Elkeen het maar sy eie mening oor waaroor kersfees nou eintlik gaan. Sommige sê dit gaan oor ‘n kindjie in ‘n krip. Ander sê dit is in besonder ‘n tyd van vrede en welwillendheid. Ander sien kersfeestyd as ‘n tyd vir familie en vriende se saamwees. Ander sien kersfees as ‘n tyd waar ons deur ons geskenke vir mekaar terugdink aan die grootste geskenk wat ooit aan die mensdom gegee is.
Ek het by geleentheid gelees hoe ‘n man in sy kaartjie vir sy vrou skryf dat hy Jesus Christus in haar lewe sien en soos die wyse manne gaan hy hierdie jaar vir vir kersfees ‘n botteltjie Franse parfuum gee (sy weergawe van wierook), vir hulle troudag gaan hy vir haar ‘n goue hangertjie gee (goud) en vir haar verjaarsdag sal hy vir haar die badolies (mirre) van haar keuse gee. (Ek vermoed ei ou was ‘n dominee en daarom kon hy nie alles met een slag gee nie.)
Op ‘n manier is daar in elkeen van die benaderings iets van die waarheid.
Maria se loflied (Lukas 1:46-56) help my met nog ‘n benadering tot kersfees. Lees deur hierdie paar woorde dan soek jy dit wat vir jou sê waaroor kersfees gaan.
“Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser,
omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.
Kyk van nou af sal elke nuwe geslag my my gelukkig noem,
omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan die wat Hom eer.
Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:
Hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag;
maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;
behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur.
Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming
soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”
Die God van kersfees, die God wat aan die werk is in die loflied van Maria is ‘n God wat:
‘n ewige verlossing bewerk deur die geboorte van ‘n Verlosser; (vers 47)
bevry uit negatiewe en slegte omstandighede; (vers 48)
dinge doen wat net ‘n Almagtige God kan doen; (vers 49)
met deernis en liefde betrokke is in die lewe van die mense wat aan Hom eer bewys; (vers 50)
doen wat Hy sê Hy gaan doen. (vers 54)
Geseënde kersfees sou een van die volgende kon beteken:
Ek dink aan die een familielid wie se lewe gekenmerk word deur opstandigheid en ongeloof wat lankal by rebellie verby is. Ek sou graag wou sê: Geseënde kersfees, mag die God wat die ewige verlossing bewerk, in jou lewe ‘n werklikheid wees.
Ek dink aan ‘n ander familielid wat die wêreld se potensiaal het, maar as gevolg van ‘n paar swak besluite en keuse ‘n agterstand het om in te haal en besig is daardie potensiaal te verwesenlik: Geseënde kersfees, mag jy beleef dat die God wat mense bevry uit hulle negatiewe en slegte omstandighede, in jou lewe ‘n werklikheid wees.
Ek dink aan die vriend van ons wat in hierdie laaste paar maande met kanker gediagnoseer is: Geseënde kersfees, mag jy beleef dat die Almagtige God dinge in jou lewe doen wat net ‘n Almagtige God kan doen.
Ek dink aan ‘n vrou wie in haar eenvoud werklik daarna strewe om net te doen wat reg is in die oë van die Here, omdat sy Hom met haar hele hart en siel en verstand en met al haar krag liefhet. Geseënde kersfees, mag die God wat met deernis en liefde betrokke is in die lewe van die mense wat aan Hom eer bewys, ‘n werklikheid wees in jou lewe.
Ek dink aan al die Christene wat bly vashou aan die hoop en die belofte dat die Almagtige God deur die kerk van die Here Jesus deur hulle op hierdie aarde en in hierdie lewe tekens gaan oprig van die konings heerskappy van Christus: Geseënde kersfees, mag jy beleef dat die God wat doen Hy sê Hy gaan doen ‘n al hoe groter werklikheid word in julle lewe.
Dan sou ek vir ons land en vir die wêreld wou sê:
Geseënde kersfees, mag julle beleef hoe God deur die lewe van sy kinders en deur die lewe van die kerk ‘n boodskap uitspeel van ewige verlossing!
Geseënde kersfees, mag julle beleef hoe God deur die lewe van sy kinders en deur die lewe van kerk mense uit hulle negatiewe en slegte omstandighede bevry!
Geseënde kersfees, mag julle beleef hoe God deur die lewe van sy kinders en deur die lewe van die kerk dinge doen wat net ‘n Almagtige God kan doen!
Geseënde kersfees, mag julle beleef hoe God deur die lewe van sy kinders en deur die lewe van die kerk met deernis en liefde betrokke is in die lewe van die mense wat aan Hom eer bewys!
Geseënde kersfees, mag julle beleef hoe God deur die lewe van sy kinders en deur die lewe van die kerk, doen wat Hy sê Hy gaan doen.
Aan almal wat hier lees: ‘n Geseënde kersfees.
Weet jy, jy maak dat ek dinge verstaan wat ek gedog het ek verstaan!
Dankie…..
Attie, geseende Kersfees aan jou met die wense dat jy altyd sal bly lees en leer wat God jou wil laat sien. Mag jy, soos in 2007 reeds, in Sy voetspore volg. Dankie dat ek met my nr 8 in jou nr 9 spoor mag trap. Dankie dat jul huwelik vir my ‘n voorbeeld is waaruit ek elke dag leer.
Geseende Kersfees en 2008 vir jou en die familie! En dankie vir jou blog!
En aan jou ook, en jou familie, ‘n Geseënde Kersfees. En mag hierdie blog in 2008 net groei en groei! En jou gemeente ook.
Geseende kersfees
Geseende Kerstyd vir u en u gesin en dankie vie die Blog, ons lees al lewer ons nie altyd n bydrae nie! Ek wil net se dat ek omdat ek en my vrou geskei is seker een van daai ouers is wat lekker bederf met die geskenke. Ek moet net by se dat jy ten enige tyd vir my 6jarige dogter kan vra waaroor dit gaan en sy sal vir jou se dat dit gaan oor Jesus se geboorte. Ek hou daarvan om die kers tyd saam met my gesin te vuur en net werklik dankbaar te wees vir die groot geskenk van Jesus se geboorte om ons te red. Dit is vir my net die wonderlikste deel van die tyd om te weet en net weer herhinner te word dat ons deur Jesus gered is en moet probeer ekstra effort insit om ons lewens meer soos Syne te lewe, in diens van ons mede mens.
Lekker aand
Dankie vir almal se goeie wense.
Platterfuss: Ek dink ook ek verstaan totdat ek hier begin skryf.
Herman: My enigste wens is om in Sy voetspore te volg. Dankie ook vir jou.
BiB:Ek hou van jou insette hier.
Sonkind: EK dink ek groei meer as wat die blog groei.
Alec: Selfde vir jou en jou gesin.
Jannie: Mens moet nie skuldig voel as jy in ‘n posisie is om tye bederf nie. Dit gaan tog maar oor die boodskap wat ons aan ons kinders oordra. geniet jou tyd saam met jou gesin.
Ds. Attie
Klik gerus op hierdie skakel:
http://ottawa.anglican.ca/blue.shtml
‘n Predikantvriend het my nou onlangs vertel van die hele Blou Kersfees-beweging – Kersfees is mos ‘n tyd wat ons so maklik vergeet van almal wat nie kan gelukkig wees nie, en tog word ons almal in die Feestyd herinner aan ons seerplekke. Ek meen dit is ‘n baie interessante konsep om verder te verken.
En dan verder: ‘n Geseënde Kersfees vir jou en jou mense. En ‘n voorspoedige Nuwejaar.