TIEN VRAE AAN CHRISTENE

Uit my bietjie kontak met mense wat meer krities na Christene kyk, is dit vir my duidelik dat daar ‘n hele paar tergende vrae is wat hulle graag vir Christene sou wou vra. Ek het ‘n lys gemaak van tien sulke vrae.

Laat my net eers sê dat ek met die vra van die tien vrae nie vir een oomblik die indruk wil skep dat ek ‘n klaar geformuleerde antwoord op elkeen van hierdie vrae het nie. Inteendeel, daar is sommige van die vrae waarop ek self graag ‘n duidelike antwoord sou wou hê. Hierdie is net vrae waarmee ek in my werk en in my kontak met ander mense oor die afgelope tyd mee te doen gekry het.

Die tien vrae is:

1. As God dan wel bestaan, waarom is daar iets soos die bose?

2. Die geskiedenis van die kerk (Soos bv. die Kruistogte en ander gebeure) wys dat die Christendom ‘n onderdrukkende ondertoon het. (Waarskynlik sou die teologiese regverdiging van apartheid hierby ingereken kon word.) Hoe verklaar julle sulke gebeure?

3. Ek verstaan dat Christendom vir jou die weg na die God die Vader is, maar dit is tog seker nie moontlik dat dit enigste weg na God is nie. Is daar nie dalk meer as een weg na God nie?

4. Die beeld wat ons van Christene het is dat hulle arrogant en eksklusief is. Hoe regverdig julle hierdie indruk met die boodskap van liefde en vergifnis?

5. Hoe weet julle dat die Bybel beter en meer korrek is as enige ander godsdienstige geskrifte?

6. Waarom laat God toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur?

7. Wat word van al daardie mense wat gesterf het sonder dat hulle ooit die goeie nuus oor Jesus gehoor het?

8. Die kerk is vol skynheilige mense wat jou graag wys op wat die regte leer is, maar geen hart het vir mense wat met die sogenaamde regte leer sukkel nie en ook nie altyd die regte leer balanseer met die regte lewe nie. Skynheiligheid?

9. Waarom sal God enige mens hel toe stuur?

10. Dink jy regtig die wrede, bevooroordeelde en onregverdige God van die Ou Testament is die God en Vader van Jesus waarvan die Nuwe Testament getuig?

Watter vraag dink jy het die dringendste een of ander antwoord nodig en hoekom dink jy so?

32 thoughts on “TIEN VRAE AAN CHRISTENE

Add yours

  1. Thinus

    Ek dink eerlik nie Attie bedoel om mens op ‘n dwaalspoor te sit nie, deur hierdie vrae te beantwoord sal dit vir jouself ‘n duidelike idee gee waarin en hoe en wat jy werklik glo.

    Ek gaan bietjie hieroor nadink en waag om myself te sif, ongemak in mens se binneste voorspel bevraagtekening, insig en bevestiging wat sluimerend in jou onderbewuste skuil.

    Nie waar nie Attie?

  2. Thinus: Hierdie is vrae wat mense vir Christene vra. Natuurlik wil hulle ons op die “spot” sit en vir ons vrae vra wat nie maklik beantwoord kan word nie. Ons kan nie die vrae wegwens nie, hulle gaan die vrae aanhou vra. Ek wonder hoe belangrik is dit vir Christene om rekening te hou met hierdie vrae as hulle die mens van vandag wil bereik.
    Catharina: Jy is reg, ek wil niemand op ‘n dwaalspoor sit nie, maar ek herinner my ook aan daardie vers in Timoteus wat ons aanspoor om ‘n antwoord te gee aan almal wat van ons ‘n antwoord eis vir die hoop wat in ons lewe.

  3. Sjoe ek het probeer, maar ek kan dit nie verkort nie.
    1. My beskeie mening gebaseer op my persoonlike ervaring, insig en oortuiging.

    Om 1 te kan beantwoord glo ek, moet ek iets van die wese van die mens, God en die Bose verstaan; Wie, wat, waar en hoe, betrekking daarop het.

    ʼn Eier bestaan uit 3 dele; die dop wat die wit en geel inhok. Die mens,(gees, siel en liggaam) God en die Bose is primêr Gees en geeste se bewegings word nie beperk deur omhulsels nie. ‘Astrale-projeksie’ en ‘bid in die gees bestaan’ of jy dit wil aanvaar of nie.

