Elke mens het sekere vaste oortuigings en selfs baie belangrike oortuigings oor hom-/haar self en oor hierdie wêreld. Hierdie oortuigings sluit die volgende in: Eie waarde; identiteit; hoop; toekoms; lewensdoel; lewenssin. Hierdie oortuigings kan beskryf word as die huis wat elkeen van ons vir onsself bou. Dwarsdeur ons lewens is ons besig om hierdie huis te bou. Die verwagting is dan dat hierdie huis my sal beskerm en bewaar teen die krisisse en aanslae van hierdie lewe.
Somtyds gebeur dit egter dat ons hierdie huise van ons op sand bou. Bv. kan een persoon sy hele selfbeeld en eie waarde bou rondom sy/haar fisiese voorkoms.
Iemand anders kan dalk weer sy/haar identiteit en self-verstaan bou rondom ‘n beroep waarvoor hy/sy baie jare lank voorberei het en waaraan hy/sy baie toegewy is.
Iemand anders kan weer sy/haar lewensdoel sien as die grootmaak van hulle kinders en om beheer oor die kinders te behou.
Iemand anders kan weer die hoop op die toekoms bou rondom die verwagting dat daar genoeg geld in die bank sal wees om vir enige onvoorsiene gebeure voorsiening te maak.
Dan kom die aanslae en die storms. Die besonder aantreklike persoon raak ouer en begin plooie ontwikkel of word beseer en sy/haar aantreklike voorkoms is iets van die verlede.
Die beroepspersoon sien hoe hy sy werk verloor as die maatskappy personeelverminderings begin toepas.
Die ouer se kinders word groot en begin hulle eie lewens leef.
Mediese uitgawes en versorgingsoorde gebruik al die spaargeldjies op.
“Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.” (Matteus 7:27)
Wanneer Jesus hierdie gelykenis vertel is Hy self die rots waarop die huis gebou moet word en is die boodskap eintlik vanselfsprekend: Ons moet ons huis op Hom bou.
Elkeen van ons kan ons eie waarde en ons selfbeeld bou op die waarheid dat Jesus Christus elkeen van ons as so waardevol beskou dat Hy bereid was om vir ons te sterf.
Hy sien elkeen van ons as onvervangbaar kosbaar en Hy wil ons nie sien verlore gaan nie.Jesus noem ons sy vriende. Die Bybel noem ons God se kinders en ‘n uitverkore volk.
Ek kan my lewensdoel bou rondom die wete dat Jesus my geroep het om sy volgeling te wees.
Ons hoop vir die toekoms kan gebou word rondom die wete dat God in sy Woord belowe het dat Hy vir ons sal sorg en in al ons behoeftes sal voorsien.
Die Bybel wil ons hierdie feit laat raaksien: Ek is wie ek in Christus is. Ek moet my huis bou op die rots Jesus Christus. In Christus is my eie waarde onmeetbaar; het ek ‘n nuwe identiteit; het ek ‘n nuwe lewensdoel; sien ek die sin van die lewe deur God se oë. Ek bou my huis op die rots Jesus Christus.
Alhoewel ons die duidelik verskil tussen sand en rots ken, gebeur dit tog dat ons so nou en dan ‘n deel van ons huis op sand bou.
Krisistye is dikwels daardie tye in ons lewe wanneer die Here ons laat besef dat ons op iets anders as op God alleen vertrou het. ‘n Krisis kan soms God se uitgesteekte hand wees waarmee Hy ons wil optrek na ‘n veilige plek waar ons ons huise op die vaste rots, Jesus Christus ons gekruisigde en opgestane Here Jesus kan bou.
Ek dink nie dit sou baie wys wees om vir iemand wat deur ‘n krisis gaan te vertel dat sy/haar huis op sand gebou is nie. Daardie opmerking sal nie net wreed wees nie, maar dit sal waarskynlik net die krisis vererger. Ek dink ons moet elkeen eers na ons eie fondasies gaan kyk en seker maak ons huise staan nie op sand nie. Gaan maak ‘n bietjie seker of jou lewe draai rondom die gedagte dat jy God moet liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag en jou naaste soos jouself.
Jý kan vir die mense rondom jou ‘n rolmodel wees van hoe ‘n mens lewe as jy die Here vertrou om vir jou te sorg. Jy kan ‘n voorbeeld wees van hoe iemand lewe wat veilig in God se liefde en trou rus. Jy kan vertel van jou eie worsteling om God te vertrou en hoe jy elke keer by Hom onvoorwaardelike aanvaarding en liefde beleef het.
Op die manier kan jy dalk ‘n baie groot rol speel om mense rondom jou sinvol deur ‘n krisis te help.
Dit is so ‘n belangrike waarheid hierdie, ek wens elke mens weet dit wanneer hy sy huis begin bou. Dat ‘n mens se identiteit en karakter nie bepaal word deur jou omgewing wat jy skep nie maar deur wie en wat jy in Christus is. Dit kan mos deur geen storm weggeneem word nie. Dan sal mense verstaan om nie God te vra om dit terug te bring – of Hom te beskuldig dat Hy die oorsaak is nie – maar om anders te dink, naamlik dat God die middelpunt is waarom my lewe draai.
In die hedendaagse tyd sê mense so maklik dis nie wat jy weet of wie jy is wat tel nie, maar wie jy ken, bedoelende invloedryke mense. Eintlik is al wat tel om te ken, net Jesus. Eers as jy alles verloor het en staande gebly het, weet jy hoeveel innerlike sterkte jy het en waar jou krag vandaan gekom het.
sonkind…ek kan nie meer saamstem nie!
Alec: Om God die middelpunt te maak is ‘n keuse. Om Hom die middelpunt te hou is harde werk en een keuse na die ander.
Sonkind: Gelukkig ken ons een Persoon in ‘n baie hogere plek. Ek wens ons kan dit leer sonder om alles eers te verloor.
Bib: lekker om weer van jou te hoor.
Seker het ek n amper fatalistiese uitkyk. Ek glo dat my, noem dit maar hoofpaadjie, so soort van vir my beplan is, en ek moet bv geleenthede gryp of los as die tyd daar is, en ek gebruik dinge, hetsy ‘looks of skills’, soms dalk even mense of wat ookal.
Maar noudat ek dink, ek ‘bou’ nie rerig daarop nie, miskien dan hoekom dinge meer gematig en stabiel bly!
My golwe meer gematig, dalk oor ek geneig is om dinge in Sy hande te laat?
En nee, ek sê nie ek strike nie sand nie, glo my!
Plattertjie: Sekere lewensvaardighede kom met die jare en soms sonder dat ‘n mens besef bou jy tog op rots. Een van hierdie lewensvaardighede is waarskynlik om te aanvaar dat die Here in beheer van my lewe is en dat Hy die groot prentjie sien terwyl ek net die nou sien. Wat ek in die nou moet doen is om die regte dinge te gryp en die regte dinge te los terwyl ek weet: Alles werk ten goede mee.
Dankie vir jou inset.
Doom en ander, ek het jul raad nodig op my inskrywing op my blog. Is daar meriete in?
Sammi: EK kan ongelukkig nie op jou blog kommentaar nie. Ek het probeer registreer, maar ek word telkens weer uitgegooi. Ek dink dit klink na ‘n goeie idee.
Dankie Doom, nou moet ons net bid dat daar wel mense sal wees wat bereid is om hul kameras te neem en die stories gaan kry.
Attie,
tov hierdie stelling:
“Jý kan vir die mense rondom jou ‘n rolmodel wees van hoe ‘n mens lewe as jy die Here vertrou om vir jou te sorg”
Die oorsprong vir krisisse lê juis in hierdie filosofie. Daar is geen kumulatiewe bate om ‘n vroom lewe te lei met die verwagting dat die Here sal sorg nie.
Niks verkeerd met die stelling nie, net onvoldoende. Soveel mense neem dit verkeerd op wat dit in ‘n dwaalstelling omskep.
Die effektiewe prinsiep van die stelling moet staaf dat ‘n lewe as rolmodel juis daaroor gaan dat gawes en geleenthede wat die Here bied toepaslik gebruik word om vooruitgang te bewerkstellig en sodoende ‘n voorbeeld aan mede gelowiges en nie gelowiges te stel as ambassadeur van die Vader.
Dit is wat Constantine die Pagane geleer het en wat Christenskap en die inherente bates van Christenskap aan die wêreld voorgestel het. Dit is ‘n vergete prinsiep, maar een wat in tyd die mensdom se oë oopgemaak het en die platform gelê het vir ‘n vooruitsrewende Christen populasie.
Deur bloot te sê “volg die rolmodel en die Here sal sorg” is nie reg nie want dit onderrig nie die persoon wat homself in ‘n krisis bevind nie. Hy moes uit die staanspoor vooraf reg onderrig gewees het om homself in die eerste plek nie in so situasie te bevind nie.
Dit is die probleem met ek met moderne Christenskap het. Dit is oor die algemeen reaktief instede van pro-aktief en die uiteinde is dat daar oneindige elende onder die mensdom is. Wanneer laas het jy ‘n leraar hoor preek oor wat dit beteken om so te oes dat daar vir die droogte voedsel sal wees.
Is dit nie die kerk se doel om juis ‘n pro-aktiewe gemeenskap te skep onder sy lidmate nie?
Jy laat my baie diep dink en baie eerlik teenoor myself wees vanoggend, veral die gebrek aan balans wat ek gehandhaaf het in my lewe. My eie waarde is diep gewortel in Christus, in hom IS ek, maar, as ek omdraai en terug kyk wonder ek oor myself; hoe het dit gebeur dat ek TOEGELAAT het dat ek soos ʼn skaap maar net voort geploeter het, myself en eiewaarde ondergeskik gestel het aan iemand anders se behoefte om te skitter.
Die elemente van eie waarde se vlammetjie het soms gevaarlik laag gebrand, maar dit was nooit finaal geblus nie. En toe gebeur dit dat ek iemand ontmoet wat sonder dat hy dit besef het, my hele lewensuitkyk het verander het. Ek het myself uiteindelik in sy oë gevind, en nou wil ek voluit leef, ek leer daagliks iets nuuts van myself, ek ‘face’ my vrese en oorwin dit.
Die anderkant van donkerte is lig.
Dankie Attie
Jasper: Jy se: “Hy moes uit die staanspoor vooraf reg onderrig gewees het om homself in die eerste plek nie in so situasie te bevind nie.” Eerstens: Nie alle krisisse is die mens se eie maaksel nie. Daar is geen manier wat die paartjie wie se ses maande oue babatjie ek Maandag begrawe voorberei kon word vir die krisis wat hulle nou beleef nie. Tweedens: Hierdie vertroue op God om vir my te sorg verstaan ek as ‘n vertroue ten spyte van my omstandighede. Natuurlik is dit waar dat mens hierdie dinge vooraf moet aanleer sodat jy dit in ‘n krisis so kan aanvaar, ons moet onder andere leer dat God in beheer is, selfs al lyk dit nie so nie.
Ami: Die Here gebruik mense om ons anders en nuut na onsself te laat kyk. Wonderlike getuienis dat jy jou vrese “face” en oorwin.
Ds Attie,
Om iemand te verloor is nie vir daardie persoon ‘n krisis nie. Dit is ‘n onbeskryflike hartseer en psigologiese terugval en “loss” wat in byna alle gevalle opgeleide berading en ondersteuning nodig het.
Dit word ‘n krisis as daar tekortkoming in die ondersteunings infrastruktuur is vir diegene geraak en enige insidente spruit voort uit hulle verlies. Hetsy dit kos op die tafel is of ‘n psigiese knak. Iemand moet daar wees. Daar is geen mate van pro-aktiwiteit en ondersteuning om daardie mense se verlies as krisis te sien nie. Dit baat hulle nie.
Dit geld vir enige faset in ons bestaans wereld en ek verwys weer na my vorige aanhaling oor reaksie en pro-aksie.
Om kos in die mond van my kind te sit kan ek nie my buurman se vroom lewe naboots en dan terug sit en dink God gaan nou voorsien nie.
Ek herhaal weer, myns insiens is jou stelling is nie verkeerd nie, dit is net “incomplete”.
Jasper: Ek dink nie ons praat regtig by mekaar verby nie. Ek dink dit het ‘n bietjie te make met hoe mens krisis definieer. Ek sien ‘n krisis as enige gebeure wat die potensiaal om die relatiewe rustigheid en vrede van jou lewe so te versteur dat jy destruktief daarop reageer. As ek jou reg verstaan word daardie eers ‘n krisis wanneer destruktiewe reaksie begin plaasvind. Ek stem 100% saam met die gedagte van die navolgiong van jou buurman se vroom lewe. Ek dink daar is baie “Christene” en “Christen-werkers” wat so reageer en dan van die Here verwag om deur ander (dikwels die kerk) vir hulle te sorg.
Ds Attie,
Jy verstaan my heeltemal reg. Jou sienswyse oor waar die krisis begin skaaf my nog so bietjie en ek dink dit is dalk te wyte aan my eie sienswyse oor die lewe. Hieronder het ek ‘n skets geskryf wat ek hoop dit ‘n bietjie meer beeldend sal oordra. Vir my is ‘n dominee soos die ou man in die skets…
As die storm kom, en hy kom wel want dit is die natuur (Ek kan hom nie weg wens nie…), dan moet daar iemand wees wat die seile werk as ek platgeslaan is met koors.
Vir my is die storm nie die krisis nie.
Dit is wie die seile span as ek nie meer die krag het nie.
Die ou man van die see kan nie die storm keer nie, maar hy kan die jong seeman opvoed en leer hoe om bedag te wees op sy voorbereiding vir die storm en hy kan die kuswag kommandeer om daardie bootjie kant toe te sleep want hy weet waar sy mense hulle op die oop see bevind omdat hy die strome ken.
Die opvoeding wat ek kry oor hoe om myself voor te berei vir die storm, gee my die riglyn hoe om my lewe te lei sodat ek elke dag voor ek die water vat na die horison kyk vir ‘n donker wolk.
Maar wat gebeur as die storm my op land vaskeer? Is ek voorberei daarop. Lei ek verlies want my skip is deur die golwe op die breekwater stukkend geslaan. Wie gaan my help om die skip te herbou sodat ek my kinders kan voed.
Die ou man van die see en die lokale vissers is die mense wat gewoonlik help.
As hulle rug draai en ander pad kyk het ek ‘n krisis op hande….
Jasper: Dankie dit is ‘n baie moor gelykenis wat jy gebruik. Ons doen nou opleiding van mense om ander in krisisse by te staan. Ons leer juis: Wanneer die storm toeslaan, moet daar ‘n vertrouensverhouding wees sodat die ou man kan raad gee. Goed gestel.
Ek hoor jou ds.
Ek sou wat wou gee om so opleiding sessie by te woon. Jis ek het darm al goed gesien wat die siel skaaf. Nou nog.
Ek het so gediggie oor openbaring op my blog gesit. Hoop dit kan vir jou die siel wys.