STUKKENDE MENSE IN ‘N STUKKENDE WÊRELD

Ons sou eerder nie oor die stukkende werklikheid waarin ons lewe wou praat nie, of as ons oor die stukkende werklikheid moet praat, kom ons praat oor die honger en die lyding en die swaarkry en die pyn en die armoede en al daardie dinge. Die stukkend-wees buite onsself. Ons sou onsself nie as stukkend wou reken nie.

Die woord waarmee die Bybel hierdie stukkend wees beskryf is ook ‘n woord wat eerder vermy word: Sonde. Moenie oor sonde praat nie. Moenie op sonde fokus nie. Moenie sondebewus lewe nie. Maar tog, mens worstel elke dag met hierdie gebroke werklikheid.

Ek het gisteraand twee baie lang gesprekke met twee tieners gehad. Die tieners het altwee die gesprekke geinisieer – hulle wou met my oor die dinge praat. Beide het in die slaggat van drank, dwelms, seks ens. getrap. Vir die duur van die gesprek wou die tieners net oor hulle eie gebrokenheid praat. Nie een van hulle se ouers weet nie. Meeste van hulle vriende weet. Hulle weet – ek is stukkend.

Die Bybel wil aan ons die boodskap oordra dat hierdie gebrokenheid in die eerste plek nie sy oorsprong by God het nie. Sonde maak nie sin nie. Sonde pas nêrens in nie. Sonde breek en verwoes en versteur en bederf. Sonde betree die terrein van God se skepping en versteur die goeie en mooi verhouding wat daar tussen God en mens was.

Dit maak nie vir my saak hoe jy oor die Adam en Eva en die skeppingsgebeure gebeure dink en voel en redeneer nie. Die eerste hoofstukke van Genesis wil die verhaal vertel van God wat sorg vir die mens. Van die begin af in die Bybel maak God Homself aan ons bekend as ‘n God wat uitkoms gee.

In Genesis 2 skep God eers die mens en dan die tuin. (Gen 2:8) God skep eers die mens en toe bome wat mooi is om na te kyk en lekker om van te eet. (Gen. 2:9) God skep eers die mens en dan die tuin en dan die rivier om die tuin nat te maak. (Gen. 2:10). God skep sy wêreld rondom die mens. Mens sou selfs kon sê: God se (geskape) wêreld draai rondom die mens.

Die boodskap van die Adam en Eva gebeure is dat hierdie onwelkome dief in die nag die mens se mooi verhouding met God stukkend gemaak het wat tot gevolg gehad het dat die mens se wêreld nie meer om God gedraai het nie. Ek kan nie dink aan enige iets sinvols of mooi of opbouend om oor sonde te sê nie. Dalk is dit lekker… maar kan dit opweeg teen die selfverwyt waarmee ‘n redelike sensitiewe mens dikwels worstel na die oorgawe aan die sonde? Sonde is die mens se skuld.

Maar mens kan nie oor sonde dink voor jy nie eers oor die genade dink nie. Alle woorde oor sonde moet deur die bril van God se genade gelees word. Alle gesprekke oor die sonde moet geluister word met God se genade as nie te sagte agtergrondmusiek nie. Alle bespreking oor die sonde behoort gedoen te word deur soos die Rooms Katolieke aan die kruisie om my nek vas te hou. Wie oor sonde wil praat met enige ander doel as om gou-gou God se genade en vryspraak aan te kondig, is besig met ‘n bose plan.

Die boodskap van die Bybel is dat God nie magteloos staan teenoor die sonde nie. Dit is nie waar dat God niks aan die sonde kan doen nie. God beveg die sonde. God versoen die sonde. God vernietig die sonde. God vergeet die sonde. God vergewe die sonde. God oorwin die sonde. God verwyder die sonde. Want, sonde pas nie in God se skepping nie. En in God se finale en laaste nuwe skepping sal daar nie meer sonde wees nie.

Die onverklaarbaarheid lê daarin dat die mens ten spyte van die liefdevolle versorging van God, na die slang gaan luister. Sonde kan nie verklaar word nie; sonde kan nie verduidelik word nie; sonde kan net bely word. Dit help nie om te probeer verduidelik of verklaar of te verskoon nie. Sonde maak ‘n mens skuldig. Sonde is om te doen wat verkeerd is sonder enige sinvolle rede waarom ‘n mens dit doen. Daarom kan ‘n mens met sonde net een sinvole ding doen: dit bely.

Belydenis beteken ‘n erkenning dat ‘n mens skuldig is dat jy die Here se hart gebreek het deur nie te doen wat jy geweet het die regte ding is om te doen nie. Belydenis is een van die mees reinigende ervarings wat ek nog ooit in my lewe beleef het.

My gesprek met die een tiener het lank na elf gisteraand klaar gekry. Op ‘n stadium het sy gesê dat haar trane besig is om haar skoon te was en dat sy dink dat dit die manier is waarop die Here vir haar wil wys dat Hy haar skoon was van alles. Sy het iets verstaan van die reinigende genade van God wat kom deur belydenis. Ses maande se worsteling was verby, sy het huistoe gekom. God se genade was vir haar genoeg. Vanoggend laat weet sy met ‘n sms: Vandag is die eerste dag van die res van my lewe.

Advertisements

3 Kommentaar

Filed under Christen tieners., Die Bybel, Die Christelike Lewe, Nagedink

3 responses to “STUKKENDE MENSE IN ‘N STUKKENDE WÊRELD

  1. willem

    Beste Attie,

    Dit is wat my moed gee om aan te gaan in die lewe – om te sien hoe die Here jongmense deur Sy liefde en vergifnis aanraak. Wanneer dit gebeur, word baie van die “intellektuele en rassionele” twyfel oor Jesus, Sy kruis en opstanding soos mis wat voor die son verdwyn. Wanneer die krag van Sy opstanding ook my oorrompel, dan glo ek anderste, dan genees die Here stukkende jongmense.

    Willem

  2. Genade! Sola gratia! Dis ‘n ongelooflike ding! Maar dis erg bevrydend!

  3. Karla K D

    Sjoe! Hierdie geselsie van jou het diep aan my siel geraak.

    Openbaring 6:13…..Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”
    Hy sê toe vir my: “Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.
    16 Hulle sal nie meer honger en dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ʼn hittegloed ook nie
    17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s