VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY? (3)

Die onderwerp van versoekings het my baie aan die dink gehad.

My oorspronklike bedoeling was om Sondag-aand ‘n bietjie met die tieners hieroor te gesels. Ek gebruik gewoonlik die reaksie op die “blog” om my te help nadink oor die onderwerp. Tieners is ook deel van die dink-proses. Ons het ‘n tiener-selgroep waar min of meer 45 tieners elke Dinsdag-aand by die kerk bymekaarkom en dan kuier ons in vier groepe. Ek het ‘n groep van 14 meisies tussen Graad 10 (Standerd 8 ) en Graad 12 (Standerd 10). Die gesprek met daardie tieners Dinsdag-aand was baie interessant. Die ander groepleiers se belewenis was grotendeels dieselfde.

Ek het hierdie gevolgtrekking gemaak: Dit is vir die meerderheid van die tieners in daardie groep nie belangrik om versoekings te weerstaan en plekke en situasies te vermy waar die versoekings hulle kan oorweldig nie.

Dit is natuurlik weereens ‘n bevestiging van wat ons al baie lankal weet, maar sukkel om te hanteer. Daardie groepie tieners gaan nie nou skielik besluit om “nee” te sê vir ‘n versoeking en om weg te bly van die plekke af waar die versoekings is, net omdat ek wat hulle dominee is so sê nie. Ek is op my gemak daarmee. Ek aanvaar dat mense vandag self besluite neem en dat ek nie vir hulle besluite kan neem nie. Ek aanvaar egter ook die verantwoordelikheid om pad-aanwysers te plant om hulle te help om in die regte rigting te beweeg.

Ek het self twee kinders wat teoreties al deur die tienerfase is, maar ek het een wat midde in die fase is en ‘n ander wat volgens teorië (weereens) volgende jaar die fase betree. Daarom sien ek dit as my roeping en my taak om tieners te help om waarde-keuses te maak.

Maar, nog steeds was die tieners se reaksie vir my ‘n uitklophou. Ek het tot Donderdag-oggend gesukkel om van daardie hou op die kennebak te herstel. Tydens my stiltetyd Donderdag-oggend skryf ek in my joernaal oor hierdie ding waarmee ek worstel. En ek skryf toe hierdie woorde: (My joernaal is soort van ‘n brief wat ek vir die Here skryf.)

“Here, ek verstaan nie wat hier aan die gebeur is nie. Ek verstaan dat tieners vir hulleself wil dink en dat ek hulle nie kan keer om vir hulleself te dink nie, maar ek verstaan nie dat dit nie vir hulle belangrik is om “nee” te sê vir versoekings en die dinge wat skadelik is vir hulle lewens nie. Dit lyk vir my dit gaan net oor “Looking after number one!”. Hierdie tieners neem besluite en maak keuses wat net hulle eie selfsugtige behoeftes en belange en begeertes bevredig. Ek kan nie verstaan dat hulle nie die gevare insien nie.”

Later die dag lees ek in Martin Loyd-Jones se boek oor die Bergpredikasie hierdie woorde: “To expect Christian conduct from a person who is not born again is heresy. The appeals of the gospel in terms of conduct and ethics and morality are always based on the assumption that the people to whom the injunctions are addressed are Christian.”

My onmiddelike probleem met daardie opmerking is dat die meeste van die tieners met wie ek werk Christene is. Daarmee bedoel ek dat hulle weet dat Jesus, die Seun van God, deur sy sterwe aan die kruis hulle sondeskuld betaal het en dat hulle nou kinders van God is wat die ewige lewe het en wat hemel toe gaan.

Oor die loop van twee dae is ek herinner aan wat Dietrich Bonnhoefer “goedkoop genade” genoem het. Ek reken: Ons verkondig geloofsekerheid en nie die evangelie van die Koninkryk van God nie. Ons het miljoene mense wat weet dat hulle hemel toe gaan as hulle doodgaan, maar ons het heelwat minder mense wat weet dat hulle veronderstel is om in hierdie lewe tot eer van God te lewe.

Natuurlik maak ons ook die fout om dit alles net oor die boeg van sonde te gooi. Dan sê ons: “Die persoon wat die minste sonde doen is ook die persoon in wie se lewe Jesus regtig koning is.” Vir my is sonde die begin. As God my kan vertrou om ten opsigte van die sonde die regte keuses en die regte besluite te neem, sal Hy my ook kan daarmee vertrou om ten opsigte van baie belangriker dinge die regte besluite te neem. Dan kan Hy my ook vertrou om besluite te neem en keuses te maak waardeur Hy sy koninkryk hier op aarde kan laat kom.
Die vraag wat ek graag saam met die tieners wil probeer antwoord is: “Wie is nommer een in jou lewe?”

Is dit nie waar dat jy keuses gaan maak en besluite gaan neem wat “nommer een” tevrede gaan stel nie. As jy “nommer een ” is, gaan jy keuses maak en besluite neem wat jouself tevrede stel en tevrede hou. As jou vriende “nommer een” is, gaan jy keuses maak of besluite neem wat jou vriende tevrede stel en tevrede hou. As jou ou of jou meisie “nommer een” is, gaan jy keuses maak en besluite neem wat hom of haar tevrede stel en tevrede hou. Daardie besluite gaan dalk vir ‘n paar mense rondom jou “stupid” en sinloos lyk, maar jy gaan weet: “I’m looking after number one.”

Die eerste vraag is: Hoe word iets of iemand “nommer een”? Ek dink baie keer is dit ‘n onbewustelike proses. As jy weer sien, dan is dit nou maar net hoe dit is. Die “nommer een” plek is geneem.

Die tweede vraag is: “Hoe word iets anders of iemand anders “nommer een”? Die enigste antwoord wat hier vir my sin maak is: Jy kies dit. Jy neem ‘n bewustelike besluit: Hierdie iets of iemand is nou “nommer een”. Daardie keuse of besluit het natuurlik ‘n “major” impaak op jou leefstyl. Elke keuse of besluit gaan verander omdat daar ‘n nuwe “nommer een” is.

Ek onthou toe ek en Renate die idee begin kry het dat ons dalk ons kallers in dieselfde kraal gaan jaag, moes ek ‘n keuse maak en ‘n besluit neem. “Hierdie vrou neem nou “center stage” in my lewe. Alles wat ek kies en alles wat ek besluit sal moet wys: Renate is “nommer een”. Ander vroue moes terugstaan. Ek self moes terugstaan. Op ‘n manier moes my kinders terugstaan. Vandag is dit nog steeds so. Renate is “nommer een” omdat ek gekies het en besluit dat sy nommer een gaan wees.

Ek dink mens moet êrens in jou lewe ‘n besluit neem om te sê: God is “nommer een”. Omdat Hy nommer een is, gaan ek deur my besluit en my keuses wys dat Hy “nommer een” is. Totdat ek bewustelik die keuse maak, gaan Hy altyd tweede viool speel teenoor iets of iemand anders. Eers dan – as jy daardie keuse gemaak het of die besluit geneem het, dan eers kan ek met jou praat oor versoekings. Dan eers kan ek met jou praat oor wat dit is wat die Here van jou verwag. Tot dan is jy vry om jou keuses te maak en jou besluite te neem, maar ek het eintlik geen reg om jou uit te wys op die dinge in jou lewe wat bots met die beginsels van God se Woord nie.

Ek het nog nie naastenby klaar gedink hieroor nie. Maar dit was ten minste lekker om my gedagtes bietjie hier neer te skryf.

9 thoughts on “VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY? (3)

Add yours

  1. Ek wens elke tiener kan ‘jou dink’ lees, en dalk, hopelik, self reg begin dink!

    Ek wens ek het ‘jou dink’ many moons ago gehad…

    En ek hoop baie ouers van tieners lees hier!

  2. Ek kon die versoeking net nie weerstaan nie. Baie Geluk met jou verjaarsdag vandag. Mag die jaar vir jou en jou gesin geseënd wees en mag jy nog lank vir jou gesin, familie, vriende en gemeente gespaar bly. Dit is goed dat al die ander bloggers ook weet hoe waardeer ons jou in die gemeente en wat se inspirasie jy vir ons is. Dankie wat jy in die gemeente doen en veral met die tieners in hulle vorming vir die kerk in die “real world” daarbuite. Nogmaals Geluk !!!

  3. Plattertjie: Ek moes hierdie week terwyl ek al hierdie dinge dink en gister terwyl ek hierdie dinge skryf maar weer teenoor myself ook antwoord: Hoe staan hierdie dinge met jou? Sien een van die dinge wat my altyd verstom is die besondere vermoë dat die “eie ek” het om uit die dood uit op te staan. Wanneer die “eie ek” weer na vore kom en elke gerug van sy dood met “vengeance” die nek om draai, dan is dit die “eie ek” wat weer “center stage” kom inneem. Plattertjie, dalk moet ek en jy maar saam besluit: “Center stage” is nie vir my bedoel nie. “Center stage” is bedoel vir die Een wat my eerste lief gehad het. Dan draai ons die horlosies terug en ons leef vandag met die oog op die “many moons” voor ons.
    HeLo: Baie dankie vir die goeie wense. Ek moet darem sê ek beleef dat julle my waardeer en bederf. Dankie!

  4. Doom Attie

    Ek dink skuld gevoelens kan ook grootliks bydrae tot versoekings, ek dink baie jong mense vandag word ook gemanupileer deur volwassenes en dan kan dit ook moeilik wees om versoekings te kan weerstaan, omdat die gevolge erg kan wees, ek dink veral hier aan Robbie Clay, omdat hy nou eers die moed gekry het om daaroor te praat.

    Is daar nie iets wat ons kan doen om sulke jong mense te help nie?
    Ek maak myself beskikbaar

  5. Wanneer ek dit lees kry ek trane in m oe, dit raak my so diep en steets weet ek ni hu om di keuse te mak ni hu mt ek se ja ek sl Hom no.1 maki? Hoe hoekom en gan ek val en kan op¡ ja ek wt ek mt di keuse mak ma groepsdruk bly my agtertoe trek n v my se j kani, hy mag ni eerste ws ni! Ek ek is nu al emotoneel uitgeput ek kani me dink ni ek is vode ek wil op ge want ekt ni krag om te baklei ni. I rede waarom ons versoekings kies is want dis makliker dis moeite om i christen te wees, las jar was ek geestelik fiks en di jar is dit of ek ni di maraton kan dn ni. Ek stan in di midl van di pad n is te mug om verder te gan. Ek deur om ni op te stan voor di hele gemeente ni ht nt ng i baksteen op my muur km pak

  6. Thinus: Ek dink mens moet maar ruimte skep vir tieners om te praat.
    Kati: Jy is eerlik in jou worsteling met al hierdie dinge. Dit maak dit aan die een kant moeiliker maar dit maak dit ook makliker. Jy sê dit so reg: “Een rede waarom ons versoekings kies is, want dis makliker, dis moeite om ‘n Christen te wees.” Dit is moeite om ‘n Christen te wees. Ons is ‘n leuen vertel dat as mens ‘n Christen is is alles maklik en mooi en goed en voorspoedig – intussen weet ons almal dit is nie waar nie. Staan net waar jy is, ons is klomp wat saam met jou sal stap en jou sal help. Onthou: As gestuurdes van God; eer ons Hom; versorg ons mekaar; verleen ons hulp en bring ons hoop. Ek dink die Here stuur ons oor mekaar se pad om mekaar ter versoeg en te help en hoop te bring. Jy weet jy is vir my soos een van my eie kinders.

  7. Plattertjie: /we steps back in time. Die lewe saam met die Here is ‘n lewe vol tweede kanse. Ek dink graag daaraan dat sy vergifnis so volkome is, dat Hy elke keer vir my nog ‘n kans gee asof Hy nog nooit vir my nog ‘n kans gegee het nie. Jy is baie dapper.

  8. Attie, so pas op jou blog afgekom – dit great! Ek sit hier in die midde ooste op werkkontrak. Vir my gaan dit oor persoonlike waardes. Alles begin daar.
    Ons het 2 seuns, 15 en 20. Hulle persepsies van my is dat ek ‘n perfekte lewe lei – [drink nie te veel nie, rook nie, vloek nie ens] – mert die doel om vir hulle ‘n voorbeeld te wees, en, omrede ek hulle nie wil teleurstel nie. Dit was nogal skok vir my om hulle persepsies te hoor, omrede so iets het nog nooit by my opgekom nie! Dit is net hoe ek is – ek het my WAARDES. Dit is dinge wat vir MY belangrik is.
    My waardes laat my toe om nee te sê. [en baie tyd op my kniee ook!]
    My waardes laat my toe om dinge in ‘n ander lig te sien.

    Ek dink een van die belangrikste dinge [oorwegingspunte] wat ek nog ooit gehoor was [Hennie Stander?] wat sê – die toets vir jouself is – hoe tree jy op as jy alleen is, sal jy dit dan nog steeds doen?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: