KAN ONS SAAMWERK SONDER OM OOR ALLES SAAM TE STEM?

Ek lees graag die brief wat Paulus aan die Filippense geskryf het. Een van die redes is omdat die gemeente eintlik ‘n mooi en groeiende gemeente was – die eerste gemeente wat Paulus op Europese bodem gevestig het. Tog was Paulus baie bekommerd oor die eenheid in die gemeente. In ‘n sekere sin is eenheid ‘n bedreiging vir elke gemeente waar dit goed gaan.

Ons Afrikaners is glad nie onbekend met die probleem van verdeeldheid, skeuring, partyskap en tweedrag nie. Ons voel dit aan ons lyf. Dit is duidelik in die politiek, in kerke, in skole, in die sport. Ek sien dit ook in die manier waarop ons met mekaar in die kuberruimte gesprek voer. Ek dink soms ons Afrikaners het nie tweespalt, skeuring en verdeeldheid uitgedink nie, maar ons het dit naby aan vervolmaak.

By die gemeente in Filippi leer ek dat dit dikwels is wanneer mense ernstig voel en opreg is oor die gemeente – of oor ‘n ander saak – en oor hulle geloof, dat mense teenoor mekaar te staan kom. Hoe groter die passie en die entoesiasme, hoe beter die kanse dat mense teenoor mekaar te staan gaan kom. Ek wil soms aanvaar dat dit die rede is waarom Afrikaners so in geweldige konflik met mekaar is – ons voel baie sterk oor hierdie saak.

Ek kry egter baie kere die gevoel dat die sterk gevoelens oor ‘n saak daarmee gepaard gaan dat ek die ander persoon niks gun nie. Wanneer dit gebeur, dan kom die verdeeldheid – ernstige verdeeldheid.

Drie groot oorsake van verdeeldheid:

(i) Selfsugtige Ambisie:

Daar is altyd die moontlikheid dat mense nie die saak wil bevorder nie, maar net hulleself wil bevorder. In die kerkgeskiedenis is dit eintlik verbasend hoe die persone wat werklik waarde toegevoeg het tot die kerk – eintlik in hulle eie onwaardigheid weggevlug het van die rol wat hulle moes speel. (“Moet niks uit selfsug… doen nie.: (Fil. 2:3)
Ambrosius is ‘n mooi voorbeeld. Hy was die Romeinse heerser in die Milan omgewing. Hy het met besondere liefde en passie sy mense regeer. Toe die biskop van Milan dood is, moes die mense in die dorpie besluit wie die volgende biskop van Milan sou wees. Totdat een van die kinderstemmetjies uitgeroep het: “Ambrosius – Biskop! Ambrosius – Biskop!” Vir Ambrosius was dit ondenkbaar, hy het gevlug totdat die goewerneur self ingegryp het en Ambrosius as biskop van Milan aangewys het.

‘n Gesonde besef van mens se eie onwaardigheid is dikwels nodig as jy die eenheid wil beskerm.

Geen mens kan eenheid bevorder as net hy self in die middelpunt is nie. Een van die toetse of jy skuldig is hieraan kan dalk wees: Wie dink jy het nodig om te hoor dat sy/haar selfsug eenheid bedreig? (My gedagte hieroor is heel onder aan hierdie skrywe.**)
(ii) Behoefte aan persoonlike status. Status is vir baie mense die grootste versoeking as geld. Die begeerte om deur mense raakgesien te word, om deur mense uitgesoek te word en uitgesonder te word. As Christene is dit juis bedoel dat ons goeie werke sal doen sonder dat mense dit sien en dat mense deur dit wat ons doen die Vader in die hemel sal verheerlik. (“Moet niks uit uit… eersug doen nie.” Fil 2:3)

As ons kan leer om vir mense vir goed te wees en na mense om te sien sonder dat ander dit regtig weet of raaksien, dan vorder ons op hierdie pad. Dan haal ons onsself uit die middelpunt uit en die saak word belangriker as my eie persoon. Die behoefte aan persoonlike status het egter baie keer tot gevolg dat ek ‘n ander persoon se gewildheid en sukses moet ondermyn ten einde seker te maak dat die persoon my nie ‘n status verbysteek nie.

(iii) Self-gesentreerd. Wanneer ‘n mens net die hele tyd op sy eie belange fokus, is die persoon sonder twyfel op ‘n pad van konflik met ander. Vir die mens wat homself in die middel plaas, is die hele lewe ‘n kompetisie asof pryse en medaljes gewen moet word. Hierdie persoon dink altyd aan ander mense as opposisie wat uit die pad gedruk moet word en het ‘n algehele onvermoë om die groter prentjie te sien. Fokus op die self beteken ongelukkig die meeste van die tyd die uitskakeling van ander. (“… maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.” Fil. 2:4)

Natuurlik geld hierdie waarskuwings en vermanings vir die kerk. Maar… ek is in my hart daarvan oortuig dat hierdie vermanings ook met dieselfde gesag geld vir die Christen in die alledaagse lewe. Hierdie is die manier waarop ons daarin kan slaag om in hierdie wêreld effektiewe getuies vir die Here Jesus te wees.

** Indien jy dink dat iemand anders moet hoor dat hy/sy die eenheid deur selfsug bedreig, sal jy nie daardie persoon kan laat weet voordat jy nie self ernstige selfondersoek in hierdie verband gedoen het en aan jouself ‘n baie eerlike antwoord op die vraag oor selfsug gegee het nie. Ware leiers sien die groter prentjie. Alledaagse leiers sien ander as in kompetisie met hulleself.

Hoe beleef jy selfsug, die behoefte aan status en self-gesentreerdheid as ‘n bedreiging van eensgesindheid?

4 thoughts on “KAN ONS SAAMWERK SONDER OM OOR ALLES SAAM TE STEM?

Add yours

  1. As ons as Christene nie hierdie ding regkry nie, sal ons maar aanhou sukkel. As ons net ‘n klein bietjie minder selfsugtig ambisie kan hê. As elkeen net ‘n klein bietjie minder status bewus kan wees. As elkeen net ‘n klein bietjie minder self-gesentreerd kan wees. Ons sal ons eie mense nie ken nie.

  2. Ek het hier gelees en onmiddelik gedink aan die een persoon wat saam met my werk wat altyd besig is om te konkel. Ek het gedink aan die ander een wat so status bewus is en sy status deur sy adres en sy motors probeer wys, maar dit is eers aan die einde dat ek besef het dat ek maar eers bietjie selfondersoek moet doen. Ek moet nou erken ek sukkel om te aanvaar dat ander se dinge dalk net so belangrik kan wees, of selfs met tye belangriker kan wees as my dinge. As mense dan nie saam met my stem nie, dan ondersteun ek hulle nie en ek doen my ei ding op my eie manier. Onmiddelik is eensgesindheid daarmee heen.

  3. Attie

    ‘”Hoe beleef jy selfsug, die behoefte aan status en self-gesentreerdheid as ‘n bedreiging van eensgesindheid?” is ‘n retoriese vraag, Almal wil aanvaar word en liefgehe word. selfsug, status bewusheid en selfgesentreerdheid is die simptome van ‘n tekort daaraan of die oenskynlike tekort. Mense wat so is, is eintlik bang mense en ly aan ‘n minderwaardigheids kompleks agv verwerping in hul kinder jare, selfs daai mense skreeu vir aanvaarding en liefde, hulle wil in wees maar weet nie hoe nie, ons moet aanvaar dat hulle ook stukkend is en dat Jesus vir hulle ook gekom het.

    Werklike nederige mense word nie gefasineer deur ander se statusse nie, hulle aanvaar mense soos hul is, of jy nou george bush is en of jy nou ‘n boemelaar is, daar is geen verskil nie.

    Ons is almal in die selfde bootjie

  4. Dan nou weer het ek nog nooit iets heiligs op aarde teegekom nie, nog nooit nie, almal op aarde het tekortkominge, maak nie saak of jy agterlik of snobisties of selfsugtig is nie, niemand bly sonder tekortkominge nie, die beste wapen teen sonde is die belydenis van ons sonde en nederigheid, as ‘n ,mens jouself toespits op die twee aspekte sien ‘n mens eerder die goed in ander raak en dan koester jy dit.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: