GEDAGTES OOR DIE KONINKRYK VAN GOD

Die onderwerp van die koninkryk van God is baie interessant en ek gaan waarskynlik nog ‘n hele paar kere daaroor skryf. In Matteus 11:12 staan hierdie moeilike woorde: “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ‘n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.”

Ek wonder of Matteus onder andere probeer sê dat sedert Johannes in die tronk gegooi is, het die geweld teen die koninkryk van God nog nie opgehou nie.

Reg van die begin af was daar mense wat die koninkryk uit mekaar wou breek en dit wou vernietig, vandag is dit nog steeds so. Uit hierdie vers blyk dit dat die persoon wat in die koninkryk wil ingaan tot ‘n sekere mate desperaat, baie ernstig en baie opreg moet wees. Net die mens in wie se lewe die “geweld” van sy toewyding die geweld van die vervolging en bespotting van die ander oortref sal in die koninkryk van God ingaan. Dit lyk vir my asof Jesus sy volgelinge wil waarsku dat lewe binne die koninkryk nie maklik gaan wees nie en ons toewyding aan God en aan die koninkryk sal sterker moet wees as die magte wat die lewe binne die koninkryk wil vernietig.

Maar… die koninkryk van God is nie ‘n plek nie, dit is ‘n leefwyse. Die mense van die koninkryk kan nie êrens sit en wag dat die Here weer moet kom nie. Kinders van God leef nou in die koninkryk van God. Elke gelowige is geroep om in die koninkryk van God te lewe – nie êrens op ‘n eiland nie, maar tussen mense. Ons moet skouerskuur met hulle wat nie in die koninkryk is nie. Ons moet tussen mense die leefstyl van die koninkryk leef, maar as ons dink dat die mense tussen wie ons leef gaan ons altyd op die rug klop en aanmoedig om die koninkrykslewe lewe te leef, dan maak ons ‘n fout. Dit gaan soms moeilik raak en mense gaan ons spot en op die belaglikheid van ons geloof wys en met slim redenasies ons daarop probeer wys dat ons geloof geen voet het om op te staan nie, maar ons sal nie mag verslap in ons toewyding aan die saak van die koninkryk nie.

Ek dink dat ons as Christene baie kere daartoe bydra dat ons en ons Here ernstig bevraagteken word, maar die fout lê by ons en nie by die inhoud van die boodskap van die koninkryk van God nie.

Dit is verder my gevoel dat ons uit ‘n era kom waar ons nooit opgehou het om aan mense se toewyding te werk nie. Al die klem was op mense se persoonlike verhouding met die Here, en feitlik geen klem op die koninkrykslewe tussen mense nie. Anders gesê: Al die klem was op ‘n lewe alleen met God en weinig klem op die lewe tussen mense. Ons het nie mense gehelp om te verstaan dat ‘n persoonlike verhouding met die Here oorloop in ‘n koninkrykslewe tussen mense nie. Die gevolg is dat die uitdaging van ‘n koninkrykslewe nie daar is nie, en dan raak die Christelike lewe maar redelik eentonig en selfs vervelig.

Jesus se bedoeling was dat ons met die “geweld” van ons persoonlike toewyding aan die Koning van die koninkryk die “geweld” van die vyandskap van hierdie wêreld moet stormloop en deur ons koninkrykslewe mense moet oortuig om saam met ons binne die koninkryk te kom lewe.

Advertisements

5 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe, Gedagtes oor, Koninkryk van God, Nagedink

5 responses to “GEDAGTES OOR DIE KONINKRYK VAN GOD

  1. Herman

    Attie, Daar is ‘n duidelike verband tussen die begrip koninkryk van die hemele (by Matteus) wat elders in die Nuwe Testament as koninkryk van God gebruik word. Daar moet gelet word dat Matteus skryf vir Joodse christene. Die Jode het die talkundige en godsdienstige gebruik gehad om uit godsdienstige vroomheid nie die naam God of Here te gebruik nie. Dus gebruik Johannes die Doper (ook ‘n Jood) in die plek van God of Here die woord hemele. Die inhoudelike saak is natuurlik dieselfde – hetsy koninkryk van God of koninkryk van die hemele gebruik word.

    Attie, jou opmerking dat die koninkryk geleef moet word, plaas dadelik die verband tussen koninkryk en kerk. Ek erken dat kerk nie gelyk aan die koninkryk is nie, maar dat kerk ‘n deel van die koninkryk is. Terloops, daar is ander sake wat ook deel vorm van die koninkryk. Hoop jy skryf later daaroor. Iets oor kerk en koninkryk.

    Lees jy in die Skrif wat God die Vader se verwagtinge vir die ekklesia (kerk) in die res van die geskiedenis van die mens was, verstaan jy daar moes eers iets met hulle gebeur. Hulle was immers bedoel om voortaan as Jesus Christus se Liggaam, as Sy hande, voete, mond, oë en ore, oral op hierdie aarde, in elke gemeenskap op aarde, iets van die Koninkryk van God te laat kom. Hulle moes die lewe van Jesus tussen hulle uitleef en belewe. Maar ook laat oorspoel na die res van die gemeenskap. Soos tuinslange wat gekoppel is aan die hemel en sy krag, moes hulle beskikbaar wees sodat Jesus, die Koning van hierdie koninkryk, hulle kon gebruik om die wêreld om hulle bonatuurlik te bedien.

    Ek verstaan wat jy bedoel met die interessante woord “geweld”. In ‘n wêreld wat so geweldadig leef met vuurwapens, moord, roof en verwoesting van menselewens, is die uitdaging juis dat christene se geweldigheid soos ‘n “aangename geur” (Paulus in 1 Korintiërs) oraloor sal versprei. Attie, as ek reg kan onthou is daar by jou een kleinhekkie Jasmyn geplant- sy geur verfris die omgewing met “geweld”. Mens ruik dit van veraf.

  2. wolliem

    Is dit reg as ek sê, dat volgens wat julle hierbo geskryf het, meen julle dat die Koninkryk van God/Hemele nie doer bokant die son, maan en sterre is nie?

  3. wolliem: Jy is reg, die koninkryk van God is nie iets daar ver bokant di sterre nie. Die koninkryk van God het in Jesus Christus naby gekom, die gebed van God se kinders is: “Laat U koninkryk kom.” God se koninkryk kom daar waar God se kinders tekens oprig en uitleef van die heerskappy van Jesus Christus in hulle lewens. Die volmaakte koninkryk kom die dag wanneer Jesus Christus weer kom en Hy alles nuut sal maak en ons ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sal hê.

  4. Griet

    Ds Attie. Die preek van God se Koningkryk het my baie laat dink. Ek betree nou ‘n nuwe, vreemde fase van my lewe, en ek het besef dat ek God se Koningkryk in my lewe moet uitleef. Ek moet my lewe daaevolgens inrig en dus het ek ‘n paar besluite (miskien veanderinge) om te maak….dankie

  5. Griet, kyk bietjie die preek is vandag se stukkie oor 2008 oppad waarheen. Sterkte met die besluite. Ek het ook ‘n paar besluite geneem wat ek gaan implementeer, maar die besluitneming is makliker as die implementering. Ek weet egter dat dit tot voordeel van die koninkryk sal neem as ek die besluite implementeer, so ek gaan deurdruk daarmee.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s