Ons lees vandag die gebed van Stefanus. Stefanus is bekend as die eerste martelaar van die kerk. Stefanus was eintlik gekies as een van die eerste diakens (Handelinge 6:5) in die eerste Christelike gemeente.
Stefanus het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. (Handelinge 6:8) Party van die lede van die sinagoge het mense omgekoop om te sê dat Stefanus teen Moses en God gelaster het, (Handelinge 6:11) wat tot Stefanus se inhegtenisneming gelei het. (Handelinge 6:12).
Stefanus het toe ‘n baie lang toespraak voor die Joodse raad afgesteek (Handelinge 7:1-53) Stefanus se toespraak het die lede van die Joodse raad woedend gemaak. (Handelinge 7:54) Die lede van die Joodse raad het op hulle tande gekners en hulle woede onder druk, maar toe Stefanus sê dat hy die Seun van die mens aan die regterhand van God sien staan, toe kon die lede van die Joodse Raad nie langer hulle woede inhou nie. Hulle het op hom afgestorm en hom uit die stad uit gesleep en hom gestenig. (Handelinge 7:57) Stefanus se gebed terwyl hy uitgesleep word en gestenig word is ons gebed vir vandag: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Handelinge 7:59)
Die metode waarop iemand gestenig is, was soos volg: Die oortreder is na ‘n hoë krans geneem en daar afgegooi. As hy dood is van die val het hulle niks verder gedoen nie. Maar as hy nie dood is nie het hulle groot rotse op hom afgegooi om seker te maak dat hy dood is.
Wat leer ek van Stefanus?
(i) Stefanus se waagmoed. Hy weet wat wag maar hy is rustig en kalm en hy bly in gesprek met die Here.
(ii) Ek sien Stefanus volg die Here Jesus se voorbeeld. Soos die Here Jesus vir die vergifnis van sy teregstellers gebid het, so bid Stefanus ook vir sy teregstellers.
(iii) Die uiteinde is vrede – vrede wat alle verstand te bowe gaan. Vrede wat oor ‘n mens kom wanneer jy weet jy het die regte ding gedoen, selfs al is die gevolg van daardie regte ding wat hy gedoen het jou eie dood.
Saulus was ‘n getuie, hy het alles gesien en alles gehoor. Hy het die mense se klere opgepas wat Stefanus gestenig het. Hy het dit alles gesien gebeur. Saulus sou later Paulus word. Augustinus het gesê dat die kerk ‘n man soos Paulus te danke het aan die gebed van ‘n man soos Stefanus.
Ek lees graag oor Stefanus en ek put baie motivering daaruit, maar ek is ook bang vir die verhaal van Stefanus. Ons maak soms die fout om ons lewens op die altaar te plaas vir ‘n waarheid wat nie vir die Here die helfte so belangrik is as wat dit vir ons is nie. Ons skep soms behae daaruit om verguis en beledig en verwerp te word omdat ons dink ons staan op vir die “waarheid”. Intussen vervreem ons onsself van die mense na wie toe ons die boodskap van die koninkryk moet God moet neem.
Die ander deel is dat ons so versigtig is om die ongelowiges aanstoot te gee en om ons boodskap vir hulle aanvaarbaar te maak, dat ons die goeie nuus van die evangelie reduseer tot iets wat eintlik nie veel meer waarde het as fiksie nie.
Ek dink ons moet albei uiterstes vermy.
“Here Jesus, ontvang my gees!”
Attie hoor GOD regtig al ons gebede? Ongeag hoe kort of hoe lank? Ek het al so baie gebid dat GOD moet ingryp in my halwe man se lewe, maar niks verander of gebeur nie.
SHARKS: God hoor, maar verhoor, in die sin dat Hy altyd gee wat ons vra, dit is ‘n ander saak.
God hoor beslis al ons gebede. Maar Hy weet ook wat ons werklik nodig het. En eintlik gaan dit nie oor ons nie, maar oor die uitbreiding van Sy Koninkryk? En daarmee saam, gee Hy tog wel ook vir ons om – soveel so dat al die hare op ons hoof getel is. Selfs nie ‘n mossie val op die aarde sonder dat God daarvan weet nie.