Hierdie is die preek wat ek gister in ons gemeente gepreek het. Hou dus in gedagte dat die preek op die lidmate van ons gemeente gemik was.
Teks: 2 Konings 20:1-111
Tema: Wat verwag die Here van my in 2008?
Hiskia was ‘n goeie koning. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het, (1 Konings 18:2) en hy was baie lief vir die Here. Alles wat Hiskia gedoen het, het hy vanuit ‘n persoonlike verhouding met die Here gedoen. Persoonlike verhouding het drie dinge beteken: Een: Hiskia vertrou die Here ten volle. Twee: Hiskia gehoorsaam die Here. Drie: Hiskia leef in die teenwoordigheid van die lewende Here. “Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. Hy was getrou aan die Here en hy het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het. Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het.” (2 Konings 18:5-7a)
As koning het hy dadelik met ‘n godsdienstige regruk program begin, aangesien die volk vasgevang was in afgode. Enige iets wat God se plek in ‘n mens se lewe inneem en dan belangriker word as god, is ‘n afgod. In Israel se geval was dit hoogtes, klippilare, gewyde pale en ‘n koperslang.
Toe die volk Israel in die beloofde land intrek, was daar baie ander volke wat hulle gode op ander plekke en op ander maniere aanbid het. Hiskia het geweet dat die die Here van sy volk verwag om anders te wees. Maar, hierdie anders wees (heilg wees) soos die Here dit wil is nie altyd maklik nie. Die manier waarop die ander volke hulle godsdiens gedoen het, was net te ‘n groot versoeking vir die volk.
Eers het hulle gesê: Kom ons gebruik hierdie klippilare, hoogtes en gewyde pale terwyl ons weet in ons harte onthou dit gaan nie oor Baäl of oor die ander volke se afgode nie, dit gaan oor ons God – Jahwe, die skepper van die hemel en die aarde; die God wat ons uit Egipte uit die land van slawerny bevry het; die God wat ons uitgekies het om sy volk te wees. Maar dit het nie lank gevat nie, toe vergeet die mense van Jahwe – hulle aanbid die afgode van die klippilare en die hoogtes.
“Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap.”
Hiskia het ook die koperslang laat stukkend slaan. (“ Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer.” – 2 Konings 18:4) Die koperslang was die herinnering aan ‘n baie belangrike gebeure in die geskiedenis van Israel. Die koperslang het die volk herinner aan die keer toe hulle voorouers afgode aanbid het. Giftige slange het gekom en die mense gepik en baie mense is dood. Die Here laat Moses toe die koperslang maak en almal wat na die koperslang gekyk het, het bly lewe.
God het die koperslang gebruik om mense se lewens te red. Nou vergeet hulle die Een wat red en hulle aanbid eerder die instrument waardeur Hy red. Mense steek vas by gebeure in die geskiedenis dan mis hulle die God van die lewe.
Hiskia het met godsdienstige regruk program begin, maar hy het ook ‘n politieke regruk program begin. “Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie. Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom.” (2 Konings 18:7b-8) Hiskia het geweet: Die volk van die Here kan nie deur ‘n ander volk verdruk word nie. Wagpos vir wagpos; vestingstad vir vestingstad, tot hy sy doel bereik het. Hiskia het vasberade en met deursettingsvermoë as koning geregeer.
2 Konings 18 en 19 vertel in meer besonderhede hoe Hiskia die dinge wat hy gedoen vanuit sy persoonlike verhouding met die Here gedoen het. Dit is veral die tempel wat ‘n baie belangrike rol in Hiskia se lewe gespeel het. Toe Hiskia ongeveer 39 jaar oud was, het daar ‘n slegte ding gebeur. “In die tyd het Hiskia siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wens is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.”(2 Konings 20:1)
Hiskia het siek geword en die profeet Jesaja het kom sê dat hy gaan doodgaan. Kan jy jou indink. Jy word siek. Jou naam kom op die gebedslys van die gemeente. Ons hoor die siekte is redelik ernstig en ek kom sien jou waar jy siek is. Ons praat ‘n rukkie en dan sê ek vir jou. “Hoor hier jong, ek dink jy moet maar afskeid neem van jou mense, sê wat jy graag wil sê, want jy gaan doodgaan. Binne die volgende paar uur sal jy nie meer lewe nie.” Ek dink jy sal baie kwaad wees vir my en vra watse sieketrooster is ek en waar is my geloof en of ek weet hoe jy die Here gedien het en dat jy nie dink dat wat ek sê gaan gebeur nie.
Eers die slegte nuus: “Sê vir jou gesin wat jou laaste wens is, want jy gaan sterf…” Hierdie woorde is waar van elke een van ons wat vanoggend hier sit. Ek en jy gaan sonder twyfel doodgaan. Dit gebeur elke dag rondom ons. Ou mense gaan dood, maar jongmense gaan ook dood. Ek was hierdie week by ‘n gesin wat ‘n ouma begrawe. Ek was ook hierdie week by ‘n pa en sy tweejarige dogtertjie wat ‘n mamma en twee laerskoolkinders en een ongebore babatjie begrawe het. Rykes gaan dood en armes gaan dood. Geleerde mense gaan dood. Ongeleerde mense gaan dood. Bekende mens gaan dood, onbekende mense gaan ook dood.
Ek dink nie daar gaan sommer iemand by jou deur opdaag wat vir jou gaan sê jy gaan dood nie, maar daar is tekens. Elke gryshaar is ‘n profeet – herinner my en jou daaraan dat ons nie vir altyd gaan bly lewe nie. Die begraafplaas is ‘n profeet – jy gaan nie vir altyd bly lewe nie. Elke nuusberig is ‘n profeet – jy gaan nie vir altyd bly lewe nie. Vriende – aan die begin van 2008, berei jou geestelik voor om dood te gaan. Dalk nie in 2008 nie, maar een of ander tyd gaan ons almal dood.
Maar die feit dat ons almal doodgaan is nie die kern van die boodskap nie. Hiskia se reaksie op die profeet Jesaja se aankondiging is ook belangrik: “Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë. Hiskia het bitterlik gehuil.” (2 Konings 20:2-3)
Hiskia het bitterlik gehuil. Hiskia was maar met 39 jaar oud. Hiskia se godsdienstige en politieke regruk was nog nie klaar nie. Hy was regtig lief vir die Here, en Hiskia het gevoel die werk wat hy vir Here wou doen is nag nie klaar nie en hy het ook nie geweet of iemand dit sou klaar maak nie. Hiskia het nog nie ‘n seun gehad wat hom kon opvolg as koning nie.
Maar belangriker vir my as Hiskia se hartseer is sy gewete. “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia kon met groot gemak sy “track record” in sy gebed noem. Hiskia het nie vir homself gelewe nie. Hiskia het vir God gelewe. Hiskia het God vertrou en God gehoorsaam en in die teenwoordigheid van God gelewe. Dit was Hiskia se “track record”.
Ek wonder as ek en jy nou so voor die Here moes staan. Ek wonder as ek die Here moes herinner aan my “track record”, wat sou ek sê. Maar, gelukkig leef ons in die tyd van die Nuwe Testament. Elke een van ons kan met ‘n silwer skoon en rein gewete voor God staan en met Hom praat. Want daar was ‘n houtkruis… Ons sondeskuld is betaal. Weggeneem! Die skuldbewys met sy eise teen ons is tot niet gemaak, dit bestaan nie meer nie. Dis weg – ek en jy is vry.
Hiskia sê: Kyk na my handewerk.
Christene sê: Kyk na U handewerk.
Christene sê: Vader, ek staan voor U in die Naam van U seun Jesus Christus, my Verlosser.
Hiskia herinner God aan sy “track record” en sy skoon gewete – God hoor. “Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie, toe die woord van die Here tot hom kom en sê: Gaan terug sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en diè stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal die stad beskerm om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.” (2 Konings 20:4-6)
Ek weet die vraag leef in baie se harte: Kan ons met God onderhandel oor iets soos ons eie dood? Ek dink so. Hiskia hoor hy gaan dood. Hiskia bid. God hoor. Hiskia kry vyftien ekstra jare. Maria het met Jesus onderhandel oor Lasarus wat reeds dood was. Ek weet ook van mense wat onderhandel het. Ek weet ook dat ons nie elke keer ons sin gaan kry nie. Ons kan onderhandel, maar ons moet verwag om nie altyd te kry wat ons vra nie.
Twee voorbeelde. In 2003 word my jongste broer baie seer en baie erg gebrand in ‘n veldbrand. Hy was ‘n brandweerman. Die wind het gedraai en het hom en een van sy vriende verras. Leon het ‘n hele paar dae in die hospitaal gelê. My skoonsuster het onderhandel. Sy het belowe – as Leon uit hierdie bed opstaan, gaan hulle twee alles oppak en iewers sendingwerk vir die Here doen. Dit het nie gewerk nie. Leon is dood in die fleur van sy lewe. My skoonsus het nie gekry wat sy onderhandel het nie.
Die ander voorbeeld ken die meeste van julle. Ds. Coenie se vrou – Cathrien. Haar jongste kind Jan was baie klein toe sy die eerste keer met kanker gediagnoseer is. Sy het gevra: Here, kan ek nie net my kind sien groot word nie. Sy het gesond geword en was vir baie jare gesond ek skoon van kanker. Jan het skool toe gegaan. Jan het matriek geskryf. Jan het Universiteit toe gegaan en Jan het graad gevang en in 2006 hier in Rustenburg begin werk. En die jaar wat hy begin werk het, het die toetse gewys dat die kanker terug is. Later in die jaar 2006 het ons Cathrien begrawe. Sy leef nou by die Here. Cathrien het onderhandel. Die Here het gehoor.
Vriende, ek en jy lewe vandag. Ons lewe deur die genade van die Here. Ek en jy lewe omdat Jesus Christus aan die regterhand van die Vader sit, en Hy tree vir ons in. Hy onderhandel vir ons by God. Sommige van ons het nie nodig gehad om hieroor te onderhandel nie. Ander is vandag hier omdat hulle of iemand anders met die Here onderhandel het. Hoe dit ookal sy: Dat ek en jy vandag hier is, is genade. God het die 2008 vir ons gegee.
Aan die begin van hierdie jaar se kerklike en gemeente aktiwiteite staan ek nou vanoggend hier voor jou. Ons vier dominees was hierdie week vir twee dae saam en ons is hiervan oortuig: Die Here wil NG Bergsig gebruik om sy koninkryk hier in Rustenburg tot by mense te laat kom. Ons almal saam is NG Bergsig. Deur ons wil God sy koninkryk tot by mense bring.
Kyk mooi na Jesaja se woorde aan Hiskia. Die Here laat Hiskia lewe omdat die Here nog werk het vir Hiskia. Die Here laat jou lewe omdat die Here vir jou nog werk het. Dit is nie toeval dat jy aan die begin van 2008 in Rustenburg is en lidmaat van hierdie gemeente is nie.
Jy kan nou vandag hier uitgaan en sê: Dankie, Here dat ek nog mag lewe. Dan kan jy more aangaan met jou lewe net soos altyd. Moenie bekommerd wees nie. Daar gaan nie skielik ‘n weerligstraal uit die hemel kom wat jou raakslaan omdat jy net dankie sê nie. Daar gaan nie skielik ‘n klomp dinge skeefloop in jou lewe nie.
Maar omdat ek weet die Here het ‘n doel en ‘n plan het met elke een van ons se lewens net soos Hy met Hiskia se lewe ‘n doel en ‘n plan gehad het, het ek die vrymoedigheid om te vra: Kies hierdie reaksie op die lewe wat die Here vir jou in 2008 gee:
(i) Aanvaar die feit dat jy vandag lewe as ‘n geskenk uit die hand van die Here.
(ii) Aanvaar die feit dat jy lewe as ‘n boodskap van die Here dat Hy nog ‘n doel en ‘n plan het met jou lewe.
Nou wil ek ook vir jou sê: Moenie verwag dat jy skielik more tien miljoen rand gaan erf omdat jy vandag die keuse gemaak het of dat dit met jou beter sal gaan as die mens wat nie die Here dien nie. Maak die keuse omdat jy die Here liefhet en nie omdat jy verwag om iets daaruit te kry nie.
Hoe kan ek en jy die Here dien in 2008 en God se doel en plan in ons lewe werklikheid laat word. Die profeet Jesaja se antwoord aan Hiskia kan ons help om hierdie vrae te antwoord. Die Here laat weet vir Hiskia so: “Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan.” Hiskia was lief vir die Here. Hiskia het gereeld na die tempel toe gegaan. Dit moes vir die Here lekker gewees het om te sien hoe getrou Hiskia na die tempel toe gegaan het. Nou sê die Here – Ek maak jou gesond dan sien ek jou weer in die tempel. Die tempel was vir Hiskia die kern van sy persoonlike verhouding met die Here.
In die Nuwe testament is dit nie anders nie. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos dit sommige se gewoonte is nie. (Hebr. 11:25)
Ons vier leraars het hierdie week lank gepraat oor wat kan ons vir die gemeente sê? Wat kan ons van die gemeente verwag? Ons sien die vol programme van die lidmate van ons lidmate. Ons sien dat mense se persoonlikhede en geaardhede verskil en dat ons nie van almal dieselfde kan verwag nie.
Ons dink toe: Kom ons daag die gemeente uit vir Erediens plus een. Terwyl ons Maandag Dinsdag gepraat het, het ek reeds geweet ek gaan uit hierdie gedeelte preek. Toe ek Woensdag weer die teks mooi lees, toe sien ek maar op ‘n manier is dit waarvoor die Here vir Hiskia ook die lewe gegee het. Ek maak jou gesond dan sien ek jou in die tempel. Dit is die erediens deel.
Ons God is ‘n lewende God. Dit is vir God lekker as ons so in die kerk saam is en ons sing so lekker en ons aanbid Hom en ons luister na die boodskap uit die Bybel uit. Sê nou ons sou sê: Here dankie dat ek in 2008 mag lewe – Ek sien U in die erediens.
Nou kom ons by die tweede deel van Erediens plus een. Die Here laat weet vir Hiskia: “Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en diè stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal die stad beskerm om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.” Dis belangrik dat ons hier sien dat die Here vir Hiskia laat weet wat Hy gaan doen. Hiskia het godsdienstige hervorming begin – Hiskia sal lewe sodat hy tempel toe kan gaan. Hiskia het politieke hervorming begin – Hiskia sal leef sodat die Here die stad kan red uit die mag van die Assiriërs. Hiskia het goeie werk begin. Die Here gaan daardie goeie werk laat voortgaan. Hiskia het naby aan die Here gelewe en daardie naby verhouding het gemaak dat die godsdienstige en politieke hervormings die here se werk deur Hiskia was.
Ons hoef nie elke keer die wiel te herontwerp wanneer ons vir die Here iets wil doen nie. Jy is op hierdie dag deel van hierdie gemeente. As ek nie geglo het dat die Here hierdie gemeente gebruik om sy koninkryk in Rustenburg en in die wêreld te laat kom nie, dan sou ek nie meer hier gewees het nie. Wat meer is, ek glo dat elke dingetjie wat ons in hierdie gemeente doen dra by tot die koms van God se koninkryk in hierdie wêreld.
Die Here wou deur Hiskia nog ‘n paar dinge doen, daarom lewe hy. Die Here wil deur NG Bergsig nog ‘n paar dinge doen, daarom lewe ek en jy vandag. Daarom die uitnodiging Erediens plus een. Raak in hierdie jaar betrokke by enige een van die aksies van hierdie gemeente en God sal sy koninkryk deur jou laat kom.
Die Here het in sy wonderlike groot genade aan elkeen van ons hier nog ‘n jaar gegee om te lewe. Ons kan hierdie lewe as ‘n geskenk uit die hand van die Here aanvaar en ons kan tot sy eer lewe en Hom toelaat om sy doel en plan deur ons te lewe. Die manier kan dalk wees: Erediens plus een.
baie dankie vir gister se diens, soos gewoonlik was Ds se preek baie goed! Ek het ‘n vraag: toe Ds se skoonsus die “deal” met die Here gemaak het en haar man het wel doodgegaan, waar staan mens dan? Doen jy nogsteeds wat jy die Here belowe het of wat?
Hi Ronel: Ek is versigtig vir ‘n antwoord op daardie vraag. Ek reken egter van nee, die Here verstaan mens se desperaatheid in so ‘n situasie en Hy sal nie van mens verwag om beloftes wat in sulke omstandighede gemaak is te alle koste te handhaaf nie. Hy sal ons dus nie straf as ons ‘n belofte in sulke omstandighede nie hou nie. Of eerder: Hy straf ons nie omdat ons beloftes nie hou nie. Hy gee nog ‘n kans.