VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY?

Dietrich Bonnhoeffer het oor die oomblik van versoeking gesê:

“At this moment God is quite unreal to us, he loses all reality, and only desire for the creature is real; the only reality is the devil. Satan does not here fill us with hatred of God, but with forgetfulness of God … The lust thus aroused envelops the mind and will of man in deepest darkness. The powers of clear discrimination and of decision are taken from us.”

Baie van my tyd en aandag word gegee aan tieners. ‘n Paar weke terug het ek met hulle gepraat oor die holrug geryde onderwerp van groepsdruk. Ek was nogal verbaas oor die reaksie wat ek van die tieners gekry het. Uit my gesprekke daarna het dit geblyk dat mens eintlik nie oor groepsdruk kan praat sonder om oor versoeking ook te praat nie. Versoekings is ‘n werklikheid waarmee tieners ( en volwassenes????) verskeie kere op ‘n dag te doen kry.

Ek verstaan ‘n versoeking as ‘n toets of ‘n beproewing wat so ontwerp is dat dit aan ‘n persoon die geleentheid gee om iets onaanvaarbaar te doen of te sondig deur iets te doen wat nie God se goedkeuring sal wegdra nie. Partykeer lyk dit asof die versoeking ten doel het om die mens te laat twyfel oor wat reg en verkeerd is, en ander kere is die doel net om te sien of die persoon regtig weet en verstaan wat reg en wat verkeerd is. ‘n Versoeking sou dalk ook ten doel kan hê om die mens te wys tot watter mate hy/sy wel in staat is om ‘n versoeking te weerstaan, met ander woorde om bietjie jou versoeking-weerstaan-spiere te oefen.

Tieners word elke dag met versoeking gekonfronteer en nie almal van hulle is voorberei om daardie versoekings te hanteer nie. Maar versoekings is nie net ‘n probleem vir tieners nie. Op een of ander stadium word elke mens gekonfronteer met die drang om een of ander sonde te doen. Dit kan iets wees soos ooreet, skinder, seks, pornografie, oneerlikheid, ens. Somtyds is daardie versoekings sommer ietsie klein en nie eers iets om te noem nie, maar ander kere is daardie drang om die verkeerde en die onaanvaarbare te doen so oorweldigend dat dit jou voortdryf soos ‘n stormwind ‘n klein seilbootjie op die see voortdryf. Die stormwind wen dikwels.

Gelukkig weet ons dat die versoeking self nie sonde is nie, selfs Jesus is versoek. Ons sondig eers wanneer ons toegee aan die versoeking.

Daar is argumente in die Christelike kringe dat versoekings wel waarde het en dat die versoekings nie sondermeer as boos en negatief beskryf moet word nie. As daar geen versoekings is nie, dan is daar geen geleentheid om versoekings te oorkom nie. Waar is die waarde van selibaatskap (Selibaatskap: om lewenslank nie ‘n seksuele verhouding te hê of te trou nie.) as jy nooit met seksuele versoekings gekonfronteer word nie? Mense getuig dat die feit dat hulle ‘n versoeking kon weerstaan het hulle selfvertroue en selfrespek verhoog. Menige Christen sien in die weerstaan van die versoekings die lewe van oorwinning.
Ek wonder of ‘n mens ooit in hierdie lewe op die punt kom waar jy nooit weer aan aan enige versoeking gaan toegee nie. Ek hoop maar dat daardie dag sal kom, maar in my eie lewe staan die ou mens net te maklik weer uit die dood uit op, dit maak nou nie saak hoeveel kere ek die ou mens krusig nie, as ekw eer sien het hy van daardie kruis afgeklim.

Byvoorbeeld: Sondae is altyd vir my ‘n moeilike dag. Ten spyte van die feit dat ek op ‘n Sondag gewoonlik die dinge doen wat ek regtig baie graag wil doen, is die spanningsvlakke geweldig hoog. Ons het ‘n groot gemeente en daar is baie dinge wat op ‘n Sondag moet gebeur en baie dinge wat kan skeefloop. Dikwels, loop dinge dan ook skeef. As ‘n reël slaag ek daarin om rondom die frustrasies en die probleme te stuur.

Gister was dit weer so. Dinge het nie reg geloop nie. Tydens die tweede diens wou my rekenaar skielik nie met die projektor saamwerk nie. Dit nadat hy by die eerste diens foutloos gewerk het. Die preek self het baie van my gevra omdat die Here in die laaste tyd met my gewerk het en ‘n persoonlike standpunt wat ek gehandhaaf het oor ‘n tydperk van maande omgeswaai het. Die middag moes ek voorberei vir die tieners die aand, en dit het sy eie unieke vragte van spanning.

Dan is daar daardie mense wat jou mateloos irriteer. Ek kan verkeerd wees, maar ek kry die gevoel hulle is daarop uit om die lewe vir jou so moeilik as moontlik te maak. Die persoon het sedert vroeg gisteroggend aan my begin krap. Kort voor die aanddiens het dit oorgekook en het hom aangespreek wat op die ou end op ‘n onaangename affêre uitgeloop het.

Die ergste van alles, ek het geweet ek moet dit nie doen nie. Ek het geweet die gesprek gaan my omkrap en ek moet oor ‘n uur vir die tieners ‘n boodskap bring. Ek het geweet dat ek in sulke situasies sukkel om tot eer van die Here te funksioneer. Teen my eie beterwete in het ek die gesprek aangeknoop. Ek kon nie die versoeking weerstaan om te praat nie. Ek het geweet wat die regte ding is om te doen, maar ek het dit nie gedoen nie. In retrospek is dit maklik om te sê: “Jy moes so of so gemaak het, of ek maak so of so en so.” Dit help nie. Die water is onder deur die brug.

Soos Bonhoeffer dit sê: “At this moment God is quite unreal to us, he loses all reality, and only desire for the creature is real; the only reality is the devil. Satan does not here fill us with hatred of God, but with forgetfulness of God … The lust thus aroused envelops the mind and will of man in deepest darkness. The powers of clear discrimination and of decision are taken from us.”

27 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

27 responses to “VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY?

  1. Doom

    Ek dink die groepsdruk begin by om aanvaar te word.

    Tiens

  2. Thinus: Stem saam – dit is waarskynlik een van die belangrikste redes waarom mens toegee aan groepsdruk, maar ek dink darem ook sommige versoekings is ‘n versoeking omdat dit baie lekker of bevredigend lyk om die ding te doen. Wat dink jy?

  3. Doom

    Ek glo alle sondes spruit uit vanity uit, wat sy oorsprong het uit om die teenoorgestelde geslag te ” beindruk” om sodoende te voortplant, my definidie van sonde is: missappropration of freewill, where the consequences of our actions are disadvantagious to ourselfes or our fellow man, maar bygese wat is die intent van ons aksies, ons moet altyd iets daaruit kry, om te kan impress.

    Tieners glo ek ervaar druk in die sin dat hulle hul self bevind in die stadium tussen kind en volwasse en daarmee ‘n soort van identiteits krisis beleef, tieners in nie so onnosel soos ons dink nie, dus om hul soos kinders te behandel is ‘n groot fout, en die nonsens wat hul aanjaag is agv ledigheid, ek stel voor dat tieners meer verantwoordelikhede gegee word, en meer soos volwassenes behandel word

    Miskien is ek dalk verkeerd

    Tiens

  4. willem

    Attie,

    Mens het begrip vir jou worsteling – veral op ‘n sondag. Ek het dit ook al oorgekom. Mens voel so sleg as die mikrofoon skielik ophou werk, of die elektroniese bord gee die gees ens. DIt het die vermoe om ‘n mooi oggend op te dinges en dan voel mens ‘n hele week se beplanning, preek maak ens is in die drein af.
    Snaaks genoeg het ek al gesien dat dit juis daardie eredienste was wat vir sekere lidmate die meeste beteken het – wanneer ek volgens my eie oordeel die swakste oorgekom het. Staan daar nie iewers dat wanneer ons swak is, dan is ons eintlik sterk in die HEre nie?
    Sou jy die vrymoedigheid he om eendag met ons te deel oor die saak wat jy na maande nou anders oor dink?

    Groete

    Willem

  5. Dis nou lekker om sommer vandag my lang bene uit te rek en my tekkies vol voete onder Doom se koffietafel te bêre. Hierdie is nou ‘n onderwerp waaroor ek ure lank kan praat en net so lank na kan luister.

    Ek sal myne probeer kort hou.

    Versoeking loop langs jou en spring voor jou in soos ‘n opgewonde maatjie wat jou aandag verlang. Jy sal nie ‘n tree verder loop totdat jy na Versoeking se idee geluister het en daarop gereageer het nie.

    Versoeking ‘target’ jou voortdurend, omdat jou middelnaam Keuse is. Nie eens God kan jou siel neem sonder jou toestemming nie.

    Dis jou keuse. En dis hierin dat die mens se grootste vryheid en grootste frustrasie lê.

    In my gedagtes is daar ‘n hengse oorlog tussen lig en donker. Elk maak soldate bymekaar. Versoeking is ‘n ‘recruiter’. Slaan hom oor sy kop met sy eie ‘clip board’ en loop weg.

    Soos ek onlangs aan iemand gevra het: Wie is meer verkeerd – die versoeker wat jou ‘n aanbod maak, of jy wat die aanbod aanvaar? JY wat die keuse het?

  6. Thinus: Dalk is tieners in ‘n baie ernstige eksperimenteerfase van die lewe ook waar hulle soveel as moontlik wil probeer. Oor die ledigheid… ek gaan ‘n paar van hulle vra. My eie dogter is hierdie jaar in matriek en ek sal sukkel om haar dag met die woord te beskryf en waarskynlik moeilikheid ook kry. Ek deel jou gedagte oor die verantwoordelikheid. Hulle moet besef dat hulle verantwoordelikheid sal moet anavaar vir die gevolge van hulle keuses.
    Willem: Dit is nie regtig so ‘n groot “issue” nie, maar dit was vir my. Ek sal nog daaroor skryf seker, maar gister se preek wat ek gepost het is alreeds ‘n aanduiding daarvan.
    ^stoutsus^: Dankie vir jou… Ek hou hiervan: “Versoeking loop langs jou en spring voor jou in soos ‘n opgewonde maatjie wat jou aandag verlang. Jy sal nie ‘n tree verder loop totdat jy na Versoeking se idee geluister het en daarop gereageer het nie.” Dis presies wat ek gister beleef het.
    Wie is meer vekeerd?????
    Ek wonder wat dink die ouens wat hier lees.

  7. BB

    Ek kon altyd so selfvoldaan terugsit en sê: ek het nog nooit onder groepsdruk geswig nie! Maar wee jy wat ds?? Ek het soveel skeletons in my sideboard en soveel karakters in my kop, dat ek sommer ‘n groep van my eie saam my my rondgeschlepp het vir jarre… lekker verontskuldigend dat ek mos nou niemand seer maak nie (behalwe myself dit is)
    Ek het lank terug geleer dat offence ook ‘n sonde is – nie net om dit uit te deel nie, maar om dit aan te neem – nie soos in ‘n doodsonde nie, of dat jy nou nie meer deur die poorte daaroor nie, maar dat jy jou 3 steps terugvat op ‘n pad waar jy darem nou al 100 treë vooruit moes gewees het.
    Probleem is dat die duiwel ook maar ons swakhede terdeë ken en (teen ons) misbruik. As hy weet ek is nie regtig visually beindruk met ‘n mooi man nie, gaan hy mos nou nie ‘n adonis voor my laat op en af stroll en sy tyd mors nie? Maar hy wéét dat ‘n ou met mooi woorde met my kan toor… raai wat stuur hy oor my pad?? die een na die ander gevleuelde epos… ek wonder darem soms wat dink die ouens in ons openplan office as ek sommer so hardop sê: “wyk satang”!!?? Hoekom is die verkeer bv. (ongeag hoe lank ek daar moet verwyl) nie naastenby meer so erg as toe ek my gewip het vir die kleinste oponthoud? Oor hy weet dit traak my wragtig nie – dit gee my ‘n halfuur langer om dalk my gospel cd in vrede klaar te luister of om Joyce Meyer te kan hoor voor ek by die naskool uitkom! Raai wat?? nou maak hy seker ek land by die skool voor Joyce begin en Erich babbel my ore van my kop af, ek’s geirriteerd en snou hom uit nog voor ons by die huis kom en Joyce kry nie ‘n salwingswoord in nie… so moet ek nou ‘n ander way kry om te sê: dis ok oraait – try something else – this ain’t working anymore.
    Ek weet net een ding – die duiwel verstaan van woord en aksie – hy kan sien as iets nie meer impak het nie – en dis die vinnigste wat ons paadjies skei m.b.t daardie spesifieke offence wat ek my aan dooddra
    Sorry – wou nie blabber nie, maar ek het nog nie ABS nie 😉

  8. BB

    Oh en terloops ds – onthou nou daardie persoon wat jou irriteer en die lewe vir jou moeilik maak is ook maar onderhewig aan die versoeking en satan se druk om jou te loop krap – jy moet in jou hart somehow eerder ‘n jammerte kry vir die ou/vrou; imagine hoeveel treë hulle al in reverse is???
    En weet jy, jy sê dat mense getuig dat weerstaan van versoeking hulle selfvertroue en selfrespek verhoog het. ek kan gladnie daarmee saamstem nie – al wat dit by my verhoog het was my humility – hoe meer ek weerstaan hoe meer humble dit my – al is die oorwinning hoe soet! Hoe maak dit nou sin??

  9. Doom

    Ek dink ledigheid is die duiwel se oorkussing, ek veralgemeen nie nou nie, maar baie tieners het nie meer die werkies om te doen daagliks nie, ek onthou toe ek groot geword het, het ek by die OK gwerk tydens naweke, en gehelp om die pot aan die kook te hou, nie omdat ek wou nie maar omdat ek moes, die’ tipe verantwoordelikheid moes ek vroeg in my lewe volstaan, snaaks, ek was nie rebels nie, nie gerook, of gedrink gedurende my skool jare nie, ek se nie tieners moenie hulle self geniet nie, maar hulle moet van vroer af leer om hulle plek in die samelewing te begryp.

    Dan ook ouers speel ‘n belangrike rol deur om ‘n voorbeeld te stel

  10. BB: Dankie, jy is darem lekker eerlik en ek waardeer dit. Soms is ons self die grootste groepsdruk waarteen ons moet stry. Ek hou ook nogal van wat jy sê. My eie woorde: Oorwinning ontwapen die vyand. As ek besluit het en by my besluit hoe, gaan die duiwel niks meer reg kry nie.
    Oor die persoon wat my irriteer… sy probleem. My probleem is: Ek moes nie, my probleem is ek kon nie daarin slaag om met selfbeheersing op te tree nie. Verskonings… duisende. Regverdiging… geen.
    Oor selfvertroue, selfrespek, en “humility”. Ek dink daai ouens speel almal vir dieselfde span. Ek beleef baie keer dat iemand met selfvertroue en selfrespek baie ook ‘n baie nederige persoon is. Dalk omdat die persoon vrede met hom-/haarself het en nie meer nodig het om enige iemand te beïndruk nie.
    Toe ek op Universiteit was het ons ‘n T-hemp gemaak wat sê: “Please be patient with me. God is not finished with me yet.”

  11. Thinus: Ek lees nou die dag iemand skryf so: “Teenagers face many challenges on their journeys through adolescence. The vast majority of teens are able to cope with the pressures. But the desire to exercise independence and to distance themselves from parents and other authority figures sometimes leads teens to act in ways they later regret.” Ek dink nie ons moet die moeilike lewensfase waarin tieners hulleself bevind onderskat nie. As ledigheid regtig die belangrikste oorsaak was, moes bitter min volwassenes toegegee het aan versoekings.

  12. Doom At

    Soos ek gese het, ek veralgemeen nie, ek dink net voorsorg is beter as nasorg.

    “But the desire to exercise independence and to distance themselves from parents and other authority figures” hoekom??

    Dan moet ons ook verstaan dat sommiges deur baie moeilike situasies gaan, bv waar daar drank misbruik word en geweld in die huise is, daarvan sal ‘n mens bitter min van hoor omdat hulle skaam is daaroor en nie wil he iemand moet vir hulle jammer wees of vir hulle lag nie, kinders(tieners) kan dalk ‘n produk word van so ‘n opvoeding en sal dit hulle later in hulle lewens vang.

  13. Thinus: Ek dink jy raak nou ‘n senuwee waaraan ek dalk nog nie gedink het nie. Die huislike omstandighede speel sonder twyfel ‘n groot rol. Mens mag dit nie ignoreer nie.
    Ek wonder: Is dit dalk ons verantwoordelikheid sulke tieners te leer om bokant hulle omstandighede uit te styg deur die regte keuses ter wille van hulleself te maak en nie hulle omatdighede te gebruik as “verskoning/regverdiging” nie?

  14. Enige kans vir ‘n re-print van daardie T-shirt Doom? Dis classic!! Bietjie geldjies maak vir die gemeente…

    Wou nog altyd ‘n tattoo onder my voet laat aanbring het wat sê, “Made by God”, soos wat die Barbie poppe “Mattel” onderaan sê.

  15. ^stouutsus^: ons het ‘n paar geleenthede die jaar sal bietjie die voorstel maak en kyk wat gebeur. Ek hou van daai tattoo onder die voet. ‘n Ander t-shirt het gelees: “Work in progress.”

  16. Wat van die vraag: Wie is die meer skuldige een, die een wat toegee aan die versoeking of die een wat die versoeking oor die ander se pad bring? Wat dink julle?

  17. rocla

    Om op ‘n dieet te bly is moeilik, vra maar vir my maag. Wat mens nodig het is ondersteuning wilskrag en baie genade. Nou dink ek ‘n mens se humeur is ook so ‘n ding. Kom ons raak prakties en probeer elkeen om nie sy humeur te verloor nie en kyk wie hou die langste. Volgende keer kan ons iets anders probeer?

  18. 'n leser

    Dalk moet elkeen van ons ons eie grootste versoeking op die tafel sit en kyk wie hou die langste. Wat vir die een persoon ‘n versoeking is, is vir die ander persoon geen probleem nie. Jy met dan mos jou swakpunt teen die ander persoon se sterkpunt en dit is mos nou nie billik nie. Party mense is bv. baie onverdraagsaam en sonder begrip vir mense wat met ‘n versoeking worstel en telkens weer dieselfde fout maak. Terwyl die een persoon dus daaraan werk om nie sy humeur te verloor nie werk die ander een daaraan om meer verdraagsaam te wees en die ander een werk daaraan om nie skinderstories te versprei nie. So werk elkeen mos aan sy grootste versoeking.

  19. rocla: Ek probeer elke keer nadat ek kwaad geword het my bes om nie weer kwaad te word nie. Elke keer is God se genade vir my genoeg.
    ‘n leser: Ek dink ook dit sal beter wees as elkeen aan sy eie versoeking werk. Waaraan sou jy kans sien om te werk?

  20. Ek Sukkel

    Is “Elke keer is God se genade vir my genoeg.” nie dalk ‘n maklikke ontsnap roete?

  21. Hoe hanteer mens jou eie foute of mislukkings of tekortkominge?

  22. sonnekind

    Attie
    Per toeval het ek en my Mannie ook gister oggend begin met help my, want……ek was ongeskik met 2 van my kliente. As ek terug dink wat Jesus sou doen en Hy sou ook die humeur in toom gehou het, het ek DEFINITIEF gefaal.
    Hierdie dinge het my net laat besef dat ek ook my gesstelike lewe baie eenvoudig moet hou en nie TE veel te wil weet of doen nie.
    Begin by die begin …dit is om net so te leef dat mense God in my kan sien. Elke minuut van die dag, so dit pas mooi aan by die versoekings.
    So ek wil werk aan die versoeking om net soos God te dink…..ek vaal baie, maar probeer dit heeltyd in mmy gedagtes hou…..

  23. Sonnekind – dit lyk my God se genade is vir jou ook elke keer genoeg die kere wat jy dit nie maak nie???

  24. Ek Sukkel ook

    Is Rocla se plan nie ‘n goeie begin nie?

  25. Rocla en Ek Sukkel ook: Ek waardeer julle gewilligheid om my te help met my humeur. Die “post” gaan oor versoekings. Nou gaan dit oor die enkele voorbeeld wat ek genoem het waar ek nie die versoeking kon weerstaan om kwaad te word nie. Sorry, ouens ek sukkel ook maar om alles te wees wat ek veronderstel is om te wees.
    Skryf bietjie vir ons oor die versoekings waarmee julle worstel of die laaste keer toe jy aan ‘n versoeking toegegee het. Ek probeer die werking van versoekings en die mens se hantering daarvan verstaan. Hoe lyk dit, sien julle kans?

  26. sonnekind

    Attie,
    Ek dink partykeer voel dit nog vir ander ook of hulle my kan reg help as ek in my versoekings vaal……dink jy ons as christene kan mekaar ook reghelp met versoekings.
    Ek dink dan ook nog n versoeking wat jy aanraak wat teer is, is eet. Jy weet as 1 van my kinders siek is is n”slab” en n pak chips niks vir my om op te eet nie….daarna voel ek BAIE beter. Vandag as ek iets wil eet dan dink ek ………….die VERSOEKINGS!!!!!!!

  27. Sonnekind: Ek dink beslis ons as Christene kan mekaar reghelp met versoekings. Tieners sê gisteraand dat hulle met ‘n “buddy”-sisteem werk as hulle weet hulle gaan in ‘n situasie in waar daar versoekings kan wees.
    Ek beleef ook dat spanning mens se weerstand teen versoekings baie verlaag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s