SOMS IS DIE DAE DONKER

Dawid is een van my gunsteling karakters in die Bybel.

Ek respekteer hom vir sy waagmoed toe niemand anders Goliat wou aandurf nie;

Ek respekteer hom vir sy nederigheid toe hy bereid is om harp te speel vir ‘n versteurde koning terwyl hy self reeds geweet het dat hy die volgende koning was;

Ek respekteer hom vir sy selfbeheersing om nie vir Saul dood te maak toe hy die kans gehad het nie;

Ek respekteer hom vir die manier waarop hy eerder van sy seun Absalon af wegvlug alhoewel hy met die klap van sy vingers kon verseker dat Absalon doodgemaak word;

Ek respekteer hom vir sy eerlikheid dat hy dadelik teenoor Natan erken dat hy die skuldige persoon is;

Ek respekteer hom vir sy foute onder andere met Batseba en die opvoeding van sy kinders want dit verseker my dat daar vir my ook hoop is.

Meeste van alles, respekteer ek Dawid vir die verhouding wat hy met die Here gehad het. Die liedere wat hy geskryf het, getuig van ‘n intiem en baie persoonlike verhouding met die Here. In alle tye en in alle omstandighede was hy in kontak met die Here. Ten spyte daarvan, was daar ook die tye wat Dawid neerslagtig – dalk selfs depressief was. Depressie en neerslagtigheid is nie ‘n aangename belewenis nie.

Depressie en neerslagtigheid steel mens se vreugde en skakel al die ligte af sodat dit vir jou voel asof jy heeltemal alleen in ondeurdringbare donkerte lewe. Wanneer mens depressief of neerslagtig is, gebruik jy uitdrukkings soos: Ek word gestraf; Ek kwyn weg; My liggaam is uitgeteer; Heeltemal gedaan; Hoe lank nog voor daar uitkoms is?; Ek is uitgeput van hartseer; Ek huil die hele nag deur; My kussing is sopnat gehuil.

In Psalm 6 gebruik Dawid elke een van hierdie uitdrukkings om sy eie gemoedstoestand te beskryf: Ek word gestraf; (Vers 2) Ek kwyn weg; (Vers 3) My liggaam is uitgeteer; (Vers 3) Heeltemal gedaan; (Vers 4) Hoe lank nog voor daar uitkoms is?; (Vers 4) Ek is uitgeput van hartseer; (Vers 7) Ek huil die hele nag deur; (Vers 7) My kussing is sopnat gehuil.  (Vers 7) .

Sommige reken die Psalm is dalk geskryf terwyl Dawid vir Absalon gevlug het, ander reken weer dit was in die tyd dat hy by die Here gepleit het om nie sy en Batseba se oudste seun te laat sterf nie. Ander reken weer dit is in daardie tyd wat hy in berou was oor wat hy gedoen het nadat Natan hom met sy oortreding met Batseba gekonfronteer het. Hoe dit ookal sy, die dieptepunt van Dawid se ellende is vers 8: “My oë het dof geword van verdriet, verswak deur wat my teëstanders my aandoen.”

Daarna verander iets in Dawid se gemoed. “Gee pad van my af, julle almal wat onreg doen, want die Here het ag geslaan op my geroep om hulp. die Here het geluister na my smeking, die Here het my gebed aangeneem.” (Vers 9-10)

In die Psalm stort Dawid in alle eerlikheid sy hart uit voor die Here. Hy praat reguit en draai nie doekies om oor hoe hy voel en wat hy beleef nie. Maar tussen al hierdie klagtes is die rede waarom Dawid dit doen duidelik, hy vertrou die Here om dinge te verander.

Somtyds kla mens net om te kan kla en net omdat jy kan kla. Ander kere kla mens omdat jy wil ophou kla. Dawid wou ophou kla. Hy bid so:

“Ontferm U oor my, Here…” (Vers 3a)

“… maak my gesond, Here…” (Vers 3b)

“Neem my weer onder u sorg, Here, en red my lewe. Help my want U is getrou.” (Vers 5) 

Ek en jy het dalk self hierdie gebed vandag nodig. Maar dalk kry jy vandag te doen met iemand wat hierdie gebed nodig het. Ons dominees is bevoorreg, ons kan vir iemand sê: Kan ek saam met jou bid? Iemand anders word dalk skeef aangekyk as hulle so ‘n voorstel maak. Ek sal vandag hierdie gebed in stilte bid vir iemand wat ek dink dit nodig het. Wanneer ek kontak het met of dink aan iemand wat vir my lyk asof hy/sy neerslagtig of depressief is.

Ek dink aan die vroutjie wie se ma ons Saterdag gaan begrawe nadat sy binne twee maande aan leukemie dood is. Ek sal dit vir haar en vir haar pa bid selfs al sal ek hulle vandag nie sien nie. Ek dink aan die gebroke pa wat ek vandag gaan sien wie se seun sy hart gebreek het – ek sal dit vir hom bid. Ek dink aan die vriend wat redelik goed daarin slaag om sy emosies weg te steek, maar ek weet hy sê in sy gedagtes baie van hierdie woorde vir homself – ek sal die woorde vir hom bid. Ek dink aan die man wat ek vandag gaan sien wat sy vrou en sy twee kinders in ‘n motorongeluk verloor het en nou weer die stukke van sy lewe moet begin optel en moet aangaan met die een dogtertjie.

Vir sommige gaan dit ‘n hardop gebed wees. Vir ander sal dit ‘n gedagte-gebed wees by ons groet en wanneer ek aan die persoon dink.  Maar, net omdat ek reeds hierdie gebed vanoggend vir myself gebid het.

“Ontferm U oor my, Here…” (Vers 3a)

“… maak my gesond, Here…” (Vers 3b)

“Neem my weer onder u sorg, Here, en red my lewe. Help my want U is getrou.” (Vers 5) Ek sal die gebed bid, want ek glo met my hele hart dat die Here dinge kan verander en dat Hy getrou is.

Advertisements

4 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe, Gebed

4 responses to “SOMS IS DIE DAE DONKER

  1. Troos

    Vanoggend was ek te moeg om op te staan, met die gevolg dat ek nie my stilte tyd gehou het nie. My hart is seer, want ek het netnou met n vriendin van my gepraat wie se broer dood is oor die kerstydperk. Daarom bid ek nou hierdie gebed vir myself en ook vir my vriendin. Dankie.

  2. Ek het reeds my mening oor die Psalms gegee. Ek deel jou bewondering vir Dawid…juis omdat hy so ‘n feilbare mens was.

  3. Bib: EK hou van jou nuwe foto.

  4. Dankie…dis my “onder vriespunt” avatar! 8)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s