    Bose magte sal, as jy hulle vastrapplek gee deur mee te maak aan hulle praktyke, in jou liggaam kom woon. Dis skrikwekkend, maar waar. So ontvang ons ook die Heilige Gees wat by ons inwoon wanneer ons Christus Jesus aanneem as ons persoonlike Verlosser en Saligmaker en dan het die Bose geen mag of heerskappy oor ons nie.

    Toe Satan tot ʼn val gekom het, het hy nie sy mag verloor nie, MAAR, toe Christus die dood oorwin het, het hy ondergeskik geword aan HOM. Christus Jesus het hom reeds oorwin en deur Hom verkry ons die ‘krag’ en ‘gesag’ om die Bose teë te staan. Die finale verwydering van die Bose gaan gebeur as die Nuwe Hemel en Aarde tot stand gekom het.

    Ek het verlede week ‘Geestelike oorlogvoering ‘ geskryf deur Bennie Mosterd by iemand gekry – ISBN 1-86829-489-7
    Ek kan dit beslis aanbeveel, dit bevestig wat ek uit ervaring geleer het.

  4. Catharina: Dankie vir jou gedagtes wat jy deel. Dit is baie belangrik dat ons die reeds behaalde oorwinning van Jesus Christus raaksien. Watter vraag dink jy vra mense wat nie Christene is nie dalk die meeste? EK is net nuuskierig.

  5. Attie
    Sjoe Attie, ek weet dit is seker moeilik om te glo, maar ek is nie baie spraaksaam oor godsdienstige sake nie, of moet ek eerder sê ek gesels net hier daaroor. Naby my is daar diegene wat meen dat die Bybel ʼn storieboek is en dat Christene skynheilig is. So dan moet dit 8 wees.

  6. Sjoe Attie, ek weet dit is seker moeilik om te glo, maar ek is nie baie spraaksaam oor godsdienstige sake nie. LOL. Naby my is daar diegene wat meen dat die Bybel ʼn storieboek is en dat Christene skynheilig is. Dan pas 8.

  7. Ek is ‘n nie-Christen, en ek stem saam dat hierdie vrae baie pertinent is. Dit is inderdaad van hierdie vrae wat my van ‘n Christen in ‘n nie-Christen verander het. Die vrae, en ek is bevrees, die attitude soos Thinus s’n. Moenie vra nie, moenie dink nie, of jy is ‘n slegte Christen. Seker maar iets van Luther se “reason is the whore of the devil” rigting van dink. In elk geval, dit sal interessant wees om hierdie gesprek dop te hou.

  8. Catharina, jy beantwoord glad nie punt 1 nie. Die vraag is, hoekom is daar die bose? Jou antwoord veronderstel reeds die bestaan daarvan. Ek verstaan nie hoe wat jy gesê het, aan jou dit duidelik maak hoekom God die bose geskape het of toelaat nie.

  9. Attie, die vraag wat ek deesdae die meeste aan Christene vra, is hoekom glo julle aan ‘n God? En hoekom hierdie een? Ek kan nog die geloof aanvaar wat deur subjektiewe ondervindinge geskep is, maar dit is nie die geloof van meeste Christene nie, wat tog voorhou dat dit ‘n objektiewe realiteit is dat hulle God wel bestaan en die enigste ware God is. Hoekom?

  10. Michael: Dankie vir jou inset. Ek moet met jou eerlik wees dat ek nie klaar geformuleerde antwoorde het op elkeen van hierdie vrae nie, maar ek veronderstel jy het dit reeds gelees in die “post”. Ek veronderstel wat jy bedoel met onbjektiewe geloof is ‘n geloof wat deur iemand anders se woorde aan jou as die waarheid oorgedra is, en nou glo jy dat wat hulle aan jou oordra die waarheid is, alhoewel jy geen persoonlike ervaring van sodanige God gehad het nie. Ek hoop ek het jou reg verstaan?

  11. Doom At

    Daar is nie antwoorde op daai vrae nie, net opinies, hipoteses, die beste is om maar te lees wat Christus gese het, daar is per slt van rekening een God, Christus maak dit duidelik in Johannes 15, dan ook nou weer het ek nie enkeeer gelees dat Jesus enige ander geloof of Religie afskiet nie, trouens het hy van die romeinse centurion gese dat hy nog nooit in Palestina iemand met die romein se geloof teegekom het nie.

    Al daai vrae is reliegiese vrae, maar as ons in die Gees lewe is ons verseker van ons eie heil.

    Mense wat daai vrae vra is arrogant, en mense wat hul daarteen wil verweer om die ander te oortuig is dalk ook?

    Ek verloor eerder al daai argumente en wen die Gees……

    Die wat ore het moet hoor….

  12. Praat ek mense engele tale maar dis nie uit liefde nie
    Is my woorde hol simbole, klanke sonder melodie
    Al kan ek geheime uitle, en berge deur geloof versit
    Of al het ek al die kennis, sonder liefde is ek niks….

  13. Attie, wat ek bedoel met objektief waar, is dat dit op meer as net persoonlike religieuse ondervinding bestaan. Om beter te verduidelik, ek kan ‘n spirituele of godsdienstige ervaring beleef wat God oF Jesus en sy leer vir my ‘n werklikheid maak. Maar net so het jy Boeddhiste wat persoonlike ervarings het wat vir hulle dit duidelik maak dat die Boeddhistiese leer waar is. Daar is Moslems wie se ervarings dit vir hulle duidelik maak dat Allah God is en Mohammed sy profeet, en dan sal hulle heilige boek ook nou nog hulle geloof daarin staaf, of anders om. Niks differensieer hierdie subjektiewe ervarings van mekaar nie. Behalwe natuurlik dat elkeen sal volhou dat SY ervaring eg is, en die ander een s’n vals en waarskynlik demonies is.

    Die Christelike leer hou egter voor dat hy die enigste REGTE geloof is, met die enigste REGTE God, dus gaan dit nie net oor die subjektiewe ervaring van bogenoemde nie, maar daar word eerder gesê dat hierdie is objektief waar, dit is vir almal waar, ons glo nie in God net omdat ons dit kan beleef nie, want ander mense beleef ander Gode se bestaan. So waar is die objektiewe bewyse? Wat bewys dat Jesus God is, en nie byvoorbeeld Allah, of Krishna, of Zeus nie? Hulle volgelinge het ook hulle heilige boeke en hulle godsdienstige ervarings.

    Ek hoop dit maak dit bietjie duideliker wat ek bedoel.

  14. Vraag 9 is voo die handliggend….

    God stuur nie die mens hel toe nie. Hy doen dit homself…

    Ek dink die vraag moet lees

    Tot hoe ver moet die siel vergaan om nog gered te kan word?…

  15. God is universeel, maak nie saak waar jy gaan nie, religie het te make met tradisie, niks meer nie.

    Ek het baie moslem vriende wat na my toe kom met vrae, oor geloof, en hulle se ek is ‘n regte christen, hulle kyk op na my, maar ek kyk op na hulle ook, omrede hul altyd iets vir ‘n ander persoon oor het, hulle word geklas as terroriste, en fundamentaliste, maar ons kan by hulle leer……

    Wie besluit wie gaan hemel of hel toe, ek en jy? is daar hemel en hel, is mense produkte van hul omstandighede? as iemand nie ‘n normale lewe het nie, by who’s standards?

    Ek wonder of onse bybelse Jesus welkom sou gewees het in die kerk? Of sou Hy onder sensuur geplaas gewees het, dalk onder huis arres?

    Waarvoor het Jesus gestaan, wat is die koningkryk van God? Verstaan ons hoekom het God die wereld so lief gehad dat hy sy enigste seun gestuur het.

    Hoekom gebruik al die verkeerde mense in die bybel?

    Mense verstaan nie van godsdiens en dogmatiek en hebreus nie, maar hulle vertaan diens en hulp en kos en klere en LIEFDE, terwyl ons so besig is om opinies met mekaar te bespiegel, ly mense honger, word vermoor, word verstoot, pleeg selfmoord ens….

    Is dit nie die einste goed waarteen Jesus Christus gepraat het nie?

  16. Attie, ek dink jy som dit goed op. Ek sal die hele vraag rondom Skrifuitleg ook op die lysie wil plaas. Hoekom word sekere tekste kontekstueel verstaan, en ander letterlik? En die neiging om die verstaan van die teks aan te pas met die verloop van die eeue.

    Elkeen van die vrae is eintlik ‘n gesprek op sy eie.

    Oor jou vraag oor watter een die dringendste ‘n antwoord verdien, sou ek dink dit hang af met wie jy praat. Persoonlik, sou ek meen dit is nommer 2.

  17. Jasper
    Jesus is die Weg en die Waarheid en die Lewe; alleen as jy Hom verwerp is jy verlore, dit gaan nie oor die graad van sonde nie, dis NOU wat saak maak, NOU as jy Sy roepstem hoor en antwoord.

    Ek lees in Romeine 10:5 Verlossing is vir elkeen wat glo, en dit is wat ons Christelike geloof so uniek maak. Dit kanselleer jou vraag nie waar nie? Jesus het gesterf sodat ons gered kan word, ongeag hoe laag ons gedaal het. Hy bevestig dat hy juis aarde gekom het vir die siekes (siek in gees).

    Efesiërs 2 ‘Die lewe uit die dood’ is die moeite werd om te lees.
    Sagaria 3 spreek boekdele.
    Sagaria 8 van vers 26

  18. Justine, soos die polisieman sê,
    “somebody has to go to jail”

    Jy is dood reg, “alleen as jy Hom verwerp” is jy verlore.

    Dit is hier waar my vraag inkom. Hoe ver verlore kan so mens raak en hoe kry jy hom terug op die pad na saligheid. Is dit moontlik en waar is die keerpunt.

  19. Jasper, ek dink jy ken die antwoord op die vraag ook. Dit is nooit te laat vir iemand om gered te word nie. So, ja dit IS moontlik. Almal verdien ‘n tweede, derde, vierde ……. kans. Dit is die persoon se keuse en besluit. Daar kom wel ‘n oomblik dat dit te laat gaan wees.

  20. My kosbare vriend

    Die enigste sonde wat nie vergewe word nie is; laster teen die Heilige Gees volgens Markus 3. Wees versigtig hoe jy dit lees, want vers 30 verklaar die gedeelte; die mense het Jesus beskuldig ‘dat die duiwel IN HOM IS.’ Dit is die lastergedeelte…

    Ek glo onwrikbaar wat die Heilige Gees vir my wys deur Sy Woord. Vandat jy hierdie vraag gevra het, het ek nie ophou bid vir ʼn antwoord nie. Ek het eers na 3 gaan slaap en al wat ek vind is wat ek reeds genoem het, keer op keer word dit bevestig

    1 Johannes 2 En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. 1 Johannes 3: 20 As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.

    Die laaste vers ‘Hieraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.’ Ek moet dit herhaal; Dit is die Heilige Gees wat binne in jou IS, wat veroorsaak dat jy antwoorde soek ……jy reageer op Sy Stem binne in jou.

    Die gelykenis van die verlore skaap spel duidelik uit; Wees saam met My bly want EK HET MY SKAAP GEKRY WAT VERLORE WAS. Sien jy, dit gaan nie oor wat jy gesondig het nie, dit gaan oor wat HY doen, as die duiwel sy kinders TYDELIK in sy greep gekry het. Let op hoe die uitdrywing van duiwels kort daarop volg.

  21. Thinus: Ons mag seker wees oor wat ons glo, en ek weet nie of ons ander sal kan oortuig nie, maar ek wonder of ons kan begin praat oor aanvaarding dat jy anders dink en voel as ek oor hierdie dinge, maar kom ons praat met mekaar. Ek dink jy is reg as jy later sê dat mens liefde verstaan en dat liefde ‘n universele taal is, wat dalk vir ons deure oopmaak om te verduidelik waarom ons doen wat ons doen.
    George Maru: Ek luister nogal graag na wat jy sê al gaan ons op ‘n paar punte van mekaar verskil. Ek gaan die vraag oor hoekom mense tekste op verskillende tye op verskillende maniere hanteer. Ek vermoed dit het te make met wat ons behoefte wat ons op daardie stadium het en dan verstaan ons maar die teks soos ons graag wil. Dis maar hoe ek dink.
    Justine: Dankie vir jou insette. Oor die sonde teen die Heilige Gees is daar boekdele geskryf. Ek wonder hoe moet ‘n mens Paulus se vyandigheid teenoor Christene en Christus verstaan?
    Jasper: Dankie vir jou stimulerende deelname.Ek sien heLo het ook ‘n antwoord gegee wat ek grotendeels mee saamstem. Ek het nog nooit gehoor van iemand wat so ver geval het dat dit nie moontlik was om om te draai nie. Uit ervaring weet ek dat mense war aktief by Satanisme betrokke was baie swaar kry. Kan mens verder as dit val?

  22. Attie, ek glo daar is ‘n baie diep verborge wysheid hierin opgesluit. Mens moet die eendersheid van gebeure dwarsdeur die Bybel bymekaarbring en dan kry mens insig.

    Bloedvergieting was by offerandes, Moses, Jesus en baie ander gelowiges betrokke. Paulus het gemoor terwyl hy nog nie met Jesus ʼn persoonlike verhouding gehad het nie, maar kyk wat het daarna gebeur…… Die vervolger word ʼn volgeling en verspreider van die Goeie Nuus van Jesus.

    Openbaring 6 handel oor die 5de seël; dit handel oor diegene wat vir hulle geloof gesterf het.

    Hoe liewer God ons het, en hoe groter die taak wat Hy aan ons toe te vertrou, hoe feller die aanslag van die satan.

    Die duiwel karring nie met die wat alreeds aan hom behoort nie.

  23. Toe ek klein was, was daar ‘n ou prentjie wat in ouma Bettie se kamer gehang het. Ek onthou die verwysing van die nou en breë pad so goed. Die keuse wat ons as sy volmaakte skepping kan neem. Die nou, moeilike paadjie OF die bree, maklike ene.
    Noudat ek soveel ouer en wyser is, verstaan ek dit baie duideliker. Die breë pad, mag, geld, korrupsie. Die nouer ene, etiese, morele waardes.
    Jip, die bose is nie God se skepping nie, dis ons wat KIES om daarby betrokke te word.
    God het ons volmaak geskape, met ‘n rein siel. Dis ons keuses op watter pad ons gaan loop. Die feit bly staan dat EIE EK te belangrik geword het en die liefde wat ons in ons harte vir ons medemens moet hê, word elke dag meer en meer getoets.
    Die nou paadjie sal en was nog nooit maklik nie.

  24. Ek lees maar hier en probeer ook verstaan hoe hierdie vrae betekenis vir my kan hê.
    Die Bybel stel dit reguit dat daar 1 Kerk, 1 Geloof en 1 God is, nie 20 Kerke, 1 Geloof en 1 God nie. Watter 1 is die regte? Hy sê dan ook dat God Gees is en die wat hom aanbid moet die doen in Gees en in waarheid. Verder sê Hy dat die oumens eers af gesterf moet word voor Jesus in jou gebore kan word… is die oumens (en ou gewoontes) nie die bose nie? Meskien is daar baie minder as n monster met horings en n denkbeeldige oorlog, nee wat, my God het klaar vir my gekom, ek wag nie nog tot die sogenaamde oordeelsdag nie, en die oorlog wat gevoer word tussen goed en sleg doen ek nog elke dag, wanneer die oumens en sy ou dinge weer wil oorneem!

  25. Julle praat snaakse goed hier. Hoe kan daar vrae wees. Daar is geen vrae sonder antwoorde nie. Al die vrae word duidelik en helder in die Bybel geantwoord. Die aarde is in ses dae geskape en klaar. Nou stry mense daaroor. Hoekom?

    Jona was in die vis se maag en klaar. Nou stry mense daaroor. Hoekom. Omdat hulle nie lusier wat God sê nie.

    Ek het ander vrae waarmee ek hoop julle kan help. Ek het eendag van ons kerk se petrolgeld gesteel om my kar mee vol te maak. Niemand het diet agtegekom nie maar dit pla my nou. Moet ek dit stil terugsit of moet ek dit in die openbaar bely. Of kan ek maar net stilbly. Ek sal dit nie weer doen nie.

  26. Rina: Ek dink die minste wat jy kan doen is om die geld terug te gee indien dit binne jou vermoë is. Ek dink die beste ding om te doen is om terug te gaan, te erken wat jy gedoen het, vergifnis te vra en dan die geld terug te gee indien dit binne jou vermoë is. Hoop dit help.

  27. Dankie Attie. Ek waardeer jou raad. Maar dit is maklik om te praat. Die kerk sal my uitskop of laat toesluit as ek hulle vertel. Net iemand wat self in so ‘n posisie is weet wat dit is. Eintlik weet ek nie eers meer of alles so eenvoudig is soos wat ek altyd gedink het dit is nie. Jy sê ek moet eerlik wees. Dan beteken dit ek moet seker ook eerlik wees oor al die vrae in my kop. Wat dan? Ek weet vir ‘n feit my dominee is nie eers eerlik nie. Hy het ‘n skelm verhouding met my beste vriendin gehad maar niemand sal haaar glo nie.

    Ek weet nie meer waarheen nie.

  28. Rina: Ek het net gisteraand vir ‘n groep tieners ook gesê: Moenie oor die ander ou “worry” nie. Worry oor jouself. Die ds. se verhouding is sy saak. Onthou ook ek het gesê wat die minste is wat jy kan doen. Gee dit terug. Begin daar. oor die vrae in jou kop… is daar iemand wat nie vrae het nie.

  29. Volgens wat ek dink, is vraag 1 se antwoord soos volg: God is die die volgende en die bose is die teenoorgestelde:
    Lig – duisternis
    Liefde – haat
    Woord wat skep/stig – woord wat vernietig/afbreek
    Waarheid – leun
    en so kan ons aangaan, want al hierdie dinge bestaan, naamlik, die posetiewe en die negatiewe. So, God bestaan en die bose ook.
    Op vraag 2 wil ek die volgende sê; Die Christendom is die evolusie van die ou gelowe wat kultoreel gebonde was. Christus het ons kom vry maak van kultorele en nikssêggende rituele en is dus vir alle volke en rasse. Die ou gelowe het wetenskaplike, tegnologiese en mediese vooruitgang verhoed a.g.v. primetiewe denke, terwyl Christendom (die lig van die wêreld) ‘n drastiese verandering, geleidelik, veroorsaak het. Kyk maar na ander, wat nog vandag reedelik primetief lewe, waar Christendom nie is nie. Die vryheid van Christus het van Sy begin af, heelwat gegroei tot nou toe
    Vraag 3. Jesus is die enigste middelaar tussen God en die mens en daarom het hy neergedaal na die hel om almal wat voor Hom was, redding te bring.
    Vraag 4. As daar een is wat nie sonde het nie, gooi die eerste klip. Ander mense wat anders glo en nie Christenne is nie, het ook arogantes en eksklusiewes onder hulle.
    Vraag 5. Omdat die Bybel vir alle eeue geskryf is en nie as geskiedenis nie. Onthou, die letter is dood en dit maak dood, maar die Gees, maak lewendig. Ek lees in die profetiese boeke van een wat ‘n visioen sien van ‘n vliegtuig met ‘n jet enjin. Daardie dae was daar nog nie eers masjienne en wiele nie.
    Vraag 6. Het God die slegte dinge toegelaat? Die Koninkryk van God is nie van hierdie wêreld nie. As ek jou ‘n splinter nuwe motor gee en jy pas dit nie op nie. Is dit nou my skuld en het ek dit nou toegelaat of was dit jou keuse?
    Vraag 7. Lees maar 1 Kor. 15 v 29 (ou vertaling), van hulle wat die lewende laat doop vir die dooie en Open. 7 v 9, van die menigte wat niemand kan tel.
    Vraag 8. Uit die duisende het Gideon maar 300 waardiges gevind en Jesus het op ‘n stadium 72 dissipels gehad en op die ou end was daar net 12. Moet nie toelaat dat ‘n wolk van aards gebrek, Hom voor jou aangesig bedek.
    Vraag 9. Deur Christus Jesus, stuur God ons Sy verlossingsplan en ons self oefen ‘n keuse uit. Dus is dit nie God wat my hel toe stuur nie, maar wel ek wat die keuse maak.
    Vraag 10. Die Ou Testament word nie altyd reg verstaan nie en daarom wil dit wreed voorkom. Hier is een voorbeeld; Die slavin en die vrye vrou, wat ons van lees in die OT. was twee sinnebeelde, volgens wat in die NT staan. Die betekenis van die name, van die 10 seuns, van die slavin, stem ooreen met die tien gebooie en die van die twee seuns, van die vrye vrou, stem ooreen met die nuwe gebooie, naamlik, om God lief te hê bo alles, en jou naaste soos jouself. Daar is dus baie dieper boodskappe te sien, as wat mense dink, wat menslikerwys dink.
    Ek vertrou dat jy my nie sal sien as verwaand, weens my antwoorde en tog, kan ek moontlik, eksklusief wees.

  30. Hans: Dankie vir jou omvattende kommentaar. Ek wou nie regtig al die vrae beantwoord nie. Ek wou net Christene bewus maak van die vrae wat gevra word en dat ons nie alte maklik veroordelend moet raak teenoor mense wat hierdie vrae vra nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: