30 DAE: MARIA DIE VERWAGTENDE MOEDER

Maria is nog altyd een van my inspirasies in die Nuwe Testament. Ek persoonlik is daarvan oortuig dat Maria die eerste en mees getroue dissipels (volgeling van Jesus Christus) was. Haar gebed in Lukas 1:38 was naas die Ons vader die eerste gebed in die Bybel wat ek gememoriseer het. Veral in tye van worsteling en stryd wanneer daar dinge met my gebeur wat ek nie verstaan nie, dan bid ek die woorde wat maria gebid het: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Die engel noem Maria geseënd en begenadigde.Maar Maria se lewenspad lyl nie na ‘n pad van seën en genade en geluk nie.

Hoeveel keer verwar ons die seën van God met voorspoed en geluk en vrede. In Maria se lewe sien ons die kontras van die lewe van die geseënde van die Here. Wanneer Maria by Elizabeth – wat ook ‘n wonderwerk-swangerskap beleef – sê Elizabeth sê vir haar: “Gelukkig (Geseënd) is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” (Lukas 1:45)

Maria se wonderlike seën was die feit dat sy deur God gekies is om die ma te wees van die Verlosser van die wêreld – Jesus die Christus. Tog was dit juis daardie seën wat ook die swaard sou wees wat haar hart deurboor. As geseënde van God sou sy geboorte gee aan die Verlosser van die wêreld, maar sy sou ook haar seun aan ‘n kruis sien sterf.

Om deur God gekies te wees beteken so dikwels om by geleentheid ‘n kroon te dra en ander tye ‘n kruis. God kies en roep nie ‘n mens vir gemak en selfsugtige vreugde nie, maar vir ‘n werk wat alles sal vra wat jou hart en jou siel en jou krag en jou verstand moontlik kan gee. God roep ‘n mens met die doel om die mens te gebruik.

Die geseëndes van die Vader beleef gelyk die wonderlikste vreugde en die uitdagings van grootse werk wat God deur ons wil doen. Jy moet God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel, en met jou hele verstand en met al jou krag, so nie sal jy knak onder die druk van die uitdaging.

Elizabeth Eybers het in ons mooiste taal oor Maria geskryf:

‘n Engel het dit self gebring,

die vreugde boodskap – en jy het

‘n lofsang tot Gods eer gesing,

Maria, nooi uit Nasaret.

 

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure agterdog jou pla,

het jy kon dink, dat eenmaal sou hý

die hele wêreldskande dra?

 

Toe jy soms met ‘n glimlag langs

jou liggaam stryk … die stilte instaar…

wis jy met hoeveel liefde en angs

sou hý sy hellevaart aanvaar?

 

Die nag daar in die stal – geeneen

om in jou nood by jou te staan –

het jy geweet dat hy alléén

Getsémané sou binnegaan.

 

Toe vorste uit die Ooste kom

om nederig hulde te betoon,

wis jy hoe die soldate hom

tot koning van die volk sou kroon?

 

En toe hy in jou arms lê,

sy mondjie teen jou volle bors,

het jy geweet dat hy sou sê,

toe dit te laat was: Ek het dors!

 

Toe dit verby was, en jy met

sy vriend Johannes huis toe gaan –

Maria, vrou van smarte, het

jy toe die boodskap goed verstaan?

One thought on “30 DAE: MARIA DIE VERWAGTENDE MOEDER

Add yours

  1. Die kroon en die kruis. Die twee gaan saam. Die kroon gaan dikwels gepaard met vrede en die kruis met die stryd. Ek dink ons deins terug vir die kruis. Ek dink ons soek net die kroon. Die kruis is soms om die liefde van die Here Jesus uit te leef teenoor mense van wie ek van nature nie sal of wil hou nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: