LIEFDE VIR DIE WET OF DIE WET VIR DIE LIEFDE

Strikvrae… ons ken daardie ene. Wanneer jy die vraag hoor, dan is jy eintlik opgewonde, want jy ken die antwoord, jy weet hoe hierdie vraag geantwoord moet word, en dan antwoord jy hom net soos jy gedink het hy beantwoord moet word. Die enigste probleem is, die een wat die vraag gevra het, het ook die antwoord geken. Hy het reeds geweet wat jy gaan sê en hoe jy dit gaan sê, maar daardie antwoord het hom nog nooit in die verlede tevrede gestel nie, en al die antwoorde deur die jare het net nog meer vrae laat ontstaan, maar as jy eers begin het om daardie vraag te antwoord is jy vas. Jy moet die volgende en die volgende en die volgende vraag beantwoord, totdat jy nie meer kan nie. Jy wil nie antwoord nie, maar as jy nie antwoord nie, verloor jy “face” en die vraesteller kry net wat hy wou gehad het. Almal weet nou: Jy weet nie regtig so baie nie. Jou redenasies maak nie sin nie en jou antwoorde is eintlik geen antwoorde nie. Strikvrae.

“Daar was ‘n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel.” (Lukas 10:25) Die kenner van die wet het ‘n agenda gehad. Hy wou wys dat hierdie man Jesus nie alles is wat  Hy voorgee om te wees nie.  Die strikvraag klink so: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

Maar Jesus is bietjie slimmer as wat ek is. Hy het die vraag herken as ‘n strikvraag, en daarom gee hy die vraag terug aan die wetgeleerde – die strikvraag word ‘n strikvraag. “Jesus sê vir hom: ‘Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daarin?'” (Lukas 10:26) Slim mense vrae vra omdat hulle klaar hulle eie antwoorde het, en nie omdat hulle regtig soekers na kennis is of dat hulle een of ander behoefte het om by ander te leer nie. Hulle laat nie sommer ‘n kans verby gaan om self ‘n vraag te antwoord nie.

Hierdie kenner van die wet antwoord toe so: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” (Lukas 10:27) Die wetgeleerde was inderdaad ‘n geleerde van die wet. Sy antwoord is ‘n aanhaling van twee tekste uit die Ou Testament, naamlik Deutronomium 6:5 en Levitikus 19:18. Hy het die wet geken en hy het die wet liefgehad. Jy kon hom enige tyd van die nag wakker maak en hy sou daardie woorde sonder huiwering kon opsê. Dit is die laaste ding wat hy doen voor hy gaan slaap en dit is die eerste ding wat hy doen voordat hy opstaan.

En Jesus slaan hierdie geleerde van die wet se voete heeltemal onder hom uit. “‘Jy het reg geantwoord,’  sê Jesus vir Hom. ‘Doen dit en jy sal die lewe verkry.'” (Lukas 10:28) Die interessante is egter dat Jesus hom ook weer antwoord met ‘n teks uit die Ou Testament. In Levitikus 18:5 staan daar: “Wees gehoorsaam aan my voorskrfite en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here.” Jesus se antwoord was olie op die geleerde van die wet se vuur. Jesus is nou op sy terrein. Hy het geweet hy hoef geensins terug te staan vir sy kennis van die wet nie.  Sover kon Jesus niks byvoeg by dit wat hy gesê het nie. Maar, Jesus het nog nie al hierdie geleerde van die wet se kennis beproef nie. Hy wil homself handhaaf en nog bietjie van sy kennis wys vir die mense wat rondom hom staan. Daarom kom hy met ‘n volgende vraag: “En wie is my naaste?” (Lukas 10:29)

Die geleerdes van die wet het ‘n antwoord hierop gehad. Hulle antwoord was Levitikus 19:17-18. “Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie… Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.” Daaruit het die geleerdes van die wet die afleiding gemaak dat ‘n Jood se naaste sy mede-Jood is. Die enigste een teenoor wie ek hierdie liefde moet uitleef is die mense wat net soos ek dink en net soos ek voel.

Jesus se antwoord is ‘n baie bekende verhaal – die verhaal van die barmhartige Samaritaan. Jesus vertel hierdie gelykenis om te verduidelik wie is mens se naaste. Want die Jode was skuldig aan selektiewe lees van die Bybel.  Op meer as een plek staan iets soos:

“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte.” (Deutoronomium 10:22)

“Hierdie beginsel geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge, want Ek, die Here, is julle God.” (Levitikus 24:22)

Die Jode het gekies om daardie gedeeltes nie te lees nie. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan leer ons hierdie punt: Die mens in nood is my naaste.

Is ons nie ook maar baie keer skuldig aan ‘n selektiewe lees van die Bybel nie?

Lees ons nie ook maar net daardie tekste en verse wat ons eie standpunte en menings bevorder en ignoreer ander nie?

Is die kernboodskap van die Bybel nie juis dat ons God meer lief moet hê as enige iets anders en net so belangrik as daardie beginsel is dat ek ander mense net so lief moet hê as wat ek myself het nie?

Strikvrae gaan ons nêrens bring nie. Hierdie geleerde van die wet het die wet met sy hele hart liefgehad, maar hy het God gemis. Jesus se bedoeling was: Hierdie wet leer jou om lief te hê. Hierdie wet is die wet vir die liefde, die leefstyl vir die volgeling van die Here Jesus.  Die leefstyl wat sy wortels in die Ou Testament het – dit was nog altyd God se bedoeling dat ons as mense hierdie liefde sal uitleef.

Nie liefde vir die wet nie, maar die wet vir die liefde.

Advertisements

20 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

20 responses to “LIEFDE VIR DIE WET OF DIE WET VIR DIE LIEFDE

  1. Doom At

    Almal dinges so op die wet, maar as jy nou mooi kyk, dan maak die wet ons ook vry, ons moet daarna ook kyk

    Thinus

  2. BB

    Jip, dit is so Ds.! Mense is baie lief daarvoor om God se Woord selektief aan te haal om mens mee oor die vingers te tik of reg te help of selfs te onderskraag, maar hulle lééf nie die Woord uit om God se Liefde aan mekaar te openbaar nie. Ons ken dit almal: elke dag kry ons die een of ander pragtig bewoorde sms of teksvers met diep betekenis oor hoe spesiaal ons is, of hoe lief God ons het, of hoe Hy ons gaan help, verlos en of genees… maar ek kan opreg sê dat nie een van daardie spesifieke woord-verspreiders meer doen as dit nie. Dit bly by Woorde en goeie raad (hoe goed bedoel ook al) – dis die ander – dié met min woorde, wat by jou voordeur opdaag met ‘n melktert in die hand om te hoor of als ok is. Dié wat wéét dat jy kar-moeilikheid het, dat jou hond dood is, dat jou kind, jou man, jou ma jou kragte tap, wat daadwerklik ‘n poging aanwend om op die een of ander manier die situasie vir jou te probeer verlig. Moenie vir my sê: “ek bid vir jou” nie. Vat my hand en bid NOU vir my, sáám met my. Moenie my soos Job se pelle tot vervelens toe vertel hoekom jy dink God bring dit of dat oor my pad nie… Vat my uit vir ‘n koppie koffie en kyk of jy ‘n paar rand kan afstaan om my uit ‘n vreeslike nood te lig. (dis net ‘n voorbeeld!!! don’t send money now!! 😉 Ek kén mos my vriende. Ek weet mos wat skort waar. Ek moet soms my hande uit my moue haal en sonder baie woorde net iets gaan doen vir hulle – as ek dit nie doen nie, dan mis ek vir God iewers!

  3. Thinus: Die wet is bedoel vir die liefde. M.a.w.Dit is die manier waarop ons wys dat ons liefhet. As ond aardie wet leef, dan is on waarlik vry!
    BB: Dankie man. Daai sms’e… sal liewers niks sê nie. Die barmhartige Samaritaan het nie gepraat nie, hy het gedoen. Ek dink hy sal ‘n melktert vat en ‘n oproep maak en ‘n gebed saam bid en saam met jou huil oor jou hond dood is, nie omdat hy verstaan wat gebeur het nie, maar omdat hy verstaan dat jy seer het.

  4. Nou Doom, vra ek met alle liefde en respek, waar is die liefde in Suid Afrika vandag?

  5. Alec

    Verskoon die buite orde maar ek sien gister in ‘n sondagkoerand hierdie is die mees gewildste Afrikaanse blog!

    Baie geluk Attie en al die Bloggers!

  6. Ek sekondeer doom, baie geluk, vir die eerstekeer in ‘n lang tyd, wen die kerk ook iets, van al die snert wat daar is, is die een die beste!!

  7. BB

    Geluk!! Wat’t jy toe gewen doom??

  8. BB

    Ou Thinus – ek weet ek is ‘n ‘pie-in-the-sky kinda’ mens – maar die liefde in SA is maar steeds waar dit hoort : myne is binne in my en joune is binne in jou – en daar waar die ‘onse’ en die ‘julle’ (ek en jy) mekaar raakloop, daar sal ‘n blinde met ‘n stok dit kan aanvoel. Ek loop daagliks hordes mense raak wat so ongelooflik positief reageer op ‘n gawe woord, ‘n kompliment, ‘n vriendelike smile – so, ja – ek vra nie waar is die liefde nie, want ek weet mos waar is myne!!

  9. Mag ek maar vir “ons Doom” “n drukkie gee om dankie en geluk te sê………..((((DA)))))

  10. Thinus: El vra ook maar daardie vraag, maar ek vra dit nie omdat dit afwesig is nie, maar net omdat daar nie genoeg is nie.
    BB: Nee ek glo nie ek het iets gewen nie, maar ek hoor maar die gerugte so deur die druiweranke heen. As iemand daardie berig dalk kan “scan” en vir my e-pos sal ek erg waardeer.
    BB jy maak ‘n waardevolle opmerking. Dit is so maklik om te bly vra waar is die liefde. Ek dink daar is net te veel ouens wat eenkant sit en wag dat dinge moet gebeur. Maar die dinge gebeur. Maar ek dink ook: Baie Christene verkies dat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie. Hulle wys liefde en sal nie eers vir iemand daarvan vertel nie. As die ouens wat al liefde beleef het begin vertel, sal ons verbaas wees. Maar… baie van die mense aan wie hierdie liefde bewys word, het nie ‘n stem nie en daarom weet ons nie. Ek wonder of dit sin maak, maar ek hoor graag julle reaksie hierop.
    Marina: Dankie vir drukkie en die wense.

  11. BB

    Hi nooit ds!! hoe sal ons dit nou vir u kan skên?? ons lees mos nie die Son(dag) nie 😉

  12. BB: Ek praat maar met die ouens wat nog nie so ver soos ek en jy gevorder het op die pad van heiligmaking nie. (lol)

  13. BB

    /me gooi nog biekie J&J babapoeier oppie ruggie en glitter oppie kuif 😉

  14. Thinus

    OK BB, jy is reg,

    Wat ek op wil konsentreer is hoe die liefde vanuit die mure van die kerk in die gemeenskap inkom sonder om te oordeel, preek of te wil voorvaardes gee, die liefde moet onvoorwaardelik wees, soos met die geval, van leiers in SA wat deur die kerk “gesalf”kan word, geseen kan word, niks sulke dinge gebeur nie, wat van die Belhar belydenis, dit aanvaar word, as die kerk sy regmatige plek in die samelewing inneem, verander dinge in SA, vir die beter, met respek dit wil vir my partykeer lyk of dit net ‘n Sondag instelling is.

    Nee Die liefde is bo die wet, en paulus het dit baie duidelik uitgespel

    Miskien is dit dalk te paai in die sky…….

  15. sonnekind

    Ja geluk Attie, ek sal ook graag wil lees wat hul skryf
    Ek wil net se ek is een van die mense wat liefde ontvang het en die een wat dit gegee het bly DOOD STIL
    Ek het 2 sielike kinders en verlede jaar was net vol hospitaal. N Samaritaan het toe vir ons n heerlike week by n oord gegee om te rus
    Ek het dit ONGELOOFLIK waardeer en ek weet daardie persone sal niks se, tensy ek iets se!!!!!
    en dit is LIEFDE
    Dankie weereens

  16. Terug pieng: Hoe lyk my naaste? « Sonkind

  17. Justine

    Goeienaand Attie

    Mensig, maar jy praat vanaand direk met my siel, skielik maak so dinge vir my baie sin.

    Jou eerste paragraaf wat handel oor die taktiek van die een wat die vraag vra, asook die verskuilde agendais baie insiggewend.

    Agter al hierdie gebeure sien ek presies hoe geslepe Satan is tydens Jesus se lewe op aarde asook in my eie lewe. Genesis 3 Die slang was listiger…… en hy het vir die vrou gevra; “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? Alles wat jy in jou eerste paragraaf noem word hier duidelik geïllustreer.

    Om God meer lief te hê as enige iets anders: Hierdie ene…..HIERDIE ENE!…..ek ken van! Ek het behoorlik geproe, glasstukke gekou en afgesluk met swembad-suur.

    Dankie, 10 uit 10 vir hierdie post van jou, dit het my weer moed gegee dat alles nie verlore is nie en dat ons op die regte pad is.
    Nie liefde vir die wet nie, maar die wet vir die liefde – Gehoorsaamheid ten alle koste

  18. Ds Attie
    Ek het die vertelstyl van hierdie inskrywing opreg geniet. Ds Attie maak daarvan ‘n lekker-luister-storie (nie afbrekend bedoel nie); herinner my op ‘n manier aan hoe Ding aan die vertel kan gaan dat ‘n mens net nog wil hoor! Dankie daarvoor.

    Ek moet egter net so met ‘n glimlag wonder: wie het nou eintlik vir wie die strikvraag hier gevra en wie het eintlik die sterker hand gehad – die mens wie die wet geleer ken het; of die Een wie se wet dit eintlik is? En hierdie is regtig sommer net ‘n kantaantekening, meer tong-in-die-kies as ernstig. My onmiddellike verskoning daarvoor dan ook.

    Ds Attie, weer eens is die kommentare bevestiging van die inskrywing. Tog reken ek dat liefde en die wet, in hierdie konteks, interafhanklik van mekaar is. Balans, na my mening, is van kritieke belang: ook in die betoning van naasteliefde. Wetsgehoorsaamheid sonder liefde is holgeluide. Maar liefde sonder duidelike riglyne is ‘n wenresep vir uiteindelike chaos.

    Dankie vir die koffie – my kommentaar is nie altyd leesbaar verwoord nie, maar ek kuier wel hier.

  19. Thinus: Ons werk hard daaraan om dit nie ‘n Sondaginstelling te maak nie.
    Sonnekind: Samaritane is snaakse mense. Maar ‘n mamma soos jy is darem self dikwels die Samaritaan vir jou twee kinders.
    Justine: Gehoorsaamheid dit is wat Hy vra. Solank ons gehoorsaam weet God dat ons Hom liefhet en dat ons die mense rondom ons liefhet.
    Pippa: Jy hoef nie verskoning te vra nie. Jesus was selfs ‘n Rabbi. Hy het alles geleer wat wat hierdie geleerde van die weet geleer het. Op die ou end maak Jesus dat hierdie geleerde van die wet vir homself ‘n baie diep gat grou en daarin val. Die strikvraag het ‘n strikvraag gebly en slim het sy baas gevang. Wetsgehoorsaamheid sonder liefde gaan oor liefde vir die wet – dan het die wet my god geword. Jys ook reg – liefde moet riglyne hê.

  20. Justine

    Sjoe, ek het die gehoorsaamheid aan God sterk verwoord, wat ek eintlik wou sê; die stryd tussen die Gees en die Vlees kan jou soms kan karnuffel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s