Ek lees die ander dag hierdie syfers: Vandag sal ongeveer 90 000 mense hulle lewe aan die Here Jesus oorgee.
In die Christelike wêreld is daar 1,06 miljard Rooms Katolieke, 386 miljoen in onafhanklike charismatiese gemeentes, 342 miljoen Pretestante, 215 miljoen Ortodoks, 79 Miljoen Anglikane.
Daar is meer anders-kleurige Christene as wat daar blanke Christene is.
Daar is meer Christene in die Suidelike halfrond as in die noordelike halfrond en die beweging is tans na die Suide en na die ooste.
Hierdie dinge gebeur omdat die kerk van die Here Jesus met arms van liefde uitreik na die wêreld.
Naledi Pandor het die twyfelagtige voorreg om feitlik daagliks die nuus te haal oor haar voorgenome eed wat in die skole gesê gaan word. Die eed krap ‘n paar van ons ernstig om.
Die gedagte van so ‘n eed is natuurlik stok oud. ‘n Eed as ‘n paar woorde wat mens opsê om jou te herinner aan waaroor dit nou eintlik gaan. Die lees so: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” (Lukas 10:27)
Ek wonder, hoe sou hierdie eed die wêreld verander as ons dit uitleef? Ek wonder wat het Jesus verwag toe hy hierdie “eed”, wat uit die Ou Testament kom, by sy dissipels ingeskerp het? Ek dink Jesus het ‘n totaal veranderde wêreld verwag.
Ek dink die bekende laaste opdrag van Jesus Christus gee vir ons ‘n idee van die verwagting wat Jesus gehad het: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:19)
Met die lang arms van liefde moet ons mense dissipels van Jesus Christus maak. Liefde is veronderstel om dissipels van Jesus te “produseer”.
Maar Jesus het ook ander uitsprake gemaak wat ons dalk kan help om die impak van die liefdesgebod te verstaan:
Bv. Matteus 4:19: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Ek lees dat visvang in die tyd van Jesus op ‘n bepaalde manier gewerk het. Die visserman trek die net vol visse in die boot in (Engels: Netting) en dan word daardie visse op die strand uitgegooi om die goeies en die slegtes van mekaar te skei (Engels: Separating).
Om vissers van mense te wees beteken dan om die genade van God vir mense aan te kondig of aan hulle oor te dra (Engels: Netting) en dan aan die wat luister twee dinge aan te bied: Vergifnis en oordeel. (Engels: Separating)
Die missionêre taak van die kerk het te make met die lang arms van die liefde wat die Goeie Nuus oor Jesus Christus tot by mense te bring. Volgens Matteus 10 moet ons so ver as wat ons gaan die Goeie Nuus verkondig dat die Koninkryk van God tot by mense gekom het. Die wat dan positief reageer op die boodskap van die Koninkryk van God wat naby gekom het, word dan ook deel van die koninkryk van God.
Die koninkryk van God in hierdie lewe is die gemeenskap van gelowiges waar die Jesus-eed mense se lewens verander. Die koninkryk van God is ‘n groep mense (Dissipels in verskillende fases van dissipelskap) wat God meer liefhet as enige iets anders en hulle naaste soos hulleself. In hierdie nuwe gemeenskap, is God se liefde aan die werk. Mense word met God versoen. Mense beleef genesing en herstel in hulle lewens op grond van daardie liefde. Waar mense hierdie Jesus-eed in werking sien, vind vergifnis en genesing plaas.
Met ‘n mag en ‘n krag so klein soos die van ‘n mosterdsaad word die wêreld op sy kop gedraai en sal 90 000 mense vandag hulle lewens aan die Here Jesus oorgee.
Ek gaan begin om twee maal per dag hierdie Jesus eed vir myself te sê. Dit gaan die laaste ding wees wat ek vir myself sê voor ek aan die slaap raak en dit gaan die eerste ding wees wat ek vir myself sê voor ek in die oggend opstaan.
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” (Lukas 10:27)
Laat 'n boodskap