VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY? (2)

Gerald Jampolsky ‘n Amerikaanse Psigiater het die volgende opmerking oor versoeking gemaak: “When I am able to resist the temptation to judge others, I can see them as teachers of forgiveness in my life, reminding me that I can only have peace of mind when I forgive rather than judge.”

In 1887 het Henry Ward Beecher gesê: “All men are tempted.  There is no man that lives that can’t be broken down, provided it is the right temptation, put in the right spot.”

Paulus het in sy eerste brief aan die gemeente in Korinte geskryf: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” (1 Korintiërs 10:12-13)

Vier dinge oor versoekings:

1. Wees verseker die versoekings gaan kom.

2. Jou versoeking is nie uniek nie. Enige versoeking wat oor jou pad kom, het iemand anders al deur geworstel.

3. Jy het in jou die potensiaal om vir enige versoeking “nee” te sê.

4. Saam met die versoeking kom ook die uitkoms.

Ek het die laaste paar dae baie gelees oor versoekings. Dit is net wonderlik om te lees hoeveel raad daar is om versoekings te weerstaan en wat mens alles moet en kan doen om “nee” te sê vir versoekings.

Min wat sê: So maak jy as jy in die slaggat van die versoeking getrap het!

Ek dink ‘n versoeking ontwikkel en vier stappe:

(i)  GELEENTHEID: Die geleentheid duik op om ‘n ding te doen wat jy baie goed weet jy nie behoort te doen nie.

(ii)  GEDAGTES: Jy begin wonder of jy nie dalk hierdie geleentheid moet gebruik en hierdie ding doen nie.

(iii) GEDRAG: Jy doen die dinge wat jy die geleentheid voor het wat jy weet jy nie behoort te doen nie. ‘n Versoeking word eers ‘n sonde wanneer jy dit doen: Die geleentheid + die gedagte + gedrag = sonde.

(iv) GEVOLGE: Nou moet jy met die gevolge van jou gedrag saamleef. Hierdie gevolge kan baie dinge wees. Dit kan die veroordeling van ander wees, maar dit is meeste van die kere selfverwyt en skuldgevoelens en verhoudings-versteurings.

Romeine 6:23 sê die loon wat die sonde gee is die dood.

Iemand sal my waarskynlik met my verskil oor die manier waarop ek die vers nou gaan toepas, maar ek beleef dit dat sonde iets aan my verhoudings doen wat dalk met die woord “dood” beskryf kan word. Skielik is my verhouding met my medemens – dikwels die een teenoor wie ek gesondig het, dood. Daar gaan niks aan nie. Ons weet nie mooi hoe ons nou teenoor mekaar moet optree nie. Die gevolg van my sonde is verhoudings-dood tussen my en my medemens.

Skielik is my verhouding met die Here, ook ongemaklik – dood???. Ek is onseker oor hoe die Here oor my voel en wat hy dink. Ek weet Hy is teleurgesteld en ek weet ek het al soveel kere moes kom sê ek het gesondig deur iets te doen wat ek weet ek nie moes gedoen het nie, dat ek nie weet of Hy my nog ‘n kans wil gee nie. Die gevolg van my sonde is die ervaring dat ek my verhouding met God as “dood” beleef – daar gaan niks aan nie.

As ek terugkyk, dan weet ek die uitkoms was daar. Die Heilige Gees wat in my woon het saggies hier binne in my gesê:  “Hier is die pad, loop hierlangs.” Ek het my eie pad gekies. Daarom is die realiteit nou: Ek het nie die uitkom-kans wat daar was gevat nie.

Romeine 6:23 het ‘n tweede gedeelte. Die eerste deel sê: “Die loon wat die sonde gee, is die dood…” Die tweede gedeelte sê:  “… die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” 

Kan dit wees dat God in sy onbeskryflike groot genade saam met die versoeking twee uitkomste gee?

Die eerste uitkoms: Hier is die uitkom-kans, as jy so maak sal jy nie aan die versoeking toegee nie.

Die tweede uitkoms: As jy nie die uitkoms geleentheid aangryp nie, as jy my verloën en in die oomblik van versoeking maak of jy my nie ken nie en daarna worstel met skuldgevoelens en selfverwyt, onthou:

Jy sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal jou uit my hand ruk nie. (Sien Johannes 10:28)

Ek het jou by jou naam geroep jy is myne. (Sien Jesaja 43:1)

Het jy my baie  lief? (Sien Johannes 21:15)

Dan kan mens ook maar net antwoord soos Petrus daardie keer moedeloos geantwoord het: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” (Johannes 21:17)

Dan gebruik die Here daardie versoeking en jou toegee aan die versoeking om jou  te vorm.  Volgende keer…

16 thoughts on “VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY? (2)

Add yours

  1. Wanneer raak (wat volgens my ‘n gedragsprobleem is) iets wat vir ander mense ‘n groter probleem is as vir my ‘n sonde of moet ander mense aanvaar dis maar deel van my persoonlikheid? Dalk het ek volgens myself ‘n goeie rede hoekom ek so optree wat ek nie vir almal kan vertel nie want hulle sal nie verstaan nie. Ek voel dalk dit het niks met my geloof te doen nie maar ander mense voel ek kan nie ‘n Christen wees en so optree nie.

  2. Alec,
    Jy het my laat dink. Dit is die waarheid wat jy se. Partykeer dink ek ook hoe kan die persoon dit doen…..soos byvoorbeeld die een vrou was vreeslik ongeskik met haar kliente oor n lang tydperk wat ek in die winkel gekom het en dit het my altyd verstom, dat iemand wat afhaklik is van n klient se inkomste so n geaardheid he en so ongeskik wees, want my motto is, al is wat verkeerd wees vriendelik….en toe raai wat dierdie vrou land voor my spieel…..en haar man slaan haar en behandel haar soos wat!!!!!
    Toe het ook daarna nogal baie vir myself gese “Moenie iets se voor die storie agter die storie nie!!!!
    Is dit dan verkeerd…of versoeking …of alleenheid….of oorleweing???
    Sal graag wil hoor?

  3. Hier’s ek weer, hier’s ek weer met my pie-in-the-sky attitude 😉 –
    Alec, ek beleef dit al hoe meer en ek is diep dankbaar daarvoor dat hoe meer tyd ek met God spandeer (soggens as ek opstaan, sommer so deur die dag se ‘inval virre chat’, en laat middae as ek by die huis kom kuier ek en Hy bietjie langer oor ‘n koppie koffie onder die lapa, want as ek moet wag vir bedtyd bid ek myself so vinnig aan die slaap, dat ek die volgende oggend verskoning moet vra daaroor!! 🙂 – anyways – wat ek wou sê is dit: ongeag my omstandighede (en glo my dis ook nie aldag heaven on earth vir die gewone skepsel nie) glo ek dat as ek genoeg tyd met Hom spandeer Sy liefde en joy en geduld en genade letterlik afvryf – ek sukkel om mismoedig, moerig of ongeskik te wees at the worst of times.
    Ek stem saam – dit het seker niks met geloof te doen nie – dit verander nie hoe of dat jy wel glo nie, maar jou verhouding met die lewende God moet darem iewers deurskemer – Hy bly dan binne-in jou?? En ek stem ook saam met sonnekind – ek sal jou of die volgende persoon nie point net omdat ek blessed genoeg is om die lewe positief te benader nie – ek sal enigiemand wat ongeskik is eerder die voordeel van die twyfel gee en vra: “so sorry! having a bad day??”. Jy verstaan nie hoe ongelooflik goed mense reageer op ‘n woordjie van empatie nie – dis dus nie hulle geloof wat my verhinder om my geloof behoorlik en na waarde uit te leef nie. Dis dan al, dankie ds.

  4. Attie, jy sê: “geleentheid+gedagte+gedrag = sonde”. Maar staan dit nie iewers in die Bybel dat om die sondige gedagte te DINK is net so goed jy het dit reeds gedoen nie? ‘Skuus as ek nou die kat aan die stert beet het, maar ek het al baie keer erg sleg gevoel net omdat ek die sonde gedink het, al het ek nooit eers by die doen uitgekom nie.

  5. Kan ek my stuiwer in die armbeurs gooi. Alec: Is dit billik om ‘n ander ou se Christenskap te bevraagteken net omdat hy swak is waar jy dalk sterk is? Maar ek dink jy het ‘n punt beet as jy sê dat mens nie altyd vir ander kan vertel hoekom jy op ‘n sekere manier optree nie.
    Sonnekind:Jy gee vir my nogal ‘n mooi perspektief dat ‘n saakmeer as een kant het. Dalk meer as twee ook. Daar is hoe ek die dinge sien. Dan is daar hoe jy die dinge sien. En dan is daar mense die dinge sien. En dan is daar hoe dinge regtig is.
    BB: Go girl!!! (Dit is mos “girl” nè?) “dit het seker niks met geloof te doen nie”. Dit het wel daarmee te make dat mens nie jou getuienis uitleef nie en dat jy die Here sekerlik teleurstel en dat jy jou verhouding met Hom benadeel. Empatie… jy laat my dink. Diep dink. Dankie man (vrou).

  6. Ek sal later dalk ‘n opmerking maak oor die gesprek wat hier aan die gang is. Ek wil net graag Sonkind se goeie vraag antwoord. Natuurlik is jy reg oor daardie sondige gedagtes. Ek wil graag daardie “gedagte” deel dan verstaan as 2 Kor. 10:5 se gedagte waar ek elke gedagte gevange neem in gehoorsaamheid aan Christus. In my gedagtes sien ek die versoeking raak en die enigste gedagte wat nie sonde is nie, is die gedagte om Christus te gehoorsaam… daarna begin die moeilikheid. Die meeste sondes rondom pornografie gebeur tog in ‘n mens se gedagtes, of het ek daardie een verkeerd?

  7. Ek gaan lees toe nou die “post” oor “Op soek na die onsigbare God.” Stunnig. Ek kan nie anders as om hier te kom kommentaar nie.: Ek lees hierdie woorde:
    “I mention these failures not to dampen anyone’s faith but to add a dose of realism to spiritual propaganda that promises more than it can deliver. In an odd way the very failures of the church prove its doctrine. Grace, like water, flows to the lowest part. We in the church have humility and contrition to offer the world, not a formula for success. Almost alone in our success-oriented society, we admit that we have failed, are failing, and always will fail. The church in A.D. 3000 will be as rife with problems as the church in A.D. 2000 or 1000. That is why we turn to God so desperately.

    The Christian has a great advantage over other men,” said C. S. Lewis, not by being less fallen than they, nor less doomed to live in fallen world, but by knowing that he is a fallen man in a fallen world.” That recognition forms my starting point in undertaking a journey to know God.”

    Dankie doom, is daar nog van daardie boek oppad?

  8. Net nog iets op Sonkind se goeie vraag, want dit staan inderdaad in die bybel, maar ek dink dis nie so letterlik bedoel nie.

    Voorbeeld – Jy sien jou kind wat oppad is om die koffiebeker van die tafel af te trek en jy sê, “don’t even think about it.” ???

    My mening is dat jy beperkte beheer oor jou gedagtes het. Dit spring in jou kop sonder vra daarvoor, maar dat jy wel totale beheer oor jou gedrag het. Jou gedrag is ‘n doelbewuste keuse.

  9. ^stoutsus^ weet jy hoeveel kere wens ek dat die sonde daar by “konsepsie” (Ek reken dit is gedagtes) kon “aborteer” – dit beteken vir my dat ek die die uitkoms wat die Here saam met die versoeking gee aangryp. Die sondige mens in my, sukkel. Dan beland ek in die Romeine 7 situasie:D ie goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen, dit doen ek wel.
    Maar… dank die Vader ek weet ook wat dit beteken om my rug op die versoeking te draai. Ek het al… Ek dink almal van ons het al, ons gee net nie genoeg erkenning aan onsself wanneer ons dit doen nie.

  10. ^stoutsus^ Ja… ek dink jy is reg. Ek het nie altyd beheer oor die gedagtes wat by my opkom nie, maar ek dink êrens langs die pad word sekere gedagtes gedrag ook. As ek daardie gedagte bly troetel nadat ek besef het ek behoort nie, dan dink ek is dit nie meer ‘n gedagte nie, dan is dit doelbewuste gedrag. Ek kies om aan te hou om met die gedagte te speel. Daardie aanhaling uit die Bybel dink ek wil sê dat as ons weet wat die regte ding is om te doen dan moet ons dit doen. Ek dink die gedagte kom dikwels onwillekeurig terug, maar dan kan mens mos maar jouself daaraan herinner dat jy klaar die besluit geneem het.

Lewer kommentaar op attie Kanselleer antwoord

Blog at WordPress.com.

Up ↑