Hier is my preek van gister. Dankie vir elkeen wat deur die loop van die week ‘n inset gelewer het.
Teks: Lukas 10: 25-37
Tema: As Gestuurdes van God.
Inleiding.
Ons gemeente se missie is:
As gestuurdes van God, eer ons Hom, versorg ons mekaar, verleen ons hulp en bring ons hoop. Ons missie sê wie ons is en wat ons doen.
Ons is gestuurdes van God (IDENTITEIT) en ons eer Hom; ons versorg mekaar, ons verleen hulp en ons bring hoop (AKTIWITEIT).
Ons as gemeente het saam hierdie missie geformuleer en ons glo dat wanneer ons as gemeente hierdie missie leef, dan leef ons God se wil en plan vir ons NG Bergsig. ‘n Gemeente moet besig wees met dit waarmee God besig is. In besonder moet ons besig wees met dit waarmee God in hierdie wêreld besig is. As ‘n missionêre gemeente is ons God se teenwoordigheid in hierdie wêreld. Wanneer ons as gemeente ons missie leef, dan word God sigbaar in hierdie wêreld.
Hier is ons droom vir hierdie jaar: Ons missie meer hande en meer voete sal kry. As ons tot hiertoe as missionêre gemeente gekruip het dan gaan ons hierdie jaar begin loop. As ons as missionêre gemeente geloop het, dan gaan ons hierdie jaar begin draf. As ons gedraf het gaan ons hierdie jare met spoed begin hardloop. As ‘n missionêre gemeente gaan ons in hierdie jaar spiere kry, want ons is gestuurdes van God.
Ons droom van ‘n gemeente waar elke erediensganger op een of ander manier deel is van ons missie. Elke een wat gereeld in die erediens kom moet saam met die res van die gemeente sê: Ek is ‘n gestuurde van God! Let wel ons praat van elke erediensganger. Julle is die mense op wie die gemeente kan staat maak om as gestuurdes van God te lewe.
Ons gaan een keer elke kwartaal praat oor ons identiteit: Ons is gestuurdes van God. Ons gaan vir vier Sondae elke kwartaal praat oor een aktiwiteit, die dinge wat ons as gestuurdes van God doen.
Hierdie kwartaal sê ons: As gestuurdes van God… eer ons Hom.
Volgende kwartaal sê ons: As gestuurdes van God versorg ons mekaar.
Die derde kwartaal sê ons: As gestuurdes van God verleen ons hulp.
Die laaste kwartaal sê ons: As gestuurdes van God bring ons hoop.
“Daar was ‘n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel.”
Strikvraag – dis ‘n moeilike saak. Ek kry dit dikwels by die tieners. Nege uit die tien kere gaan strikvrae oor wat sonde is en wat nie. Hulle vra dan die vraag, maar hulle het klaar ‘n antwoord bedink. Hulle vra die vraag want hulle weet klaar hoe ek hom gaan antwoord. Hulle ken my beter as wat ek hulle ken. Hulle luister nie regtig na wat ek sê nie. Maar as ek my antwoord gegee het, dan is hulle daar met: “Maar, oom…” En as hulle daardie “maar oom…” opmerking maak dan sit hulle gewoonlik so ‘n klein bietjie terug, kyk hulle so ‘n bietjie rond om te sien wie is almal beïndruk omdat hulle hierdie dominee kan vasvra. Strikvraag.
Hierdie is die gesindheid waarmee hierdie wetgeleerde opstaan om sy vraag te vra. Hy wil Jesus vasvra en mense beïndruk.
Ons moet altyd onthou dat Jesus vir die wetgeleerdes en die mense van sy dag net nog ‘n man was – net nog ‘n rabbi of leermeester. Een van baie. Hulle het nie aan Jesus gedink as die Seun van God nie. Selfs die dissipels was op hierdie stadium nie presies seker oor hoe hulle oor Jesus moes dink nie.
“Hy staan toe op en vra: ‘Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?’” (Lukas 10:25)
Ons is twee dinge gewoond. Ons is in die eerste plek gewoond iemand vra: Wat is die grootste gebod in die wet? Hierdie wetgeleerde vra dit nie. Hy vra: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Hou dit in gedagte.
Die tweede ding waaraan ons gewoond is, is dat Jesus antwoord. In hierdie geval antwoord Jesus met ‘n vraag: “Jesus sê vir hom: ‘Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?’”(Lukas 10:26) Elke Jood kon daardie tyd en kan vandag nog steeds daardie vraag enige tyd van die dag of die nag antwoord. Elke Jood het Deuteronomium 6:5 en Levitikus 19:18 geken.
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” (Lukas 10:27)
Maar dit is nie net die wetgeleerde wat ‘n paar tekste ken nie. Jesus ken ook ‘n paar tekste. Jesus antwoord met Levitikus 18:5. “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.” (Lukas 10:28) Sover kon Jesus die strikvraag vermy.
Die wetgeleerde vra die tweede moeilike vraag. “En wie is my naaste?” (Lukas 10:29) As ons die vraag wil verstaan moet ons weet hoe die Jode die antwoord op hierdie vraag geformuleer het.
Die Jode het die bevolking in klasse ingedeel. Onthou nou die vraag wat Jesus hier wil antwoord: Wie is my naaste? Op die heel boonste trappie van hierdie sosiale leer was die Priester en op die volgende trappie die Leviet. Een trappie laer was die gewone Jood. Op die volgende trappie was die tollenaars en die sondaars en uitgeworpenes. Dan was daar die Samaritane en heel onder die heidene. Samaritane was nog ‘n trappie laer as prostitute en tollenaars en ander sondige mense. Liefde vir jou naaste het vir die Jood beteken – eers die mense op my trappie en dalk die mense op die volgende trappie. Daarna het ek waarskynlik niks meer om vir my naaste te gee nie. Jy maak eers klaar met jou naaste wat op dieselfde trappie as jy is, voordat jy na jou naaste op die volgende trappie toe gaan. Onthou jy hoe kwaad was die Jode omdat Jesus (Rabbi) saam met tollenaars en prostitute gekuier het. Jesus het ‘n paar trappies oorgeslaan.
As antwoord vertel Jesus ‘n verhaal. Ons ken almal die verhaal. Dit is die verhaal van die barmhartige Samaritaan. Die woorde barmhartige Samaritaan staan nie in die oorspronklike teks nie. Dit is ‘n opskrif wat mense later bygesit het. Ek noem hom vandag die gestuurde Samaritaan. Die gestuurde Samaritaan help ons om te verstaan hoe ons as gestuurdes van God kan leef.
Ons ken die verhaal: “Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee.” (Lukas 10:30)
Ons staan graag stil by hierdie man wat deur die rowers aangeval is. Dit is nie eers ‘n hele vers in hierdie 22 verse nie. Die punt is net dit: Hier is ‘n mens in nood. Dit is al wat ons van hom weet. Ons ken nie sy velkleur nie. Ons weet wat het hy aar gemaak nie. Ons weet nie watter politieke party ondersteun hy nie. Ons weet nie of hy dalk ‘n misdaadrekord het nie. Die punt is: Hier is ‘n mens in nood. Hoe is hy my naaste?
Vandag se mens in nood sal anders lyk. Vandag se mens in nood sal dalk nie kos hê om te eet nie of sonder werk wees of nie klere om aan te trek nie of in ‘n baie arm slegte buurt woon of … Daar is meer as genoeg mense in nood.
“Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby.” (Lukas 10:31) “Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby.” (Lukas 10:32)
Onthou… priesters en Leviete is op die hoogste trappie van die sosiale leer van die Jode. Hiper godsdienstig. Die godsdienstige elite van die Jode. Daar is baie verduidelikings of verklarings waarom hierdie twee godsdienstige mense ver langs verby gegaan het. Weereens dink ek dit maak nie saak nie. Die punt is, hier is godsdienstige mense wat by die mens in nood verby beweeg.
Die priester en die Leviet se optrede sê iets van hulle gesindheid. Moeilik om te sê, maar dit lyk asof hulle gesindheid iets is van: Ek ken die regte antwoorde. Die regte lewe maak nie regtig saak nie. Maar Jesus probeer nie om in hierdie verhaal die skerp lig te laat val op die verkeerde gesindheid nie. Hy wil konsentreer op die regte gesindheid. Die gesindheid van die gestuurde Samaritaan.
Ek dink dit sou moontlik wees om uit ons eie situasie die verkeerde gesindheid te beskryf en selfs voorbeelde te gee. Dit lyk vir my net dat die verkeerde gesindheid maak dat ek by die mens in nood verby beweeg. Terwyl ek ‘n gesindheid moet hê waar ek my naaste net so lief het as wat ek myself het, loop ek by die mens in nood verby. Die regte antwoord, sonder die regte lewe.
“Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom…” (Lukas 10:33) Die elite van die godsdienstige Jode het met ‘n draai verby die mens in nood gestap. Afstand gehou tussen hom en die mens in nood. Toe kom die veragtelike spesie van ‘n Samaritaan daar verby. Die mens op amper die laagste trappie van die sosiale leer.
Jode het Samaritane met ‘n passie gehaat. Samaritane was nie om dowe neute op byna die laagste trappie van die sosiale struktuur nie. Samaritane was ‘n baster tussen Jode en Assiriërs. Toe die Assiriërs die oorlog teen die Jode gewen het, het hulle veral die mans weggeneem in ballingskap na Assirië toe en Assiriese mans na Palestina toe gebring. Die Samaritane was nou die resultaat van die Joodse vrouens en die Assiriese mans. Elke keer as ‘n Jood ‘n Samaritaan sien, onthou hy die ballingskap en wat die Assiriërs alles aan hulle gedoen het. Jode het Samaritane gehaat.
Ons sê ons is gestuurdes van God. ‘n Gemeente bestaan uit mense. Die mense in die gemeente moet hulleself sien as gestuurdes van God, dan sal ons as gemeente kan sê: Ons is gestuurdes van God. Ek wonder of daar op enige plek in die Bybel ‘n beter beskrywing is van ‘n gestuurde van God. As gestuurdes van God moet ons die dinge doen wat mense sal laat sê: Die Here het jou na my toe gestuur.
In ons gemeente is ons eintlik baie dankbaar dat ons nie die wiel van voor af hoef te ontwerp nie. Hier is alreeds ‘n hele paar geleenthede om by mense in nood betrokke te raak. Ons wil dit reeds doen net beter doen en meer daarvan doen. En as daar meer mense kom wat hulleself sien as gestuurdes van God, kan daar meer mense in nood versorg word. As elkeen van ons in die erediens net met die gesindheid van die gestuurde Samaritaan leef. Die gesindheid van die gestuurde Samaritaan kon word in sy optrede gesien word.
1. OMGEE.
“… en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.
Niks wet nie. Geen sprake van: Ek moet dit doen want die Here verwag dit van my nie. Net: hy sien die mens in nood. Hy kry hom innig jammer. As mens met ‘n gesindheid van omgee leef, sien jy ander mense se swaarkry raak en jy kry hulle jammer. ‘n Gestuurde van God het ‘n hartsverandering ondergaan. Die kliphart is uitgeruk en is vervang met ‘n hart van vleis – ‘n omgee hart. Een van die natuurlikste dinge vir hierdie nuwe mens, is om die mens in nood raak te sien en jammer te kry.
‘n Tiener sê Dinsdagaand vir my: Ek moet oor die mens in nood voel soos Jesus oor my voel. Gaan dink bietjie mooi oor daardie opmerking.
As gestuurdes van God sien ons mense in nood raak en kry ons mense in nood jammer. Ons gee om.
2. VERSORGING.
“Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg.” (Lukas 10:34)
Omgee kan op ‘n afstand gebeur. Ek kan ver staan en steeds opreg jammer wees oor jou seerkry en jou swaarkry. Versorging kan nie op ‘n afstand gebeur nie, mens moet nader gaan. Mens sal nooit weet of die priester en die Leviet omgegee het nie. Hulle kon dalk ver verby geloop het en steeds omgegee het. Hulle kon dalk selfs vir hierdie mens in nood ‘n vinnige gebed gebid het. Ons twyfel nie of die gestuurde Samaritaan omgegee het nie. Sy dade wys dat hy omgee. Hy het die mens in nood versorg. Hy het aan die mens in nood geraak. Hy het aan hom gaan vat.
Persoonlike betrokkenheid.
Ek weet dit is nie maklik nie, maar ek glo dat dit is wat die Here in hierdie dae van ons as gestuurdes van God verwag: Persoonlike betrokkenheid. Ons moet persoonlik betrokke raak by die mens in nood. Dit is eintlik eenvoudig: Ek kan ‘n bord kos gee vir ‘n man wat nie kos het nie. Ek kan klere gee vir ‘n man wat nie klere het nie. Ek kan saam gaan betoog waar die stadsraad die armstes van die armes uit hulle huise sit. Ek kan saamgaan en gaan help by die werkskeppingsprojek vir vroue wat nie ‘n inkomste het nie. Ek kan persoonlike betrokke raak.
Wanneer ons meer persoonlik betrokke raak sal ons omgee gesien word. Amper soos Jesus se omgee gesien is toe Hy aan die kruis gehang het. Ons is gestuurdes van God. Gestuurdes van God is gestuur op ‘n missie, ‘n sending, ‘n uitreik. Gestuurdes van God is gestuur sodat die liefde van God hande en voete en oë en ‘n mond en ‘n lyf kan kry.
Bly betrokke.
Kyk mooi na die versorging van die gestuurde Samaritaan. Hy doen iets aan die mens in nood se onmiddelike behoefte. Daar langs die pad versorg en verbind hy die mens in nood se wonde. Maar hy besef ook dat hy nie hierdie mens in nood net daar langs die pad kan los nie. Maak nie saak hoe goed sy wonde versorg is nie, hy sal iets meer moet doen. Hy help hom tot by sy donkie. Hy tel die gewonde man op die donkie en hy loop terwyl die gewonde man op die donkie ry.
Hierdie gestuurde Samaritaan is bereid om persoonlike ongemak te beleef sodat hy die mens in nood kan versorg. Die modewoord deesdae is gemaksone. Almal van ons het sekere dinge waarmee ons op ons gemak en ontspanne is.
Persoonlike ongemak.
Ek is op my gemak en ontspanne wanneer ek kan preek en met tieners werk en ander mense toerus. Ek is minder op my gemak wanneer ek kontak moet maak met hierdie mens in nood. Gestuurdes van God gaan waar die Here hulle nodig het en nie net waar hulle gemaklik is nie. Die gestuurde Samaritaan was bereid om persoonlike ongemak te beleef om hierdie mens in nood te help.
3. OFFERVARDIGHEID.
Hierdie versorging beteken ook offervaardigheid.
Tyd.
Toe hy daar by die herberg kom, het hy hom verder versorg. Selfs daar by die herberg laai hy nie sommer net die mens in nood af nie. Hy versorg hom daar verder. Hy versorg hom tot die volgende oggend. Die gestuurde Samaritaan offer sy tyd. Hy het alreeds ‘n groot deel van sy dag gegee vir die versorging van hierdie man en hy gee nog nie hele nag ook. Om gestuurde van God te wees vra tyd. Die kosbaarste artikel in enige een van ons se lewens. Ss elkeen van ons wat vanoggend in die kerk gaan wees een uur ‘n maand gee, sal ons ongeveer 1500 ure gegee het vir die versorging van die mens in nood.
Maar die gestuurde Samaritaan voel nog nie hy het genoeg gedoen nie. “Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’” (Lukas 10:33-35)
Geld.
As tyd die mees waardevolle iets in elkeen van ons se lewens is, is geld die moeilikste iets om te gee. So moeilik dat enige dominee wat daaroor preek die risiko loop om homself erg ongewild te maak. Ds. Coenie verduidelik in hierdie week vir my dat een muntstuk een dag se loon is. So veronderstel nou jy moes twee dae se loon gee om ‘n mens in nood te versorg. Ek sê nie jy moet dit doen nie, ek wil net hê jy moet verstaan wat die gesindheid van die gestuurde Samaritaan was.
Maar behalwe dit sê hy: Doen wat jy moet doen. As ek weer hier verby kom, sal ek enige verdere onkoste betaal. Dit is amper soos om jou kredietkaart vir ‘n taxidrywer te sê: Vat hierdie man huistoe, ek weet nie hoe ver bly hy nie, maar as jy brandstof nodig het, hier is my kredietkaart, gooi in.
Hierdie punt sê natuurlik dat daar ook ‘n punt kom wat jy die mens in nood aan ander mense kan toevertrou, maar dit is ‘n ander onderwerp.
Nou is die gelykenis wat Jesus vertel het klaar. Die wetgeleerde is nog daar en nou vra Jesus vir hom hierdie vraag: “Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” (Lukas 10:36) Ek wonder of jy nog die wetgeleerde se vraag onthou. Sy vraag was: “Wie is my naaste?” Weer moet die wetgeleerde sy eie vraag antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Alles het begin by hierdie vraag: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Die antwoord is: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” As jy deur dit wat jy doen die ewige lewe wil verkry dan moet jy 100% liefhê. 100% van hart; 100% van jou siel; 100% van jou krag; 100% van jou verstand. Dit kan nie gedoen word nie. Jesus sê as jy dit kan regkry, dan het jy die ewige lewe.
Ons kan dit nie regkry nie, en daarom is die ewige lewe God se geskenk van genade. Jesus het dit so gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”(Joh 14:6) Die enigste manier wat ek en jy by die Vaderhuis kan inkom is deur Jesus Christus. As ek in Hom glo is ek aan die binnekant, dan het ek die ewige lewe. Daar is nie ‘n ander manier nie. Dit is ook hoe die eerste gelowiges dit verstaan het. Petrus het gesê: “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” (Handelinge 4:12)
As jy in Jesus glo dan is jy deel van die huisgesin van God. In hierdie huis is ons almal gestuurdes van God. Jy vra nie wie is my naaste nie. Jy vra: Vir wie kan ek ‘n naaste wees?
Ten slotte, hoekom? Hoekom is hierdie gestuur wees so belangrik?
As mense deur ons as gestuurde Samaritane hierdie wonderlike omgee en versorging en offervaardigheid beleef, gaan hulle sê: Ek wil deel wees van dit waarvan julle deel is. Daar sal altyd die mense wees wat die gesindheid van ‘n gestuurde Samaritaan sal misbruik, maar ons sal nie moed opgee nie. Ons sal elke dag weer begin as gestuurdes van God – gestuurde Samaritane. Ons sal die mense in nood raaksien en vir hulle omgee en hulle versorg en vir hulle opoffer. Sodat die koninkryk van God tot by hierdie mense kan kom en hulle net kan instap.
Ons is gestuurdes van God.
Attie,
Dankie vir jou preek. Mens hoop meer mense lees dit.Min mense weet wat dit vat om so ‘n preek voor te berei. EK dink dit is prof Willie Jonker wat een keer gese het dat as mens ‘n preek voorberei moet dit eers deur jou hart gaan voor jy dit vir jou gemeente kan gee.
‘n Vraag – dink jy dat Afrikaanse Christene oor die algemeen onwillig is om betrokke te raak by die nood in ons gemeenskappe? Baie artikels in die koerante handel juis daaroor. Waar ek die afgelope paar jaar beweeg het is gemeentes baie betrokke by die nood in Suid Afrika. Met dit as agtergrond dink ek ook aan dr Allen Boesak se optrede by Tukkies se Teologiese Dag noudie dag. My indruk oor ‘n klomp jare is dat Christene wat ‘n egte ontmoeting met Jesus gehad het, nie anders kan as om met oorgawe betrokke te wees by die seer en nood in die gemeenskap nie.
Willem
Willem: Ek dink nie die mens is onwillig nie. Ons het ‘n gemeente waarvoor ons die Here nie genoeg kan dankie sê nie. Ek dink die probleem lê by die leiding wat hulle ontvang. As ek as leraar nie missionêr dink en leef en preek nie, sal die gemeente dit ook nie as belangrik beskou nie.
Ons het al ‘n hele paar uitdagings in hierdie verband na ons gemeente toe gegooi en hulle het ons elke keer aangenaam verras. Die ander ding waaroor ek baie dink is dat ons ten opsigte van lidmate se betrokkenheid by hierdie sake dikwels te langtermyn dink. Hulle soek dikwels ‘n missionêre aksie wat ‘n begin en ‘n duidelike einde het. Hulle het ook maar hulle eie lewens en hulle eie programme. Dit is ‘n illusie dat lidmate vrye tyd het waarmee hulle nie weet wat om te maak nie. Hulle is bereid om betrokke te raak as die saak meriete het. Hulle wil nie hulle gewetes sus nie, hulle wil konkreet ‘n verskil in hierdie wêreld maak.
Is maar my gedagtes.
So waar wat jy se. Ons omgee vir ander moet nie korttermyn “projekte” wees wat net gebeur wanneer die dominee ‘n aksie loods nie. DIt moet ‘n lewenswyse word wat maandag by die werk, woensdag op die golfbaan ens moet grondvat.
Ek onthou dat ek ‘n paar jaar gelede by ‘n gemeente btrokke was waar die predikant regtig geleef het wat hy gepreek het. Dit is moeilik vir lidmate in ‘n gemeente om nie aangespreek te wees wanneer so ‘n dominee preek nie – sy illustrasies kom uit konkrete voorbeelde waarby hyself betrokke was.
Jy se jy sit met jongmense wat baie vrae het. Hoe hanteer jy geloofsekerheid met hulle – veral wanneer hulle “aangeneem” wil word? My jare onthou ek dat daar soms ‘n tipe groepsdruk was ook om “aangenem” te word. Hoe gemaak as jy bekommerd is oor ‘n kind, maar hy/sy dring aan om “voorgestel” te word? Het jy dit al beleef?
groete
Willem
Dit is so waar “‘n missionêre aksie wat ‘n begin en ‘n duidelike einde het. ” Ek dink as ‘n mens ervaar dat jy geen verskil maak nie of jy word uitgebuit en misbruik deur mense wat ‘n kultuur het van net ontvang, dan raak jy stil stil weg.
Alec: Ek wonder hoeveel Christene is daar wat so voel. Vasgevang in rondslomp met goed wat nie regtig ‘n verskil maak nie en mense wat binne die ontvang-kultuur die een eis na die ander het en geen waardering wys vir enige iets wat in liefde en met opoffering gegee word nie. Ek wonder hoeveel rondslomp hou potensiele Samaritane weg van die mens in nood af?
Willem: Sorry jou kommentaar is vir een of ander rede ge-“spam”, so ek het dit ‘n bietjie laat gekry.
Oor geloofsekerheid:
Is ons regtig in ‘n posisie om oor “geloofsekerheid” te oordeel?
Kan jy oor my geloofsekerheid oordeel?
Kan ek oor jou geloofsekerheid oordeel?
Waarvan moet ek alles seker wees om geloofsekerheid te kan hê?
Wat ek wel doen is ek maak seker die mense is deel van my belydenisgroep vir die jaar. Ek maak seker hulle is relatief getrou in die bywoning. Ek voer met elke een ‘n individuele gesprek oor sy of haar lewe, maar die geloofsekerheid-gesprek is baie keer ‘n bietjie kunsmatig. Dit is mos maklik om die regte antwoorde op die regte vragies te gee en dan die indruk te skep dat jy glo dat Jesus in jou plek gesterf het en dat Hy jou sonde vergewe het en dat jy Hom as jou Verlosser aangeneem het en daarom weet jy nou jy is God se kind.
Daar is elke jaar die kinders van wie ek dink ek seker is. Ek maak ‘n punt daarvan om vir hulle te sê dat ek hulle in lewens agterkom dat die Here vir hulle belangrik is. Daar is ook die oor wie ek twyfel. Ek maak ‘n punt daarvan om hulle bewus te maak van die baie groot verantwoordelikheid wat hulle het indien hulle in die openbaar belydenis van hulle geloof aflê. Op die ou end is dit daardie jongmens se persoonlike besluit en keuse of hy belydenis van geloof wil aflê of nie. Hy moet ook die verantwoordelikheid vir daardie belydenis aanvaar.
Op die ou end sien ek nie my rol as ‘n vangnet vir ouens wat nie 100% seker is nie. Ek is nie altyd van alles 100% seker nie. Hoe kan ek dit van die tiener verwag. Ek kies eerder om die tiener met sy onsekerhede binne die kerk te hê as om hom/haar met onsekerheid weg te stuur met die boodskap dat die kerk net bedoel is vir die ouens wat 100% seker is.
Sorry vir die lang antwoord.