30 DAE: ‘N SEUNTJIE VIR ELIZABETH EN SAGARIA

Een van die meer besondere tonele in die fliek “The Nativity Story” is die toneel wat in Johannes 1:57-66 beskryf word. Die fliek begin met Sagaria wat sy diensbeurt as priester in die allerheiligste van die tempel waarneem. (Lukas 1:8-25) Omdat Sagaria nie die boodskap van die engel Gabriël geglo het nie, is hy met stomheid geslaan. Daardie dramatiese toneel aan die begin van die fliek maak ‘n groot indruk op die kykers.

Sagaria kom eers weer op die toneel by die geboorte van Johannes. Die baba word gebore en agt dae later kan Sagaria nog steeds nie praat nie. Maar die agtste dag is ook die dag waarop ‘n seuntjie besny moet word en sy naam moet kry. Wanneer daar geredekawel word oor die naam van die seuntjie weet Elizabeth dat Sagaria daardie dag in die tempel opdrag gekry het om hierdie seuntjie Johannes te noem. Die vrouens wil nie Elisabeth se aanbeveling aanvaar nie, maar Sagaria het geleer uit sy foute. Hy sal nie weer twyfel of ongehoorsaam wees nie. Die engel het gesê die seuntjie se naam moet Johannes wees en Sagaria sal seker maak dit gebeur so. Hy skryf op ‘n bordjie: “Johannes is sy naam.” Dan gebeur dit, sy gehoorsaamheid gee aan Johannes weer sy stem terug. Wanneer Johannes sy stem terug kry en hy kan praat, dan prys hy God. Almal rondom hom was ook uitbundig van blydskap omdat Sagaria weer kon praat.

Joodse seuntjies se name was gewoonlik beskrywend. Johannes beteken God is genadig. Die naam beskryf die ouers se onuitspreeklike vreugde omdat hulle op hulle ouderdom ‘n seuntjie mag hê. Vreugde omdat dit net die genade van God is wat dit moontlik gemaak het.

Die vraag op almal se lippe was: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?” Elke kind is ‘n bondel moontlikhede of potensiaal. Die verhaal word vertel van ‘n ou Latynse onderwyser  wat elke dag voordat hy met sy klas begin het, voor die klas gebuig het. Toe iemand hom vra waarom hy dit doen, het hy geantwoord: “Jy weet nooit wat een van hierdie jong mense eendag kan word nie.”

Om ‘n kind te mag hê is die grootste voorreg vir ‘n egpaar. Dit is een van daardie dinge waarvoor ouers God nie genoeg kan prys nie. Maar ouerskap is ook ‘n baie groot verantwoordelikheid. Almal van ons weet watter baie groot rol speel ouers en onderwysers in die realisering van ‘n kind se potensiaal. Ouerskap is die ontsluiting van ‘n kind se God-gegewe potensiaal.

Watter rol het jou ouers gespeel in die ontsluiting van jou Godgegewe potensiaal?

Watter mens het die grootste rol gespeel om jou die mens te laat wees wat jy vandag is?

Wat was die struikelblok wat verhinder het dat jy jou potensiaal verwesenlik?

Wat is ‘n goeie manier om vir jou ouers hierdie kerstyd te laat weet dat jy hulle waardeer vir wat hulle vir jou gedoen het?

6 thoughts on “30 DAE: ‘N SEUNTJIE VIR ELIZABETH EN SAGARIA

Add yours

  1. Wat is ‘n goeie manier om vir jou ouers hierdie kerstyd te laat weet dat jy hulle waardeer vir wat hulle vir jou gedoen het?

    Ek dink net om saam met mamma die kersfees diens by te woon op Kersdag sal al klaar boekdele spreek. Kersgeskenke soek sy nie, net om saam ons te wees is vir haar genoeg en dit is wat sy sal kry (met darem so ietsie in die kerskous ook).

    ‘n Geseende Kersfees vir jou en jou familie.

  2. Zee: Ons is so gelukkig om hierdie kersfees al vier ons kinders by ons te hê. Jy is so reg: net om hulle saam met ons in die kerk te hê en om die dag bietjie saam met hulle te kuier maak ons as ouers dankbaar voel omdat die gesinsbande ook vir die kinders belangrik is.
    Terloops, my grootste struikelblok wat eerstens veroorsaak het dat ek laat in my lewe eers gaan studeer het en later weer uit die bediening uit is, was ‘n swak selfbeeld. Toe die besef van wie ek werklik in Christus is iets meer word as kop-kennis, en ek kies om dit met my hele hart te glo, toe kon die Here my meer en meer die mens maak wat Hy wou hê ek moet wees. Hy is nog nie klaar nie, maar ek lyk al hoe meer soos die mens wat God sien wanneer Hy na my kyk.

  3. Die voorbeeld en toewyding wat my ma deur haar lewe gehou, het die die grootste invloed in my lewe gehad. Dit het duidelik uitgestaan bo ander en enige raad of kennis wat ek opgedoen het. Met haar voorbeeld het sy ook die weg na die Here vir my gewys. Sy is nou dood, maar dit wat ek van haar geleer het is een van die wonderlikste gawes wat ek nog ontvang het. Dit is egter jammer dat daar tye was, dat ek nie altyd haar waarde genoeg waardeer het nie. Nou is dit te laat om haar te laat verstaan wat sy alles vir my beteken het, maar ek kan die waardes wat ek van haar geleer het nog steeds uitleef as n monument aan haar. Ek dank die Here vir wonderlike moeders soos sy wat strewe om meer en meer soos Christus te wees en die pad deur Jesus vir ons te demonstreer deur haar lewe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: