Die eerste periode van vyf minute het gegaan aan lof en aanbidding. Die tweede periode van vyf minute is ‘n periode van wag.
“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.” (Psalm 46:11-12)
Hierdie is ‘n periode van stilte in die teenwoordigheid van God. Ek verkies om dit te sien as ‘n tyd waar ek my afsluit van alles rondom my en enige moontlike invloede van buite uitskakel. Ek bevind my deur geloof in die teenwoordigheid van die lewende God. Ek het geen bewyse nodig om te weet dat ek in sy teenwoordigheid is nie, ek aanvaar dit omdat ek glo en weet dat Hy die alomteenwoordige en onsienlike God is.
Hierdie periode is ‘n tyd waar ek my oorgawe en toewyding aan God bevestig en herhaal. Ek probeer om met my hele wese (gedagtes – verstand; emosies – hart; persoon – siel; dade – liggaam) te fokus op wie God is.
Hierdie periode van wag is soms ‘n periode van intieme kommunikasie waar gedagtes gevange geneem word in gehoorsaamheid aan Christus. Lees voort “JÝ KAN LANGER BID!! (2)”