Die eerste periode van vyf minute het gegaan aan lof en aanbidding. Die tweede periode van vyf minute is ‘n periode van wag.
“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.” (Psalm 46:11-12)
Hierdie is ‘n periode van stilte in die teenwoordigheid van God. Ek verkies om dit te sien as ‘n tyd waar ek my afsluit van alles rondom my en enige moontlike invloede van buite uitskakel. Ek bevind my deur geloof in die teenwoordigheid van die lewende God. Ek het geen bewyse nodig om te weet dat ek in sy teenwoordigheid is nie, ek aanvaar dit omdat ek glo en weet dat Hy die alomteenwoordige en onsienlike God is.
Hierdie periode is ‘n tyd waar ek my oorgawe en toewyding aan God bevestig en herhaal. Ek probeer om met my hele wese (gedagtes – verstand; emosies – hart; persoon – siel; dade – liggaam) te fokus op wie God is.
Hierdie periode van wag is soms ‘n periode van intieme kommunikasie waar gedagtes gevange geneem word in gehoorsaamheid aan Christus. Hierdie is die tyd waar die Heilige Gees gedagtes by my laat ontspring wat ek andersins nie die tyd of die geleentheid sou gehad het om te identifiseer nie. Ek nietige en sterflike mens is in die teenwoordigheid van die Almagtige en Ewige God.
Die periode van wag kan nie gejaagd wees nie. Na die mate wat die dissipline vorder het ek vergeet van die vyf minute reël en net in die besondere teenwoordigheid van God gesit. Die kontak met God is dikwels baie intiem en baie persoonlik en gevul met rustige vrede.
In hierdie oomblikke is ek in my gedagtes besig met God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Daar is selfs oomblikke waar ek niks sê nie omdat ek net wil fokus op my verhouding met Hom.
“Ek staan verstom voor U grootheid
Vader, Seun en Heilige Gees
bewus van U teenwoordigheid
wil ek net in U arms wees.”
Laat 'n boodskap