HELP MY OM U WIL TE DOEN

Ek het in 1977 tot bekering gekom en een van die eerste dinge wat ek deur my groepie geestelike mentors geleer is, is hoe belangrik stiltetyd is. Ek moes daagliks tyd gee om Bybel te lees en te bid. Aangesien dit ‘n dissipline is, moes ek die gewoonte aanleer. Oor ‘n tydperk van drie weke moes ek ‘n “geestelike dagboek” hou waarin ek aantekening gemaak het oor my tyd alleen met die Here. Vrydae-aande was dit koffiekroeg. Elke Vrydagaand het ek ‘n ander een van my “mentors” ontmoet en gesels oor my week se stiltetyd. Na drie weke was die gewoonte gevestig. Vandag is die gewoonte nog steeds daar.

Gebed was altyd vir my die grootste uitdaging. My gebede het vir my so lusteloos en sonder inhoud geklink. Ek het kort-kort iets gedoen in ‘n poging om my gebedslewe op te kikker. Die lees van die verskillende gebede in die Bybel is nou weer een van daardie oefeninge.

Psalm 5 – Help my om u wil te doen.

Die volgende waarhede uit hierdie Psalm tref my:

1. Die Here luister na my wanneer ek bid en met Hom praat. Dit hoef nie in die oggend te wees nie, maar dit behoort een van my prioriteite vir die dag te wees.

2. God se liefde maak dit vir my moontlik om in sy teenwoordigheid te wees. Ek kan elke oomblik van elke dag die Here se teenwoordigheid as ‘n werklikheid beleef en met Hom in gesprek wees. Uit eerbied vir God, die eerbied Hy in elk geval verdien, probeer ek myself daaraan herinner dat ek altyd in sy teenwoordigheid leef en daarom is dit my hartsbegeerte om deur alles wat ek sê en doen aan Hom my eerbied te wys.

3. Die Here het aan my die Heilige Gees gegee, en Hy woon en werk in my. As ek oefen om sensitief te wees vir die leiding van die Heilige Gees, sal Hy my leer wat die regte ding is om te doen en sal Hy my in staat stel om die wil van God te doen.
4. Ek leef in God se beskerming. Ek is by Hom veilig en dit laat my jubel en sing. Natuurlik beteken dit nie ‘n lewe van maanskyn en rose waar ek van alle seerkry en swaarkry bewaar word nie, dit beteken wel dat Hy my herstel bespoedig wanneer ek langs die pad seerkry of swaarkry. Hierdie beskerming laat my jubel en sing van die grootheid en goedheid van ons God.

As ek sekere gedeeltes uit hierdie Psalm moes gebruik om vir myself  ‘n gebed te formuleer sou dit so klink:

“U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.”

“… ek mag deur u groot liefde in u huis ingaan en in u tempel buig met die eerbied wat aan U verskuldig is.” 

“… leer my tog wat reg is en help my om u wil te doen.”

“… laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm die wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U. U laat dit goed gaan met die regverdige, Here, u goedheid beskerm hom soos ‘n skild.” 

As ek eerlik moet wees, dan het ek soms die behoefte om ook vir my vyande en teenstanders te bid soos Dawid hier vir hulle bid. bv.:  “Niks wat hulle sê, is waar nie; al waaraan hulle dink, is my ondergang; hulle vlei my, maar hulle wil my in die graf laat beland. Laat hulle daarvoor boet, o God, laat hulle deur hulle eie planne tot niet gaan. Dryf hulle weg oor hulle baie sondes, want hulle is opstandig teen U.” (Verse 10-11)

Maar… later in die week kom ons by die Here Jesus se gebed waar Hy ook vir sy vyande bid en vra dat die Vader hulle sal vergewe omdat hulle nie weet wat hulle doen nie. Ek kies om eerder Nuwe Testamenties in navolging van Jesus vir my vyande te bid.

16 thoughts on “HELP MY OM U WIL TE DOEN

Add yours

  1. Baie inssigewend! So aan die kantlyn, ek spook nogals die afgelope tyd met die konsep van kerkwees – waar kom die gebruik vandaan om op ‘n gegewe dag na een persoon se teologiese interpretasie van die skrif te luister binne ‘n baie spesifieke tydstruktuur? En hoe vergelyk dit met die gemeentes van die Nuwe-Testament? Wat dink jy?

    Groetnis en blessings vir 2008

  2. Soos jy sê vat dit 3 weke om ‘n gewoonte aan te leer. Ek het dit al baie keer probeer maar kom nie by die 3 weke uit nie. Ek dink ek gaan ook probeer om ‘n dagboek te hou vir 3 weke. Die duiwel is maar listig partykeer want wanneer dit tyd word vir my stiltetyd sal hy altyd probeer om in te meng, en ja, hy kry dit partykeer reg.

  3. duskant: Ek weet die Jode het weekliks in die sinagoge bymekaar gekom en jy sal waarskynlik onthou dat dit een van jesus se gewoontes was om na die sinagoge toe te gaan. Hy het selfs geleentheid gehad om die mense te leer. En die mense was dikwels verbaas oor sy leer. Die Christelike kerk kom op die eerste dag van die week saam om die opstanding te vier. Ek dink die probleem het gekom toe kerkwees net gedefinieer word in terme van dit wat op Sondag gebeur, terwyl kerkwees veral te make het met waar die kerk Maandag tot Saterdag is.

  4. Yes, maak sin. Ek dink ook ons het kerk, kerkwees, die liggaam van Christus en die gemeenskap van die gelowiges begin verwar en in een hok saamgegooi. Soos ek dit het gaan dit nie primer oor om op ‘n gegewe Sondag kerk toe te gaan nie maar eerder om deel van die liggaam van Christus te wees? Is ‘n mens deel van Sy liggaam, die gemeenskap van die gelowiges, as mens nie aan ‘n denominasie behoort nie?
    Ook mbt die oorspronklike vraag, ek dink wat ek eintlik vra is waarom hou ons vandag kerk op die wyse waarop ons dit doen (bv. die NGK)? Is dit Bybels? Is daar invloede van bv. die Katolieke Geloof of Judaisme? Staan die werking van die Heilige Gees sentraal daarin?
    (Skies, ek bombardeer nou met die vrae maar ek dink sommer hardop)
    Groetnis

  5. duskant: Wie in Jesus as verlosser glo is deel van die liggaam van Christus. Mens is nie deel van die liggaam van Christus omdat jy Sondag kerk toe gaan nie, mens gaan dalk Sondag kerk toe omdat jy deel van die liggaam van Christus is.
    Denominasie of kerklidmaatskap is na my mening ‘n mensgemaakte instelling wat ‘n funksionelke rol speel, maar nie ‘n kritiese rol nie. My lidmaatlys help my om te weet wie is deel van my gemeente en wie nie.
    Verskeie invloede het ‘n rol gespeel in hoe ons kerk hou. Ek is nie so erg seker van die judaisme nie, maar ek weet Rooms Katoliek het ‘n rol gespeel in hoe ons kerk hou. Ek dink daar is positiewe en negatiewe elemente in beide die Rooms Katolieke en die Jode. In ons gemeente is daar bv ‘n skerm waarop ek hoofpunte van my boodskap gooi en ‘n effektiewe klanksisteem – invloede gebeur vandag nog.
    Maar, ons is daarvan oortuig dat die Heilige Gees ons steeds lei in die inkleding van ons eredienste. As ek die Bybel reg verstaan, leef die Heilige Gees in elke mens wat in Jesus glo. Een van my verantwoordelikhede as leraar van die gemeente is om my verhouding met God die heilige Gees so oop en lewend as moontlik te hou sodat Hy deur my kan werk in my voorbereiding vir ‘n erediens, maar dan ook wanneer ek die erediens lei.
    Jou vra is welkom.

  6. Tsk!! ek tik en tik en tik en woeps!! als weg!! hmmmm waar was ek??
    Oja!! ek laat NIKS aan die nootlot oor as ek dit kan verhelp nie! Ek sal nou nie terugsit en God’s water oor God’s akker laat loop (dis wat sommige mense as Sy Wil uitbeeld), maar ek sit nie ‘n voet by die huis uit daarsonder nie! Ek durf nie die verkeer aan sonder Hom nie (ek kan dit ook nie aan al die ander motoriste doen nie 😉 Ek gaan nie ‘n dag sonder Hom werk toe nie, Ek vra elke dag vir die een of ander geleentheid om ware joy te beleef, true genoegdoening in my bestaan… en gereeld keer-op-keer is dit nou nie asof iemand met ‘n persentjie by my opdaag nie, maar asof iemand my paadjie kruis vir wie ék iets kan beteken. Ag, daar’s baaaaaie vreugde daarin!!
    Ek guard my gebedstyd jaloerslik (is daar so ‘n woord??) – anyways – ek los dit nie sommer nie – en om die een of ander rede het God dit vir my bietjie geswaai – ja, ek bid beslis, maar daar is lang tye van stilbly en luister – anders as jarre terug toe my tong nie brieke gehad het en ek gedink het ek bid té lekker, en kyk dan nou hoe heerlike casual verhouding ek het met Hom soveel so dat toe Hy eendag ernstig met my wou praat ek (tydens gebed) iets soos die volgende kwytgeraak het: “Excuse me!!! can’t You see I’m busy praying???!!!” Wel, Hy’t my vasgevat, my mouth geshut en my gesê om bietjie te luister ook… en ek doen, tot ek in my hart kan voel Hy seg: “Ja BB??” – dán trek ek los!!! Hahaha!!
    Anyways Attie – thanks vir die teaching hierby! ons praat weer!
    Blessings vir 2008!! x

  7. en elke keer sê ek dankie vir jou! Jy en Rev hou my ‘sane’…

    Soms het ek behoefte om te bid, voel of ek ‘mis’ bid…of ek nie gehoor word nie?

    Weird iets, jy is n ‘mens’ ds., my ds kom van jou gemeente af… En hy is ook mens, sigaret en al!

  8. bb: Ek het gewonder waar was jy. Stilte is ‘n wonderlike ding in mens se verhouding met die Here.
    platterfuss: Nuuskierig oor wie die ds. daar by jou is wat hier van ons af kom. Oor gebed… ek dink te veel mense het gebed beperk tot iets wat gebeur as ‘n mens agter ‘n toe deur met jou oë toe sit en met God praat. Ek dink die uitdaging is om soveel as moontlik deur die dag in kontak met die Here te wees. Sommer so in jou gedagtes met Hom te praat. Dis waaroor hierdie gebede gaan. Om my gedagtes te vul met moontlike woorde wat ek vir die Here kan sê.

  9. BB sê in ‘n groot mate ook hoe ek oor bid voel, maar ek het dit nog meestal vir myself gehou, want mens kan maklik dink dis disrespekvol (ook nie seker of so ‘n woord bestaan nie, maar ek glo jy weet wat ek bedoel) om sommer net heeldag met God te praat. Ek praat met God deur my dag, sê soms dankie en vra soms geduld en krag (baie keer!) – en nie altyd met toe oë nie. (Hoekom bid mens in elk geval met toe oë? Is dit uit respek, of om nie jou aandag te laat aftrek nie?)

    Vir my is stiltetyd meer om in myself stil te word en te reflekteer oor wat in my lewe aan die gang is (amper meer mediteer), en dan, ter afsluiting. ‘n gesprek (bid) met God te hê. En hierdie tyd is nie noodwendig voor ek gaan slaap nie. Maar ek lees my stukkie uit die Bybel voor ek gaan slaap. Dis my afsluiting vir die dag. Maar soms lees ek nie, en dan voel ek skuldig.

    Dankie ook vir jou blog. Jou en die Rev s’n is my pitkos.

  10. Sonkind: Ek dink daardie praat met God deur die dag is belangrik. Dit help my om op Hom gefokus te bly. Ek kom agter dit help my ook om nie in my gedagtes met snert besig te raak nie. Ek hou van jou gedagte dat jou stiltetyd meer ‘n mediteer is.
    Dink jy dat jy mens God in ‘n tipe van ‘n tweegesprek betrokke kan raak wanneer jy so mediteer? Dink jy Hy kan gedagtes in jou kop sit wat nie van jou af kom nie?

  11. Jou laaste vraag – JA, ongetwyfeld ja. En ek praat uit ervaring. Soms het ek so gesit, kop skoon gemaak, en dan weet ek net wat ek moet gaan doen in verband met iets in my lewe. En ek glo dit was God wat gepraat het, al is dit nie praat met ‘n hoorbare stem soos ek en jy nie.

    En weet jy – ek het al so baie ervaar dat ek met iets worstel en die oomblik as ek dit aan God oorgee, dan kom die oplossing sommer net so.

    Dit was juis weer so die afgelop week of wat. Ons moet trek na ‘n ander huis, want die eienaars van die huis waar ons nou bly, is besig om te skei en die huis is in die mark. Ons kan hier bly so lank ons wil, maar ons wil nie. Dis onaangenaam met mense heeltyd deur jou blyplek.

    Die afgelope ruk het ons herwaarts en derwaarts gaan kyk na huise en ek was al moedeloos. Die een lyk so vrot soos die ander. Gistermiddag toe ek terugry huis toe, na ek in die bestek van 2 ure na 4 verskillende plekke gaan kyk het en elkeen erger lyk as die vorige een, sê ek, oppad huis toe, sommer so in die ry: “Here, ek gee op. Wys asseblief vir my wat ek moet doen.”

    Vanoggend bel die agent by wie ons die huis huur (en ek moet byvoeg, ons is model huurders, hoor) en vertel my dat die mense 4 huise laer af in ons straat kennis gegee het en ons einde Februarie daar kan intrek. Ons ken die huis en ons bly lekker in hierdie area.

    As dit nou nie ‘n antwoord op my moedelose gebed was nie, dan wil ek my naam nie hê nie.

  12. Ai Sonkind, ek is so bly julle het ‘n ander huis gekry, en dit is soos jy daar sê, as jy op moed verloor se vlakte is, is al wat werk om dit vir die Here te gee, ek was al ‘n paar keer moedeloos en as ‘n mens net met die Here praat sal hy vir jou die pad wys, wat ook al die omstandighede.

  13. Die heilige Gees woon mos in ons as kinders van God. Hy kan mos ook deur ons gedagtes met ons praat. Ek weet ons raak baie maklik deurmekaar en ons verwar dit wat ons dink met die Here se gedagtes, maar op ‘n manier wat ek nie kan verklaar nie, kom daar dinge by my op wat ek dink van die here af kom.

  14. Jy praat weer waar! Ek spandeer ure op die pad. Dis my lekkerste ‘geselstyd’… Dan ‘praat’ ek net met die Here… Het nie rerig n tyd of n plek nie, glo Hy luister altyd!

    Sal jou more of som mail oor my ds.

  15. Baie Dankie vir die website… vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek van oggend met ‘n behoefte op gestaan en met my Here te praat… toe het ek op julle site af gekom

    iemand wat ek baie lief het trou oor 3 weke en dit het my geknap… die heeltyd het ek gehuil en gedink, maar ek het net een antwoord alles wat die afgelope tyd gebeur het met my was die Here gewil

    Ek loves my God en sal altyd

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: