In ons gemeente se Bybelleesprogram lees ons vanoggend Psalm 51. Dawid skryf die Psalm nadat hy deur die Here uitgevang is dat hy met Batseba owerspel gepleeg het. ‘n Doelbewuste sonde en moord met voorbedagte rade waar die koning van ‘n land sy magsposisie misbruik het om sy wellus te bevredig en selfs nie gehuiwer het om ‘n man dood te maak sodat sy oortreding minder sleg kan lyk nie.
Ek stel dit so kras, want as daar vir so ‘n man vergifnis is, dan tog sekerlik vir my ook. Ek wil nie eers begin om voorbeelde te noem van mense wat God se vergifnis nodig het nie. Mense neem aanstoot as mense hulle van sonde probeer oortuig. Ek het dikwels God se vergifnis nodig. Ek het dikwels my medemens se vergifnis nodig. Ek het dikwels nodig om Psalm 51 te lees.
Wat daarvan ons lees vanoggend hierdie Psalm deur en laat toe dat die Psalm met ons werk soos die Psalm met ons wil werk.
“Wees my genadig, o God in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!
Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.
Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.
Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.
Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.
Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees.
Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel.
Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!
Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.
Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.
Red my van ondergang, o God, my Redder, dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.
Here, gee my die woorde om u lof te verkondig.
‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie.
Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.
Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind: herbou tog die mure van Jerusalem.
Dan sal die offers wat voorgeskryf is, weer vir U aanneemlik wees: offerdiere wat heeltemal verbrand word. Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.”
Elke keer as ek die Psalm lees is daar ‘n ander gedeelte wat my raak. Vanoggend is dit hierdie gedeelte: “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”
Ek verstaan verootmoediging as ‘n gesindheid wat nie ‘n “stand” wil maak nie. Iets hiervan: Ek is hier om te ontvang wat ek nie verdien nie, maar wat ek baie goed weet net U vir my kan gee. Verootmoediging wil nie my foute en my sonde regverdig of verduidelik nie. Verootmoediging beteken vir my: “Here, ons albei ken die waarheid ten volle, laat asseblief nou gebeur wat hier moet gebeur, want ek verlang na U.”
Dan is daar ook hierdie deel van die Psalm: “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.” Wanneer ek diep in my binneste weet hoe die Here wil hê dat ek moet lewe, dan het ek sy stem gehoor, wanneer ek gehoorsaam is aan daardie stem, het ek minder nodig om met ootmoed by die Here te kom kniel.
Die gebed wat ek deur die loop van hierdie dag vir myself gaan herhaal is: “U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.”
Preach it Brother!! So praat ‘n man van God
Dankie vir jou kommentaar op my blog. Sien jy het my toe op jou blogroll gesit. Het dieselfde gedoen.
Die mense weet nie van al my oortredinge nie,maar God weet alles.
Ook van my sondige gedagtes .As God my moet straf na my sondes sal ek vir geen oomblik bly staan.
Dankie vir die vergifnis deur Jesus Christus,want ‘leeg ,net met my sondelas,hou ek U verdienste vas.’
en vra ek,’Leer my Heer U regte wee,wys die regte pad my aan,maak my hart daartoe genee,om met lus daarop te gaan.’
Ek sukkel erg baie om standvastig te bly. Ek kry dit lankal nie meer reg nie. Die Here ken my hart, dis so moeilik om weg te stap van die sonde.
Attie, dankie dat ek vandag kan bid:
“Here, ons albei ken die waarheid ten volle, laat asseblief nou gebeur wat hier moet gebeur, want ek verlang na U.”
Sjoe, dis presies hoe ek vir baie lank al voel!
wag-‘n-bietjie: Die ding wat hier moet gebeur wanneer ek alles weet en God alles weet is natuurlik vergifnis – en daarvoor is mens mos nie bang nie. Ag, hoe verlang ons nie soms na die Here nie.
Doom
Doom se laaste woorde by #5 – hmmm… dit het vir ding laat opstaan; die Liedboek cd gaan uithaal.
Lied 518: Voel jy soms of die Here te ver is – bly maar ding se gunsteling uit die Liedboek.
Terloops, Doom, wat is Doom se gunsteling boom?
Daardie lied is ‘n wonderlike versekering van die Here se nabyheid. My gunsteling boom? Moeilike vraag. Voor my studeerkamer se venster staan ‘m Vaalbos – vir my lyk dit meer soos ‘n boom. Groot genoeg vir baie voels om in te baljaar. Daar bly ook ‘n baie aggresiewe bloukopkoggelamder en rooikop houtkappers probeer al jare lank om ‘n gat in die hard stam te pik. Voor die konbuisvenster – waar ek dikwels is om koffie te skink, staan die mooiste beukhoutboom wat al sy blare en sade en blommetjies elke jaar in my swembad gooi. Voor ons kamerdeur staan ‘n koorsboom wat ons self geplant het. Ek en renate probeer elke jaar rondom ons troudag ‘n boom plant. Die koorsboom is een van daardie. Die ander was almal hier. Al hierdie bome is vir my spesiaal, maar my gunsteling is die wilde sering. As ek by my studderkamer se venster uitkyk dan tel ek dri van hulle. My gunsteling, want iemand het vir my gese die wilde sering kan nie oorgeplant word nie, hy groei net wild in die natuur. Die wilde seringe en die vaalbos en die beukhoutboom was almal hier voordat die huis gebou is. (Ek mag verkeerd wees oor die sering, maar ek hou daarvan om so te dink oor die boom.) Daai ene, – die wilde sering, dis my gunsteling boom. Ek sien in die wilde sering die hand van my Skepper. Net Hy kan ‘n wilde sering laat groei…
Is soms of my Bybel net oopval op Psalm 51… Net wanneer ek dit nodig het.
Wag-n-bietjie, ek bid saam…
Ja, ek het dit ook so verstaan. Ek weet dat ek, uit genade alleen, ontvang wat ek nie verdien nie. Dis maar net dat ek sukkel om by hierdie gedeelte van die Psalm uit te kom:
“Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.”
Ek vertrou dat ek vergewe is, maar dis asof ek nie die blydskap en verligting in my hart ervaar nie. Asof alles nog nie gebeur het wat moet gebeur nie.
Ding: Ai man, dis lekker om jou terug te sien. Met my lees hier het twee liedjies in my hart gesing: 1. Voel jy soms of die Here te ver is (na die Oorwinningslied, ook my gunsteling), en 2. Soos ‘n wildsbok.
wag-‘n-bietjie: Ek praat gisteraand lank met ‘n tiener oor MXIT oor dieselfde ding. Wanneer mens lief is vir die Here maak enige iets wat Hom seermaak, jou net so seer. Daardie seer maak dat die verhouding tussen jou en die Here vaag raak – as ek dit so mag noem. Jy beleef dit so, maar dit is nie noodwendig so nie. Vir lank oortuig jy jouself hoe “bad” dit was wat jy gedoen het. naderhand begin jy dit self glo. Tot op die dag dat jy besef jy kan nie verder nie. Jy maak reg met die Here, en dan dink jy dit gaan sommer net so reg kom. Die waarheid is dat ek myself moet oortuig van die waarheid totdat die nuwe waarheid van herstel en vergifnis en genesing die vorige waarheid van skuld verdryf het. M.a.w.: herinner jouself so gereeld as moontlik van die waarheid van God se vergifnis. SIng vir jouself die liedjie: Voel jy soms of die Here te ver is… laat die woorde in jou gedagtes vassteek en aanvaar dit as die waarheid.