10) God se doel met die teken is om vir Agas te wys dat hy nie enige ander hulp nodig het nie, maar dat God aan sy kant is. Agas wil nie glo wat Jesaja sê nie, nou is God bereid om vir Agas ‘n teken te gee om te wys dat Hy wel teenwoordig en aan sy kant is.

Agas se reaksie is nogal mooi vroom: “Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.” (Jesaja 7:11) Agas het klaar besluit wat hy gaan doen. Hy gaan die koning van Assirië se hulp inroep. Hy weet, as hy nou ‘n teken vra en die Here gee vir hom daardie teken, sal hy op die Here moet vertrou en nie op mense nie, en hy weet nie of hy daarvoor kans sien nie.

Om op die Here vertrou is ‘n waagstuk. Die koning van Assirië het ‘n weermag. God het net ‘n profeet. Die koning van Assirië is sigbaar en hoorbaar. God is dikwels onsigbaar en onhoorbaar en praat met mens deur ander mense soos Jesaja. Geloofsvertroue is ‘n waagstuk.

Ek sukkel ook hiermee.  Somtyds weet ek wat die regte ding is om te doen, maar ek het net eenvoudig nie die moed om op te staan vir my oortuiging nie, want menslik gesproke is ek in die minderheid. Dan kies ek om maar liewers die weg van die minste weerstand te volg. Meeste van die kere wil my gewete my los nie. Ek glo dit is die werk van die Heilige Gees binne in my, maar ek ignoreer my gewete en die werk van die Heilige Gees.

Geloofsvertroue is blootstellend en het soms die potensiaal om mens te isoleer en ernstig eensaam en ongewild te laat.

Agas wil nie ‘n teken hê nie. God gee in elk geval ‘n teken. Immanuel – God met ons. “Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” (Jesaja 7:14) Deur die jare het die Jode in Hiskia die vervulling van die Immanuel profesie gesien. Christene sien op hulle beurt in Christus Jesus die vervulling van hierdie profesie.

In hierdie konteks dink ek het ons te make met ‘n profesie van oordeel en nie van hoop nie. In Juda (waar Agas koning was en Jesaja profeet was) was daar ‘n valse gerustheid. Die Siro Eframitiese  magte het in duie gestort. Die volk was daarvan oortuig dat die Here vir hulle uitkoms gebring het. Ma’s het hulle kinders Immanuel genoem om hulle redding te gedenk.

Oor hierdie kinders sê Jesaja “Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is.” (Jesaja 7:15) Dikmelk en heuning is die produkte van onbewerkte grond. Daar sal nie meer boorde en wingerde en lande en beeste wees om van te eet nie. Sommige  kommentators sien in 1 Konings 12 die finale ramp wanneer die eens vriendelike Assirië Jerusalem inneem.

Hoe dit ook al sy,  somtyds moet mens maar eerder die moed van jou oortuiging aan die dag lê en doen wat jy weet die regte ding is om te doen, selfs al maak dit nie vir almal rondom jou sin nie. Geloofsvertroue is om op die Here te vertrou… te alle tye.

In die breër konteks van die Bybel aanvaar ek graag dat Jesus Christus God se teken is. “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)

In Jesus is Immanuel ‘n teken van hoop. “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Korintiërs 15:54)

Daar is hoop!

11 thoughts on “IMMANUEL – OORDEEL OF HOOP?

Add yours

  1. “Geloofsvertroue is blootstellend en het soms die potensiaal om mens te isoleer en ernstig eensaam en ongewild te laat.”
    Dit is so Doom, die nou paadjie. Die vlam wat weer brand, die wete dat wat aan die afspeel is, is voorspel. Die worsteling teen die bose, maar ons WEET mos hoekom. Om rustigheid te kry is bitter moeilik, juis omrede ons verstaan.

  2. Doom
    Toe maak ek ‘n paar oproepe vandag. Dis hierdie kol op my maag wat nie wou laat gaan nie, wat dit genoodsaak het. Kom loer by my in, asb.

  3. 2 Samuel 21: 7 In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God, In sy paleis hoor Hy my groep, en Hy luister na my.

    17 Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit die geweldige waters uitgelig.

    18 Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was.

    19 Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar.
    20 Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet.

  4. Gepraat van tekens – Vanoggend was daar die mooiste reënboog in die lug toe ek oppad werk toe is. Ek werk so 30km uit die dorp, en soos wat ek vorder na die punt van die reenboog, skuif die punt van die reenboog elke keer aan. N Gedagte kom by my op – Net so sluit ek jou altyd in My teenwoordigheid, liefde en beloftes, waar jy ookal gaan. Na sowat 10 km het die reenboog verdwyn, en die gedagte – Al kan jy My nie sien nie, is ek altyd daar, kom weer op. – Dankie Heer!

  5. Die Laaste Dag…!

    21 Mei 2011 tot 21 Oktober 2011 …. 5 maande van hel op aarde!!!

    (Openb 9:5) En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.

    (Openb 9:6) En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.

    (Openb 16:17) En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!

    (Openb 16:18) En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing.

    lees ook die boek “We Are Almost There!!!” by http://www.familyradio.com/graphical/literature/waat/waat_temp.html

  6. “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” (MATTEUS 24:39)

  7. (Dan 12:4) En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.
    (Dan 12:9) En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.

    (1Th 5:4) Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.

    (1Th 5:5) Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.

    (1Th 5:6) Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

    Soos in die dae van Jesus het God weer ‘n blindheid oor die kerkstruktuur gestuur. Matt 24:15 het op 21 Mei 1988 in vervulling gegaan sonder dat enige iemand dit agter gekom het (soos ‘n dief in die nag). God het self belowe dat hy ‘n krag van dwaling stuur.

    Ons hemelse Vader het alreeds met sy oordeel begin, soos in die verlede het by Sy “huis”…

    1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

  8. Johannes: Ek het regtig waardering vir jou passie vir hierdie saak, maar dit is vir my persoonlik moeilik om ‘n klomp gelykluidende skriftekste aan mekaar te lap en dan gevolgtrekkings daaruit te maak.
    Daar is verder net heeltemal te veel werk vir gelowiges in hierdie wêreld en in hierdie lewe om net te wag. Ek hoop maar dat Hy my aan die werk sal kry wanneer Hy weer kom, op die uur wat niemand ken nie en niemand verwag nie.

  9. Net ‘n gedagte of wat; Immanuel beteken “God met ons”. Nou as Jesus by God is, wat met ons is, dan is Jesus ook met ons. Rom. 8 v 1, wys ons, dat daar geen veroordeling is, vir die wat in Christus Jesus is (LW. nie was of sal wees, maar “is”, teenswoordige tyd). As ons kinders van die lig is, dan moet ons in Christus Jesus wees, want Jesus sê, dat Hy die lig van die wêreld is. Daar is dus veroordeling vir die, wat “nie” in Christus Jesus is nie. Seker hulle wat nog in duisternis is. Die vraag is dus nou; Wag ek vir die lig of is ek in die lig? Wag ek om in Christus Jesus te wees of is ek in Christus Jesus; of anders, is ek in die duisternis en nie in Christus Jesus?

  10. Hans: Ek dink nie mens moet die beeldspraak wat in die Romeine teks gebruik word buite rekening laat nie. Deur geloof word ek met Christus verenig en dan is ek in die lig. As ek in Jesus Christus glo is ek vrygespreek en is daar dus geen veroordeling nie. Die beeldspraak wil die implikasies van geloof in Christus uitlig.

  11. Attie, ek moet met jou verskill as ek kyk na 1 Kor. 12 v 27, wat sê ” Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik”, asook Kol. 1 v 24, ” Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;”
    Jou nuwe Bybel vertalings is op grond van sekere dogma’s vertaal en dit blyk of jy uit daardie hoek, uit jou stelling maak. Ek verkies maar die ou vertaling sodat ek nie mislei kan word nie. Om geloof in Christus te hê, is om in Sy gemeente werksaam te wees omdat geloof sonder werke is dood. ‘n Dooie geloof, is dus van geen nut en lei net na ewige dood.

Lewer kommentaar op Sammi Kanselleer antwoord

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