‘N LIEFDE WAT GEEN MENS VERDIEN NIE

Dit gebeur meer kere as wat ek graag wil erken dat ek ongehoorsaam is. Ek doen iets wat ek baie goed weet die Here nie wil hê dat ek moet doen nie, of ek doen nie iets nie wat ek weet die Here graag sou wou gehad het dat ek moet doen. Wanneer ek ongehoorsaam was, is my verhouding met God nie wat dit moet wees nie. Nie omdat ek bang is dat Hy my gaan straf nie, maar omdat ek begin het om te verstaan hoe baie lief Hy my het, en ek graag met dieselfde tipe van liefde teenoor Hom wil leef.

Een van die wonderlikste ontdekkings wat die Christen kan maak is dat dit nie nodig is om myself te pynig met ‘n stryd wat ek nie kan wen nie in ‘n poging om God se liefde te verdien nie. Ek kan nie God se liefde met my gehoorsaamheid verdien nie. Al wat ons kan doen is om te aanvaar dat God ons volmaak liefhet.

Rom. 4:1-23 gaan daaroor dat God ons vryspreek van ons sonde omdat ons glo. In hierdie hoofstuk is Paulus eintlik in gesprek met die Jode en wil hy vir hulle die ooreenkomste wys tussen dit wat met Abraham gebeur het en die boodskap van vryspraak wat nou met Jesus gekom het. Abraham het God op sy Woord geneem en toe het God Hom vrygespreek. (Rom. 4:3) Abraham het nie op wetsonderhouding (gehoorsaamheid) staat gemaak om in die regte verhouding met God te wees nie, hy het net geglo wat God belowe het, en God het Hom vrygespreek.

“… maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, ons wat in God glo wat vir Jesus ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” (Rom. 4:24-25)

Ek is vrygespreek omdat ek die beloftewoord van God glo dat Jesus my skuldlas op Hom geneem het en aan die kruis daarvoor betaal het. Ek is vrygespreek omdat Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het.

Juis omdat ek deur die genade van God hierdie waarheid kan glo, is dit my lewensroeping om te probeer om te wys dat ek hierdie groot liefde van God waardig is. Ek en elkeen wat glo is reeds in Christus geseën met al die seëninge van die Gees. Ek kan niks meer by God verdien as dit wat Hy reeds in sy wonderlike liefde vir my gegee en vir my gedoen het nie.

In hierdie uitleef van my roeping is ek nie ‘n misdadiger wat aan die regte kant van die gereg probeer bly deur nie ‘n wet te oortree nie. Ek is ‘n mens in ‘n liefdesverhouding met God en ek wil in alles die Een vir wie ek lief is ook liefhê. Daar is nie ‘n beter manier om te wys dat ek Hom so liefhet nie, as om Hom te gehoorsaam nie.

3 Kommentaar

Filed under Romeine

3 responses to “‘N LIEFDE WAT GEEN MENS VERDIEN NIE

  1. Catharina

    Die Here red die hulpelose Psalm 9
    Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. Toe U verskyn het, het my vyande gevlug, hulle het gestruikel en omgekom. Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter, het U aan my reg geskied. U het hulle stede verwoes, niemand dink eers meer aan hulle nie.

    Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Her ‘n toevlug. ‘n skuilplek in tye van nood, Daarom vertrou almal wat U Naam bely, op U, want U, Here, laat die wat vra na u wil, nie in die steek nie.

    My Vader

    Alles en almal wat deel is van my, deur bloed, vriendskap, en selfs diere en besittings plaas ek, omdat U my daartoe lei, in die veilige beskerming van U Naam. Hy wat in my is, is sterker as hy wat in die wêreld is.

  2. Kaalvoetkind

    Attie, dit wat jy vandag hier sê sluit vir my so mooi aan by wat ons dominee met verlede Sondag se erediens uit Psalm 103:10,11 met ons gedeel het en wat ek hierdie week al ‘n paar keer oordenk het nl.

    “Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
    want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

    Ek is vanoggend net weer baie dankbaar dat ons so ‘n wonderlike God kan dien en aanbid.

  3. Dankie Attie, dit is altyd belangrik om te onthou dat die Here se liefde en genade groter is as wat ons mens-breine ooit sal kan verstaan. En dankie ook daarvoor want daarsonder was ons verlore.