FEESTYD – NIE VIR ALMAL NIE

Die feestyd is vir die meeste mense ‘n rede om fees te vier. Christene vier fees omdat God sy Seun vir ons gestuur het en dat hierdie Seun as klein babatjie in die lewe ingekom het. Ander vier fees, want is die mens in sy diepste wese nie tog maar ‘n “party animal” nie? Wanneer Jesus weer kom, gaan ons die moeder van alle partytjies hou.

Mense beleef ook ander emosies in hierdie feestyd. Dalk steek mense hierdie ander emosies soos woede, bekommernis, teleurstelling, mislukking, onsekerheid weg agter die masker van feestelikheid.

Sommige mense beleef hierdie tyd hartseer en rou.

Daar is bv. alreeds  meer as 900 mense in ongelukke op ons paaie dood. Een van die ongelukke het ‘n gesin in ons dorp geraak toe ‘n ma en haar twee kinders dood is en net die pa en sy drie jarige dogterjie oorgebly het toe ‘n vragmotor van agter af oor die kar gery het waarin die gesinnetjie was. Daar is meer as 900 sulke gesinne dwarsoor Suid Afrika vandag.

Ek het by geleentheid ‘n voorbeeld gelees van hoe ‘n mens dit nie moet doen nie.

Johan was vyf jaar oud toe sy hond met wie hy baie ure lank kon speel en wat eintlik sy beste maatjie was, skielik dood is. Johan was baie hartseer, maar sy ouers het hom getroos met die woorde: “Ons kan vir jou ‘n ander hond koop.” Die boodskap: “Steek jou gevoelens weg en vervang jou verlies so gou as moontlik.”

‘n Paar jaar later is Johan se fiets gesteel. Weer word Johan getroos met die woorde: “Ons gaan vir jou ‘n ander fiets koop.” Weer die boodskap:  “Steek jou gevoelens weg en vervang jou verlies so gou as moontlik.”

As ‘n tiener het Johan verlief geraak op ‘n besondere meisie Hulle was nie lank saam nie, toe los sy sy hom vir ‘n ander seun.  Johan se ma het gesê: “Moenie so hartseer wees nie, daar is baie visse in die see.” Weereens die boodskap: “Steek jou gevoelens weg en vervang jou verlies so gou as moontlik.”

Eendag het die hoof Johan in die klas kom roep om vir hom te sê dat sy oupa dood is. Johan was baie lief vir sy oupa en sy oupa was eintlik sy beste vriend saam met wie hy visgevang het en baie dikwels oor baie dinge gepraat het. Johan het onbeheersd begin huil. Die hoof het Johan alleen in ‘n kamer laat sit waar hy vir ‘n rukkie alleen hartseer kon wees. Die boodskap: “Wees alleen hartseer. Moenie jou hartseer met iemand deel nie.”

Vir die van julle wat dalk in hierdie feestyd iets van hierdie hartseer en rou beleef, onthou die Here se manier is om saam met jou met te voel wat jy voel en te erken dat dit vir jou baie hartseer en eensaam moet wees wanneer jy so verskriklik seer het. Hy het juis gesê dat Hy by ons is – ook in sulke tye.

Maar, dalk ken jy iemand wat in hierdie feestyd hartseer beleef. Onthou dit is gewoonlik nie die regte ding om te sê:

“Ten minste het sy ‘n vol lewe gehad.” Of:

Hy is beter waar hy nou is.” of:

“Dit is die Here se wil.” of:

“Ek verstaan hoe jy voel.” – niemand verstaan regtig nie.

Al wat mense nodig het, is aanraking en jou nabyheid of teenwoordigheid. Toestemming om te huil en hartseer te wees, dit is wat hulle nodig het. Dalk is iemand in hierdie feestyd en op hierdie dag so eensaam en alleen in hulle hartseer dat jy dalk moeite sou wou doen om met die persoon kontak te maak.

Raak aan hulle.

Wees daar vir hulle.

Laat hulle hulle emosies uitleef.

So kan die liefde van God mos deur ons hande en voete en oë en ore en ‘n hart kry. So kan mense mos God se liefde vir hulle vandag deur ons beleef. So kan die Woord mos weer vlees word …

Ek dink skielik aan die een tannie in die ou mens woonstelle wat hierdie feestyd weer alleen was, verskoon my, ek wonder of sy al wakker is.

5 thoughts on “FEESTYD – NIE VIR ALMAL NIE

Add yours

  1. Jou post #1 slaan jy weereens die bal in die middel van die kolf. Ek is vanaf 24/12 met verlof. Ek en en Anna-Marie het 23/12 stadtoe gery. Terwyl ons ry sien ek die trane loop oor haar wange. Na ‘n vraag – en nou?- vertel sy dat dis nou 22 jaar dat haar pa dood is. Weer kon ons herinneringe deel. Maar ook kon ons mekaar vertroos terwyl die CD speler kersmusiek speel. Ek het net weer besef dat mense mekaar nie regtig kan vergeet nie. Vir jare al het ek die gebruik om al die families wiese mense ek deur die jaar begrawe het, met Kersdag te skakel. So doen ek dit toe weer hierdie jaar. Attie, jy is reg ons mense het mekaar se ondersteuning en versorging nodig.

    Kan ons in gemeentes nie die goeie gebruik vestig om op Kersdag nie net aan die armes geskenke te gee nie, maar ook ‘n adres by die kerkdeur te onvang en as gesin/familie na die erediens ‘n besoek te bring aan ‘n eensame/sieke/bedroefde. Ek meen die kerk (gelowiges) is juis kenbaar en werkbaar waar die volle boodskap van Matt 25 in die praktyk slaag.

  2. Attie baie dankie vir hierdie post. Toestemming om te huil en hartseer te wees, kan mense nader bring n stukkie genesing. Daar is so baie mense wat met n glimlag en n weggesteekte pyn moet rondloop omdat ons hulle nie die geleentheid gee om te rou nie. Die gedig van Totius nadat sy kind doodgeslaan is deur weerlig beskryf van die intense pyn wat baie mense alleen moet dra.

    O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
    dit brand soos ‘n pyl in my.
    Die mense sien daar niks nie van,
    en die Here alleen die weet wat ek ly.

  3. Sondag voor Kersdag het my boetie van die erediens se eerste gesang gesê dit was ons ma se gunsteling. Dit nadat ek gesien het die ds (vrou) het ‘n bloes onder haar toga aan wat lyk soos een van my ma se gunstelinge. Die sluise het oopgetrek en ek kon nie sing nie. My pa het ook met die gesang gesukkel. Dit was my eerste Kersfees saam met my pa na my ma se dood. Die emosies is nog baie rou. Maar ek is ook dankbaar dat ek die voorreg geniet het dat my pa nog ‘n jaar gespaar is. Dit was ‘n spesiale paar dae, die grootste geskenk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: