Die “post” met die titel “GEESTELIKE DROOGTE” het nogal heelwat reaksie uitgelok en Ding het vir die ds. Droogte ‘n baie mooi brief geskryf. Ek hoop jy het die brief gelees. Indien nie gaan lees dit gerus, want die kanse is redelik goed dat jy een of ander tyd ook deur so ‘n tyd van geestelike droogte kan gaan.
Ek het bietjie gaan sit en dink hoe ek uit my eie droogtes uit opgestaan het.Terwyl ek toe nadink oor hierdie saak, tref dit my soos ‘n voorhamerhou: Jy kan nie uit die droogte uit opstaan as jy nie weet jy is daar nie. Klink vanselfsprekend, maar in mens se verhouding met die Here is dit nie altyd so nie. Jy maak jouself ‘n hele paar dinge wys met die doel om jouself te oortuig dat dit nie regtig so sleg gaan nie. Maar intussen is jy ernstig besig om te gly en jouself om die bos te lei.
Hoe weet mens as jy deur ‘n tyd van geestelike droogte gaan? Vir my persoonlik is een van die belangrikste simptome van geestelike droogte ‘n sukkelende gebedslewe. Ek bid, maar dit voel vir my meer soos ‘n selfgesprek as ‘n gesprek met die Here; of, ek het na drie minute klaar gesê wat ek wou sê; of, ek dink nog ek bid dan is my gedagtes lankal weer met iets anders besig; of, as ek my weer kom kry is ek weer besig met dieselfde rympie wat ek nou al vir ek weet nie hoe lank sê wanneer ek dink ek bid. Al hierdie dinge laat die rooiligte aangaan wat my waarsku: Geestelike droogte is hier! Lees voort “JÝ KAN LANGER BID!!”