DISSIPLINE VAN DIENSBAARHEID

Daar is hierdie besondere verse oor gebruike in die Ou Testament.

“Wanneer jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal.” (Eks. 21:2) “As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar ‘n gaatjie in sy slaaf se oor steek met ‘n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.” (Eks. 21:5-6)

Dan lees mens in die Nuwe Testament hierdie woorde van Paulus: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.” (2 Kor 9:19)

Die slaaf van Eksodus was vry, dit was sy keuse om slaaf te bly. Paulus was heeltemal vry – dit was sy keuse om homself diensbaar aan God te stel. Die Griekse woord wat met “diensbaar” vertaal word is ‘n verbuiging van die woord “doulos” wat gewoonlik met slaaf vertaal word. Daar dan die effense kontak met die Eksodus 21 gedagte.

Die punt: Dit is die aard van ons dienswerk. As ek in diens van Christus is, dan is dit my keuse. Diens is nie ‘n lys van dinge wat ek doen nie, alhoewel ek as dienskneg sekere dinge doen. Dienskneg wees is nie ‘n lys van etiese reëls wat ek nakom nie, alhoewel ek heel waarskynlik gaan strewe na gehoorsaamheid in die klein dingetjies.

Diensbaarheid  is ‘n leefstyl.

Diensbaarheid is ‘n geestelike dissipline. Net soos Rugby veel meer is as die reëlboek, so is diensbaarheid baie meer as  net die doen van ‘n paar diens-werkies. Dit is een ding die dinge te doen wat ‘n dienskneg doen, maar heeltemal ‘n ander ding om ‘n dienskneg te wees. Dit is moontlik om deur die “moves” van ‘n dienskneg te gaan sonder om die dissipline van diensbaarheid te bemeester.

Gesindheid – innerlike ingesteldheid – teenoor dit wat ek doen, dit is waaroor dit gaan en waar mens regtig die dissipline van diensbaarheid moet gaan soek. As daar een ding is wat die kerk in Suid Afrika en by name baie Christene op hulle CV sou kon skryf dan is dit iets in die lyn van: “Ek het vir baie jare baie getrou daaraan gewerk om my gesindheid reg te kry.” Ons werk so hard aan gesindheid dat ons nooit by die eintlike doel van die regte gesindheid uitkom nie.

Die dissipline van diensbaarheid is eers aangeleer wanneer innerlike ingesteldheid in balans is met uiterlike dade. Maar, die een kom nie voor die ander nie. Terwyl ek aan my gesindheid van diensbaarheid werk oefen ek om die dinge te doen wat ‘n dienskneg doen. Net dan, ontdek ek die ware vreugde van diensbaarheid.

Die balans tussen innerlike ingesteldheid en uiterlike dade is ook nie ‘n konstante balans nie. Daar is die tye wanneer ek ten spyte van die gat deur my oor (Sien Eks. 21:5-6)  wat my daaraan herinner dat my diensbaarheid my keuse is, dat el die dienskneg-werkies met ‘n uiters swaar gemoed doen. Dit is die tye wat ek die dienskneg-werkies doen omdat ek weet die Here verwag dit van my en nie omdat ek wil nie. Die balans is versteur, maar terwyl ek daardie diens-werkies doen, verander die gesindheid en word die balans herstel.

Gister was ‘n baie frustrerende dag. Ons krag is 9 – uur die oggend af en die dame wat die klagtes by die munisipaliteit hanteer het duidelik nie belang gestel om uit te vind waarom die krag af is nie. Sy het net die hele tyd gesê dat hulle aan die probleem werk. Na vier het ek die nooddienste in Rustenburg gebel en die man se gesindheid teenoor sy werk was bietjie anders. Hy het ‘n elektrisiën uitgestuur en binne  30 minute was ons krag aan. In hierdie tegnologiese era kan ek min werk doen sonder my rekenaar en krag. Gistermiddag was baie belangrik in my voorbereiding vir vandag en die res van die week na Sondag toe. Ek kon die hele middag nie ‘n enkele stukkie werk doen nie.

Met hierdie frustrasie en innerlike ongelukkigheid daag ek by die kerk op vir my aandprogram. Glad nie lus vir dit wat voorlê nie. Eers sien ek die twee paartjies wat ek Saterdag trou, daarna sien ek drie ander mense oor ‘n stukkie gehoorsaamheid in hulle lewens. Ek sien die ouers van die sewe babatjies wat ek Sondag doop en kuier met die tieners in die tienerselgroep. Terwyl ek hierdie dinge doen waarvoor ek die middag eintlik nie lus was nie, besef ek weereens hoe lekker hierdie werk vir my is. Ek wil niks anders doen as net dit nie. Ek besef weer, ek is in hierdie werk by wyse van keuse. (Dalk moet ek ‘n oorring begin dra om my daaraan te laat dink dat daar eintlik met ‘n els ‘n gat deur my oor gedruk moes gewees het, omdat ek gekies om lewenslange slaaf van God te wees.) Ek wil geen ander werk doen nie, maar ek doen dit nie net die tye wanneer ek lus is daarvoor nie.

Ek gebruik hierdie voorbeeld omdat ek graag die gedagte wil laat dat mens nie moet wag tot jy lus is om daardie stukkie dienswerk te doen nie. Doen dit. Gaan klop aan by jou nuwe buurman en verwelkom die gesin in julle gemeenskap; Gaan meld aan by daardie diens-organisasie waaroor jy al so lankal wonder; Gaan help in jou gemeente soos jy jouself al baie kere voorgeneem het om te doen;  Neem more ‘n kospakkie saam vir daardie honger man wat jy elke dag raakloop; Gaan kuier vanaand by daardie een wat so ernstig siek is en wat net nie uit jou gedagtes uit wil gaan nie.

As jy dit doen en jy vind uit hoe lekker dit is, gaan jy spyt wees jy het nie al lankal begin nie. Die gesindheid kom met tyd. Die regte gesindheid volg gewoonlik op gehoorsaamheid.

Sterkte met jou dissipline van diensbaarheid.

One thought on “DISSIPLINE VAN DIENSBAARHEID

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: